Nuuskommentaar: Word ons dommer en meer rassisties – of net meer rasbewus?

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Dat die gemoedere rondom die kwessie van ras in groot dele van die wêreld, indien nie die ganse wêreld nie, aan die oplaai is, is ’n gegewe met veral die George Floyd-geval wat ’n prominente mylpaal vorm. Pas het dit bekend geword dat ’n Britse museum wat aan Oxford-universiteit gekoppel is al die gekrimpte koppe van koppesnellers weens “rassisme” uit die uitstalruimtes verwyder het, wat op die oog af op ’n oordrewe beheptheid met ras dui. (Lees hier).  Maar dit is lank nie die enigste saakmakende kwessie in die wêreld wat op onvrede dui nie, en ruimte ontbreek om alle kwessies volledig te noem, en nog minder te bespreek. Die kwessie van verdomming kan egter nie langer die blinde oog toegekeer bly nie.

Word die mensdom inderdaad al dommer? Die vraag word al hoe meer in veral die nuuswêreld gevra namate die mens se vermoë tot briljantheid op onder meer die wetenskaplike terrein skynbaar nog geen perke het nie. Ons het onlangs afskeid geneem van die Nasa-boerseun, dr. Japie van Zyl, wat van jongs af met sy briljantheid beïndruk het. Tog is die idee dat mense dommer word nie sonder gronde nie, en het selfs ’n naam gekry – verdomming. In die VSA het dit in 1987 prominensie gekry toe prof. Allan Bloom, ’n filosofie-professor die boek The Closing of the American Mind die lig laat sien het. Die woord “verdomming” het ons egter uit Nederlands/Vlaams bereik. Onder die vier verklarende definisies in Nederland vir “verdommen” is daar egter nie een wat presies ooreenstem met die Afrikaanse betekenis daarvan nie, naamlik dat iemand, of mense, al dommer word nie.

In die geskrewe Nederlands is dit egter duidelik dat die gebruik van “verdomming” byna uitsluitlik dieselfde is as in Afrikaans. Uit De Groene Amsterdammer van 18 Augustus 2006 kry ons byvoorbeeld die volgende aanhaling wat dit klinklaar stel: “Volgens Furedi zijn er geen toonaangevende intellectuelen meer omdat er sprake is van een algehele «verdomming» van onze samenleving. Daarmee bedoelt hij niet dat de mensen een lager IQ hebben, maar dat er minder waardering voor kennis is.” (Lees hier.”)

In Engels staan verdomming as “stultification” (dumbing down) bekend. ’n Groot aantal woorde word gebruik om dié term te belig, maar kom basies alles daarop neer dat iemand nie “lekker by” is nie.

Op 6 September 2016 skryf Maroela Media onder meer soos volg: “ʼn Onlangse peiling onder Amerikaanse kiesers het herbevestig dat 88% van alle volwasse kiesers meen dat Amerikaanse kiesers te veel aandag skenk aan, wat genoem word “celebrity-nuus” en te min aan nuus wat hul lewens werklik raak. Net 39% vertrou die politieke nuus wat deur die media aan hulle opgedis word.” (Lees hier)

Daar is ’n opvatting dat “verdomming” ’n redelike nuwe Afrikaanse woord is. Op 11 November 2014 wens ene Pienkes du Plessis die bekende rubriekskrywer Wilhelm Jordaan geluk met die “nuwe” woord in Afrikaans, naamlik verdomming. Volgens Google was verdomming al voor Jordaan die woord ingespan het, in ons literatuur te vinde. In 2013 skryf Letti Kleyn die volgende: “Geld as dryfveer lei nie net tot verdomming van die media nie, maar tot die vervlakking van kreatiewe dissiplines en hul skepping waaroor kritici moet skryf”.

Maroela Media het dit al in 2015 ingespan. (Lees hier). Ook in 2015 het Volksblad se skrywer met die goue pen, Charles Smith, die skrywer Dan Sleigh aangehaal wat by die Vrystaatse Kunstefees gesê het daar heers ’n wêreldwye veronnoseling. Mense raak dommer en dommer. Die opskrif was “Verdomming heers in wêreld.” (Lees hier.)

Die ironie is dat sedert die woord so mildelik in Afrikaans gebruik word, dit heelwat minder in die Nederlandse literatuur opduik.

Opsommend word “verdomming” toegeskryf aan die (konvensionele) media wat weens geldtekorte minder ervare nuusmense aanstel, wat tot ’n vervlakking van nuus, en veral nuusvertolkings lei. Tweedens is daar ’n vervlakking in nuusbelangstelling – en wat behoue bly, is dikwels juis “vlak nuus” soos om oor geringe ongelukke te berig, beuselagtige nuus op te dis ten koste van belangrike (buitelandse) nuus, ensovoorts.

Wat is verdomming se verband met rassisme?

In ’n diverse land soos Suid-Afrika is daar talle voorbeelde van verskillende weergawes van die werklikheid, waarvan die opvatting dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, ’n voorbeeld is. Die ad hoc-komitee oor grondbesit het dit selfs as die Groot Leuen beskryf. Die stelling wat gereeld van politici soos onder meer Julius Malema gehoor word dat swart mense die eerste mense in Suid-Afrika was, is eweneens ’n groot kluitjie omdat die San-mense hulle met waarskynlik 80 000 jaar geklop het, en die Khoi in die orde van 2 000 jaar.

Al meer elemente van rassisme – waar gaan dit eindig?

Een van die formele definisies van rassisme is dat dit ’n gevoel van meerderwaardigheid van iemand van een ras teenoor mense van ’n ander ras voorstaan. Vanselfsprekend sal om iets te doen as gevolg van hierdie gevoel of gesindheid, ook rassisme verteenwoordig.

Maar gaan probeer nou om dit as beoordelingsmetode te gebruik en jy word gou vanuit talle oorde as rassis uitgekryt. Die DA wat nou besluit het hy is nierassig, loop onder ernstige kritiek deur van nou juis rassisties te wees, en dat baie swart mense die party gaan verlaat. Die spook van die vorige verkiesing, die Black First, Land First, of te wel BLF, het luidkeels opgegee dat dit teen rassisme en rassiste gekant is, maar self wit lidmaatskap verbied. AfriForum, wat swart en bruin lede het, is tydig en ontydig as rassisties gebrandmerk.

’n Baie aktuele voorbeeld wat aan die ontvou is, is die Menseregtekommissie se besluit om die EFF voor die gelykheidshof te daag weens opmerkings wat op 14 September verlede jaar op sosiale media gedra is. Die FW de Klerkstigting stel dit soos volg: “The Twitter and Facebook posting by the EFF broadcast a video that included a number of quotes from the late President Robert Mugabe, stating that ‘the only white man you can trust is a dead white man’ and ‘our party must continue to strike fear in the heart of the white man, our real enemy.’ In the SAHRC’s opinion, these statements ‘constitute various violations of the Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act …’ ”

Seker een van die grootste ironieë is dat die kontemporêre geskiedenis, ook in skoolleerplanne, verkondig dat die ANC apartheid afgetakel het. Die werklikheid is egter dat die Nasionale Party die laaste apartheidswet reeds in 1991 afgeskaf. Onder die wette wat afgeskaf is, was die bevolkingsregistrasiewet wat mense volgens ras geklassifiseer het. Die ANC het rasseklassifikasie met ’n kwalik bedekte ompad teruggebring.

Nog ’n teenstrydigheid was dat die KKNK deelname aan Steve Hofmeyr geweier het, maar terselfdertyd uit sy pad gegaan om die ingangspad vir swart kunstenaarsgroepe met goud te plavei. Dink maar aan die herrie sou daar eerder gefokus gewees het om wit kunstenaarsverenigings spesiaal te nooi.

Met die verklaarde noodtoestand se hulpfondse is ook blatant gediskrimineer, én goedgepraat. Black Lives Matter het ook insigte oor rassisme gebring wat nie met tradisionele uitgangspunte strook nie. Dinge wat voorheen as paternalisme uitgeskel sou word, omdat naïewe goedbedoeldes soms onbewustelik “namens” swart mense besluit wat hulle wil hê, en selfs behoort te hê, voel nou skynbaar heel tuis in die BLM-geledere, en ander wat hulself so as antirassisties uitgee. Onlangse Amerikaanse navorsing toon aan hoe verwoestend sekere regstellende aksie-hulppakette vir die meeste swart mense was, deurdat dit die aansporings om te werk en vir opleiding te gaan, ondermyn het.

Bowendien, in ’n staat waar korrupsie so endemies is soos in Suid-Afrika, is dit gevaarlik om die wil om te werk, hard te werk vir ’n inkomste, te gaan ondergrawe. Hulp op meriete is ’n ander saak, maar om ras as enigste kriterium te gebruik is strydig met die beginsels van individuele menseregte waarop ons grondwet geskoei is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Ons liewe regering is die oorsaak van rassisme. Dan plunder die kaders nog en wanbestuur instansies. Mense raak nie dommer nie. Standaarde word verlaag in plaas van om regstellende mates in plek te sit. Dit maak n intilligente mens moeg.

Grassie

Domheid is ‘n relatiewe begrip, dit hang nie net van intelligensie af nie. My skoonpa het my as die domste, onnoselste (oornoselike) mens op aarde beskou want ek kon nie mooi glad sweis (weld, of “welt”) volgens hom nie. Hy het hom byna vrek gelag toe ek ‘n koei probeer melk het. Die ding wou nie stistaan nie en het die emmer omgeskop en toe ek dit agter haar agterpote probeer optel het sy my raak gepie. Ek was nie ‘n vakman of ‘n boer nie. Ek het matriek geslaag met ‘n paar onderskeidings en hy het std 6 gepluk.Tot… Lees meer »

Janee

Almal moet asb tog onthou……die modewoord rassisme word hoofsaaklik aan die voete van die minderheid gelê….”verdomming” is dan moontlik die oorsaak omdat dit gewoonlik eensydig is.?

Vriendelike Frikkie

Die mens raak werklikwaar dommer en te veel tegnologie is die hoofoorsaak daarvan. Alles is onmiddellik beskikbaar. Jy hoef nie meer moeite te doen om kos te kry nie, goedere te koop, planne te maak om te oorleef nie. Ons intelligensie word nie meer uitgedaag nie. Selfs as bestuurders raak ons al hoe dommer. Vandag is die meeste motors in staat om die passasiers veilig te hou in ongelukke wat dertig jaar jou lewe sou gekos het. Bestuurders hoef nie meer te dink hoe om te bestuur nie, die motor sal al die foute vergewe en jou veilig hou. Daar… Lees meer »

Hoekom

Verdomming kan gelê word voor die voete van die linkse liberale. Waar almal die vryheid gehad het van individuele opinies en dit kon deel met ander en “visa versa” wat lei tot die uitbreiding van kennis en wysheid, verhoed linkse liberale hierdie soort deeling en forseer almal om alleenlik hulle opinies te aanvaar en te deel en as jy dit nie doen nie dan word jy in “exile” geplaas. Hierdie soort taktiek lei tot die vermindering van kennis en wysheid, en dus tot die onvermydelike verdomming van die algehele gemeenskap…