Nuuskommentaar: Word ons zeffers en muishonde?

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse regering doen nie sy eie beeld baie goed nie. Verlede week het Suid-Afrika in die VN se Menseregteraad sterk beswaar gemaak omdat dié raad ’n mosie hanteer het om Noord-Korea vir misdade teen die mensdom en menseregtevergrype voor die internasionale strafhof te daag. Hoewel die mosie met ’n oorweldigende meerderheid aanvaar is, het Suid-Afrika buite stemming gebly.

Dit is dalk net ’n trappie beter as by ’n vorige geleentheid toe Suid-Afrika teen ’n mosie gestem het om die IS se terreurdade te veroordeel omdat die mosie “nie spesifiek genoeg” was nie.

Die week kon pres. Wladimir Poetin van Rusland breë bors verkondig dat die Europese Unie en die VSA se sanksies teen sy land nie werk nie (hoewel die meeste kundiges nie sal saamstem nie), omdat sy land te veel vriende het. Dit was net ’n dag na Suid-Afrika aangekondig het dat die land ’n gunstige visleweringsooreenkoms met Rusland aangegaan het. Dit volg nie lank nie na pres. Jacob Zuma, pas van ’n witvoetjiesoekery in die VSA na Rusland afgesit het, glo ’n rits ooreenkomste beklink het, waaronder vermoedelik belangrike onderdele van wat ’n omstrede kernkragprogram geword het.

Daar is natuurlik niks verkeerd met beginselvaste ooreenkomste teen die wêreldmening in as ’n mens glo dat jy die morele hoë grond beklee nie, maar om die hand te skud van dieselfde een wat gevaarlik na daaraan is om ʼn derde wêreldoorlog te ontketen, en minstens die Koue Oorlog in ’n effens ander gedaante laat herleef het, is nie cool nie.

Suid-Afrika se ruggraatlose optrede by die VN Menseregteraad skep hopelik die regte teelaarde vir wanneer AfriForum, die Vryheidsfront Plus en die TLU SA die week voorleggings daar doen om die saak van minderhede in die land, en plaasmoorde te stel. Die tema is om sulke vergrype te voorkom.

Maar kom dit by die Bybelse waarheid dat niemand so doof is soos diegene wat nie wil hoor nie, bly die publiek nie ver agter nie.

Gister was daar ’n brief in Rapport van ’n persoon onder ʼn skuilnaam, (gelukkig vir hom of vir haar). Hierdie persoon is ontevrede oor die ruimtenavorsing wat gedoen word, en demonstreer sy/haar onkunde deur die gek te probeer skeer met die besoeke aan die maan, die tuie wat op Mars geland het, en nou op ’n komeet geland het. As dié persoon nooit van GPS, skottel-TV, die weervoorspellings en vele ander daaglikse aanwendings gebruik maak nie, het hy/sy dalk ’n punt. As hy/sy nie omgee vir siek mense wat afhanklik is van medisyne wat onder die gewiglose toestande in die ruimte ontwikkel is nie, is die argumente dalk nog geldig. As die persoon nie wil weet wanneer die internet, GPS en selfs kragnetwerke weens sonsuitbarstings taai of buite werking gaan wees nie, ook so. Maar anders het daardie persoon sy/haar skuilnaam met ʼn plank geslaan.

Die produkte van ruimtenavorsing is so alledaags, ’n mens besef dit nie meer aldag nie. En onkunde kan ’n verleentheid wees, soos die een wat sonder klere langs die swembad sonbaai, min wetende die buurman of -vrou kyk op sy/haar rekenaar via Landsat en kan alles sien wat so groot of groter as ’n bofbal is. (Dis ’n rapsie groter as ’n krieketbal en die kaalbaaier hoef dus nie eens besonder goed bedeeld te wees nie).

Danksy daardie gratis tegnologie hoef munisipaliteite nie duur aan lugfoto’s vir waardasies te spandeer nie, en kan selfs jare “teruggeblaai” word om te kyk watter strukture bygebou, maar nie by die munisipaliteit geregistreer is nie. (Maar moenie bekommerd wees nie, u munisipaliteit lees waarskynlik nie Afrikaans nie).

Wêreldwyd is daar ontsteltenis oor die kômmin en afbrekende dinge wat mense in die kuberruim kwyt raak. Rassisme, haatspraak en laster bly nie uit nie, en kort-kort is daar regsprosesse om die papbroeke wat so “dapper” agter skuilname tekere gaan aan die pen te laat ry, of minstens gesnoer te kry.

Dié gedrag is immers ’n deeglik geïdentifiseerde geestesongesteldheid.

In sommige kringe gaan die kommer egter verder, en dit word geïdentifiseer as ʼn vorm van vervlakking wat intree. Die wêreld om ons word erg oorvereenvoudig beskou, en die kommentare daaroor is ewe-eens erg oppervlakkig en zefferig, ek sê.

Af en toe stel iemand selfs sy/haar eie vlakheid ten toon deur by ’n berig wat nie oor die jongste seksmoord handel nie, te gaan skryf: “Wie de ongeluk stel nou hierin belang.” (En vergeet die vraagteken). Gewoonlik help ander lesers so ’n leser reg.

In die Nederlandse koerant Trouw, het Anna Enquist (wie se regte naam Christa Widlund-Broer is) die neiging tot oppervlakkigheid goed onder die loep geneem. Enquist is nie net ’n skrywer nie, sy is ook as musikus en psigoanalis opgelei, en sy gebruik juis laasgenoemde twee velde om na die neiging tot oppervlakkigheid te verwys.

Sy het dit veral teen ’n Britse TV-reeks waar deelnemers wat heel onkundig is, die geleentheid kry om ’n simfoniekonsert te dirigeer, en beoordeel te word. Niemand sal daarvan droom dat iemand met geen mediese opleiding ’n opehartoperasie uitvoer nie, terwyl ’n dirigent en mediese spesialis se opleiding en ervaring ewe lank duur om te kwalifiseer. Die amateur-dirigent se “optrede” word dan suiwer aan die hand van die swaai van arms en gesigsuitdrukkings beoordeel – so oppervlakkig as wat kan kom.

In Suid-Afrika ervaar ons dieselfde op velerlei terreine. Die skadelikste is sekerlik dat mense sonder die nodige opleiding in poste geplaas word. Die gevolg is dienste wat in duie stort. Die probleem vererger wanneer hierdie soort onkundige mense in bestuursposte beland. Selfs al het hulle kundiges onder hulle, kan die omstandighede vir doeltreffende dienslewering weens swak bestuur nie geskep word nie. Een van die manifestasies is dat werkgewers in Suid-Afrika sowat 80 000 sake jaarliks teen werkers by die KVBA verloor.

As daar egter twee beroepe is waar elke Jan Rap en sy maat meen hy gesaghebbend ’n eiertjie kan lê, is dit die joernalistieke beroep en die werk van politieke analiste (politici ook, maar hiervoor, vreemd genoeg, is daar geen kwalifikasievereiste nie en die politici gee hulself immers uit as toffies wat bereid moet wees om gekou te word).

Ons hoef maar net leserskommentare te lees om te sien hoe sekere politieke analiste slae kry. Hierdie kritiek kan basies verdeel word tussen geregverdigde kritiek wanneer die “analis” homself deur sy eie ideologie op sleeptou laat neem en dan sy “feite” daarby aanpas. Onlangs is instansies soos AfriForum en Solidariteit erg deur sulke “analiste” verkwalik omdat hulle die howe gebruik om die “liberale grondwet” om te keer, en die lesers wat die “analiste” voor stok gekry het vir hul kafskrywery was heeltemal geregverdig. Baie dikwels gee die analis egter ’n baie suiwer weergawe, maar lesers wat nie “bykom” nie kritiseer uit onkunde of bevooroordeeldheid. Dit gebeur byvoorbeeld meer dikwels as wat mense besef dat presies dieselfde leser ’n rubriekskrywer oor ʼn standpunt kap, en dan die koerant se hoofartikel waarin presies dieselfde standpunt ingeneem word, loof. Wat deur presies dieselfde skrywer geskryf is. Die persoon wat kommentaar lewers, sal soms so ver gaan om te sê die rubriekskrywer, Piet Pompies, moet dié hoofartikel kom lees om by te kom!

Kan iemand meer zef wees as dit, my China?

Daar is basies drie hoofvereistes vir goeie joernalistiek: goeie luistervaardighede en ’n talent om ingesamelde feite akkuraat met woordkuns weer te gee, opleiding as kommunikasiekundige, en opleiding van vakgebiede waaroor verslag gelewer moet word. In Suid-Afrika het die “luukse” van spesialisverslaggewing egter weens verskeie redes onder druk gekom, wat beteken dat joernaliste gewoonlik baie veelsydig moet wees, en uiteraard nie formele opleiding in al die velde waaroor verslag gedoen moet word, kon ondergaan nie. Kostedruk veroorsaak voorts dat verjonging plaasvind en baie korporatiewe geheue gaan verlore.

En joernaliste is ook mense, en maak foute soos wat dokters en advokate ook foute maak. Dokters se foute word begrawe, advokate se foute word gehang (of deesdae baie lank toegesluit), maar die joernalis se foute word gepubliseer.

Buite die joernalistiek is die kommunikasiekundiges gewoonlik deel van ’n staffunksie wat op die een of ander vlak onder ’n nie-kommunikasiekundige sorteer. Hierdie oorhoofse base het nie altyd die nodige ingesteldheid teenoor kommunikasiekundigheid nie, of verwag dat die kommunikasiekundiges hul beroep oneer moet aandoen deur bloot propagandistiese te wees. Staatsdepartemente en universiteite is dikwels teksboekvoorbeelde hiervan. Ongelukkig is daar van die media wat hulle ook hieraan skuldig maak, en dis trouens een van die redes hoekom Suid-Afrika, sonder joernaliste in die tronk, tog maar eina op die persvryheidsindeks vaar.

Politieke analiste wat boonop as rubriekskrywers optree, moet nie net met verskeie vakgebiede soos die politieke wetenskap, politieke sosiologie, staatsreg (grondwetkunde) en ekonomie byhou nie, hulle moet ook die ore deeglik op die grond hê om aktualiteitsnuus by wyse van spreke op te slurp. Hulle moet objektief wees en net genoeg roer om belangstelling in die vorm van reaksie te ontlok. Hulle kan soms weens verskillende perspektiewe skerp van mekaar verskil, wat goed is vir die openbare debat, en om werklik as meningsvormers eerder as indoktriniste te slaag.

Maar niks, selfs nie eens skerp kritiek nie, slaan so ’n doodhou as iemand wat met ’n zef-mentaliteit oor ʼn saak van lewe en dood-belangrikheid onderaan skryf: “En wie de ongeluk stel nou in so iets belang?” Soms presies dieselfde persoon wat die prez en ander regeringslui van tonnelvisie beskuldig.

Soos dit is, het werklike onafhanklike analiste dit bitter moeilik. By geleentheid het Koos Bekker, toe nog hoof van Nasionale Pers, sy kommer uitgespreek oor die opkoms van gemeenskapsmedia omdat dit gedagtediversifikasie bevorder en nasionale kohesie kan ondermyn. Tot sy krediet het hy het hierna verskeie uitsprake gemaak wat op die teenoorgestelde standpunt dui, en selfs een van sy eie jong, omstrede senior aanstellings in ʼn rubriek van sy eie voor stok gekry. Maar soms lyk dit of hierdie idee-imperialisme steeds ’n vastrapplek in die breër medialandskap het met die voorkeur aan rubriekskrywers uit ’n sekere dampkring. Bydraes aan instansies soos Politicsweb en Daily Maverick uit die “ander” kringe gaan regstreeks in die snippermandjie – of so lyk dit.

Soms lyk dit of die openbare debat vervlak het waar aanvaarbaarheid gemeet word aan die hand van hoe ver die rubriekskrywer bereid is om te gaan om Steve Hofmeyr af te kam.

Hoe vaar Maroela se lesers aan die hand van die zef-toets?

Soos by enige openbare internet-platform is die zeffers ook daar. Weens hul kompulsiewe geneigdheid tot (afbrekende) eiertjies lê word die indruk van oorverteenwoordigendheid maklik geskep. Gelukkig is daar ander maniere hoe die trefwydte van ’n berig, artikel, rubriek of ander bydrae gemeet kan word, en dan word die zeffers eintlik negeerbaar min. Met die skryf van hierdie nuuskommentaar het die berig oor AfriForum wat die VN menseregteraad oor minderhede in Suid-Afrika gaan inlig byna 1 000 mense op Facebook alleen bereik. Dit het een min of meer zefferige kommentaar opgelewer.

Hoewel nie alle nuuskommentare so goed doen nie, het die nuuskommentaar, SA as terreurstaat en plaasaanvalle, van Maroela se hoofblad af meer as 800 keer op Facebook gedeel. Nie alle hoofbladlesers het Facebook nie, en nie almal wat dit het, sou dit noodwendig wou op Facebook wou “share” nie. Op verskeie Facebook-bladsye waarheen dit gedeel is, is dit weer meer as honderd keer gedeel. Rofweg kan geraam word dat dit tussen 100 000 en 200 000 mense bereik het. Op die hoofblad is daar vier leserskommentare, waarvan twee as nie baie opbouend nie beskou kan word.

Ja, daar is ongeduld omdat Maroela nie by simplistiese “oplossings” wil inval nie, omdat Steve Hofmeyr nie in alles heeltemal kritiekloos gesteun word nie, omdat die “derde weg” waaraan Solidariteit werk te langsaam en vir sommiges te vaag blyk te wees. Daar is plek-plek ongelukkigheid oor die opvatting dat “nice guys come second” – asof dit beter is om nog voor die eindstreep lewenslank met die jis in die tjoekie te gaan sit, en omdat te min oor sekere randakker-godsdiensopvattings berig word. Kortom, sekere lesers wil eenvoudige “oplossings” ryp druk sonder om die boemerang- of Pandora-effek raak te (wil) sien.

Die dag wat Maroela oppervlakkig raak om die zefs te paai, laat Maroela meer as 99% van sy lesers in die steek. Wil Maroela deel van die meningsvormersgemeenskap wees, of slegs tot die een spreek wat sy Sondagmiddae verwyl deur te kyk hoe vinnig hy brullend en met skreeuende band uit sy motorhuis tot in die straat kan jaag, en dan weer ewe luidrugtig tot terug in die motorhuis – die hele Sondagmiddag deur? Nie dat alle lesers nie belangrik is nie, en dat probeer word om iets vir almal te bied nie, maar sektoraal eksklusief kan dit ook nie wees nie.

Ten slotte. Ongelukkig bied die wyse waarop sommige lesers in hul kommentare op Maroela reageer (maar duidelik elders “warm gebroei” is) aan nie-Afrikaners ’n valse beeld van hoe die Afrikaner is. Een brokkie haatspraak wat nie vinnig genoeg raakgesien word om verwyder te word nie, rig enorme skade aan die beeld van die Afrikaner aan. Warkoppe se uitlatings elders het al reuse skade aan baie duur internasionaliseringsaksies om die beeld van die Afrikaner en sy saak te bevorder, aangerig.

Wanneer iemand Maroela lees, moet hy met ʼn positiewe beeld van die Afrikaner gelaat word, moet sy hart warm klop vir Afrikaans, maar Maroela kan dit nie alleen doen nie. As dit die uitstalvenster van Afrikaans en sy mense wil wees, is dit belangrik dat die lesers in hul kommentare en bydraes as bouers optree, en nie deur hul ongepoetste bydraes die Afrikaner help begrawe nie.

 

Die reine waarheid en ander liegstories

Dit is amper Kersfees en die kopkrap oor wat om vir iemand te koop is voor die deur. Dink dan gerus daaraan om Die Reine Waarheid en ander liegstories, aan te skaf. Die grondslag vir hierdie bundel is gelê toe ek na my pa se dood  in 1977 begin het om veral sy Namakwalandse stories na die beste van my vermoë te rekonstrueer en op te teken. Later het ander kontreistories uit ander dele van die land gevolg, en so ver moontlik, met ʼn humor-inslag. Dit is net as e-boek beskikbaar. Meer besonderhede, ook oor waar dit aangeskaf kan word, kan op my skrywersblad by http://www.boekemakranka.co.za/Herman.htm bekom word.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

jakoos ·

As ek nie kan krities wees nie, sal ek ook nie prys nie. Ik heb gezegd!

Maar ek kan vrae stel: Soos waar kry jy die “derde weg” waaraan Soliforum werk? Of is dit net jou term?
Maar dan is daar tog seker iets waarvan jy weet – en ek wat myself nogal as ingelig beskou, niks van weet nie. Dis juis my klagte – soos al op hierdie webblad verwoord – dat ek nie Soliforum kan ondersteun nie, want ek weet nie mooi wat hulle wil en waarheen hulle onderweg is.

Vra dan nou vir Flip of Kallie om ons in te lig – en stuur dit sommer vir Willie Spies aan dat hy dit op Radio Pretoria (en verwantes) kan uitblaker. Ons soek na duidelikheid oor Soliforum se sieninge. Gee dit asb tog vir ons. (Maar omgord maar julle se lendene vir die kritiek wat gaan kom).

Pieter van der Dussen Senior ·

Ek het tevore my agting vir Herman Toerien se komentaar uitgespreek en doen dit ook in hierdie geval. Nogtans meen ek dat sy eerste paragrawe toeligting vereis ten opsigte van die teenstelling wat hy tref. In a;bei gevalle was die regime bloot getrou aan sy eie Kommunisties-rewolusionere. Maar hoe teeenstrydig dit ookal klink was hy elke keer aan sy eie grondwetlike beginsel van grondwetlike menseregte ontrou omdat in albei gevalle die Christelike Godsdiens die teiken van die twee regimes is. Wat IS betref hoef niks meer gese te word nie as om daarop te wys dat hulle die militantste van die reeds uiters militante Islamitiese aanslag teen die Christendom en selfs die Jodedom voer. Maar wat Noord-Korea betref gaan dit nie om Islamitiese anti-Christelikheid nie, maar om die plaaslike regime se Kommunistiese geesgenote teen die Christendom. ‘n Tyd gelede is daar berig dat na skatting meer as 200 000 Christene in Noord-Korea in kampe aangehou word. Hier by ons word die Kommunisme die afgelope kwarteeu stukkie vir stukkie ingevoer. Dit is veral in die onderwys sigbaar. Kader Asmal was ‘n Kommunis en het lewensori-entering as verpligte skoolvak ingevoer wat van meet af a- en selfs anti-Christelik-gerig is. Wat ho-er onderwys het hy openlik verklaar dat dit voortaan na Kommunistiese patroon gebou sou word en het hy in 2002 volle wetlike beheer oor alle sekondere instellings geneem en dit met die onlangse NWU0gebeure bevestig. Sy opvolger Pandor se man is lid van die SAKP en al verskoning wat sy gehad het waarom sy dit nie is nie was dat sy ‘n moslem is. Na haar het die hoofkommunis Nzimande die hoof van onderwys geword met die patetiese Angie Moshekga as sy assistent. MaroelaMedia se redaksie is in besit van ‘n artikel van my met die opskrif PRIVATE ONDERWYS EN OPLEIDING:
VRYE GEHALTEONDERWYS ‘N NOODSAAK -Die Kommunistiese Aanslag watt nie vir Die Groot Debat aanvaarbaar was nie. Dit is op aanvraag gratis per e-pos bekombaar by [email protected].

Henry ·

Als goed en wel, maar ‘n gebrekkige humorsin maak dit gewoon onmoontlik om tussen tong-innie-kies en platvloerse zefgeit te onderskei.

So ‘n gebrek is gewoonlik een van die kenmerke van ‘n oorontwikkelde ego. Nog iets waarvoor mens visskriklik vissigtig moet wees, ou Tjaaina.
:-)

Rudi ·

Man, Landsat het nie so ‘n skerp resolusie nie. Moenie laf wees nie. Die resolusie van Landsat in die visuele spektrum is 30 meter. Met ander woorde, selfs al is jy 30 meter by 30 meter groot, sal jy ‘n enkele spikkel wees waarvan geen fyner details sigbaar is nie. Vir enige skerper resolusie sal die buurman duur moet betaal, en selfs dan het die skerpste datastelle (met wye dekking) ‘n resolusie van etlike sentimeter. Met ander woorde, die kaalbaaier se gesig sal uit een of hoogstens vier blokkies bestaan – totaal onuitkenbaar – en geen ander details sal uitgemaak kan word nie. Wat meer is, die meeste lugfoto’s word tussen 10 en 2 geneem sodat skaduwee’s nie die terrein versteek nie – en jy moet in elk geval nie dan sonbaai as jy nie velkanker wil opdoen nie. Nee wat, daai voorbeeld is sommer nonsens.

Herman Toerien ·

Dankie Rudie. Ek is op die verslae van die USGS ingeteken en het my data uit een daarvan gekry. Ek het nou na Landsat self gaan kyk, en sien die verwysings is na ‘n bofbal-diamant (inderdaad 30 meter deursnee) en nie ‘n bofbal elf nie. Die USGS het dalk die “diamant” weggelaat, of ek het dit verkeerd gelees. (Sonder konteks sou ek bv nie weet wat die diamant beteken nie). Ek onthou ek het nog baie tyd spandeer om die groote van ‘n bofbal om te werk na iets wat ons ken. Gelukkig, so ver ek weet, het die berig uitgeval uit die ruimtenuus wat ek vir Sterre en Planete skryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.