Nuuskommentaar: Word ras al weer al belangriker?

Grafika: Twitter

Grafika: Twitter

Of ʼn mens nou dink dis reg of verkeerd, is daar wêreldwyd toenemend tekens van ʼn “herlewing” van rasbewustheid en in sommige lande word selfs institusionele maatreëls hiervolgens getref. Ons is egter nog ver van ʼn gevolgtrekkingsvlak en besprekings hieroor behoort baie versigtig en met inagneming van ander se gevoelens gevoer word.

Dis nie ʼn vraag of dit reg of verkeerd is nie. Dis ook nie ʼn vraag of ʼn mens dit wil hê of nie. Dit lyk asof ras as norm weer wêreldwyd aanklank vind en dié rasbewustheid kom ook nie net van een kant af nie. Die vraag is ook relevant op die vooraand van Erfenisdag môre.

Gister het die burgemeester van die Amerikaanse stad, Charlotte in Noord-Carolina, ʼn aandklokreël ingestel, nadat ʼn noodtoestand wat vooraf afgekondig is, nie die gewenste uitwerking gehad het nie.

Die onluste, met ʼn oorweldigende rasse-ondertoon, volg nadat ʼn swart man deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet is.

Dis niks nuuts nie. Die VSA is die afgelope aantal jare gereeld geruk deur onluste nadat gewoonlik ongewapende swart mans deur wit polisiemanne geskiet is. Daar is al omvattende ondersoeke gedoen.

En tog gebeur dit weer en weer.

In die proses is ʼn beweging gestig met die naam #BlackLivesMatter. As ʼn soort teenvoeter vir hierdie uitdrukking volgens ras, is ʼn beweging gestig, #AllLivesMatter.

Intussen is daar op ʼn laer vlak onluste by universiteite, ook met raskwessies as grondslag. Dit het groot ooreenkomste met wat hier gebeur. Wanneer ʼn “ander soort” by ʼn bepaalde instelling ʼn sekere kritiese massa bereik, lyk dit of daardie groep nie meer bereid is om by die heersende kultuur in te pas nie en hul eie ding op hul manier wil doen. Word hierdie groep nog groter, is dit ʼn geval van reg of weg met die groep wat voorheen die toon aangegee het.

Dit boemerang op ander vlakke, soos die jongste meningspeilings, wat toon dat Donald Trump nou sy voorsprong bo Hillary Clinton om die presidentskap, tot vyf persent vergroot het. (Ander peilings mag ander syfers hê).

Op 19 September, berig ʼn nuusblad van San Francisco, dat die San Francisco State University die jongste instelling is wat Afro-tema vloere in koshuise aan swart studente bied. (ʼn Mens kan jou die gevolg indink as ʼn universiteit hier “wit-tema”-vloere in koshuise sou instel).

Volgens ʼn peiling is 84 % van Amerikaners, die meeste swart mense inkluis, gekant teen hierdie reëling en bekommerd dit kan tot ʼn herstel van segregasie in die VSA lei.

Maroela het reeds op 12 September ʼn artikel in die Christian Science Monitor oor die moontlike desegregasie van die VSA onder die loep geneem.

Plaaslik slaan die rasbewustheid ook in talle opsigte hard uit. Verskeie swart leiers en instellings het byvoorbeeld hul sterk voorkeur vir ʼn swart kandidaat vir Kovsies se rektorspos uitgespreek. Die ander twee finaliste is bruin (waarskynlik die sterkste kandidaat) en ʼn wit vrou van Argentynse afkoms.

In hul uitsprake laat hierdie groepe en individue geen ruimte vir misverstand dat hul steun daaroor gaan dat die man swart is nie. (In die proses word taamlike vieslike verwyte na oud-rektor Jonathan Jansen geslinger, dat hy in wese nie genoeg anti-wit was nie).

Kortom, voorbeelde vanoor die hele wêreld kan gelys word. Daar is byvoorbeeld ʼn horde stukke op die internet oor beweerde rassisme in Nieu-Seelandse rugby.

Word die woordeboeke, die grondwet en die internasionale reg nadergetrek, maak ras nie ʼn norm of aspek uit van die term volk nie. Ras, as norm vir selfregering, is pertinent uitgesluit in artikel 235 van die grondwet en so ook die internasionale reg. Die naam van die skynbaar abortiewe Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe, sluit ook ras uit by die identifikasie van gemeenskappe wat vir minderheidsregte (waaronder selfbeskikking) kwalifiseer.

(Ja, as mens diep genoeg in veral Nederlandse literatuur gaan krap, gaan ʼn mens nog definisies kry wat ras insluit).

Tydens die Kodesa-onderhandelings het diegene wat vir selfbeskikking en selfbestuur onderhandel het, versigtig weggebly van die ras-norm en ook later met die voorstelle van die Volkstaatraad.

Die feit was egter dat die ANC behoorlik ras op die brein het en enige verwysing van groepselfstandigheid as ʼn rasgedrewe ding of uitkoms vertolk. Dit was onder andere duidelik in ʼn onderhoud tussen Beeld en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC.

Was die tydperk van 50 jaar sedert die VSA segregasie afgeskaf het en sedert Australië sy beleid van White Australia laat vaar het, te min vir ʼn nie-rassige denkwyse om by lippediens verby in te sink? Of is die konsep net nooit behoorlik aan almal verkwansel nie, onder meer ook nie aan swart groepe nie, wat juis met ʼn herlewing van swart trots te make het?

Dis nog te vroeg om finale oordele te fel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakkalas

Ek is al so moeg vir die ras issue. Die ANC het dit as sy verkiesing veldtog tema gebruik en wat het dit hulle in die sak gebring??? Daar gaan altyd rasisme wees want mense is anders geskape. Kom daaroor en beweeg aan. Moenie vashaak op een plek nie. Meer belangrike dinge verg nou aandag.

Protes

Ek is so moeg vir die alewige politiese korrektheid selfs die media gee nie die feite soos dit is nie tensy dit ‘n wit persoon is dan word die ras op die hoofopskrif geplaas gee die feite soos dit is as ‘n Chinees ‘n winkel beroof het se dat dit ‘n Chinees was en so ook as die skuldiges swart ,wit was.

Koos

Ek stem saam die huidige onluste by die universiteite is nie die studente nie die meerderheid is swart studente gee die feite soos dit is

Kobus

Weereens ‘n nugtere beredeneerde artikel. Bygesê, sekere van ons Afrikaanse aanlyn ‘koerante’ is egter oorsensitief vir die realiteit, nie omdat ‘n persoon van ‘n sekere ras as sodanig tipeer word nie, maar bv omdat die ANC, van die betogende studente en hul leiers, of sekere mense soos Max en andere wat al gesê het witmense moet stilbly, die raskaart speel, as mens daarop reageer, al is dit op beskaafde wyse, is die Afrikaanse aanlyn ‘koerante’ oorsensitief vir die werklinheid. (Blykbaar nie as die rubriekskrywers daaroor skryf en sekere voorbeelde ophaal nie.)

Uvonka

Rerig????? Dit raak nou erg vervelig!!!!!!