Nuuskommentaar: Word SA ’n kommunistiese staat?

Argieffoto

Argieffoto

Iets belangrik wat pres. Jacob Zuma onlangs gesê het, het so byna-byna deur die krakies geval. Sy opmerking dat die ANC-alliansie vasberade is in sy strewe om ’n sosialistiese, kommunistiese staat te skep, is verswelg in die polemiek oor of daar nie dalk tog onmin tussen die alliansievennote is nie. Maar die opmerking oor ’n kommunistiese staat kan nie maar sommer aangeslaan en geïgnoreer word nie.

Zuma het onlangs in reaksie op berigte dat daar probleme tussen die partye van die drieparty-alliansie is, gesê die partye is verenig in hul doelwit om ’n sosialistiese, kommunistiese staat te skep. Dié aankondiging het bietjie verdwyn in die polemiek oor hoe heg die alliansie is, of nie. Buitendien is Zuma se voorliefde vir kommuniste, en veral in ekonomies-verwante portefeuljes, lank reeds bekend.

Maar is dit iets wat verdien om so kommentaarloos geïgnoreer te word, veral nadat daar vanuit die Seunse Weenkoor (en ja, vir die lesers wat dit nog nie voorheen raakgeloop het nie, die term word reg gebruik nadat Tim du Plessis dit herskep het – Google die term gerus) so ’n gesanik was toe die onafhanklike kommentator dr. Leopold Scholtz gewys het op die oorheersende rol wat die SAKP al lankal in die ANC speel?

Nie dat dit noodwendig meer so maklik is om kommunistiese vriende in die buiteland te vind vir voorkeurbetrekkinge nie. Maar dié wat daar is, soos die spartelende Kuba, word omtrent verstrengel met pogings om handel en ander betrekkinge te verbreed.  En ja, Suid-Afrika het ook reeds Kuba met ’n “kontantinspuiting” gehelp terwyl Suid-Afrika dit nie kan bekostig nie. Uit die Vrystaat kom onheilspellende berigte oor hoe sukkelende munisipaliteite deur die ANC-regering aangesê word om die Kubane wat deur premier Ace Magashule gewerf is, teen astronomiese salarisse en byvoordele in diens te neem. Terwyl die kundigheid ook in Suid-Afrika beskikbaar is.

En minister Rob Davies hou China graag voor as kommunistiese land waar die ekonomie werk. Hy laat egter na om te meld dat China se ekonomie nog min kommunistiese elemente oor het. Maar die regering vlieg die roete tussen Johannesburg (of Waterkloof) en Beijing behoorlik snuif.

Gelukkig is daar nie veel van ’n uitreik na Noord-Korea nie.

Pogings word verskerp om alles en nog wat onder die toesig of beheer van die staat te plaas, waaronder skole, en daar is bespiegelings dat die ANC beplan om die finansiering van universiteite te gebruik om dié tersiêre liggame se outonomie weg te neem.

In ’n nuwe artikel, “Ignoring the Obvious”, skryf die Amerikaanse analis Thomas Sowell dat die verskil in prestasies tussen staatskole in die VSA, en “charter schools” nie om dowe neute is nie. Albei soorte skole word deur die staat gefinansier en onderrig is gewoonlik gratis, maar “charter schools” word deur ander instansies beheer wat spesifieke doelwitte en uitkomste, soos akademiese voortreflikheid, nastreef. Selfs in ghetto’s waar die twee soorte skole naas mekaar bestaan, of soms selfs skoolgeboue deel, is die verskille in prestasie enorm groot.

Sowell skryf sy artikel na aanleiding van ’n voorval toe ’n onderwyseres, blykbaar van ’n “charter school”, die polisie laat kom het om ’n leerling wat ontwrigtend opgetree het, te verwyder. Die polisieman wat opgedaag het, het skynbaar nie te sagkens met die moeilikheidmaker gewerk nie. Die media in die dampkring van die Seunse Weenkoor het ’n kabaal opgeskop oor menseregte, sonder om in ag te neem hoe die kind die ander kinders en onderwysers se menseregte geskend het.

Die vermoë van “charter schools” om van ontwrigtende leerlinge ontslae te raak, beteken dat hierdie leerlinge weer op staatskole afgelaai word. Die wat nie geteister wil word nie, stroom dan weer na “charter schools” waar hulle weet strenger dissipline, en goed soos bepaalde etiese kodes en etos op hulle wag. En beter prestasie.

Hier wil die staat beheer oor bykans elke lewensfeer oorneem, en ook byvoorbeeld die beheerraadmagte van model C-skole, wat nie ten volle deur die staat gefinansier word nie, ook oorneem. Die wiel wat wys dit werk nie is egter reeds ontwerp en beproef.

Kommunisme is so gister soos eergister se oorskiet hoenderpastei wat in die sonkamer vergete gebly het, maar die ANC het nie oor sy voete geval om Zuma te repudieer nie.

Die groot vraag is of dié gevaar gaan verdwyn as Zuma eendag die politieke toneel verlaat. Maar dit hang af van watter soort politieke regeerdoktrine hy nalaat, of dan, toegelaat word om na te laat.

En ons is nie al wat wonder nie. Beleggers wil ook groter duidelikheid hê, maar tot dusver praat die regering bont wanneer reageer moet word om disinvestering te probeer keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Sarie ·

As die EFF sterker raak sal hierdie kommunistiese geluide ook sterker na vore kom. Die ANC vanaf Mandela se dae kon dit nog verbloem onder sogenaamde demokrasie, maar Malema se ‘n ding op sy naam. So die die Weense Seunskoor en Social Justice Warriors moet oplet in die klas voor hulle kommentaar lewer.

heni seemann ·

tot dusvêr is alle politieke rigtings misbruik… mens bly mens… dit was vroeër nie beter nie en sal in die toekoms nie ook verbeter nie…

Johannes ·

Persoonlik glo ek ons is verseker oppad na ‘n kommunistiese staat:

Die ANC is ‘n kommunistiese terroriste organisasie – ons word tans deur hulle regeer en dit het reeds met Mandela begin, maak nie saak hoe mooi die liberaliste hom wil skets nie. Hoekom sal die ANC nie sy kommunistiese ideologie op ons afdwing nie? Kyk na die huidige samewerking met Rusland, Sjina en Kuba – sterk kommunistiese bande.

Was dit regtig die moeite werd om met kommuniste en terroriste te onderhandel?

Winston ·

Stem saam met julle stelling. Kommunisme is lewendig. Demokrasie is vermoor

Koos ·

Ja Zuma hoef nie die woord te speek nie. Gratis onderwys, gratis behuising, gratis dienste, gratis opleiding. Al die gratis dienste moet iemand voor betaal . Dit is die klein groepie belastingbetalers, wat net hoër belas gaan word want die ekonomie gaan nie genoeg groei nie. Toenemende staatsinmenging by universiteite en skole is nog ‘n bewys. ” die grond behoort aan almal wat dit bewerk”-Die bybel van die ANC , die Vryheidsmanifes, is kommunisties.

Grassie ·

Ek dink Herman moet die opskrif van sy berig so ‘n bietjie verander – van “word SA………………..” na “SA word ‘n kommunistiese staat” Met ‘n uitroepteken in plaas van ‘n vraagteken. S A het al baie ver gevorder op die pad van sosialisme – dit is nog net ‘n hanetreetjie na volle kommunisme, wat gaan lei tot selfvernietiging. Ek het gehoop Ramaphosa sal ‘n bietjie briek aandraai maar helaas – ek sien hy is kort-kort in Kuba vir ‘n paar dae.
Herman, baie dankie vir jou bydraes. Ook dat jy nie bang is om onder strooipraters in te klim nie.

Leendert van Oostrum ·

So lank as wat skole (enige skole) hul handjies in die regering se sakke het sal die regering beheer oor hulle uitoefen.

Dit is juis om die regering op sy plek te hou dat daar duisende ongeregistreerde (dus “onwettige”) privaatskole regoor die land is. Die onderwysers in hierdie skole loop die risiko van drie maande tronkstraf, maar verkies dit bo die skole wat onder die regering se duim is. Ouers wat hul kinders na sulke “onwettige” skole stuur loop die risiko van ses maande tronkstraf, maar hulle is deperaat om goeie onderwys vir hul kinders te kry.

Onweettige regeringsinmenging is ook die hoofrede waarom 98% van die amper sestig duisend tuisleerders in die land nie by die owerheid geregistreer is nie, ten spyte daarvan dat die ouers die risiko van tronkstraf loop vir nie-registrasie.

Daar het ‘n hele ondergrondse onderwyssektor ontwikkel waaroor ek verlede jaar ‘n artikel in ‘n Britse onderwysjoernaal gepubliseer het: “South Africa’s Outlaw Educators”.

Poplap ·

Ek dink nie dat dit so oulik van Oom is om die aandag wyd en syd oor die sogenaamde onwettige privaatskole te verkondig nie. Om nie eers van Oom se artikel in die Britse onderwysjoernaal te praat nie.

Wat gaan ons daarby baat om slapende honde wat bowendien onder toenemende druk verkeer, wakker te maak?

Dit kan selfs as ‘n uitdaging deur die beleërde siele beskou word.

Indien die regime wel sulke sothede waarna u verwys, sou aanvang, sal hul geloofwaardigheid en steun onder die Suid Afrikaanse bevolking asook in die buiteland, onherstelbare skade ly. Dat sulke gevolge in ag geneem mag word, is gelukkig hoogs waarskynlik.

Leendert van Oostrum ·

Poplap,

Ek het geen inligting gegee waarmee die regering en sy beleidmakers nie weldeeglik bekend is nie.

Trouens, ek het die afgelope jaar aan verskeie vergaderings met nasionale en provinsiale onderwysdepartemente deelgeneem waar juis hierdie aspekte bespreek is.

DAAN ·

DIT LYK VIR MY KOMUNISME IS SUPPER KAPITALISME. IN DIE VORIGE RUSSIESE SAMELEWING ONDER KOMMNSME HET JY DIE SUPER SUPER RYKES IN DIE REGERING EN HULLE BEVOORREGTE MAATS GEKRY EN DAN DIE WERKERSKLAS WAT 95 % VAN DIE SAMELEWING IS. LYK MY SA IS OP PAD SOONTOE.

Gerhardt ·

Die ding is, die ‘mense’ hier wil nie werk nie, so mens kan kwalik van ‘n “werkersklas” praat.

Manie ·

Toe Zumpies aan bewind gekom het, het ek al voorspel van die neiging na Sosialistiese Kommunisme. Hier is dit vandag so duidelik as daglig.
Sy destydse gesprekke met verwysing na China en Kuba was die eerste tekens.
Dit gesê wat gaan of kan ons daaromtrent doen Soos ons weet is die EFF op presies dieselfde maar meer arrogante pad. Indien ANC beheer verloor gaan hulle eenvoudig net saamsmelt met EFF en hulle Doen dan net wat hulle wil!!

Rynhardt ·

Maroela waar is my kommentaar?Is die waarheid al weer te erg?

Henry ·

Interessante artikel Herman.

Die ” rewolusie” waarna die huidige regime knaend verwys en wat sedert 1994 aanhoudend in die retoriek van die ANC voorkom, bevestig wat jy sê. Daar is sovele bewyse van die invloed wat die SAKP op die strategie en denke van die ANC leierskap het, dat daar kwalik enige siel kan wees, wat hierdie feit durf betwis.

Dit is veral onder die leierskap van Thabo Mbeki dat hierdie diepgewortelde oortuiginge van die SAKP, die voorste sitplek ingeneem het. Aanvanklik effe bedek, maar soos die tyd aangestap het – alhoe meer openlik.

Mbeki is ‘n marxistiese gesalfde wat reeds in 1971 as die SAKP se Administratiewe Sekretaris aangestel is. Hy het onder andere aan die Lenin skool in Moskou studeer en het saam met oorle’ Chris Hani die jongste lede van die SAKP se Sentrale Komitee geword. Mbeki was toe ‘n skrale 27 jaar oud!

Dus.
Laat daar geen twyfel wees dat die marxiste se diktatuur van die proletariaat die doelwit en nuwe jimmil van die huidige bewoners van Luthuli Huis is nie.

G Rademeyer ·

Alliansies wat tans opspraak verwek is die vry handels ooreenkomste tussen Australie en Sjina, Korea en Japan asook die tussen die VSA en Kuba en dan die nuwe groot alliansie tans in gedrang. Dan moet daar nie vergeet word van die toestroming van honderde duisende muslims vanaf Syria en Afrka. Europa word tans versmoor wat sal lei tot oneindige kriminele dade en die uiteindelike vernietiging van alle westerse waardes asook sy godsdiens.
Zuma weet nie wat hy aanvang nie maar die hele wereld blyk in dieselfde rigting te beweeg. Alles loop orals skeef en betree ons n heel nuwe wereld, nie net in SA nie maar orals. Kyk maar na die manne in SA se stringe kwalifikasies. Dit blyk n grap te wees naar sal uiteindelik groot nagevolge toon.
Nee, ons almal, oral ploeter maar net voort en hoop van die beste.
Nefie

Pieter V ·

Zuma, Obama,Merkel ,Putin en al die president en eerste ministers is strooi poppe van die geld mag .

Johannes Meintjes ·

Afrika, wat in sy aard net die vrugte van bome wil pluk wat deur ander of die natuur geplant is, is natuurlik lief vir die kommunistiese ideaal wat herhaaldelik al bewys het dat dit korrup en onvolhoubaar is. Die probleem in SA rus dus nie by die natuurlike kommunistiese neiging van inheemse bevolkings nie, maar by die versuim van die wie beter weet om beter te doen, en nog nie werkbare alternatiewe vir selfbestuur in plek het nie

Thea Gerber ·

Laaaankal sterk op pad.
Op wie se naam dink julle word al die plase wat in die grondhervormingsproses gekoop word geplaas?
Nie op die mense wat die plaas kry om te bewerk nie.
Neee, op die naam van die regering van die RSA.
Die mense kry net die reg om die plaas te verbruik. (geen vingerfout hier nie)
So word plaas vir plaas ingepalm vir die staat en die dag as die hele land aan die regering behoort, dan gaan ons wonder hoè dit gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.