Nuuskommentaar: Word SA wéér gekaap?

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: Leon Lestrade/ANA

Jacob Zuma was die enigste oudpresident wat nie by pres. Cyril Ramaphosa se inhuldiging teenwoordig was nie, glo weens die hofsaak waarby hy nou betrokke is. Reg of verkeerd, dit lyk of Zuma steeds ’n byltjie met sy opvolger slyp, onder andere deur een van sy vroue as sy verteenwoordiger na die verrigtinge te stuur – volgens Zoeloe-tradisie dus ’n taai klap uitgedeel. Gaan Zuma deur ’n netwerk molle soos die ANC se sekretaris-generaal en die openbare beskermer, die land deur afstandbeheer bly regeer, of gaan Ramaphosa werklik die oorhand kry?

Die samestelling van ’n kabinet en ’n provinsiale uitvoerende raad (provinsiale kabinet) is ’n komplekse taak. Die president en die premiers kan met die aanstellings feitlik die land maak of breek, en kan fokus op ’n tipe tegnokrasie, of om dit so wyd as moontlik politiek aanneemlik te maak.

In die Suid-Afrika na 1994 het die fokus sterk op verteenwoordiging geval. Die proses is deur oudpres. Nelson Mandela self ingelui. Hy het gesorg dat alle swart volke in die land verteenwoordig is, dat daar ook bruin, Indiër en wit kabinetslede is, dat tradisionele leierskap verteenwoordig is, en so meer. Dit is deels ook vereis deur die aanvanklike instel van ’n regering van nasionale eenheid, wat onder meer daartoe gelei het dat die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, redelik gereeld as president waargeneem het.

Seker die beste aanduidings van “verteenwoordiging” bo kwaliteit was die aanstelling van emeritus prof. Sibusiso Bengu as minister van onderwys. Die land pluk nou nog die suur vrugte hiervan. Einste Buthelezi het blitsvinnig van binnelandse sake ’n kruppel gesukkel gemaak wat nog besig is om kop te probeer optel – natuurlik nie juis maklik gemaak nie deur bedenklike ministers aan te stel en die gesukkel voortgesit het, en korrupte praktyke laat floreer het.

Nog ’n klip in die skoen was dat Mandela later voor die keuse te staan gekom het van óf minister Stella Sigcau óf Bantu Holomisa. Sigcau was power, maar Mandela het haar gekies omdat sy ’n hoër status in Xhosa-adelskap gehad het. Holomisa, goed bevriend met Mandela, het die UDM help stig en is steeds die leier daarvan.

Oudpres. Thabo Mbeki. (Argieffoto.)

Tydens die bewind van oudpres. Thabo Mbeki het die Vrystaatse provinsiale regering hard gewerk om die Moqhaka-munisipaliteit onder administrasie te plaas. Dit het uiteindelik geslaag en die prosesse kon in werking tree om die munisipaliteit van algehele ondergang te red. Maar skielik daag Mbeki en sy gevolg met ’n helikopter op, en herstel die gediskrediteerde burgemeester en sy raad in ere. Dit blyk die burgemeester was familie van mev. Mbeki.

Huwelike tussen lede van die Bafokeng-stam, Suid-Afrika se rykste stam danksy platinum-belange, en ander koningshuise het skynbaar ’n redelike netwerk van onaantasbares geskep.

Die proses het veral ’n lelike wending geneem toe oudpres. Jacob Zuma president was, en die Gupta-familie in wese ’n groot rol in die aanstel van sekere sleutelministeries gespeel het. Dié sake is reeds in verskeie ondersoeke en boeke van ondersoekende joernaliste oopgevlek, en word nou deur die Zondo-kommissie geformaliseer.

Weens die naelskraapse proses waardeur pres. Cyril Ramaphosa aan bewind gekom het, moes hy minstens aanvanklik van die Zuma-kornuite akkommodeer. Van een, Supra Mahumapelo, vorige premier van Noordwes, kon hy op ’n manier uitskakel, maar om van nog een, Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat ontslae te raak, blyk ’n perd van ’n ander kleur te wees. Magashule is nou, as sekretaris-generaal van die ANC, steeds besonder invloedryk en het die ANC in die Vrystaat boonop in ’n beergreep beet.

In hoe ’n mate regeer Zuma nou “uit die graf?”

’n Nuusverklaring van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat laat dit blyk dat dié erg geplunderde provinsie, sodat die eens modelstaat nou die land se sukkelprovinsie is, steeds in die Magashule-Zuma‑beergreep vasgevat is.

Die VF Plus beskryf van die aanstellings van sekere LUR’e as skokkend, en noem die aanstelling van die voormalige burgemeester van einste Moqhaka, Tshidi Koloi, by die naam as Magashule-kornuit. As LUR vir openbare werke kan daar weer ’n strooptog op tenders wees, sou die reeds gevestigde styl voortgesit word.

Ook die leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, dr. Roy Jankielsohn, is bekommerd, en sê al die aanstellings is gemaak vanuit die kamp van Magashule.

Hoeveel ander Zuma-“molle” daar nog landswyd ontplooi is, sal mettertyd ontrafel word.

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Een van die mees kommerwekkende ampte wat nou op die oog af as Zuma-mol diens doen, is die huidige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Sy het pas sleg op haar baadjie gekry na haar bedenklike verslag oor die Vrede-suiwelprojek deur die hof afgeskiet en ongrondwetlik verklaar is. Sy het ooglopend veral ministers, maar ook Magashule, nie by die skandaal betrek nie. In die proses is die bande tussen ’n bedrag van R30 miljoen belastingbetalersgeld, wat vir die arm gemeenskap bedoel is, en uiteindelik vir ’n Gupta-troue by Sun City help betaal het, nie ondersoek nie.

Al is sy al meermale vasgevat soos in haar ondersoek na die Reserwebank, is sy besonder selfversekerd oor haar ondersoek na Pravin Gordhan. Ook dié saak is nou vir hersiening op pad hof toe. Dit lyk of die lang agterweë ondersoek deur die parlement na haar bekwaamheid nou uiteindelik sal plaasvind.

Dit op sigself dui daarop dat die Ramaphosa-faksie die oorhand oor die Zuma-faksie begin kry.

Dit sal binnekort ook duidelik wees hoeveel waarde Suid-Afrikaners kan heg aan die ANC se integriteitskommissie. Dié kommissie is aangestel om te probeer voorkom dat ANC-lede met ’n bedenklike wolk oor die kop tot ampte verkies word. Tot dusver was die indruk oorwegend dat die kommissie geminag word.

Oor die algemeen pas die ANC die regsbeginsel toe dat iemand onskuldig is tot hy skuldig bevind word. Die regsbeginsel dat iemand, soos in ’n strafsaak, bo redelike twyfel skuldig moet wees, geld gewoonlik. Dit het byvoorbeeld gegeld in die geval van Noord-Kaapse politici, waaronder John Block.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Wanneer dit kom oor bedenkinge oor integriteit, sou dit waarskynlik beter wees om veilig te speel en iemand minstens op die ys te hou wanneer daar prima facie (met die eerste oogopslag)‑aanduidings is van skuld. Strafmaatreëls kan permanent geld as daar bo redelike twyfel, of met ’n oorwig van waarskynlikheid, afhangend van die aard van die beweerde oortreding, finaal gehandel word.

Die land kan eenvoudig nie bekostig dat Zuma vanuit die spreekwoordelike graf bly regeer nie. Ramaphosa self het ’n swak wegspring gehad toe hy met soveel oorgawe aan die grondgryp sonder vergoeding begin werk het. Dit sal moeilik wees om presies te bereken hoe groot die skade is wat hy hierdeur aan die ekonomie aangerig het.

Om by sy ideaal te kom om die ekonomie te herstel, sal sulke oordeelsfoute nie weer gemaak kan word nie, en sal die skade wat reeds aangerig is, omgekeer moet word. Dit gaan moeilik wees omdat die ANC, weliswaar verswak, op daardie “ticket” die verkiesing gewen het, met veral die EFF wat sal sorg dat die saak nie in lêer 13 onder die laag stof op rak 13 vergete bly nie.

Hoe gouer die Zuma-molle geïdentifiseer word, en stappe gedoen word om hulle te isoleer (en waar nodig in oranje oorpakke uit te dos), hoe beter. Sommige gaan moeilik wees om uit te werk, soos Bathabile Dlamini, wat as president van die Vroueliga, eintlik ongeag watter hofbevinding of objektiewe vaardigheidstoets, ’n vrypas kabinet toe het, en Magashule wat ook min of meer onaantasbaar is. Magashule kan egter nie ’n minister wees solank hy die ANC se sekretaris-generaal is nie, maar as SG is hy veel magtiger as minister, en ’n ideale Zuma-mol.

Geen verantwoordelike mens wil sien dat die ganse Suid-Afrika ’n “gangster”-staat word (of bly) nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

chris ·

Miskien, eendag sal die skape besef, die wolwe wat die jakkalse weghou, eet hulle nog nie omdat daar nog baie hase is. Die hase voel veilig, want die wolwe verkies baba hasies. Die wolwe en hyenas se bokvleis ooreenkoms is in gedrang. Kan die skapies met die leeu gaan onderhandel?

dejager ·

Herman jy moet te alle tye probeer om nie die woord integriteit saam met’ ANC ‘in dieselfde sin te gebruik nie.
ń Mens kan nie ons skone taal so verkrag nie.

Dirk ·

CR het in sy toespraak laat blyk dat daar nie weer bevoorregting sal wees nie. Ek wonder aan wie hy daardie boodskap wou oordra. Sou dit op minderhede gemik wees dan wil ek vir minderhede se dat CR ook deur minderhede gesien moet word as n “gangster” wat minderhede niks gun nie en ook net van minderhede wil vat, so pasop om deur CR mislei te word! Die een ANC kamp wil minderhede deelname met bevoorregting aan die ekonomie radikaal ontse, terwyl die ander ANC kamp minderhede deelname met bevoorregting aan die ekonomie gematig wil ontse. Om die Zuma-molle ook eers mettertyd te ontrafel gaan te min te laat wees omrede die skade van staatskaping in sekere opsigte reeds onherstelbaar is, veral mbt kaderontplooiing wat strek van bo tot onder in die staatsdiens, SOE’s en wanbetalende munisipaliteite. Raak jy ontslae van een radikaal dan staan daar reeds nog een reg om sy plek te vat. Die enigste lewensvatbare oplossing vir minderhede is om in die buiteland te bele, om buitelandse maatskappye te stig en om vanuit die buiteland met SA besigheid te doen en om minderhede te help om te emigreer. Om van binne SA besigheid te doen met SA en vir SA gaan ANC beleidsgewys, wetgewing gewys en arbeidsonrus gewys, die moeite, nie loon nie. Met of sonder CR het staatskaping van minderhede gyselaars gemaak en of minderhede dit wil weet of nie, die herstel van staatskaping se skade, is steeds deel van ANC kaping.

Kediksie ·

Suid Afrika is nie net gekaap nie. Suid Afrika is laaaankal op n trok versteek en oor die grens, Zimbabwe toe!!

Gert van Wierdapark ·

SA word nie WEER gekaap nie!!! As geluister word na veral die Zondo Kommissie, lyk dit asof Kaping soos die Heelal is, dit brei net uit, en teen ‘n SA-brekende pas!! Daar word agteruit en vooruit geskep/geplunder, terwyl daar nog iets in die pot oor is! Pres CR sal “hase uit n hoed” moet trek om die pad van Kaping te verminder/te stop. Indien die Kaping net toegelaat sou word om ongestoord voort te gaan, gaan die DA gouer as later nog hooi op sy vurk kry as die hele land GEKAAP sou wees = dan kan hy dalk beheer vat oor die “een GROOT Provinsie”.

Andreas ·

As ek na Zuma se fotos kyk, sal ek hom altyd onthou as die mees positiewe en gelukkigste mens op aarde, dit straal so uit.

Andreas ·

As mens nou so lekker om die vuur met hom kon gesels, niks politiek nie, net as mens, weg van die nare geld, ek moet sê ek mis nogal sy laggie.

Skuweberg ·

As ‘n mens ‘n hele weermag en SAP agter jou het, hoe is dit dat jy bang is om op te tree teen ‘n paar rugstekers wat die President en die meerderheid mense SA gyselaar hou. Ons weet nie, want ons is nie in die regering nie.

marous ·

Staatskaping is ‘n verfoeilike leunwoord wat uitgedink is om die verorbering van die oorlogsbuit deur die hienas van die land sagtens te omskryf . Dit gaan daagliks voort en sal nie ophou selfs al is die laaste rower se onwerpersklere deur motte opgevreet nie . Dis die waarheid .

Pieter ·

Die regsbeginsel wat geld is dat ‘n persoon onskuldig GEAG word tot skuld bewys is – nie dat hy onskuldig IS tot skuldig bewys nie. As jy oortree, IS jy skuldig – ongeag of jy skuldig bevind is (word) of nie!

Stephan de S ·

Dit wat Pieter hierbo sê maak nogal n wêreldse verskil.
Na hd nuwe kabinet en al die intriges besef ek net dis feitlik onmoontlik dat die ANC kan verander.

Nonnie ·

…….En die ORGIE stoom net voort……….My arme land en ons mense met verstand en visie…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.