Nuuskommentaar: Word Zuma nou ge-PW of bly hy pyn in die nek?

President Zuma toe hy op 21 Mei 2014 as parlementslid ingehuldig is. Foto: GCIS

President Zuma toe hy op 21 Mei 2014 as parlementslid ingehuldig is. Foto: GCIS

Baie Suid-Afrikaners se aandag is nou met kommer gevestig op die platinumgordel eerder as Nkandla en sy baas. Tog kan die twee sake nie los van mekaar gemaak word nie – beide is ewe veel ‘n ekonomiese as politieke kwessie.

‘n Ekonomiese ontleder sal waarskynlik ‘n meer bekommerde oog op die AMCU-kwessie werp, soos ook blyk uit gereelde kommentare deur ekonome soos Mike Schussler en Dawie Roodt. Vir politieke ontleders bied Zuma se wel en weë altoos ‘n vrugbare teelaarde vir ontledings en bespiegelings.

Reeds voor die verkiesing het verskeie politieke ontleders ‘n feitelike konsensus bereik dat Zuma nie sy tweede termyn sal voltooi nie. Die vernaamste onderlinge verskil was hoe gou Zuma op die een of ander wyse “herontplooi” sou word.

Hierdie week behoort groter duidelikheid te verleen oor hoeveel ‘n mens moet lees in die ANC se aankondiging dat Zuma met verlof gestuur is. Die wyse waarop dit gekommunikeer is, skep die indruk dat dit ‘n soort verpligte, en onbepaalde verlof is. Hoewel die feite dramaties verskil van die wyse waarop oud-pres. PW Botha gepos is, is daar tog heelwat geluide wat baie dieselfde klink. En net om alles te kroon, word daarna aangekondig dat Zuma “vir toetse” in die hospitaal opgeneem is. Weer eens laat die wyse waarop dit gekommunikeer word, meer vrae as antwoorde.

Die feit dat dit “onnodig” gevind is om ‘n waarnemende president aan te wys, klink ook na ‘n goedkoop manier om te veel ooreenkomste met die PW-ongeval te verdoesel. Alternatiewelik klink dit, is daar werklike paranoia dat ‘n waarnemende president onder die huidige omstandighede te maklik tot ‘n PW-FW-situasie kan lei.

Boonop kondig Gwede Mantashe na die ANC se lekgotla aan dat die ANC nou meer aandag aan die swart middelklas gaan skenk. Reeds voor die verkiesing het minstens een ontleder wat daarop aanspraak maak dat hy goed ingelig is, aangedui dat daar spanning tussen Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, en Zuma is. Zuma sou onder meer sy vertroueling, dr. Zweli Mkhize van KwaZulu-Natal se premierskap na Luthuli-huis ontplooi het om Mantshe se gesag in te kort.

Tog, veral na die Gautengse verkiesingsuitslae, word daar binne die ANC deeglik besef dat Zuma nie tot die swart middelklas spreek nie. Trouens, die verkiesingsveldtog moes al so aangepas word dat Zuma kon fokus op die belangegroepe tot wie hy wel aanklank het – die superryk swart elite en die meestal arm landelike klasse in Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Maar dié “taktiek” gaan waarskynlik tydens die komende munisipale verkiesings ‘n slagting in Gauteng tot gevolg hê.

Trouens, onlangse ontledings het getoon dat hoe meer swart mense tot die middelklas toetree, hoe slegter vir die ANC.

Die verkiesing het ook nie ‘n einde gebring aan die blootgestelde flanke van die ANC nie. Inteendeel. Die vervanging van die gerespekteerde Max Sisulu as speaker van die parlement met die Zuma-lojalis Baleka Mbete, het reeds geboemerang. Dit laat die fokus nog sterker op toesmeerpogings val, en die slegte Nkandla-nuus hou nie op nie – soos einde verlede week se Mail & Guardian onthullings en oor harde vrae oor die R20 miljoen vir drie ander strukture op die Nkandla-landgoed.

Voorts was daar Sondag weer harde beriggewing oor die sogenaamde spioenasiebande, en adv. Glynnis Breytenbach het gou getoon dat haar nuwe rol – as DA-LP, vir haar ‘n ideale platform bied om die NGV-kwessies hard in die openbare oog te hou. Zuma se hand is ook duidelik in die sake wat bevraagteken word te lees.

Boonop het Zuma ‘n makro-kabinet aangestel, sonder om in die proses veel vertroue in die grootste gros van die verkose ampsdraers se vermoëns te vestig.

Met Sisulu se afdanking as speaker, is die invloedryke Sisulu-familie vir die soveelste keer hard in die gesig gevat, na Zuma ook reeds die invloedryke Mbeki-familie vervreem het.

Vervreemding binne Xhosa-geledere is die laaste ding wat die ANC nodig het wanneer AMCU, met ‘n groot deel van sy magsbasis in die Oos-Kaap gesetel, sy spiere bult. En dis nie al nie. Vat aan die Xhosas, en daar word eintlik in die gesig van ‘n groot deel van Numsa met sy belange in die Oos-Kaapse motorbedryf getrap, en ook die Cosatu-faksie wat onder die leiding van Zwelinzima Vavi staan.

Binne die ANC was daar reeds voor die verkiesing heelwat ringkoppe wat gemeen het die ANC het ‘n fout gemaak deur met Zuma as “gesig” die verkiesing in te gaan. (Waar dit hardop uitgespreek is, is gou toegeslaan, en na die verkiesing goed gésel ingelê). Maar na die verkiesing, so lyk dit, het die gevoel dat Zuma ‘n fout is, sterk toegeneem.

Met Zuma wat nog na bewering weens ‘n pyn in die nek in die hospitaal beland het, was die klimaat binne die ANC stellig nog nooit so gunstig om Zuma te pos nie, en was ‘n gesonde skeut paranoia van Zuma en sy ondersteuners seker nie onvanpas nie. Vandaar die feit dat die nuus oor die “onbepaalde verlof” opgedroog het, geen waarnemende president aangewys is nie, en dit as groot nuus aangebied is dat Zuma dalk gisteraand reeds uit die hospitaal sou kom. Vanoggend is ook berig dat hy wel ontslaan is.

Dit klink al hoe meer en meer soos die PW-geval.

Die ANC-lekgotla het ook tot die slotsom gekom dat die AMCU-staking nie net ‘n arbeidsaangeleentheid is nie, maar ook ‘n politieke aangeleentheid.

Maar die ekonomiese implikasies van die platinumgordelramp is meer konkreet meetbaar as die impak van Zuma se presidentskap (onder meer op beleggersvertroue).

En nee, dis onwaarskynlik dat Zuma in hierdie ronde reeds ge-PW sal word. Maar as sy gesondheid gaan aanhou knoue vat weens spanning oor al die sake wat in die heksebrousel in die drukkoker prut, gaan sy vyande die deksel laat afskiet.

Wêreldwyd, as dit nie te flink met die ekonomie gaan nie, neig die publiek se persepsies nóg negatiewer te wees. Dit is byvoorbeeld goed gedemonstreer deur verlede week se Rasmussen-peilings in die VSA. In die opsommende verslag word dit dan ook duidelik gestel dat die Amerikaners dit al vir jare duidelik maak dat die ekonomie hul vernaamste oorweging is. Die peilings verlede week toon dat die VSA se beleggersvertroue die hoogste sedert 2007 is, die indiensnemingsindeks het tot die hoogste vlak in ses jaar gestyg, en dertig persent van dié wat werk het, soek al weer na beter werk. Altesaam 42 meen hulle sal vanjaar nog beter werk in ander maatskappye kry. Die verbruikersvertroue-indeks, behalwe vir ‘n enkele uitskieter, is die hoogste sedert 2007.

Maar die heel jongste peiling toon ook aan dat 47 persent van die Amerikaanse kiesers meen die VSA verkeer in ‘n resessie.

Op sy Facebook-blad, in reaksie op Rapport se voorbladberig, ‘Myne gaan sluit’ – staat draai rug op staking-krisis, skryf Schussler in geen onduidelike taal nie, HKGK. Hy verduidelik in ‘n kommentaar op sy eie inskrywing: “Point is R12 500 is not really possible when labour cost are 40% and other costs are 40% and the rest is capital in either depreciation or (not lately dividends). When you want 127% more then 40% goes over 90% and everybody is &^%$. You can not mine (ex capital at 130% of income….).”

Intussen speel ‘n ontsettende menslike tragedie ook af.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is die gevolg van die Amcu-staking dat die volhoubaarheid van die myne reeds só afgetakel is dat verskeie marginale skagte gesluit sal word. “Amcu het inderwaarheid reeds baie van sy lede en ander onskuldiges slagoffers uit ʼn werk uit gestaak – selfs al hou die staking vandag op. Grootskaalse afleggings en afdankings vir stakingmisdrywe gaan volg; kapitaal-uitbreidingsprojekte wat nuwe poste sou meebring, gaan gekanselleer word; en permanente skade is weens die lang sluiting aan skagte berokken.”

Beeld skryf onder meer in ‘n hoofartikel: “Suid-Afrika het nou ’n stewige hand nodig om die ekonomie na kalmer waters te stuur, anders gaan almal slegter af wees.”

Maar die minister van minerale hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi het intussen aangekondig dat die regeringstaakspan wat hy aangestel het, sy betrokkenheid by die onderhandelinge gaan staak indien daar nie vandag ‘n ooreenkoms bereik word nie. Ramathlodi voer vandag vir die laaste keer samesprekings met Amcu en die mynmaatskappye Implats, Amplats en Lonmin in ‘n poging om die voortslepende staking te probeer beëindig.

Maar is die regering van Zuma werklik opgewasse om die kwessie aan te spreek? Die ANC sit voorts in die dilemma dat die adjunk-president, Ramaphosa, weens sy voormalige platinum-belange waarskynlik hoegenaamd nie as geskikte rolspeler sal deug nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.