Nuuskommentaar: Wreed, wreder, Suid-Afrika?

Die foto is na 'n plaasmoord geneem.

Die foto is na ‘n plaasmoord geneem.

Die wreedheid waarmee ’n bejaarde Vrystaatse boer die afgelope week gemartel en vermoor is, is in die media as dierlik beskryf. Diereliefhebbers sal verskil, en meen geen dier is tot sulke wreedheid in staat as die mens nie.

Die wreedheid waarmee plaasaanvalle dikwels gepaardgaan, is so erg dat nie almal dit oor hul hart kan kry om dit oor te vertel of neer te pen nie. Dis in enige taal walglik. So walglik dat dit bo enige politieke of ideologiese vooroordeel behoort uit te styg. Die land behoort sy kop in skaamte te laat sak dat ’n deel van sy inwoners tot sulke wreedheid in staat is.

Dit is egter nie net met plaasaanvalle wat hierdie verstommende wreedheid voorkom nie. Suid-Afrika is die verkragting-hoofsetel van die wêreld, maar dit is nie net die getalle wat skok nie – die wreedheid waarmee dit gepaardgaan, die talle slagoffers wat uiteindelik vermoor word, en die profiel van die slagoffers laat die normale mens die kop skud. Wie verkrag nou ’n tweejarige (en selfs jonger) meisie? Wie verkrag ’n oumatjie van 102? Hoe siek moet so iemand wees?

Hoe lyk ’n gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding buite ’n veiligheidskompleks? In middelklasbuurte is genoeg duiwelsvurk-heining opgerig om die Chinese muur wat lengte betref die kroon af te steek. Agter die heining is woeste honde. Die huise self beskik nie meer net oor diefwering nie, maar tralies wat aan tronktralies herinner. Die versekering vereis gewoonlik boonop dat daar alarms aangebring moet wees, en dikwels dat dit aan ’n stelsel gekoppel sal wees om ’n gewapende reaksiemag na die toneel te ontbied.

Nie alle gemeenskappe kan sulke luukshede bekostig nie. Word die beskikbare inligtingsbronne nageslaan, is dit opvallend hoe dikwels die ontleders die blaam van die oortreders wegskuif en die reaksie van blootgestelde gemeenskappe as wreed beskryf. Dit sluit reaksies in soos gemeenskappe wat boendoe-howe “oprig” (indien hulle die moeite wil doen) en die verdagtes op die wreedste maniere moontlik straf. Dikwels word die verdagtes wreed vermoor.

Niemand sal dit betwis dat die land met ’n gees van wetteloosheid te make het nie. Is daar ongelukkigheid oor dienslewering, sal die geringste vonkie soms tot geweld lei en dikwels is buitelanders se winkels die eerste bestemming wanneer plundertogte uitgevoer word. Drankwinkels is ook gewilde bestemmings. Die voorbeeld van hierdie soort gedrag word tot in die parlement gestel.

In Suid-Afrika is die wrede misdade nog meer akuut as dit oor rassegrense plaasvind. Die regering se lomp bontpratery om dit weg te probeer praat as bloot misdaad slaag nie. In die vorige bedeling was dit verswarende omstandighede om ’n misdaad, veral geweldsmisdaad, oor die rassegrense heen te pleeg, juis oor die impak wat dit op intergroepverhoudinge in die breë sin uitoefen.

Sielkundiges, sosioloë en kriminoloë lys redes vir die voorkoms van wrede misdaad. In vandag se “beskaafde” samelewing sou verwag kon word dat die debat oor gemeenskappe se reaksie op “ondenkbare” misdaad, soos kindermolestering, sou handel daaroor dat frustrasie nie oorkook in ’n “wrede” reaksie nie. Hierdie “wrede reaksie” waaroor in sommige oorsese lande diskoers gevoer word, klink byna verspot wanneer mense dit op Suid-Afrika probeer projekteer. Daar is “administratiewe wreedheid” soos om iemand wat nog nie skuldig bevind is nie borgtog te weier en hom in die tronk aan te hou. Ons roem ons immers op die leerstelling iemand word onskuldig geag tot die persoon bo redelike twyfel skuldig bewys is.

Nog ’n “wreedheid” wat elders onder skoot kom, juis in die geval van kindermolestering, is om die skuldige se naam op ’n tipe “skandlys” bekend te maak.

Suid-Afrika het nie die luukse van hierdie soort debat nie. Die land het ’n skrikwekkende geskiedenis van aangekeerdes wat hulle aan selfs wreder misdaad skuldig maak terwyl hulle op borgtog uit is, of op parool vrygelaat is.

Die land het immers te make met misdadigers wat eenvoudig verstom. In die proses beroof hierdie misdadigers ons van die voorreg om ’n beskaafde, regverdige en billike regstelsel te kan hê – ons moet heeltyd improviseer om gate toe te stop.

Wanneer ’n mens dink ’n sekere wreedheid kan nouliks oortref word, soos om ’n bejaarde boer se voetsole met ʼn strykyster te verbrand om hom te probeer dwing om te sê waar sy kluis is (wat hy terloops nie gehad het nie), dan tref ’n volgende berig met nog groter wreedheid die gemeenskap.

’n Volgehoue veroordeling hiervan deur die regering is nodig, gepaard met die beskikbaarstelling van middels om dit hok te slaan. Want plaasaanvalle vind byna altyd oor rassegrense heen plaas en dis nie asof die land nog ’n kluis vol kapitaal van versoening het om op te teer nie. Daai kluis is kommerwekkend leeg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Akram

Genugtig. ek is in n posisie waar ek met baie buitelanders te doen kry. Die dieng wat die meeste gevra word is hoekom is die misdaad so hoog? wel ek kan nie antwoord nie. wat ek wel weet is dat die verhouding tussen die geweld en die misdaad wel buite verhouding is. mense verloor hulle lewens vir selfone en sulke dinge. soms word n persoon vermoor vir boggerol. dit is die ergste. dit laat my dink aan n duiwe boer wat sy oortollige en nuttelose duiwe uitdun. die hof presedure maak dit ook nie makliker vir die klaer nie. so… Lees meer »

gerrie

Minder regte vir misdadigers en ontduikers en doodstraf as jy lewe neem
eenvoudig

pop

Herman daar se jy dit, in die vorige bedeling was dit verswarend om geweld misdade te pleeg, ongeag wie dit was. Nou word alle blaam vir die land se probleme op apartheid geplaas en so word die woede aangeblaas. Almal is kwaad. Die wittes oor ons uitgelewer is aan die boosheid. Die swartes oor hulle melk en heuning (VERNIET NATUURLIK) belowe is en dit nie gekry het nie. En hulle is net so vreesbevange soos ons. Die regering kyk ander pad terwyl hulle kyk hoeveel hulle kan skep aan die land se reserwes. Vir my voel dit of die regering… Lees meer »

Lenie Grant

Die regering kan nie teen die misdadigers optree nie. Hulle is self n klomp misdadigers en liegbekke. Die een het n dokters graad in dit en die ander een is n gekwalifiseerde ingenieur. Ons hoor dit heeldag oor die nuus en dit is hulle wat die land regeer. Wat verwag jy?

jacques

Ek wil nie eens meer die nuus lees van plaasmoorde nie dis te onstelend.Die probleem is die mense wat invloed het en die geld het om iets te doen kyk ander pad,want hulle kan hulle self beskerm.Ek het die laaste optog van motors gekyk teen high jackings ek kon nie een nuwe model voertuig raaksien daar nie, almal was ou model voertuie wat vir my se dis net die gewone landsburgers gewees wat deelgeneem het daaraan.