Nuuskommentaar: Zindzi in Ramaphosa se invloedsfeer – maar ganse SA bloei saam

Zindzi Mandela (Foto: Twitter)

Die telefoniese preek wat die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, met Zindzi Mandela, ambassadeur in Denemarke, gehad het oor haar, Zindzi, se rassistiese twiets, was klaarblyklik soos water op die eend se rug. Die tirades per Twitter duur steeds voort.

So tussenin het die Phumzile van Damme-saga ook ’n wending geneem toe die gesin met wie sy aan die Kaapse Waterkant in ’n “rassistiese” onderonsie betrokke was, na vore gekom het en hul kant van die saak gestel het. Van Damme het na bewering voor hulle in ’n ry probeer indruk. En toe sy teengegaan is, self met rassistiese beskuldigings vorendag gekom het.

Dit is maar enkele voorbeelde waar die wurgketting stywer om pres. Cyril Ramaphosa se nek begin span, en hy skynbaar volhou om verkeerd te reageer (as hy reageer) – met ’n openbare beskermer (OB) wat skynbaar ’n baie steil bult vir die president aan die bou is. 

Die lys van omstredenes wat Ramaphosa in sy invloedsfeer intrek, word al hoe langer en lei nou tot al hoe meer omstredenheid. Een persoon wat haar nié in hierdie sfeer bevind nie, is die OB, die moontlik selfs nog meer omstrede adv. Busisiwe Mkhwebane.

Sy sorg dat die geringste misstappie, of vermeende misstap van Ramaphosa of sy ringkoppe, so in die nuus bly dat daar nou al hoe meer opskrifte is wat vra of sy nie dalk iets meer as net die kat aan die stert beet het nie, en dat Ramaphosa die spit daaroor kan afbyt. Veral Gwede Mantashe, Tito Mboweni en Pravin Gordhan bly in haar visier. Ramaphosa, wat self kwesbaar is oor ’n geldjie vir sy ANC-leiersverkiesing, hanteer die situasie maar aan die lomp kant. Die moontlikheid dat dit staatskapers terug in die stoel kan plaas word selfs geopper.

Iemand wat meen dat Ramaphosa nie beheer aan die verloor is nie, is waarskynlik eers ná Kodesa gebore, waar hy die reputasie gekry het dat hy van die “briljantste” breine wat die NNP in die veld kon stoot met minagtend min moeite met lang donkie-ore kon uitrus.

Die nuus dat Ramaphosa vir Zindzi vir ’n verdere ses maande as ambassadeur in Denemarke gaan aanhou (sodat Ramaphosa genoeg tyd het om te besluit wat om met ambassadeurs wie se ambassadeurskontrakte verstryk het te doen) versterk die indruk dat ander faktore as die bestaande internasionale praktyk swaarder weeg, en baie daarmee te doen het dat Zindzi, ’n openlike ondersteuner van die EFF en Julius Malema, te veel invloed uitoefen om gewoon vir die uiterste rassistiese wangedrag gepos te word.

Sy daag die regering boonop uit deur die Deense regering se arm te probeer draai om Malema as ’n spreker te nooi na ’n SA gerigte ekspo.

In haar jongste Twitterade vaar sy verwoed uit teen mede-twitteraars wat op die oog af van haar verwag om ’n meer versoenende rol te speel volgens die voorbeeld wat haar pa gestel het. Sy skaar haar openlik en uitdruklik by die nalatenskap van haar ma, Winnie, wat ook nie as versoener bekend gestaan het nie.

Zindzi Mandela se sarkastiese twiet aan Max du Preez. (Skermskoot: Twitter)

Die ironie drup sterk uit dié stelling. Op haar Twitter-rekening stel sy haarself bekend as die “Founder of the Mandela Legacy Inc.” Iemand wat nog nie van dié spook gehoor het nie, bevind hulle in goeie geselskap, want as die stigter se gesindheid lynreg met dié van hierdie instelling bots, is dit erg verwarrend.

Om agter die kap van die byl gegoogle te kom, is omtrent soos alle paaie wat na die Nelson Mandela-stigting loop.

En die stigting trap weer met mening modder oor Zindzi. Eers is in die media berig die stigting wil na haar aanvanklike tirade ’n ontmoeting met haar reël, toe is dit weer ontken, en in die proses is eintlik van gerespekteerde joernaliste soos Jacob Rooi leuenaars gemaak. Met te veel bewyse op die tafel het die stigting teruggekrabbel met ’n woordspeling wat enige ambassadeur of politikus jaloers sou maak.

So tussenin het Zindzi ook Max du Preez se hare deurmekaar getwiet, en hom selfs in een spottend as “baas” aangespreek.

Geen wonder nie ’n bekende kommentator het, sonder om ’n naam te noem, onder groot gelag op ’n radioprogram gesê dat middernagtelike twiets verwelkom word, want mense is nogal geneig om laataand, met ’n paar doppe in, te sê presies hoe hulle voel.

So tussenin voed hierdie soort onmin ook rassegevoelens. Anders as die fiksie waarmee die regering grootliks omgaan word rassegevoelens nie net beïnvloed deur dit wat wit mense sê of doen nie.

Die DA sit nou juis weer met ’n taai toffie tussen die voortande oor die herrie waarby Van Damme betrokke is, nadat die gesin wat sy van rassisme teenoor haar by die Waterkant beskuldig het, met hul weergawe vorendag gekom het. Volgens hulle was Van Damme die een wat rassisties opgetree het, nadat die gesin beswaar gemaak het oor Van Damme voor hulle in ’n tou probeer indruk het.

Dié saak het juis geëskaleer nadat Helen Zille (per twiet) gemaan het die gesin moet eers hul kant van die saak stel voor hulle veroordeel word. Van Damme het woedend teenoor Zille gereageer. Dit het sedertdien geblyk talle mense is nou al boordensvol daarvoor dat sodra ’n swart en ’n wit persoon oor iets haaks is, is die wit persoon sommer rassisties, al was hy/sy die slagoffer van rassisme.

“Baas” Max het dit nou ook aan eie bas beleef.

Ja, daar is baie wit mense wat die land ’n groot verskoning verskuldig is oor rassistiese optrede. Maar daar is ook baie swart mense wat hulle ook daaraan skuldig gemaak het en wat die land ook ’n groot verskoning verskuldig is, of by gebrek aan ’n verskoning, geMomberg te word.

Julius, Zindzi, Phumzile (as dit sou blyk dat die gesin die waarheid praat), Andile Mngxitama en ’n ellelange lys (baie teen wie reeds klagtes by die SAPD, Menseregtekommissie en elders gelê is) moet sommer voor in die ry staan (asseblief sonder om in te druk).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Pensioenaris ·

Ek weet die Prez sal nie hierdie lees nie want hy is nie bekommerd of enigsins gepla oor wat aangaan in ons land nie. DAAROM DINK EK AL HY IS ‘n REUSE TELEURSTELLING VIR BAIE VAN ONS – EN DAN KOM HY ELKE KEER MET DIE MOOI “STUUR MY”. Nou wonder ek waarheen??

Andreas ·

Herman, dis tragies, intussen skerm ons eie mense vir ons president, ook soos in van die kommentare onderaan hierdie artikel, dat die biesies bewe:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/bespoedig-ondersoek-na-ob-vra-vf-plus/

Maar, dan kan mens ook weer gerus hiérdie artikel én die kommentare onderaan lees:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/openbare-beskermer-nou-in-anc-se-visier/

Lees dan ook hiérdie berig:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ramaphosa-sing-ander-deuntjie-oor-bosasa-betaling/

Andreas ·

Kobus, ek glo van nee, al wat ek sê, dit lyk my die mense is nou so moeg vir korupsie, hulle “keer” nou al dat CR tog net nie ook swakhede wys nie, maar as hy dan nou nie so onkreukbaar is nie, dan moet die lewe sy loop neem.

lanie ·

Dank haar onmiddelik af. Suid Afrika het sulke mense nodig nie.

hendrik ·

Maar dan moet jy die hele ANC afdank en sommer ook die eff wat in die parlement sit.

Nico ·

Die wat nog gedink het dat CR die goue redder gaan wees moet nou besef hy is niks anders as die res van die ANC nie. Hulle het geen bekommernis waar obs heen gaan nie. Almal gee net om vir hul eie bankrekening.

Realis ·

Die VF Plus en Dr. Groenewald is die enigstes wat werklik perspektief het oor wat aan die gang is. Gann speel saam met Jan- Jan en Musi en los die VF Plus uit. Hulle weet wat hulle doen en sê en dit is geloofwaardig.

Kallie ·

Regtig Realis? Volg jy hulle blindelings met die geloof of hoop dat hulle weet wat hulle doen? Deel jou eie mening met ons. Sogenaamde “leiers” het ons al baie gefaal.

piet piet ·

@realis, ek kon dit nie beter stel nie 100% saam met jou.

Andreas ·

Realis, lees my kommentaar hier bokant, ek stem 110% saam dat sy onbevoeg is, sy moes nie eens verkies gewees het nie, maar laat dit dan in die howe bewys word sy is vekeerd, ek sê dit juis omdat as sy nou uit die pos verwyder word, sal bykans almal, CR inkluis, verlig wees dat haar bevindinge teen hom ook bes moontik in die doofpot sal verdwyn. En so onkreukbaar is hy nie, lees ook weer wat Herman Toerien skryf.

Kobus ·

Hoe dikwels het ons daai woorde al gehoor Realis. Ek is bevrees, Groenewald het die pad byster geraak.

humor ·

Die situasie beweeg stadig maar seker na n plofbare punt toe. Ek wil C R sterk aanbeveel om te bedank en n nuwe party te stig sodat daar sekerheid kan kom en ons kan aanbeweeg. Hierdie rugsteker – verdeeld in die regering hou vir SA groot gevaar in. Nie net in die vorm van geweld nie, maar ook verdere groot ekonomiese tuimeling.

Tino ·

Ek dink Zindzi moet eers bietjie al die miljoene rande se skuld wat sy het delg voordat haar opinie ‘n kans kan kry.

Los die probleem kind daar of nog beter pos haar om ‘n ambasade in siberie te bestuur.

nabetragting ·

“Raar maar waar” ‘n Diep en omvangryke stelling , wat menslike gewete aanbetref. Dit plaas basies die hele menslike geslag in die beskuldigde bank. Genadiglik mag die Christen Gelowige wat tans vasgevang is in die benarde situasie waarin SA homself bevind, die uitsprake in die Skrif oor “gewete”, vir homself toeien. Hebr.10:22

ne ·

Sy moet maar liewer bly waar sy is. Hoop hie is nog skerpskutters in SA.

Jimmy ·

Dit is weer eens duidelik dat net ‘n gematigde sentrale groepering sal die land vorentoe kan neem. Van Damme, Malema, Mandela en ander ANC kaders hoort nie daar nie.

ChrisE ·

Ek weet regtig nie hiekom ons wittes ons nog aan snert steur nie. Daar is ‘n lied “Kinders van Afrika” ek dink Richard vd Westhuizen sing dit. Ons leef in Afrika. As jy Afrika gaan probeer verander gaan jy teleurgesteld wees. Die westerse lande (Europa en Amerika) het westerse demokrasieë op Afrika probeer afdwing. Waar in Afrika werk ‘n westerse demokrasie. Al wat Afrika van haarself gaan red is her-koloniasasie. Ons wittes hoort nie in Afrika nie. Of ons nou die 5de of 20ste geslag hier is, die Afrikaan vir Afrika

Nel ·

Hierdie is Afrika-politiekery op sy beste/smerigste… en laat my dink aan die raak opsomming van die Amerikaanse komediant Groucho Marx – “Politics is the art of looking for trouble, finding it everywhere, diagnosing it incorrectly and applying the wrong remedies.”

pieter ·

NAPOLEON,HET GESE ,SINCE THE HAND THAT GIVES IS ABOVE THE HAND THAT TAKES, MONEY HAS NO MOTHERLAND.

O Wee ·

Jy is heeltemaal reg ChrisE, ons blankes hoort nie in Afrika nie maar tog is dit ons geboorteland, in liggaam en taal en tradisie. Waarheen dan nou?

Jerry ·

Wit en swart regdenkende mense moet nie op sosiale media direk reageer op wit en swart rassiste se uitlatings en uitsprake nie, omrede dit net iets beteken en stukrag kry wanneer jy mondelings daarby betrokke raak. Gaan le net doodeenvoudig n klag as jy so sterk daaroor voel of los dit vir die politieke partye om te hanteer! Max is nou besig om dieselfde fout te maak as wat Steve gemaak het deur uitgelok te word tot n bekgeveg teen n rassis met n agenda van idees om wit en swart teen mekaar op te sweep!

Krap uit die mandjie ·

Ons hoort nie hier nie. Ons sal altyd die Krappie wees wat uit die mandjie probeer klim en nes ons dink ons het dit gemaak, hang daar weer ‘n paar aan ‘n poot en tref ons die bodem met ‘n slag, pote innie lug. Dis Afrika met Afrika standaarde. Aanvaar dit of vlug. Ek vlug, want ek en my kinders verdien beter.

SUSAN ·

Dit hang af wat en hoe Tannie Naledi haar betig het. Moenie sulke nare dinge van die wittes se nie, dis regtig nie goeie maniere nie. onthou ons is Afrika wittes het nie regte nie, net goed genoeg om te gee en te gee.

Drikus Kotze ·

Die gemagtigde ambassadeur van die Republiek van Suid-Afrika is die verteenwoordiger van Suid-Afrika in die buiteland; Sy het ‘n posisie as gevolg van internasionale praktyk sedert die permanente vestiging van ambassadeurs in die 16de eeu. Uit hierdie funksie van gesant en boodskapper van die staat het sy die rol van persoonlike verteenwoordiger van die staatshoof.

John ·

… ja, Max, ‘n stofjas help nie meer in vandag se tye nie… inderwaarheid was die kapkarryers se gesigte ook maar meestal vaal… van die skrik.

judie ·

Ag mense, hou op om julle te ontstel oor wie wat se. Dit wat uit ‘n persoon se mond kom (al is dit geskryf) weerspieel slegs sy/haar binneste. Mooi en opbouende dinge kan nie uit ‘n vrot binneste kom nie. So dit wat iemand se is net sy of haar eie ‘n getuienis van hom/haarself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.