Nuuskommentaar: Zondo-kommissie wil rug styf maak

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Karen Sandison/ANA

Die voorsitter van die Zondo-kommissie se voorneme om ’n taakspan aan te stel om onder meer vas te stel hoekom soveel sake waaroor mense klagtes by die polisie gaan lê het, gewoon verdwyn het, is sinvol. Om ’n volledige prentjie van staatskaping en die omvang van korrupsie in Suid-Afrika te kry, en doeltreffend aandag daaraan te gee, gaan egter veel meer optrede as net die uitdeel van oranje oorpakke verg.

Suid-Afrika se geskiedenis met kommissies van ondersoek is nie altyd ’n gelukkige een nie. Reg of verkeerd, daar hang dikwels ’n wolk van wantroue oor die werkswyse en bevindings van ʼn kommissie, of soms is die mandaat van die kommissie so beperkend, of sommer so van die punt af, dat dit lyk of die bevindinge van die kommissie reeds bepaal is nog voor die kommissie ’n dag in sitting was. By ander lyk dit of die aanvaarding van die bevindinge afhang wie deur die politieke implikasies geraak word.

Voorbeelde uit die vorige bedeling waaroor daar verdagmakery was, hou veral verband met vliegrampe. Daar is wyd bedenkinge oor die Helderberg-ramp naby Mauritius (wat glo onstabiele kernmateriaal onwettig vervoer het om sanksies te omseil), die Samora Machel-ramp in Mpumalanga (waar Suid-Afrika glo die Mosambiekse president sou vermoor het), en selfs die Rietbok-ramp aan die Oos-Kaapse kus. Laasgenoemde bevat waarskynlik die mees bisarre kinkel van bewerings dat die destydse Afrikaner Broederbond die vliegtuig laat verongeluk het om sy eie leier uit die weg te ruim om ’n bepaalde nuwe politieke koersaanpassing te voorkom.

Wat die nuwe bedeling betref, laat die Seriti-kommissie na die wapenskandaal die meeste vrae. Die voorsitter (of dan die oorblywende voorsitter nadat sy aanvanklike medevoorsitter die hasepad gekies het), regter Willie Seriti, is ’n appèlregter. Sy reputasie is egter erg geknou oor die wyse waarop hy getuienis “gereguleer” het, en sy bevindinge wat ooglopende foute bevat het, soos die stelling dat niemand nog oor ’n aspek van die wapentransaksie skuldig bevind is nie, terwyl twee, Shabir Shaik en Tony Yengeni, fisiek tronkstraf uitgedien het.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping staan onder die leiding van adjunk-hoofregter Raymond Zondo. Op die oog af boesem dié kommissie baie vertroue in. Dit is grootliks aangehelp deur die feit dat verskeie ander kommissies, of soortgelyke entiteite, verskeie aspekte van die staatskaping ondersoek het, en bevindings gemaak het wat aspekte van staatskaping reeds goed belig het. ’n Hele paar boeke deur ondersoekende joernaliste het ook aspekte van staatskaping ontbloot, en word selfs gebruik as bewysbasis wanneer klagtes by die polisie of die Valke gelê word. ’n Hele paar stappe, soos afdankings en aanstellings is reeds gedoen. Heelwat kriminele sake word nou reeds deur die polisie en die Valke ondersoek, onder meer deur die getuienis oor die kommissie te monitor. Wat wel pla is dat die eintlike skelms, die politici, nog nie begin oranje oorpakke ontvang het nie.

Intussen het dit regter Zondo begin pla om getuie na getuie te hoor kla dat sake, waaroor Zondo nou getuienis aanhoor, tevore aan die polisie of die Valke gerapporteer is, maar daarna skynbaar net verdwyn het. Zondo wil nou sy magte, as kommissievoorsitter, gebruik om ’n taakspan van ondersoek hieroor aan te stel, hoofsaaklik om seker te maak instansies neem hulle verantwoordbaarheid op. Zondo is klaarblyklik galsterig oor die parlement se inkonsekwente verbintenis tot verantwoordbaarheid.

Al sou net ’n tiende van die getuienis by die verskillende ondersoeke genoem gewees het, en al was daar net genoegsame bewyse wat die redelike mens met die eerste oogopslag sal oortuig dat ’n misdryf gepleeg is, was daar genoeg sulke bewyse om die president vroeg reeds af te gedank het, en met vervolging teen hom te laat begin. Talle ander koppe sou lankal reeds gerol het – as Suid-Afrika ’n normale demokrasie was. Trouens, die ANC sou in die eerste en beste verkiesing so te sê uit die politieke speelveld gedryf gewees het.

Maar Suid-Afrika is, soos kundiges, pseudo-kundiges en leke lankal reeds met ewe veel gesag verkondig, geen normale demokrasie nie. Soos een politieke wetenskaplike uitgewys het, iets wat elders in die wêreld as skandaal ervaar sou word, word in die ANC nie so ervaar nie. Ja, die ANC is nou al in ’n paar agtereenvolgende verkiesings hard geslaan, maar het met die laaste steeds ’n volstrekte meerderheid behaal. Van die splinterpartye wat ontspring, is nie net radikaler nie, maar is op die oog af selfs meer korrup.

En die vreemde refrein … wat word van die ondersoeke deur wetstoepassingsagentskappe?

Die persentasie sake wat aangemeld word, maar wat nooit voor die hof kom nie, is in Suid-Afrika kommerwekkend hoog. In sommige gevalle, veral gevalle van seksuele misdaad, is selfs die aanmeldingspersentasie laag. Uiteindelik is die skuldigbevindingskoers laag. Maar intussen is die tronke vol, en slagoffers van veral sekere misdade, gaan deur ongelooflike trauma, of daar nou iemand skuldig bevind is of nie.

Iets wat nou gereeld uitslaan, en nou regter Zondo se aandag behoorlik getrek het, is die getuienis van getuie na getuie dat baie van die staatskapingsverwante sake al lankal aan die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe gerapporteer is, en dan net nooit weer daarvan gehoor is nie. Zondo moes verder hoor dat daar dikwels vrees was by polisielede wat verantwoordbaarheidsgetuienis voor die parlementêre oorsigkomitees moes gaan aflê, en dan ook dikwels eers bel om te hoor of hulle maar “mag” getuig, en indien wel, wat hulle moet getuig.

Dit spreek vanself dat hierdie soort gedrag die tande van die parlement trek om sy oorsigrol na behore te kan verrig, maar dit laat ’n mens net wonder wat die werklike omvang van staatskaping, of staatskaping-verwante misdaad in die land werklik is.

Verskeie van die land se beste politieke ontleders, soos prof. André Duvenhage, het lank voor die land amptelik en syfergewys gekwalifiseer het as staat waar korrupsie endemies is, reeds gewoon na die endemiese aard van korrupsie in Suid-Afrika verwys. Net statistici wat suiwer na amptelike statistiek kyk, sou dit kon waag om Duvenhage en Kie. te weerspreek.

Presies hoe uit koers statistiek kan wees, het Transparency International (TI) wat jaarliks die wêreldwye korrupsie-persepsie-indeks die lig laat sien, Suid-Afrika se posisie op dié indeks in die eerste aantal jare van Zuma se bewind elke jaar laat verswak. In die tweede deel van sy bewind, het die land se posisie skielik begin verbeter. Die getuienis voor Zondo en die ander maak TI se syfer uiters verdag. Die verbeterde syfer het boonop min of meer saamgeval met Zuma se opmerking dat korrupsie ’n Westerse konsep is. Boonop het hy verklaar dat hy glo dat hy self goeie werk as president doen.

Boonop, so blyk dit uit die literatuur, kom Suid-Afrika se probleme met korrupsie nie van gister af nie. In 2012 reeds skryf Geo Quinot in ’n verhandeling in publieke reg met die titel, “Die reg se oënskynlike onvermoë om korrupsie in staatskontraktering in Suid-Afrika hok te slaan”, onder meer die volgende:

  • Ten spyte van ’n aansienlike aantal afdwingbare regsreëls wat staatsverkryging in Suid-Afrika reguleer, word hierdie aspek van staatsadministrasie gekenmerk deur hoë vlakke van ongerymdhede. Veral korrupsie blyk hoogty te vier as dit kom by staatskontrakte. Die vraag ontstaan dus hoekom die toepaslike reg oënskynlik nie daarin slaag om korrupsie in staatskontraktering effektief teen te werk nie.
  • Vyf hoofprobleme in die regulering van staatsverkryging word geïdentifiseer wat bepaald die stryd teen korrupsie ondermyn, te wete die gefragmenteerde aard van die regulatoriese raamwerk, die steun op verkrygingsbeleid as die voertuig vir individuele verkrygingsreëls, die desentralisering van beide die verkrygingsfunksie en die skep van verkrygingsreëls, die inkonsekwente toepassing van gemeenregtelike reëls deur howe in verkrygingsdispute en die onsamehangende stelsel van remedies van toepassing op verkrygingstransaksies.
  • Drie stappe word gevolglik voorgestel wat hierdie probleme kan help hokslaan. Dit is die sentralisering en konsolidering van die regulatoriese raamwerk, die skep van ’n sterk, sentrale oorsigstruktuur, en ’n herbesinning van die howe se rol in die regulering van staatsverkryging.

Terwyl Zondo se voorneme belangrik is, is dit ook duidelik dat iets meer omvattend dringend gedoen moet word om die staatskapers en hul staat binne ’n staat “uit te haal”. Die getuienis voor die Zondo-kommissie skets ’n onheilspellende prentjie van die omvang van die tentakels.

’n Vraag wat maar bykans deurlopend in die lug bly hang, is hoe invloedryk Zuma steeds is. Het hy soveel strategiese steun dat hy, sou dit onafwendbaar begin lyk dat hy moet begin mate neem vir sy oranje oorpak, daar nie dalk ’n staatsgreep, of statutêre staatsgreep kan volg nie? Dit is duidelik dat enorme bedrae wat tot dusver heeltemal onderskat is, by staatskaping betrokke was, en dat die rolspelers nie politieke liggewigte is nie. ’n Mens se kop duisel bloot by die gedagte in wat dié staatskapers se gekombineerde vermoë sal wees om ’n staatsgreep uit te voer.

Daar is dus meer op die spel as net reg en geregtigheid of die stabiliteit van die ekonomie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ander Gert ·

Wanneer Zuma vertel dat hy glo – in sy hart glo – dat hy regtig niks verkeerd gedoen het nie, glo ek hom. Ek glo hom dat dit regtig is wat hy dink.

Andreas ·

Dit wat jy hier sê, is maar eintlik op al die kaders van toepassing.

Jan Botha ·

Dink ook aan die woerwar vinnige ondersoek wat die PP gedoen het oor die Estina bedrog.

Nutteloos ·

Hulle kan soveel kommissies en taakspanne op die been bring soos hulle wil. Ja die waarheid kom aan die lig maar ek dink nie dit gaan tot enige vervolging of tronkstraf vir die skuldige partye lei nie. Alles net ‘n rookskerm vd wereld daarbuite sodat dit darem lyk of ons “probeer” om ‘n bietjie huis skoon te maak.

Andreas ·

Tydens Zuma se termyn as president het mens, hoe later dit geword het, al meer weerstand teen die naam Zuma opgebou, tot mens dit later nie meer kon uitstaan nie. Mens het werklik daarna begin uitsien om Cyril se naam in helder ligte te sien flikker. Ongelukkig sal Zuma se nalatenskap nog lank met ons wees, maar Cyril se naam flikker nou al dowwer, in effek is sy liggies ook nou al gedoof, dit kan ons sien wat die ekonomie en die Rand in dié dae daarvan dink. So is daar nou binne ‘n dag R9,6 Miljard se staatseffeke landuit gevat.

Agie ·

Die WAARHEID het ‘n manier
Dit is onafwendbaar en die einde van daardie prentjie laat my jubel
Ek weet verseker WIE is in beheer

Andreas ·

As Zondo al hierdie uitgesorteer het, hy weet dan mos nou presies wat aangaan, wat die oplossing sal wees en hoe om als aan te spreek, ‘n man met insig … maak hom president in Cyril se plek.

fred ·

niemand weet hoe groot die korrupsie is en die skade is baie groter dan CR voorgee…persoonlik glo ek nie dat hierdie land ooit uit die puinhoop gaan kruip…en hulle skep nog altyd…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.