Nuuskommentaar: Zuma agter tralies in dié leeftyd?

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Die Konstitusionele Hof het Dinsdag, in wat wyd beskou word as ʼn historiese uitspraak, oudpres. Jacob Zuma 15 maande tronkstraf opgelê. Die Konstitusionele Hof het Zuma skuldig bevind aan minagting van die hof nadat hy versuim het om voor die Zondo-kommissie te verskyn, soos gelas deur ʼn hofbevel. Feitlik niemand, buiten Zuma-doodslojaliste, meen dat dít die verkeerde of ʼn onwelkome uitspraak was nie.

Diegene wat na die hofuitspraak geluister het, kan ook getuig van die felheid daarvan. Dit was regtig moeilik om jou nie te verlekker in die bevinding van die Konstitusionele Hof wat Zuma met mag en mening oor die vingers getik het nie.

Diegene in Zuma se kamp het uiteraard die hofuitspraak veroordeel. Die MKMVA het reeds by monde van Carl Niehaus ʼn sogenaamde “statement of outrage” gedeel waarin hulle hierdie “ongeregtigheid” ten sterkste veroordeel. Die MKMVA is ook reeds op pad na Nkandla om Zuma te help beskerm teen die staat wat met alle mag en in alle onreg op Zuma wil neerdaal.

In die historiese uitspraak het die Konstitusionele Hof vir die eerste keer in sy geskiedenis iemand strafregtelik skuldig bevind. Boonop is die skuldige party ʼn oudvryheidsvegter en oudpresident van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika. Zuma blyk ook een van die skelmste en sluuste korrupsieplegers in die post-1994-samelewing te wees. Sodoende is hy nie net die absolute verpersoonliking van korrupsie nie, maar na bewering ook een van die grootste begunstigdes daarvan.

Die Konstitusionele Hof het hierdeur ʼn absolute onverdraagsaamheid teenoor wetteloosheid en ʼn minagting van die regbank bevestig. ʼn Swaard van geregtigheid is uiteindelik geswaai in die rigting van iemand wat dit volkome verdien.

Dit is ʼn groot vernedering vir die ANC as party en gaan ook groot interne struweling tot gevolg hê. Zuma is nie net ʼn oudpresident nie, maar ook steeds ʼn verpersoonliking van ʼn bepaalde struggle-era en -held. Daarom gaan dit baie belangrik wees om dop te hou hoe die ANC verder hierop reageer en wat presies die party daarmee gaan maak.

Talle mense is egter steeds wantrouig daaroor of reg en geregtigheid werklik geskied het – selfs ná die hofsaak. Diegene wat heeltemal regverdigbaar meer skepties is, sal dit eers glo wanneer hulle dit sien. Hulle sal dit ook eers glo wanneer Zuma in ʼn oranje oorpak agter tralies sit. Daar is nog baie wat kan gebeur en waarmee gesloer kan word voor hy in die tronk beland. Dit sal ook glad nie vreemd wees as Zuma met groot teatrale drama tronk toe gesleep word nie – hy het nog altyd van ʼn vertoning gehou en sal moeilik dié geleentheid laat verbygaan.

In hierdie opsig sal Zuma waarskynlik ook sy slagofferskap voortsit. Of hy hom nou aan die polisie gaan oorgee en of die minister van polisie en nasionale polisiekommissaris hom persoonlik by sy huis gaan haal, hy sal die kans kry om slagoffer te speel. In ieder geval wen hy – indien hy hom vreedsaam oorgee, is hy die nederige ou struggleheld wat hom aan die onregverdige staat oorgee wat ʼn persoonlike vendetta teen hom voer. Indien die polisie hom by sy huis moet kom haal, wen hy steeds. In daardie geval is hy die siek ou struggleheld op wie die staat met sy volle mag neerdaal – ʼn absolute oorreaksie gegewe hoe nederig, onskuldig en geteiken, asook siek en oud Zuma mos is.

Zuma het met groot moeite die perfekte narratief oor die afgelope paar jaar geformuleer om hierdie presiese situasie ten beste te hanteer. Hy het, nes ʼn slinkse skelm kon, die persona van ʼn geteikende siek ou man opgebou – een wat hy nou perfek kan aanwend om vir homself soveel openbare simpatie en ondersteuning moontlik te in indien iets fout sou gaan.

Selfs al gaan hy tronk toe, is daar steeds wantrouiges – Zuma kan te eniger tyd sy “siekte” aanwend om vir homself dieselfde weg te baan as sy ou vennoot Schabir Shaik. Dit is heeltemal moontlik dat Zuma groot gedeeltes van sy vonnis in die gemak van mediese parool deurbring. ʼn Mens gaan nie weet of hy sy volle straf gaan uitdien totdat hy dit uitgedien het nie. Met Zuma wat so gesout in Stalingrad-taktiek is, weet ʼn mens nooit wat om te verwag nie en is dit belangrik om te sién voordat jy glo.

Hierdie 15 maande is waarskynlik dit wat ons gaan kry. Daar is tans 783 klagte van korrupsie, rampokkery en bedrog aanhangig teen Zuma – 15 maande tronkstraf is nie eens die eerste druppel in die emmer van dit wat hy eintlik moet kry indien hy skuldig is nie. Die blote feit dat Zuma nou tronk toe gaan, is reeds iets wat feitlik niemand regtig geglo het sal gebeur nie. Die kanse dat hy in hierdie leeftyd vir al sy beweerde korrupsie gaan vergeld, is onwaarskynlik.

Daarom is dit belangrik om hierdie 15 maande te waardeer vir wat dit is, aangesien geregtigheid tog geskied het. So klein as wat dit dalk in die konteks van oorweldigende onreg kan voel, so belangrik is dit tog dat dit enigsins gebeur het.

Tog moet daar nie sommer ʼn groter ommekeer in wet, orde, reg en geregtigheid daarin gelees word nie. Dit is hoogs onwaarskynlik dat dit die keerpunt gaan wees waarna staatskaping en korrupsie heeltemal aangepak gaan word – veral nie vir Zuma self nie. Dit gaan waarskynlik ook nie die punt wees waarop die regbank Suid-Afrika van verval en mislukking gaan keer nie. Dit is wel een uitstekende en welverdiende oorwinning vir landsburgers, maar nie noodwendig ʼn baken vir volledige ommekeer nie.

Die hele sage is eintlik ʼn reuseklap in die gesig van dít wat veronderstel is om demokratiese Suid-Afrika te wees – met Zuma wat sekerlik een van die grootste skandvlekke op die post-1994-samelewing is. Zuma se nederlaag moet gevier word, maar ook nie beskou word vir meer as wat dit is nie.

Indien Zuma se 15 maande tronkstraf iewers in die toekoms vergroot tot minstens 15 jaar, sal dit wonderlik wees. Hoewel ʼn mens se ganse bestaan en toekoms nie op dié feit moet berus nie, kan jy steeds daarvoor hoop. Die hoop beskaam immers nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elize ·

Ek sal baie graag in rand en sent wil weet wat die voordeel was wat hy en sy familie uit die staatskaping getrek het.

Michael ·

Na my mening is hierdie alles deel van die ANC se plan om aan bewind te bly. Zuma en ANC is darem heeltemal te kalm na gister-iets smeul iewers. Al sou Zuma tronk toe sal hy soos ‘n koninklike hanteer word. Ramaphosa word nou beskou as die persoon wat darem iets teen korrupsie doen so die volk sal weer in groot getalle ANC stem. Zuma kan dan nou ook nie voor Zondo getuig nie, so sy kriminele kollegas kan rustig slaap. Zuma, die hof en ANC is heeltemal te uitgeslape vir die volk. Ek vermoed Zuma en sy familie is reeds ruim vergoed vir hierdie opoffering wat hy dalk nou in tronk gaan maak.

Blomme ·

Goeie teorie Michael. Hy word net weggepak sodat Zondo verskyning vrygespring word.. So sal SA nooit werklik weet wie sy makkers was en wat het die land in die korrupte speletjie verloor nie. Ons kan net nie teen die korruptes wen nie.

Karen ·

Hy glimlag, hy is rustig en sy lyftaal spreek boekdele, hoekom? Want hy weet dit sal nooit gebeur nie.

Dup ·

“Skelm en slu” is nogal ñ raak beskrywing vir oom Jakob en sy Boksombende.

Die Boerepompie ·

Dink hy gaan betaal worf om te gaan sit hy sal ook die bestes kos kry

LANA is ELANè ·

Niehaus is seker so bly oor die geskiedkundige oomblik, want nou is hy weereens in die kollig en kan hy so bietjie “shine” vang in die gewese president se “verknorsing” waarin hy homself tans bevind.
Vandat sy valse doktorskap aan die kaak gestel is, is hy mos maar van sg teen apartheidstryder hero, na ‘n zero verlaag, en moet hy die allervreeslikste goed doen om tog net op die nuusblaaie se voorblaaie te pryk, selfs maak of jou ma oorlede is om jou hande op geld te kry! Desperaatheid is nie die woord nie en die alewige aaklige kamoefleer kleredrag dwing ook nou nie eintlik respek af nie.

Kobus ·

Almal juig. My vreugde ietwat gedemp. Die hoogste hof gee ‘n minderheids uitspraak.Die twee regters wat vir Zuma opgekom het bekommer my. Maw,daar sit regters wat nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.Mnr Zuma is die produk van ‘n ANC regering wat hom in ‘n top pos geplaas het. Deur duk en dun het hulle hom ondersteun. Pres Ramaposa was sy regterhand.Nou stoomroller CR die Zondo komisie met ‘n skeinheiligheid van “erkennings” en belowe beterskap. Hy , Zuma ,mag / sal na vier maande parool kry en dan lag hy lekker. Steeds sal hy ‘n bespotting van die regsstelsel maak. Genl Carl hits ook lekker aan. Laat my dink aan ‘n Foxi wat met ou Boel moeilikheid soek.Hy torring en torring totdat Boela hom aan die stert beetkry en dan is dit ‘n getjank van ‘n ander aard.

Blomme ·

Hulle sal hom uit die selle moet bring om voor die Zondo kommissie te kom getuig. Hy is dit aan die land verskuldig om antwoorde te verskaf.

Charl ·

Stuur ‘n kompetisie van stapel met ‘n prysgeld van sê maar R100 000 en noem dit….Waar is Zuma ?

Zet ·

Die polisie hang nie verniet voor Nkandla rond vir “roetine patrollie” nie. Hulle is bang die “voëltjie” gaan Dubai toe vlieg (vir mediese behandeling natuurlik!)

Jack ·

Enigiets wat van die staat afkom versterk die feit dat ek n ongelowige is. N ongelowige in die anc en alles waaraan hulle vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.