Nuuskommentaar: Zuma (al weer) onder skoot

Jacob ZumaPres. Jacob Zuma het onlangs gekla dat die media op negatiewe nuus fokus, terwyl daar te min aandag aan die goeie nuus geskenk word. Sy woorde was skaars koud toe juig die media oor die goeie nuus dat Zuma die omstrede snoerwet terugverwys het parlement toe – toe besef is dat daar onduidelikheid is oor of die ganse wetsontwerp terugverwys is, of net twee artikels, terwyl die redes vir die terugverwys ook nie lekker met die besware strook nie.

Is die media moedswillig, of regeer Zuma die land so swak dat byna alle nuus oor hom ‘n negatiewe kinkel in het?

Die lys is lank. Kort voor die Grondwetlike Hof daaroor sou beslis, stel Zuma ‘n kommissie aan om na die wapenskandaal te kyk. Kort voor lank is dit ‘n peperduur breekspul met beskuldigings dat die kommissie eintlik veronderstel is om toe te smeer, eerder as oop te krap. Net die tyd sal leer of die kommissie sy geloofwaardigheid kan herwin.

Zuma se naam staan breed geskryf oor die dissiplinêre tribunaal van regterpresident John Hlope, wat na bewering regters van die grondwetlike hof probeer beïnvloed het om in Zuma se guns oor korrupsie te beslis.

Die DA is nou hooggeregshof toe om die minister van Openbare Werke te probeer dwing om ‘n verslag oor Nkandla bekend te maak, ‘n kwessie waaroor Zuma se naam ook breed geskryf staan. Die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla is opgehou omdat iemand voete gesleep het om verlangde inligting te verskaf.

Zuma het die omstrede e-tolwet onderteken nog voor die appèlhof in ‘n saak van Outa kon uitspraak lewer.

Zuma se reaksie is om te verklaar dat hy die ANC tot ‘n twee derde meerderheid in aanstaande jaar se verkiesing wil voer, want daar is sekere wette wat hy wil verander. Eintlik is dit net die grondwet wat ‘n tweederde meerderheid (en plek-plek ‘n driekwart) vir wysiging benodig, en dus kan ‘n mens net wonder wat hy eintlik in die oog het. Wil hy a-la-Mugabe meer as net twee termyne dien? Daar is ‘n ongelukkige persepsie dat Zuma sy presidentskap inspan om te verseker dat hy nie sy dag in die hof kry nie. En omdat hy al sy mond oor die howe uitgespoel het, en selfs prosesse aan die gang gesit het om te verseker dat howe “getransformeerde” uitsprake lewer, en dit te monitor, is sy klag dat die VN “ondemokraties” is, pikant gegewe waarheen Zuma met Suid-Afrika onderweg sou wees as dit nié vir die howe was nie. Grondwetlike demokrasie en meerderheidsdiktatuur is immers heel verskillende dinge.

Uiteindelik moet Zuma self pa staan vir uitlatings wat die buitelandse media soos emmers Wes-Kaapse vloerpolitoer tref. Sy honde-uitsprake, en sy stellings oor gewelddadige betogings in Davos, om maar enkeles te noem.

Suksesvolle presidentskap gaan nie net oor wat die president sê nie, maar ewe dikwels oor wat hy nié sê nie. Net drie dae na die land Erfenisdag gevier het, het die burgemeester van die Tshwane-metro, Kgosientso Ramokgopa, gesê geen hof sal in die weg staan van die ANC se planne om Pretoria se naam na Tshwane te verander nie. In enige verantwoordelike demokrasie sou so ‘n uitspraak minstens tot ‘n skrobbering en waarskynlik tot dissiplinêre optrede gelei het.

Die minister van kultuur, Paul Mashatile, het weer aangedui dat van die bestaande standbeelde by die Uniegebou geskuif sal moet word om plek te maak vir ‘n standbeeld van meer as R8 miljoen van oud-pres. Nelson Mandela. Hierdie soort optrede is al as kulturele vandalisme beskryf, en die Vryheidsfront Plus vergelyk die voorgenome verskuiwing van standbeelde met ‘n verskuiwing van San-rotstekeninge in die omgewing van Nkandla sodat daar nie grondeise teen dié landgoed ingestel kan word nie.

Mashatile is nié aangespreek oor hy die balans van gemeenskapsverhoudinge, waarop die land se toekoms berus, ondermyn nie.

Dit sal Zuma loon om ‘n verslag van Kovsies se Acta Academica Supplementum 2012 (2) oor hoe talle plekname in Suid-Afrika spore dra van die ou San-name wat op ‘n veel komplekser herkoms dui as dit wat die ANC so graag met naamsveranderinge opdis. Maar Zuma is pas daarvan beskuldig dat hy nie die regte goed lees nie…

Pas is die kat behoorlik in die duiwehok losgelaat die sekretaris van die ANC in Gauteng aangedui het oud-pres. Thabo Mbeki gaan genader word om die middelklaskiesers in Gauteng oor te haal om vir die ANC te stem. In effek sê hy Zuma deug meer om die laer klasse te beïnvloed. Die ANC het op alle fronte heftig gereageer en aangedui Zuma bly die ANC se gesig vir die verkiesing. Die Christen-Demokratiese Party se in reaksie: “Al het Gwede Mantshe probeer wal gooi, is dit duidelik dat daar ‘n groeiende besef binne die ANC is dat die party met die leierskap van pres. Jacob Zuma ‘n yslike wind gesluk het, en dat veral denkende burgers langtand is om hieroor hul kruisies by die ANC te trek. Dit bevestig die CDP se standpunt dat Zuma se presidentskap ‘n ramp van ongekende omvang is wat die land getref het, en dit is niks minder as reg nie dat die kiesers die ANC hieroor ordentlik sal straf.”

Die volgende RSG-berig toon aan hoe belangrik dit is dat die land ‘n verantwoordelik en verantwoordbare regering móét kry om sake reg te ruk: “Die president van die Instituut van Munisipale Amptenare, Louise Muller, sê tensy politici en munisipale werkers saamstaan, sal ‘n skoon oudit nooit gehaal kan word nie. Muller het afgevaardigdes toegespreek wat die Instituut se 30ste konferensie in Durban bygewoon het. Sy sê bykans 70% van die sleutelvakatures – soos dié van munisipale bestuurders, uitvoerende finansiële hoofde – is steeds nie gevul nie. Sy sê die regte mense moet ook aangestel word. Sy sê geen hoeveelheid tegniese ingryping of voorafwaarskuwing kan suksesvol wees totdat daar ‘n verskuiwing in politieke aanspreeklikheid kom nie. Volgens haar moet politici bemagtig word om toe te sien dat die regte mense aangestel en bestuur word. Muller het ook gesê waar van die sleutelposte wel gevul is, het ‘n derde van die posbekleërs nie die regte vaardighede vir die pos nie.”

Die verkiesing is om die draai, en dat Zuma die ANC se gesig daarvoor gaan wees, is ‘n gegewe. Trouens, dit lyk of Zuma self sorg dat daar niks in sy skadu groei nie – adjunk-president Kgalema Motlanthe is politiek ontman, en die adjunk-president van die ANC, Cyril Ramaphosa, word ook in wese politiek ontman deur hom nie adjunk-president van die land te maak nie. Of Ramaphosa se Luthuli-huis-ballingskap die gevolg is van die opwelling van hoop vir die land toe hy tydens die Mangaung-konferensie in Bloemfontein verkies is, is enigeen se raaiskoot.

Opposisiepartye gaan beslis die Achilleshielle wat Zuma se leierskap bied uitbuit – hopelik op ‘n verantwoordelike wyse sodat dit nie weer as aanvalle op swart mense beskou word nie. Die feit dat daar nou meer swart gesigte in die opposisie is soos die leiers van Agang, Cope en Malema se straatsirkus verseker waarskynlik die speelruimte om Zuma self vir leemtes en gebreke aan te durf.

Maar Zuma is ‘n ou politieke jakkals….

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.