Nuuskommentaar: Zuma-bashing en persvryheid

Argieffoto

Argieffoto

Terwyl die media lustig aan Zuma-bashing meedoen, het Suid-Afrika se posisie op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks onveranderd gebly, nadat dit in onlangse jare dramaties verbeter het. Maar presies hoe persvry is Suid-Afrika?

Sedert internasionale persvryheidsdag Dinsdag dié week gevier is, is heelwat geskryf oor die belangrikheid hiervan, asook die stand daarvan in Suid-Afrika.

’n Vrye pers word gereeld as die vierde, nieamptelike been van die demokrasie beskryf, en daarom is die waghondfunksie van die media belangrik.

As ’n mens na veral die gedrukte media en die nuuswebwerwe kyk, lyk dit of Suid-Afrika geweldige persvryheid moet geniet. Die blote omvang van die Zuma-bashing gee ’n aanduiding dat koerante baie vryheid het, al is daar periodiek pogings om die inligting te weerhou, soos die seinblokkering in die parlement, en die ritse en ritse berigte wat eindig met die woorde dat regeringswoordvoerders teen druktyd nog nie op navrae gereageer het nie.

Daar is verskeie instansies wat wêreldwyd na persvryheid omsien, waaronder die Amerikaanse Freedom House en die Parys-gebaseerde Verslaggewers Sonder Grense (VSG). Freedom House beskou Suid-Afrika al ’n geruime tyd as gedeeltelik persvrye land.

Suid-Afrika se vertoning op VSG se indeks maak ’n objektiewe beoordeling egter baie moeilik. Sedert Suid-Afrika in 2003 die 21ste plek op die indeks beklee het, en as die mees persvrye op die kontinent geloof is, het die land se posisie geleidelik agteruitgeboer, tot dit in 2013 as die 52ste mees persvrye land gelys is. Verskeie Afrikalande het beter as Suid-Afrika gevaar, veral Namibië, wat op Verslaggewers sonder Grense se indeks met die voorste persvrye land ter wêreld meeding, maar nie dieselfde beoordeling by Freedom House kry nie.

Ná 2013 het Suid-Afrika se posisie op VSG se indeks dramaties begin verbeter, sodat dit verlede jaar en vanjaar weer die 36ste plek ingeneem het. Die verbetering was aan ’n reuseblaps toe te skryf, deurdat VSG met groot fanfare aangekondig het pres. Jacob Zuma “weier” om die sogenaamde snoerwet te teken. Dit is juis hierdie wetsontwerp wat die hooffaktor was dat Suid-Afrika so flink op die indeks agteruit geboer het, maar planne vir ’n mediatribunaal en ander dreigemente deur die regering het ook ’n rol gespeel.

Omdat VSG formeel sy bepaling van ’n land se posisie op die indeks onder meer bepaal deur ’n baie omvattende vraelys wat jaarliks deur ’n geselekteerde groep ingevul moet word, en ook in die geval van Suid-Afrika, is VSG dadelik laat weet dat hul beoordeling van Zuma se optrede verkeerd was. Zuma het bloot die wetsontwerp na die parlement terugverwys om sekere tegniese regstellings te laat doen. Trouens, die ANC-meerderheid het verhinder dat die wetgewing weer in geheel onder die loep geneem kon word. VSG het die reghelp egter geïgnoreer en voortgegaan om “Zuma se weiering” as feit in mediaverklarings te stel. (Hierdie kommentator, wat etlike jare lank ook op die vraelyspaneel was, het uit protes bedank.)

Suid-Afrikaners het betreklik onlangs eers weer van Zuma terugvoer oor die stand van die wetsontwerp gekry, naamlik dat dit op versoek van Zuma deur regslui gefynkam word vir grondwetlikheid. Daar was egter geen aanduiding dat dit geskrap sou word nie.

Nie almal, onder meer in akademiese kringe, het egter saamgestem met VSG se swak beoordeling van Suid-Afrika in 2013 nie, en talle voorbeelde genoem van hoe Suid-Afrikaners ’n groot mate van persvryheid geniet. Die omvang van Zuma-bashing in Suid-Afrikaanse media sou immers in min, indien enige Afrikaland, geduld word. Voorts het baie lande, waaronder Wes-Europese lande, argaïese wette soos dat buitelandse staats- of regeringshoofde nie swartgesmeer mag word nie. Daar was juis onlangs ’n mini-debat hieroor in Wes-Europese media, met verbasend baie vrydenkers wat ten gunste van die behoud van dié bepaling is, met argumente soos dat daar ook in mediavryheid perke en orde moet wees.

Wat Suid-Afrikaanse akademici dikwels nie besef nie, is dat vlakke van mediavryheid bepaal word deur veel meer faktore as dit wat die owerheid toelaat. In die vraelys wat die deelnemers moet invul, word baie vrae gevra oor dinge soos of die media (in die betrokke land) behoorlik die politieke diversiteit van die land reflekteer. Dié vrae is verstaanbaar teen die agtergrond dat persvryheid as ’n belangrike waghond vir demokrasie beskou word, en demokrasie impliseer dat daar ’n spektrum van politieke denke sal wees. Nie almal sal saamstem dat die Suid-Afrikaanse media die politieke spektrum genoegsaam bestryk nie. Dis nie altyd billik om die media te kritiseer hieroor nie – sommige partye reik eenvoudig so te sê geen mediaverklarings uit nie, en dié wat dit wel doen, dikwels net in Engels wat toeganklikheid na veral die gemeenskapsmedia belemmer omdat vertalers nie bekostig kan word nie. Wanneer ’n party wat wel in die parlement en op ander vlakke verteenwoordig word, en hul verklarings minstens tweetalig uitreik, maar in mediadekking onderverteenwoordig word, is daar rede om vrae te vra oor die aanbied van die politieke diversiteit.

Ander faktore wat in ag geneem word, is politieke korrektheid en die onbehoorlike invloed van sakelui om beriggewing te bewimpel, asook rassisme.

Word die hele kaboedel in Suid-Afrika beskou, waaronder regeringsadvertensies aan die Gupta-media, ’n groot koerantgroep wat deur ’n pro-ANC-groep opgekoop is (en koppe, waaronder Max du Preez laat rol het), die webwerf-skandaal in die Vrystaat waar die geld skynbaar gebruik is om pro-regeringspublikasies te skep, joernaliste wie se films afgevat is en meer, dan is dit bykans ondenkbaar dat die land, veral met die albatros van die snoerwet om die nek, sy posisie so dramaties kon verbeter het.

Voorts is daardie “verbetering” glad nie deur Freedom House weergegee nie. Inteendeel.

Die FW de Klerkstigting skryf oor die ANC se beskouing van persvryheid soos volg: “In particular, the ANC believes that the media has a special role in the implementation of its National Democratic Revolution. According to its 2010 NGC discussion documents, ‘The ANC holds that in our National Democratic Revolution (NDR), the media should contribute to the transformation of our country. Building social cohesion and promoting values of a caring society are an essential part of the battle of ideas and must underpin and inform the manner in which the media operates. The accountability and fairness of reporting are central to the objective assessment of the gains of the NDR.’”

Die interessantheid is dat Suid-Afrika in min of meer dieselfde tydperk skielik op die korrupsie-persepsie-indeks begin verbeter het, nadat die land aanvanklik onder die Zuma-bewind flink agteruit geboer het. Dit terwyl min Suid-Afrikaners enigiets anders as ’n verdere agteruitboerdery sou verwag namate allerlei sake soos die Nkandla-skandaal en die toesmeerpogings aan die lig gekom het.

Dit is moeilik om te sien dat die regering nie intensief begin “lobby” het om die vernaamste indekse “om te keer” nie. Op baie ander indekse, soos die innovasie-indeks, gaan die land agteruit, of handhaaf hoogstens sy posisie.

En gesamentlik beïnvloed hierdie indekse die beleggersvertroue-indeks. Om konkrete verbetering aan beleggersvertroue te gee, moet die faktore wat dit beduiwel daadwerklik aangespreek word, en nie simptome met kosmetiese lobbying aangespreek word nie.

Lizette Rabe, voorsitter van die Departement Joernalistiek by die US, som persvryheid soos volg op Netwerk 24 op: “As die vraag dus byvoorbeeld is waar die streep tussen satire en laster getrek moet word, moet die antwoord altyd wees dat daar geen demokrasie sonder vrye media kan wees nie. Al is mediavryheid nie eenvoudig nie, is dít eenvoudig: Mediavryheid is die allerlaaste waarborg vir alle ander vryhede.”

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theuns ·

Herman jou insig is verbysterend en ons almal moet Media Vryheid beskerm! Al is dit met ons lewe. Die enigste twee bene van ons demokrasie wat nog taamlik ongeskonde is is ons “Pers en ons Regstelsel”. Maar die “vrot” is merkbaar waar daar kruisbestuiwing is tussen bv. Landros howe en die Polisie. Leers raak weg. Sake word uitgegooi. Daar is ‘n reuse agterstand met hofsake ens ens. Die Snoer Wet hou vir ons ‘n wesentlike gevaar in!!

Loeis ·

Die pers in Suid-Afrika word nie regtig gemuilband nie, maar hoe objektief is hulle? Die SABC word deur die regering gefinansier.

Naspers, wie blykbaar baie pro DA is, hou daarvan om “DA” soveel moontlik in hul berigte te noem, maar wanneer ‘n party soos VF+ ‘n oorwinning behaal, word daar gewoonlik gese dat “opposisie partye” dit behaal het.

Dan is daar natturlik skrywers soos Pieter du Toit wie omtrent smeek dat mense die wit vlag moet hys, nie vir hulle taal moet terugbaklei nie (dis ‘n onlangse voorbeeld), ens.

Nie ‘n gemuilbande media nie, maar ‘n bevooroordeelde een.

John ·

Die FW de Klerk-stigting? Wil iemand ons nie asseblief inlig wat die rol van hierdie dapper brigade is nie? Hoe het dit tot stand gekom? Hoekom het dit tot stand gekom? Sekerlik is hier geen behoefte aan so ‘n instansie nie. Alles is nou so volmaak in hierdie reenboogland en die goudpotte is vol. Persvryheid is nie eens nodig nie, want die nasie is gelukkig. ‘Bashing,’ hoekom tog! Kyk hoe gelukkig is die mense in Noord-Korea, net soos ons hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.