Nuuskommentaar: Zuma-‘bashing’ nou nasionale sport?

Pres. Zuma in die Nasionale Vergadering. Foto: GCIS

Pres. Zuma in die Nasionale Vergadering. Foto: GCIS

Dit is eersdaags weer komkommertyd – ’n tyd wat pres. Jacob Zuma tradisioneel “gebruik” om die land se naam met ’n plank te slaan soos sy honde-uitsprake. Maar nou, so lyk dit, is die lang messe besig om vir hom binne die ANC geslyp te word. Gaan Zuma, met sy raadgewers met vakansie, weer sy voet daarin sit en ons weer ’n streep Zuma-bashing beleef, of het die president oplaas sy les geleer?

Is die ontleder se koker die dag leeg as hy ook in gewone Zuma-bashing verval?

Daar is nie elke dag ’n nuuswaardigheid wat hom weens belangrikheid en belangstelling van die publiek tot ’n nuuskommentaar leen nie. Soos polisieverslae, die stand van die padslagting en nuus van die Bloedddiens in die ou dae vir moedelose joernaliste in die komkommertyd uitkoms gebring het, is Zuma gewaarborg om ruim stof te voorsien vir joernaliste en politieke ontleders.

Ironies, dikwels juis ook oor die komkommertyd, soos sy opmerking oor honde en sy “aankondiging” van ’n nasionale dag van verootmoediging (met volop eerbetoon aan die voorvaders en animistiese rituele wat hy nogal gemeen het deur emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gelei sou word). Hierdie opmerkings kort ná mekaar is gedoen toe sy raadgewers met vakansie was, en ook sy destydse nasionale woordvoerder, Comrade Mac, nie in die omtrekke was nie. Dit het internasionaal die land skade berokken.

Zuma kan kwalik iets doen, of die vitrioel stroom in, of hy kan niks doen nie en dieselfde gebeur.

Dis die prys wat die ANC moet betaal om Zuma nie net in die amp te hou nie, maar kort-kort beeldpoetsaksies van stapel te stuur om die man “presidensieel” te laat voorkom. Buitelandse besoeke maak ’n belangrike deel hiervan uit, want protokol vereis dat buitelandse leiers hom met die allergrootste vertoon van respek moet behandel, wat op beeld vasgelê word en tuis ge-SABC word om die publiek te beïndruk. Ja, hy het al selfs saam met die kwien in ’n koets gery.

Maar tuis geld daardie protokol kwalik, en die vitrioel vloei dik. So erg dat Comrade Blade al by geleentheid gedreig/gevra het vir wetgewing wat die belediging van die president strafbaar sou maak. Ook uit ander ANC-kringe het die versugting opgegaan dat die Zuma-probleem op hierdie wyse simptomaties aangespreek word. Hierdie beginsel, met uitsondering van waarskynlik net Zimbabwe, geld net vir seremoniële staatshoofde en nié uitvoerende regeringshoofde wat hulle midde-in die partypolitiek begeef nie.

Waar die seremoniële presidentskap en die uitvoerende eersteministerskap in een amp saamgebind is soos in Suid-Afrika, beteken dit egter nie dat die funksies en rol van ’n seremoniële president/monarg verdwyn nie. Dit blyk byvoorbeeld uit die bewoording van die eed wat deur die Grondwet aan presidente met hul inhuldiging voorgeskryf word. Dit vereis byvoorbeeld ’n ewehandigheid teenoor al die mense van Suid-Afrika, dus ook die minderheidsgroepe.

Die beginsels waarmee vitrioel deur die media, en ook die kuberruim, hanteer moet word, verander egter niks aan die feit dat Zuma ’n skadelike president is nie, en gereeld daarvan beskuldig word dat hy sy ampseed vergeet het. AfriForum het byvoorbeeld onlangs daarop gewys dat Zuma nog nooit, soos al herhaalde kere versoek is, naasbestaandes van plaasmoordslagoffers of oorlewendes van plaasaanvalle te woord gestaan het nie. Maar dan, ruimte ontbreek om al sy presidensiële misstappe hier te lys.

Trouens, Zuma maak soveel foute dat dit moeilik is om ’n objektiewe ontleding te doen sonder om dit na vitrioel te laat klink. Hy hou net aan om sy voet daarin te sit.

Dit is ook duidelik dat daar binne die ANC ’n groep is wat bekommerd is oor die skadelike uitwerking van Zuma, veral met aanduidings dat hy sy oog op ’n derde termyn as ANC-president kan hê (en dankie tog deur die Grondwet verhinder word om ’n derde termyn te dien as president van die land). Dié groep moet uiteraard gesigloos bly, en die “stormram” wat hulle gebruik, moet in wese onaantasbaar wees.

So ’n persoon kan kortstondige oudpresident en oud-adjunkpresident Kgalema Motlanthe wees. Hy het onlangs blykbaar vir Zuma regstreeks gerepudieer deur te verklaar dat die drie-party-alliansie dood is, nadat Zuma nog gemeen het alles gaan klopdisselboom. Motlanthe het die huidige regering dit ook verkwalik dat die Afrikaner vervreem word.

Dit sal interessant wees om te sien of Motlanthe beslis die rol gaan opneem van Zuma-kritikus deur ou ANC-waardes te bepleit, en of dit ’n kortstondige toevalligheid, of vlieër-opstuurdery was.

So iets sal nie nuut wees nie. In die aanloop van die vorige verkiesing was dit duidelik dat verskeie rektore en kanseliers van universiteite met uitsprake en selfs konferensies die water getoets het met die oog om openlik hul gewig by Agang in te werp. Trouens, hierdie “program” het taamlik georkestreerd geblyk te wees. Toe Agang se ster verdof, het hierdie stemme egter stil geraak sonder dat hulle hul ooit voluit blootgestel het.

Dus, as Motlanthe werklik vir so ’n rol ingespan word, hoe ver gaan hy bereid wees om sy kop uit te steek om die openlike verset teen Zuma te laat manifesteer?

Dr. Piet Croukamp voel seker oor die Zuma-verset wanneer hy vandag sy rubriek op Netwerk24 afsluit: “Kgalema Motlanthe se openbare aanvalle op die Zuma-presidensie val nie uit die lug nie. Teen 2017 gaan daar openlik weerstand teen Zuma wees. Die jagseisoen is reeds oop. Soos Botha en Mbeki sien Zuma nie die skrif aan die muur nie.”

In hul hoofartikel skryf Die Burger en Beeld byvoorbeeld: “Maar tipies van die arrogante hubris wat onder die leierskap van pres. Jacob Zuma gedy, is die standaardreaksie maar weer een van afwysende minagting: Motlanthe is deesdae ’n niemand in die party en dit kos hóm niks om sulke uitlatings te maak nie. Dit kan so wees, maar hou in gedagte dat Mo­tlan­the voorheen volgens sy gewete gehandel het toe hy sélf sy politieke doodsvonnis onderteken het deur Zuma in Mangaung teen te staan. Volgens bronne was sy vernaamste oor­weging juis dat dit die verkeerde boodskap oor die ANC sou uitstuur as iemand soos Zuma sonder teenstand die ANC-president sou word. Motlanthe het gewéét hy gaan verloor, maar opgetree ten koste van homself en in die belang van sy party.”

Van die “voorste” kubersmeerskrywers is vreeslik lief om as hulle self onder skoot kom, te kla oor die ander wat hulle aan ad hominem (persoonlike aanvalle) skuldig maak, in plaas van om die argumente aan te val. Maar ons ken almal diegene wat graag die lakens aan ander uitdeel, of onder poetse in swak smaak laat deurloop en hulle dan simpel wil lag, maar vreeslik bitterbek is as hulle self die slagoffer van ’n poets word.

In die geval van ’n politikus geld die reël egter dat as jy jou vir ’n toffie wil uitgee, moet jy bereid wees om gekou te word. Die voorbehoud is dat die kritiek – persoonlik of andersins – nie leuens of wanvoorstellings moet wees nie.

In Zuma se geval haal sy onhebbelike uitsprake gereeld die buitelandse media, sy omstrede godsdiensuitsprake trek gereeld die weerlig van hoofstroomkerke, sy voorkeur aan kommunistiese ministers staan soos ’n seer duim uit; hy is en bly ’n ramp vir die land.

Zuma is veel meer as net iemand wat in komkommertyd iets oplewer wat publiseerbaar is; sy optrede en uitsprake is bekommeringswaardig, soos oom Jan gesê het.

Hou maar weer die asem op vir vreemde uitsprake oor Desember en Januarie as sy raadgewers met verlof is, en hy vanuit Nkandla stamgebiede besoek en weer bisarre uitsprake in Zoeloe maak – uitsprake wat danksy joernaliste van gemeenskapskoerante en gemeenskapsradiostasies wat Zoeloe verstaan, ’n dag later elders ter wêreld hoofopskrifte maak.

Of het hy uiteindelik geleer?

En nee, daar is geen behae daarin om die pen in die Zuma-vitrioel te doop nie, maar om Zuma joernalistiek en politiek-wetenskaplik te hanteer soos ’n “doodgewone” staatshoof van ’n grondwetlike demokrasie, sou wees soos om oor Mugabe en Idi Amin (en Omar al-Basjir) te skryf asof hulle doodgewone regeringshoofde van gevestigde grondwetlike demokrasieë is. En dit kan tog nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Knersus D ·

Eintlik is dit my nuwe tydverdryf – en ook sy totale onvermoee om syfers te lees…. Leventy hundred and two and sixthousand…. now listen carefully ….heh heh heh…

Therese van Schalkwyk ·

Janee, wat kan ‘n mens sê van ‘n staatshoof wat gereeld “Kill the Boer” sing? Probeer jouself die onmoontlike indink dat Cameron, Merkel, Obama e.a. dieselfde doen, maar selfs erger, dat die betrokke groep wat met die dood gedreig word, dit nie internasionaal uitbasuin elke keer as dit gebeur nie. Om te verwag dat hierdie persoon homself bemoei met die naasbestaandes van plaasmoordslagoffers grens aan die belaglike. Hy wil en sal nooit. En die res van sy ANC-kollegas wat hom nie in die bek ruk nie, is net so medepligtig aan elke plaasmoord.

GES ·

Ek onthou ‘n paar jaar gelede was daar ‘n boek op die rakke beskikbaar wat al Idi Amin se goeie dade vertel het. Dit was nogal ‘n lywige boek van so om en by 500 bladsye met ‘n mooi versierde harde band omslag. Net een probleem….. Al die bladsye was blanko en ‘n mens kon die outeur ook nie kwalik neem nie. Ek vermoed Zuma staar die selfde lot in die gesig.

Riaan ·

Mooi so knersus het al vergeet hoe n groot grap hy is.Hy het sy beroep gemis,Die sirkus soek narre

NEL ·

Knersus, In ons plaaslike koerant van die week was daar ‘n artikel uit die redakteur se pen na aanleiding van Zuma se besoek aan die wildtuin en een van die renosterkoeie is na een van sy vrou kabinetslede vernoem as Edna. Gelukkig het hulle hom nie in die lug op gevat om renosters te tel nie ,ander het hy aan die kabinet gerapporteer dat Suid-Afrika die grooste troppe renosters in die wereld het…………

Johannes Meintjes ·

Dit is hartseer dat die hele mensdom wat SA tog so graag anders en “vry” wou sien van dissipline en vooruitgang, nou ‘n monster afgedwing het (en regop hou) in die vorm van onbeholpe regering en onbeholpe leierskap in ‘n gekke paradys wat vinnig enige aansien as ‘n kredietwaardige en sleutel rolspeler in SA en Suider-Afrika verbeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.