Nuuskommentaar: Zuma byt die onderspit met lof

President Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, GCIS

President Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, GCIS

Terwyl die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak vir Zuma-ondersteuners ’n swaar slag sal wees, is die hof se uitspraak vir ander ’n groot riem onder die hart. Die Openbare Beskermer se bevindings is ook bindend tensy dit deur ’n bevoegde hof tersyde gestel word. In bykans enige land sou Zuma se doppie nou geklink gewees het, maar dit is Zuma en die ANC wat ter sprake is.

Nou kan daar geen twyfel meer wees nie – pres. Jacob Zuma en die parlementêre meerderheid het met die Nkandla-verslag ongrondwetlik en onwettig opgetree. Die Nhleko-foefieverslag is van die tafel geveeg en ongelukkig moet die belastingbetaler instaan vir die regskoste van die debakel.

Opsommend, hoewel dit nie in die uitspraak so uitgespel is nie, kan gesê word dat Zuma nie geskik is om as president te dien nie. Hy het immers ’n ampseed afgelê dat hy nie net die Grondwet sal gehoorsaam nie, maar die Grondwet sal beskerm. Die ANC se parlementêre koukus het skandes gemaak deur Zuma in staat te stel om nie net in die Nkandla-geval nie, maar ook elders met die Grondwet woer-woer te speel.

En dis nie sommer ’n so-so uitspraak nie. Die Grondwetkenner, prof. Pierre de Vos, het dit as briljant beskryf, terwyl ander ook meen dat die uitspraak so duidelik was dat dit nie ruimte vir vertolking laat nie.

Getrou aan sy aard het die konstitusionele hof ook ruim in sy uitspraak geïmproviseer. Die hof het byvoorbeeld die OB se voorgestelde rol saam met Tesourie om die bedrag wat Zuma persoonlik aan die staat moet terugbetaal, heeltemal weggelaat. Die hof is klaarblyklik oortuig daarvan dat die polisie onder die huidige minister nie met so ’n verantwoordelikheid toevertrou kan word nie.

Verder het die konstitusionele hof ook ’n tydraamwerk bepaal waarbinne Tesourie ’n bedrag moet bepaal wat Zuma moet terugbetaal, ’n bedrag wat die konstitusionele hof dan moet goedkeur, en dan is Zuma weer “op terme” om daardie bedrag uit sy eie sak te betaal.

Uit vorige beriggewing is bespiegel dat Zuma uit “transaksies” soos die beweerde transaksies met die Guptas wel in staat sal wees om die verwagte enorme bedrag te betaal. Daar sal nou grootoog deur onder meer die media gelet word dat Zuma nie die nodige geld bekom in ruil vir gunste nie.

Die groot vraag nou is of Zuma die skandaal kan oorleef!

As dit by die ANC kom, ongelukkig ja, hoewel sy posisie waarskynlik nou aansienlik verswak sal wees.

Die DA het reeds aangedui dat dié party gaan probeer om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas, ’n proses wat teoreties tot die afdanking van Zuma kan lei.

Die ANC se parlementêre koukus kan homself nou baie verdere smaad en onbehoorlike druk spaar deur self ’n mosie van wantroue in Zuma te stel en in die parlement goedgekeur te kry. Ná die teerkwas waarmee die konstitusionele hof die parlement (lees die ANC en soms ’n klein g*tkruiperpartytjie) bygedam het, is dit bykans ondenkbaar dat enige parlementslid bereid sal wees om weer so deur die ANC aan die neus gelei te word.

Maar dis die ANC – die party wat nie fout daarmee kon vind nie dat Zuma onlangs gesê het hy is eerstens lojaal teenoor die ANC, en dan teenoor die land. Nie net strydig met sy ampseed en die Grondwet nie, maar teen enige moontlike konvensie van veelpartydemokrasie.

Tegnies is Zuma se doppie nou geklink. Maar dis Zuma en die ANC hierdie, en dit gaan bloot daartoe lei dat die magstryd verdiep.

Agter die skerms gaan meer verantwoordelike ringkoppe nou ook hul pogings verskerp om te kyk hoe Zuma uit die presidentsamp geweer kan word. Dis ’n proses, wat die insameling oor Gupta-inligting deur sekretaris-generaal Gwede Mantashe insluit, wat tyd gaan neem. Tyd wat die land nie het nie.

Al meer stemme gaan op dat Zuma ’n vrywaring van vervolging aangebied moet word in ruil vir ’n vrywillige onttrekking uit die politiek. Dit is egter nie ’n proses waaroor die ANC alleen kan besluit nie, en die instemming van alle politieke partye, burgerlike instellings en selfs individue moet gekry word om te voorkom dat iemand nie daardie ooreenkoms ook hof toe neem nie.

Die land se gewone burgers kan hulle vanaand ’n rustige nagrus gun in die wete dat die howe (nog nie) volledig deur die ANC gekaap is nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marietjie du Toit ·

Ek is baie bly dat geregtigheid geskied het, en wens die hof en almal wat gehelp het geluk. Ek
was gedwing om na 7jaar gelde met rente, terug te betaal aan SARS nadat dit verskeie kere
afgeskryf was deur die komitee in ALBERTON asgevolg van my besigheid wat onder gegaan
het asgevolg van die sindikaat wat my lewe verwoes het.

Nou wag ons net op Julius Malema om sy uitstaande skuld by SARS te vereffen, met al die
ander hooggeplaaste mense, sodat gelde beskikbaar kan wees om voorsiening te maak vir
al die mense in SA.

Groete

Anne ·

Hallelujah, vir geregtigheid. Vraag is: gaan Zuma homself steur aan die hofbevinding? Of gaan sy “alwetenheid” hom weer ‘n skuiwergat laat vind?

Poplap ·

Ek vertrou nie die uitslag nie. En is seker dit is met Zuma se medewete bewerkstellig. Net om tydelik almal heuning om die mond te smeer. Ek vermoed dit is die rede dat daar 60 dae gegee word vir nog n bietjie gekonkel en dan sal n minimale bedrag opgelê word .

HEVW ·

Die perd is opgesaal en die jokkie sit in die saal en die hel sal nou uit hom gery moet word.

Cilliers ·

Heel geldig, soos nou al gebruiklik, Herman, met twee voorbehoude. Eerstens net steurend swak redigering: Die OB het geen rol vir haarself in die bepaling van Zuma se opgelegde terugbetaling bepaal nie; wel vir die Minister van Polisie, soos die daaropvolgende paragraaf wel impliseer.

En is jy bewus daarvan dat “Grondwetkenner, prof. Pierre de Vos” die lawwe, regstreeks weersprekende en potensieël katastrofale aanvanklike beslissing van Hooggeregshofregter Schippers t.o.v. die afdwingbaarheid van die Openbare Beskermer se bevindings met gelyke geesdrif verwelkom en ondersteun het?

Noem de Vos ‘n begaafde en selfingenome manteldraaier , as jy moet, maar asseblief nie ‘n “Grondwetkenner” nie! Jy sal die ware regskenners laat stik in hulle skemerkelkies! En kry eerder een van hulle om te konsulteer!

attie ·

Stem saam. pierre de vos is volgens my ‘n napratende nul op n kontrak. saam met n paar ander nes hy, wat gereeld met hul swak kommentare aan mens opgedwing word oor radio. hulle maak nie n bydrae nie.

Oom Piet ·

Die ANC elite ondermyn die Grondwet. Hoeveel ander ondermyning vind nog steeds plaas op ander gebiede???
Die ANC elite het op eensdag die party meer skade berokken as wat die destydse Nasionale party regering nie in 40 jaar kon doen nie.
Doen so voort comrades, Viva ANC elite.

pikkie ·

Die feit dat die hof bevind het dat ook die Parlement onwettig opgetree het, beteken dit nie dat die ANC parlementslede wat al die Zuma onwettige grondwetlike truuks gesanksioneer het, ook moet bedank nie? Wie kan die Parlement wat deur die ANC beheer word nog vertrou? Hulle het mos nou reeds bewys dat hulle eerder hulle partyleier sal ondersteun as om die Grondwet te handhaaf. Mens moenie net Zuma in hierdie hele sage raaksien nie maar ook die groter konstitutionele dilemma. Behalwe die regs dilemma is daar ook die morele aspek. Ons behoort ‘n verkiesing te kry – maar dit is seker wensdenkery om moraliteit van die ANC parlementslede te verwag.

Zirk ·

Dis die eerste stap vir die beeindiging van Zuma se leierskap. Maar dit gaan ‘n lang uitgerekte, omslagtige en pynlike proses wees. In sy wagbeurt het hy ‘n super ineptokrasie geskep met sy tentakels in elke sfeer van die samelewing. Dit gaan nie so maklik wees om die seekat uit sy onderaardse grot te sleep nie.! Volgens Zwelinzima Vavi, is dit eintlik ‘n dominante haïna wyfie. Daar is ‘n baie sterk gevestigde pikorde in die ANC gevestig en wee enigiemand wat dit uitdaag. Ek is geen naprater van Vavi nie, maar doen uself die guns en lees sy volledige kommentaar na gister se hofuitspraak op News24. Verdoemende getuienis teen die ANC NEC.!!

neelsie ·

Hoeveel respek het die landsburger met waardes vir so n president?
Hy wat buite-egtelik n kind verwek , in die hof moet staan vir bedrog, beskuldig word van omkopery en wie weet wat nog………..
Lyk nie of hy sy verantwoordelikheid besef nie,
eendag……….dalk sal dit te laat wees!!

christine ·

Julle mos gese die ou dink SA is sy eie soos hoofman van die kraal. Hy mag maak en breek soos hy wil ons as onderdane moet ons smoele hou. Sielkundiges het n ander naam vir die siekte. En die meerderheid SA ly daaraan. Nou wat nou? Sy ou wat hy destyds in Kimberley gesalf het deur vir ondersteuners te vra ” Sal hy nie n goeie Prez wees nie” juis Julius Malema. Dan gaan die strooipoppe dans julle sal sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.