Nuuskommentaar: Zuma desperaat om SA te sink?

President Jacob Zuma aan die lag tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Sal pres. Jacob Zuma dit waag om vandag verdere stappe teen min. Pravin Gordhan te doen wat ipso facto minagtend sal wees teenoor die nalatenskap van Ahmed Kathrada, die struggle-veteraan sterk in die Mandela-dampkring, en met sy voorliefde vir boeremusiek? Die land het dringend nodig om te weet wat Zuma in die mou voer.

Dit raak al moeiliker om te glo dat pres. Jacob Zuma nie sy bes doen om Suid-Afrika te laat sink nie. In die verlede het sy opmerkings, veral wanneer hy van sy geskrewe toesprake afwyk, die land suur bekom, of ten minste het die land ’n reputasie gekry van ’n land wat ’n nar aan die stuur van sake het.

Die skade wat hy nou aangerig het deur die minister van finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk van ’n beleggingstoer oorsee terug te roep, spruit meer uit die feit dat geen behoorlike rede verskaf is nie.

Wesenlik was dit bedoel om Gordhan te verneder. Die onsekerheid het egter daartoe gelei dat bespiegel word dat ’n kabinetskommeling op hande is, en Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, die trekpas gaan kry. Dit het die rand, wat besig was om mooi te herstel, laat terugtuimel.

Amper nog erger is die moontlikheid dat die Guptas by Zuma gaan kla het dat hulle voel Gordhan moet persoonlik teenwoordig wees wanneer die hofsaak begin oor die minister se verantwoordelikheid al dan nie om by banke in te meng oor die banke weier om dienste aan Gupta-verwante bedrywe te lewer. Gordhan se standpunt was vanuit die staanspoor duidelik dat hy voel dis onnodig om self te verskyn, en dat hy deur die staatsprokureur verteenwoordig kan word. Die Guptas het hofstukke ingedien om te probeer verseker dat Gordhan self vandag verskyn, asook dat sou Gordhan die saak rondom verteenwoordiging verloor, hy in sy persoonlike hoedanigheid vir die regskoste aanspreeklik gehou sal word.

Intussen het Zuma self as belanghebbende by die saak toegetree.

Teen die agtergrond van bewerings en bevindings deur die openbare beskermer oor staatskaping ruik enige aanduiding dat die Guptas by Zuma kon gaan kla, en Gordhan so van oorsee teruggeroep is, erg onvars.

Boonop het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, laat blyk dat die ANC self geen deel gehad het aan die besluit nie.

Adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor finansies, het Zuma se optrede met dié van ’n slopingsbal vergelyk wat die ekonomie getref het. “Die blote feit dat pres. Zuma tot dusver geen rede verskaf nie, is genoeg rede om die rooi ligte te laat flikker en kom neer op niks anders nie as ʼn doelbewuste benadeling van die ekonomie. Hy moes die gevolge hiervan sekerlik kon voorsien, maar nou word daar oudergewoonte geswyg.

“Daar kan selfs bespiegel word dat mense in die president se dampkring beleggingsposisies teen die rand kon inneem wetende dat die rand sterk sou val ná die aankondiging.

“Wat dit meer tragies maak, is die feit dat inflasievoorskouings positief begin lyk het, dat daar goeie nuus oor staatskuld was en dat die rand ʼn sterk lopie beleef het wat volgens kenners juis te danke was aan politieke bestendigheid.

“Wat ook al die rede vir die minister se terugroeping, al hierdie positiewe dinge is in een haal van die bord gevee deur pres. Zuma se uiters ondeurdagte optrede,” sê Alberts.

Ook ander politieke partye en belangegroepe het Zuma se optrede veroordeel. Die Save South Africa-veldtog het gesê Zuma se optrede kom op ekonomiese sabotasie neer.

Cope meen Zuma het baie laag gedaal, terwyl die DA dit as ’n terugslag vir die ekonomie beskryf. David Maynier, die DA se woordvoerder oor finansies, het gesê: “… die opdrag om die beleggerskou sonder verduideliking te kanselleer, is so bisar dat dit ten beste lyk asof dit daarop gemik is om die minister te verneder, of ten ergste, om te wys dat die minister binnekort afgedank gaan word in ’n kabinetskommeling.”

Die feit van die saak is dat dié gebeure ook plaasvind teen die agtergrond dat Zuma sy EFF-geïnspireerde siening dat eiendom sonder vergoeding onteien kan word, nou al harder dryf, en onder meer in die ANC se NUK probeer bevorder het. ’n Mens hoef geen ekonoom te wees nie om te weet dat sou so iets werklikheid word, die ekonomie – wat sterk op sekuriteite in vaste eiendomme gevestig is, skouspelagtig ineen gaan stort. Wat die landbou spesifiek betref, is dit normaalweg die sekuriteit waarteen produksiekapitaal bekom word.

Verder help sy losbekkige opmerkings soos dat korrupsie ’n Westerse konsep is nie juis veel nie. Ook nie sy stelling dat die ANC se einddoel die vestiging van ’n sosialistiese kommunistiese staat is nie.

Gordhan is geen volmaakte minister van finansies nie, maar die vertroue en respek wat hy inboesem, dien ten minste as kussing teen ekonomiese ineenstorting, of soos in die jongste verlede, tekens dat dinge liggies verbeter. Enige verantwoordelike president wat sy sout werd is, sal so iets verwelkom. Maar Zuma se logika is anders aaneengesit, soos blyk uit sy Nenegate-debakel. Ten spyte van die ooglopende voorbeelde van rampspoedigheid wat op sy besluit gevolg het, het Zuma daarna nog verskeie kere hardnekkig sy besluit verdedig en as “die beste opsie” (om Des van Rooyen weens sy kwalifikasies) in die pos van minister van finansies aangestel te gehad het.

Nou het Zuma vooraf gesorg dat hy die meer bekende Brian Molefe as LP laat aanstel het. Molefe is egter erg in die openbare beskermer se verslag oor staatskaping geïmpliseer, en Molefe self het sy selfoonrekords dat hy gereeld in die omgewing van die Guptas was verduidelik aan die hand van sy voorkeur om ’n sjebeen in Saxonwold te besoek.

Die sielkundige impak om Gordhan met Molefe te vervang, sal die ekonomie inderdaad soos ’n slopingsbal tref.

Fedusa het Zuma se optrede oor Gordhan en Jonas beskryf as sou Zuma “hell-bent” wees om Suid-Afrika te breek.

Dit sal interessant wees om te sien of Zuma dit sal waag om vandag ingrypende stappe te doen, ná struggle-veteraan Ahmed Kathrada se afsterwe. Kathrada was in die jongste tyd geen groot vriend van Zuma nie, en aan die voorpunt van die #ZumaMustFall-beweging. Kathrada, die man met ’n groot voorliefde vir boeremusiek omdat dit hom nostalgies gemaak het, se sentimentele statuur is enorm, en is dalk groter as dié van Zuma. Om vandag stappe te doen wat as minagtend teenoor die nalatenskap van Kathrada beskou kan word, kan Zuma se beeld erg skaad.

En steeds staan die vraag: “Wat besiel Zuma?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sw ·

Zuma se lont raak al hoe korter teenoor sy kritici en opponente. Sy strategiese planne raak al hoe meer gewaagd en bisar.
Dis asof hy jaag teen tyd. Teen wat? Is die vraag.
Die ANC moes hom al lankal herroep het – weereens in ontkenning wat hul leef – dit help nie hul kla in die media nie.
Zuma gaan n groter kopseer vir hul word indien hul nie ingryp.

Francois Kroukamp ·

Dit is baie logies. As die land vou kan hy homself as diktator aanstel en die land kaap. Daar sal niks en niemand meer in sy pad staan nie. Hy gaan nie die tuig neerle as president soos almal dink nie

Elsa ·

Help ons Here…U Oog deurloop die hele aarde ….as Zuma nie sy knieg buig nie, en dit voor ons Hemelse Vader nie, is hy op ‘n gevaarlike pad….Dankie dat U o Heer hierdie land beskerm teen verdere korrupsie

jennefer ·

Ons kan die Spur insident ry tot hy flou is, maar dat Zuma die land ruineer pla ons nie.

Katrynï ·

Lyk vir my meer na ‘n Gupta-staadsgreep!! Weet hulle dalk iets van oom Zuma wat g’n mens weet nie? Iets ruik rottetig?

marous ·

Die land is lankal gesink . Daar word nou naarstigtelik in die as rondgekrap .

Ou Burger Maervark ·

Suid-Afrikaners moet ophou kla oor ons “demokraties verkose” president en “demokraties verkose” regering. Ons Grondwet met sy Handves van Menseregte is mos ‘n rolmodel grondwet. Maar menigde Suid-Afrikaners kan nie eens “demokrasie” en “grondwet” spel en skryf nie. Tragies.

Die Suid-Afrikaanse politiek is ‘n rolmodel ware sepie. “Never a dull moment in South Africa”. Skaakmat Suid-Afrikaners, skaakmat Suid-Afrikaners. Julle is in ‘n skaakmat posisie. Ou Burger Maervark kan nie wag vir die volgende sepie-episode nie.

Anton ·

…alles het n begin en alles het n einde…ons kan niks daar aan doen nie…as ons almal nou saam staan sal dit sy einde wees…so, dit sou dan sy einde gewees het…

Jo ·

Ek kom agter dat elke laaste week van elke maand gebeur “iets” wat die Rand laat tuimel. Dan word die petrol prys verhoog. Laas week nog sou die Petrol prys daal met so 12c …..

M. Laurie ·

2 Kronieke 20: v. 5: O, Lord, God of our fathers, are you not the God who is in heaven? You rule over all the kingdoms of the nations. Power and might are in your hand, and no one can withstand you. v7. O our God, did you not drive out the the inhabitants of this land before your people … v. 12 O our God, will you not judge them? For we have no power to face this vast enemy (Jacob Zuma and his cronies) that is attacking them. We do not know what to do, but our eyes are upon you. V. 17 You will not have to fight this battle. Take up your positions; stand firm and see the deliverance the Lord will give you…

Ons moet bid!!!!

LOSKOP ·

Zuma wil die land op sy kniee dwing sodat die guptas kan oorvat

John ·

Wie regeer die’ land? Dis die groot vraag. Vandag dra Indieronmin en sterftes, bewondering en beswaddering, moontlike korrupsie en hofsake die hoofopskrifte. Wie wil nou eintlik die land sink? En hoekom?

Grassie ·

Zuma het die kluts kwytgeraak. Sy kop het beslis begin raas, of altans, meer begin raas as tevore. Wat my bekommer is dat die mense van Afrika om een of ander onverstaanbare rede baie verdraagsaam is teenoor ‘n swak leier. Mugabe, by voorbeeld, het sy land se ekonomie totaal verwoes, met gepaardgaande hongersnood en ellende vir sy mense, maar hy sit steeds stewig in die saal en hulle sal weer vir hom stem ook. Ek wonder hoe lank gaan die ANC nog vir Zuma verduur.

Thinus ·

Seker die Gupta’s het n hele paar rand gemaak met hierdie skuif. Dit is lankal duidelik wie aan die stuur is en dit is verseker nie Zuma nie. Elke keer wat die man sulke bizarre bsluite neem wat die ekonomie n duik laat vat moet daar fyn gekyk word na die finansiele implikasies en wie daaruit gebaat het.

izak ·

Jesaja 54:16 ….. Ook het Ek het die verderwer geskape om te verniel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.