Nuuskommentaar: Zuma – die ewige gevangene van politieke onreg

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

“Ek sal in die tronk rondloop as die eerste gevangene van die Konstitusionele Hof.”

Só het oudpres. Jacob Zuma gister in ʼn 21 bladsy lange brief aan hoofregter Mogoeng Mogoeng geskryf.

Die Zondo-kommissie het onlangs die Konstitusionele Hof gevra om Zuma van minagting van die hof skuldig te bevind. As deel van die proses het Mogoeng Zuma, soos gebruiklik is, die geleentheid gegun om in ʼn beëdigde verklaring te sê wat hy as gepaste straf vir dié aanklag sou sien. Die sperdatum hiervoor was Woensdag 14 April.

In plaas daarvan om dié beëdigde verklaring in te dien, het Zuma in 21 bladsye verduidelik waarom hy nie die beëdigde verklaring hiervoor sal aflê nie.

Hy noem uitdruklik hoe hy nie legitimiteit aan die proses en mense gaan verleen wat onregverdiglik agter hom aan is nie. Dit wat die Konstitusionele Hof tans doen, is ʼn flagrante misbruik van regterlike gesag, voer hy aan. Hy aanvaar dit as ʼn gegewe dat hy wel skuldig bevind gaan word, maar gaan bloot nie legitimiteit aan die proses verleen deur amptelik daaraan deel te neem nie.

Hy verduidelik ook hoe buitengewoon dit is dat die Konstitusionele Hof, van alle howe, hom hieraan skuldig wil bevind. Omdat dié hof hom vervolg, gaan Zuma sodoende die eerste gevangene van die Konstitusionele Hof word. As die hoogste hof in die land kan hy bloot nie teen die uitspraak appelleer nie – dit is daarom finaal en beslissend.

Gegewe die inhoud en aard van die brief het Zuma eintlik maar sy wapen teen die Zondo-kommissie gekies. Die Zondo-kommissie het reg en geregtigheid gekies en Zuma ʼn wapen van populistiese politiekery.

Zuma het van die begin af die Zondo-kommissie en gepaardgaande gebeure as ʼn politieke sluipmoord teen sy karakter geskets. Die Zondo-kommissie was volgens hom nog altyd ʼn partydige instrument wat met die onreg en onregverdigheid soortgelyk aan dié van die apartheidsregering op hom neergedaal het. Zuma meen hy was nog altyd die slagoffer van dié karaktervervolging.

Alles wat Zuma in reaksie doen, poog daarom om die kommissie van alle regslegitimiteit te stroop. Met alles wat Zuma doen, verander hy dit wat veronderstel is om regsprosedures te wees in politieke speletjies. Hy doen dit omdat dit sy enigste kans op oorlewing is.

Dit tel ook in sy guns omdat dit absoluut perfek by die ANC se huidige faksiegevegte inpas.

Zuma skets hierdie hele proses as een van goed teenoor sleg. Daar is geen grys area tussenin nie. Jy is óf vir óf teen hom. Diegene téén hom is die Zondo-kommissie, die Konstitusionele Hof en enige ander persoon of party wat dié prosesse en instellings ondersteun en legitimiseer. Aan sý kant is weer diegene wat onthou dat hy net ʼn ou man is wat die meeste van sy lewe opgeoffer het om teen die onderdrukkende apartheidsregering te baklei – hy het nog nooit enigiets anders gedoen as om vir reg, geregtigheid, vryheid en menswaardigheid vir sy mense te veg nie. Dit kom basies neer op ʼn geveg tussen die (onregverdige) instellings en meganismes van staatsmag teenoor die nederige leier wat om reg en geregtigheid vir die massas wil baklei – Zondo teenoor Zuma.

Die situasie pas perfek in by die huidige ANC-polarisering. Aan die een kant is ook die Ramaphosa-faksie wat reg en geregtigheid deur die instellings en meganismes van die staat wil bevorder. Aan die ander kant is die Magashule-faksie wat baie meer staatmaak op populisme en die massa as basis vir hul leierskap en invloed. Dit is ʼn geveg tussen die faksie van onderdrukkende staatsmag teenoor edele populistiese politici.

Zuma en Magashule se kant van die faksie baat daarby om Ramaphosa se regering en faksie deurentyd aan die apartheidsregering gelyk te stel. Die vorige keer wat mense soos Zuma en Magashule deur die staat vervolg was, was tydens apartheid. Nes die staat hulle destyds onregverdiglik vervolg en geteiken het, teiken die staat hulle nou weer onregverdiglik. Die morele onreg wat dié vervolgings destyds was, herhaal hulself nou bloot in die gedaante van Ramaphosa se faksie.

Hierdie harde lyne van verdeling impliseer dat daar geen moontlikheid vir versoening is nie. Jy is of aan die kant van die immoreel en onderdrukkende staat of jy is aan die kant van die struggle-helde.

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Sodoende dek Zuma ook die tafel vir ʼn bloedige partystryd. Albei kante van die faksiegeveg wil eintlik die party en die staat “reinig”. Ramaphosa wil die staat reinig van diegene wat die pad byster geraak het in korrupsie. Zuma en Magashule se kant wil die party reinig van diegene wat soos die immorele, onregverdige apartheidsregering geraak het – die kant van die staat wat nou ou struggle-helde in die tronk wil stop.

Zuma probeer tans vir so lank as moontlik so goed as moontlik oorleef. Hy is deeglik bewus van hoe sleg die prentjie lyk wat hy skets. Dit is ʼn politieke prentjie wat vir Ramaphosa feitlik geen morele beweegruimte laat nie. Ramaphosa gaan uiteindelik die mens wees onder wie ʼn “edele struggle-held” sy apartheidshel herleef. Zuma maak die prys vir Ramaphosa om sy doelwitte te bereik ongelooflik hoog – albei weet dit ook.

Die laaste paragraaf in Zuma se brief lui:

“I shall await the decision of your esteemed Court and am preparing myself for it’s obvious although unjustified severity.”

Zuma was nog altyd skelm, maar nog nooit polities onnosel nie. Met hierdie brief het hy sy hand vir Ramaphosa gewys – hy gaan dit verpolitiseer in ʼn stryd om oorlewing. ʼn Vraag oor skuld of onskuld gaan uiteindelik nié deurslaggewend wees nie. Zuma én Ramaphosa weet dit. Die vere van vervolging gaan uiteindelik die voël maak – hoe dit lyk wanneer Zuma onder Ramaphosa se presidensie tronk toe gaan, gaan veel belangriker wees as die vraag oor óf Zuma enigsins tronk toe behoort te gaan.

Die brief is eintlik ʼn blanko tjek vir Ramaphosa. Die geveg is reeds aan die gang, gevegslyne is getrek en kante is gekies. Zuma dwing Ramaphosa bloot om te sê wat hy bereid is om te betaal vir ʼn oorwinning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Willem ·

Wens hy wil nou ophou huil en skuld erken vir al sy wandade

Herman ·

Kom ons wees eerlik.Zuma kan nie lees nie, hy kan nie syfers lees nie, die moontlikheid dat jy 21 bladsye geskryf het is nul…

Michael ·

Stem saam en die moontlikheid dat hy tronk toe sal gaan is ook nul

Bregterblom ·

Ou Carl het seker sy insette gelewer! Vir wat dit werd is……??

Hennie ·

Dis deur sy prokureur geskryf – Zuma het nie 2 breinselle om so iets te skryf nie.

Werner ·

Hy sal eerder oorlog maak voor hy tronk toe gaan.Ou Ace kuier nie verniet by hom vandag nie.

anko ·

Alewige gekonkel en daarvan sal ook niks kom nie. Daar is nie pille vir domgeit nie

Oudste ·

Ou gesegde in Ingels: Do not do the crime, if you cannot do the time. Moenie ‘n ou huildosie wees nie. Zumpies, jy het mos gese jy het niks verkeerd gedoen nie, jy sal vrywillig tronk toe gaan as jy skuldig is. I am looking forward to my day in court, het jy gese. En nou………?

Pieter ·

As dit iemand anders was dan was hy lankal in die tronk. Julle ANC kommuniste en terroriste sal nie rus tot daar niks van die land oor is nie. Jy zuma en al jou pelle moes lankal in die tronk gewees het. Nou kom mors julle ANC narre ons belasting geld met die zondo komisie snert. Loop VOETSEK die hele lot van julle

David ·

As hy dan nie voor die Zondo kommisie wil getuig nie, gaan doen dit in die gewone hof, soos wat die normale verloop van die proses is.

Was dit ek of jy, was ons nou al lankal toegesluit en bes moontlik was ons vonnis al uitgedien.

anko ·

Kom nou Z wys watse murg jy in jou pype het. Vat jou straf soos ‘n man want jy en jou kaders was en is steeds verkeerd. Hou op om miljoene rande te mors, dit kon baie beter aangewend word.

Jannie van Niekerk ·

Siestog , die arme man. Hy klink vir my soos ‘n regte “Jannie Jammergat”

Kokerboom ·

Die kader skurk moet aangekla word vir hoogverraad teen land en sy mense. Twee stele reels geld: Die vir sogenaamde kader vryheidsvegter skurke en die vir gewone hardwerkende landsburgers.Die streep moet nou getrek word!

Mariana ·

Hy het die land nou genoeg uitgelag. Sluit hom nou toe. Hy kry kans na kans, maar weereens is hy steeds oo vrye voet.

jzjz05 ·

Zumajammergat,bejammer homself ,hy kry hom self baie jammer maar dit moes hy eerder aan gedihk het voor hy al die kwaat gedoen het.

KB ·

Zuma sien só uit na sy tronkstraf…”spite” hom en sit hom in eensame aanhouding, hy verdien dit.

Chris ·

Ek kan nie glo wat hy in sy skrywe kwytraak nie: hy’t als gedoen om die mense wat in die sogenaamde “apartheid’s jare” so swaar gekry het te help. Nee Oubaas, jy wou hul nooit geleerdheid gun nie, want jy wou nie hé hulle moet slimmer as jy wees, om te sien watse twak jy aanvang met jou en jou kaders se doen en late nie. Maak hom staan in tussen die publiek en kyk wie hom eerste aanvat.

Yvonne ·

Slu en skelm verby…..en daar is nie medikasie vir dit nie….hy is besig met iets soos n skaakspel….gewis sal hy en sy tjommies alles gebruik moontlik om uit die gemors wat hulle self veroorsaak het te kom…al is dit tenkoste van die hele land

Kobus ·

Ek kan verstaan hoekom die howe so sukkel om ‘n besluit te maak nie.Indien hy wel die oranje pakkie aantrek,sal dit vir hoogstens ‘n paar dae wees.CR kan hom steeds kwytskelding aanbied,die slim prokureur sal wel ‘n skuiwergat kry en dan begin alles weer van voor af.Wat het sy ouderdom met sy straf te doen? Maar dis goed so,hy stel nuwe standaarde tov die regsstelsel,die gewone burger sal voortaan bes moontlik ook die taktiek kan gebruik.

Charl ·

Jip, hier gaan ons alweer, appartheid appartheid. Zuma jou minagting van die hof is seker ook appartheid se skuld ?? Darem maar wonderlik hoe almal van julle wat agter die deur staan iemand of iets soek om saam met julle dáár te staan.

Dirk Mostert ·

Die arme man stres oor die beskikbaarheid van entstowwe. Reserveer asb. dosisse vir hom en al sy vroue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.