Nuuskommentaar: Zuma (die intellektueel) geen “fabrieksfout”; OB die “spioen”

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Kort voor Kebby Maphatsoe, die adjunkminister van verdediging en militêre veterane, gesuggereer het dat die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela ʼn ’spioen” vir die CIA sou wees, het ’n ander koddige uitbarsting binne die ANC plaasgevind. Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, het mond uitgespoel oor die skerp kritiek waaronder pres. Jacob Zuma gereeld deurloop, en het onthuts gesê Zuma is geen “fabrieksfout” nie, en is eintlik ’n intellektueel.

Magashule is bekend as Zuma-man (hoewel die gevoelens skynbaar nie altyd ewe wederkerig is nie).

Die onlangse debakel rondom die onthulling dat die bekende ANC-politikus en intellektueel, Pallo Jordan, ’n doktorsgraad versin het, maak iemand wat nou die titel van “intellektueel” aan ’n omstrede persoon wil koppel, die skyf van satirici. Onlangs het die Maroela-blogskrywer, Oom Herrie, in sy rubriek Oom Herrie se kerrie, die spot gedryf met ’n rits kamma-doktors en ere-doktorsgrade. Vir dié geleentheid het die skrywer self “Oom doktor Herrie” geword, maar darem net vir die dag omdat die doktorsgraad wat hy iewers oorsee verwerf het, só goedkoop was dat dit net ’n dag lank geld. Boonop is hy beïndruk dat, terwyl die universiteite hier so langtand vir Afrikaans is, daardie oorsese universiteit geen probleem het daarmee dat die proefskrif in Afrikaans ingedien word nie, al kan nie ’n enkele promotor eens Afrikaans verstaan nie. Dele van hierdie rubriek is pas (met toestemming) deur die rubriekskrywer, Blouwillem Theron oorgeneem.

Onder die doktorsgrade en ere-doktorsgrade wat onder oom doktor Herrie se pen deurloop tel doctor jonathansis pallosis honorus kroeksius, die graad wat sy alma mater toeken aan mense wat lank genoeg valslik voorgegee het om oor doktorsgrade te beskik. Hiervoor het oom Herrie dus nie gekwalifiseer nie.

Vir die betrokke dag het oom Herrie dus by die oorsese universiteit die graad doctor scientae astronomicae cum laude verwerf. ’n Toekomstige doktorsgraad in die politieke wetenskap wat hy in die oog het, is doctor verskriklae zumaïtis.

Zuma, terloops, is heeltemal geregtig om die titel “doktor” te gebruik weens ’n aantal ere-doktorsgrade wat hy, veral in Maleisië, verwerf het. Een hiervan, wat die Limkokwing-universiteit aan hom toegeken het, is vir leierskap. Dit herinner ʼn mens aan Jan Spies se storie oor die alewig slapende hond Waaksaam.

Tot Zuma se krediet, volg hy in die tradisie van ander ontvangers van ere-doktorsgrade soos FW de Klerk, PW Botha en Nelson Mandela om nie die titel van “doktor” te gebruik nie. Dit sou hulle in dieselfde kategorie plaas van ander wat dit wel gedoen het, soos “dr.” Idi Amin en “dr.” Leabua Jonathan.

Spotprenttekenaars en satiriese skrywers sal weldra gou weer die draak steek met die storie dat die OB ʼn CIA-spioen sou wees. Eintlik, as na die adjunkminister se verduideliking geluister word, het hy eerder “veranderingsagent” bedoel – iemand wat in die ander land geplaas is om ’n klimaat te skep wat vir die land wat die toutjies trek, bevorderlik is.

Die CIA se beweerde rol hiermee in Suid-Afrika is sou oud soos die berge, met bekende Suid-Afrikaners wie se name gekoppel is aan ’n beweerde sensitiseringsprojek waar hulle reeds as studente gewerf is, en reeds goed geskool en goed geplaas was toe hulle sleutelrolle by die Kodesa-samespreking sou speel. Dit staan as sensitiseringsaksies bekend. As bedoel was dat die VSA se beste belange inderdaad by Kodesa gedien sou wees, het die CIA maar lekker verbrou.

Of anders gestel, daar is nie voorsien dat ʼn figuur soos Zuma die presidentskap sou oorneem nie. Zuma het ʼn bepaalde voorkeur om kommuniste as ministers aan te stel, Suid-Afrika neig om eerder ooswaarts te kyk soos uit sy Brics-lidmaatskap blyk, die herhaalde petaljes met die Dalai Lama, sy vinnige verkas na Rusland skynbaar vir ’n gerusstellende knieval ná Zuma een van sowat 50 Afrika-staatshoofde was wat as gaste van pres. Barack Obama ’n VSA-Afrikaberaad bygewoon het, en vele meer.

Dit sou inderdaad Zuma ’n prima-teiken maak vir Westerse intelligensiedienste wat van sensitiseringsaksies gebruik sou maak.

Maar om die OB hieroor ’n spioen vir die CIA te noem is koddig, want dit sou beteken dat elkeen in hierdie land, Julius Malema inkluis, wat meen Zuma se rakleeftyd is verstreke, is eintlik CIA-spioene.

En tog is dit die bykans paranoïese reaksie van diegene in die ANC wat die land se beste belange vertrap in hul desperate poging om Zuma as president te behou.

Natuurlik hét die VSA (nie soseer die CIA nie) ʼn bepaalde beleid om sekere waardes, soos die liberale demokrasie en ʼn vasbeslote bevegting van korrupsie “uit te voer.” Dit word dikwels reguit aan lande soos Nigerië wat as die simbool van korrupsie in Afrika dien, gesê, terwyl lande soos Suid-Afrika meer diskreet, maar ewe ernstig, aangespreek word. Maar of die VSA, via die CIA, so ver sal gaan om veranderingsagente vir bepaalde sensitiseringsaksies te ontplooi, is bietjie dik vir ʼn daalder, en om mense dan die etikette van “spioene” hieroor om te hang, herinner aan paranoia.

Wat ons veel eerder sien, is lomp strategieë om Zuma se beeld (weer) vlot te maak, sodat hy president kan bly sonder om die ANC te veel skade tot die einde van sy termyn te besorg. Die “strateë” het heel waarskynlik hul strategie daarom gebou dat die ANC sy greep op die regering, en die regering deur sy greep op die land se magsinstrumente en selfs onafhanklike liggame, dit sou kon vermag.

Maar dit werk heel duidelik nie, en die groot vlieg in die salf blyk die Openbare Beskermer te wees. Die fiksasie op haar skep die teelaarde vir frustrasie en onderlinge warmbroeiery.

Wat ons nou sien, is die eerste barsies in die Zuma-drukkoker. Dit lyk steeds baie seker dat die werklike intellektuele in die ANC reeds ’n plan B implementeer, ’n plan waar Zuma ’n stiller agtergrondsrol speel, en heel moontlik heeltemal uitgerangeer gaan word. Maar Zuma is ’n politieke Houdini, en politiek uitgeslape. Hy het genoeg invloed in die ANC om toutjies oor ’n wye front te trek om sy beste belange te laat dien, en die politieke ashoop is nie wat hy in gedagte het nie.

’n Toepaslike ere-doktorsgraad vir Zuma sou dalk wees: doctor shabirtsjôtsô spionagebandia houdinia narrensis honorus causa cum laude.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Wat ‘ n pragstuk. Kom ons bid en hoop op geregtigheid in die lieflike land.

andre ·

Wag nou ! Wag nou ! Zoempie het genoeg ondervinding van sekere dele van die anatomie van die menslike liggaam om inderdaad ‘n doktors te kry …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.