Nuuskommentaar: Zuma die wêreldkampioen, of die produk van swak kiesers?

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Richard Nixon het sy bekende Watergate gehad, wat hom ook uiteindelik onderdeur laat spring het. Ook ander regeringshoofde wêreldwyd het hulle in skandale vasgeloop. Pres. Barack Obama moes self bontstaan om te verduidelik oor onder meer die spioenasiepraktyke van die NSA, die inkomstediens se fokus op Tea Party-ondersteuners en mediafigure wat die teiken was van onder meer die CIA.

Maar tog, so lyk dit, speel pres. Jacob Zuma in ‘n liga van sy eie. Benewens Nkandlagate, word “Number One” se naam ook genoem in die Guptagate- en Wapengate-sages.

Waar Bill Clinton moes bontstaan oor Monica Lewinsky; Zuma het suksesvol owerspel as verweer teen ‘n aanklag van verkragting aangevoer. Hy het ook by ‘n vriend, Irvine Khosa, se dogter ‘n kind buite die eg verwek.

Waar die Clinton-Lewinskysage pas na 15 jaar bande opgelewer het waar die eertydse “intern” Clinton probeer verlei het, het Zuma ook sy eie “bandeskandaal” met die Nasionale Vervolgingsgesag wat minagting van die hof uitdaag deur nie onder voorwaardelike hofinduksies bande wat glo verband hou met die terugtrekking van korrupsieklagtes teen die president aan die DA beskikbaar te stel nie.

Leemtes in die parlementêre reëls wat die ANC “toegelaat” het om ‘n mosie van wantroue teen Zuma nek om te draai, is deur die howe as ongrondwetlik uitgewys, en moet nou reggestel word.

Zuma onderteken die omstrede e-tolwet terwyl uitspraak in die appèlhof daaroor voorbehou is, en in alle waarskynlikheid nog ‘n draai in die grondwetlike hof sal gaan maak.

Die kospakkieskandaal wat nou deur die Openbare Beskermer ondersoek word, het ook wortels na die oorhandiging van HOP-huise deur Zuma aan arm blankes onder die vaandel (tafeldoek en T-hemde) van die ANC.

Die snoerwet sal in alle waarskynlikheid nog voor die grondwetlike hof draai, hoewel daar nog onsekerheid is oor wat presies na die parlement terugverwys is, en of die parlement die geleentheid sal hê om die hele wetsontwerp te hersien.

Dan was daar sy Davos-uitspraak oor gewelddadige betogings, uitsprake oor die howe, honde, ‘n nasionale reinigingsdag en vele meer wat tot in die buiteland negatiewe beriggewing tot gevolg gehad het.

Onder Zuma se presidentskap het die land skouspelagtig op die indekse vir persvryheid en korrupsie agteruit geboer, en ook op ander indekse soos die innovasie-indeks en die indekse vir mislukte state en geweld die kreeftegang gegaan.

Maar Zuma het sy oog op ‘n tweederdemeerderheid in aanstaande jaar se verkiesing sodat hy ‘n “paar wette” (die grondwet) kan verander.

Daar is stellig regeringshoofde wat meer “gates” agter die blad het – soos Mugabe anderkant die Limpopo, Omar al Bashar van Soedan wat deur die Internasionale Strafhof gesoek word om op aanklagte van volksmoord tereg te staan, militêre junta-leiers in lande soos Argentinië en Chili, die Kim-dinastie in Noord-Korea, Assad van Sirië, en wyle Saddam en Ghaddafi.

Maar dis nie juis lande wat as grondwetlike demokrasie bekend gestaan het nie, en lande wat op die beste grondwet ter wêreld roem nie.

In die politieke wetenskap is daar ‘n spreekwoord wat lui dat die kiesers in ‘n demokrasie die regering kry wat hulle verdien.

Dit is miskien waar in ‘n land waar die demokrasie en demokratiese instellings soos mediavryheid behoorlik werk. Weens Mugabe se effektiewe beheer oor die media in Zimbabwe het die kiesers in effek blind stembus toe gegaan, en dit is kortsigtig van Zuma om, in weerwil van die waarnemers wat toegelaat is se bevindinge oor die afwesigheid van “regverdigheid” in die Zimbabwiese verkiesing, op sterkte van “vry en vreedsaam” alles pluis oor die buurland se verkiesing te verklaar, en sommer die skeptiese wêreld te verwag om geteikende sanksies op te hef. Zuma se Zim-optrede werp ‘n liederlike klad oor die vooruitsigte van ‘n regverdige verkiesing in Suid-Afrika, en dié bedenkinge het goed impetus gekry met die verkiesingshof se ingryp in die Tlokwe-tussenverkiesings.

Vanoggend, te midde van die Amerikaanse “shut down” meen 47% van die Amerikaanse kiesers Obama doen goeie werk. In nog ‘n Rasmussenpeiling meen net 12% van die respondente dat die Amerikaanse kiesers ingeligte kiesers is. Heel ydel meen 83% van die volwasse Amerikaners dat hulle self ingelig is.

Die peiling volg nie lank nie na ‘n meerderheid respondente in ‘n peiling aangedui het dat mense wie se name lukraak uit die telefoongids getrek word, beter kongreslede sal uitmaak as die verkose verteenwoordigers.

In Nederland beleef die huidige koalisieregering ‘n soortgelyk krisis, met ‘n peiling wat daarop gedui het dat die meeste kiesers meen die posbode op die naaste hoek sal beter vaar as premier Rutte.

Dat dit nie noodwendig ‘n internasionale tendens is om verkose leiers gering te skat nie blyk uit kanselier Angela Merkel se indrukwekkende verkiesingsoorwinning. Ook in Noorweë en Australië het kiesers ‘n swaai getoon en partye met konserwatiewer waardes aan bewind gestel.

Teen hierdie agtergrond: Presies hoe ingelig is die deursnee Suid-Afrikaanse kieser? Antwoorde op die vraag of Suid-Afrikaanse koerante werklik, soos persvryheid vereis, politieke diversiteit bevorder of hul inhoud aanpas om spesifieke partye te bevoordeel is ‘n onderwerp op sy eie. Maar gister skryf Flip Buys, grootbaas van Solidariteit soos volg op Facebook: “Afrikaanse koerante verloor lesers, soos ander koerante ook. Maar is dit net die Internet se skuld, of voel lesers “ons koerante is nie meer aan ons kant” nie? Is die koerante se waardes ‘n spieëlbeeld van hulle lesers, of van ‘n klein groepie redaksielede s’n? Veg die koerant vir sy lesers, of teen sy lesers? Gee hulle vir hul lesers wat hulle wil hê, of wat enkele hekwagters meen hulle moet inkry? Daarmee bedoel ek natuurlik nie dat koerante die grens van professionele joernalistiek net na die ander kant moet oorskry nie. Maar dis insiggewend om te kyk hoe die verskillende koerante Afrikaanse brandpunte soos die Kovsie-gebeure, die Pretoria naamkwessie en die FAK-Groot Trek viertrek hanteer.”

Of gaan die komende verkiesing doodgewoon weer ‘n etniese sensus wees?

In Suid-Afrika is die situasie net te kompleks om die eenvoudige vraag te vra of Zuma oorleef ten spyte van, of danksy oningeligte kiesers. Syfers uit die Matie Charl Swart se meestersverhandeling toon dat ongeveer 85% swart mense glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Blankes, in die woorde van die ad hoc-komitee oor privaat besit, verwys na hierdie persepsie as “die groot leun.”

Die jongste debakel oor die Kovsierektor, Jonathan Jansen se lesing oor Engels as versoeningstaal adem ook veel van die gees van persepsies volgens etniese lyne. Het die persoon wat die oorspronklike mediaverklaring (wat na die storm verwyder is), wat klaarblyklik die hele storm ontketen het, dalk heeltemal ander perspektiewe oor die “skadelike invloed van Afrikaans” vir gemeenskapsverhoudige as die persoon wat die plaasvervangende verklaring opgestel het. en waar die kwetsende opmerkings heeltemal weggelaat is?

Wat wel duidelik is, is dat Zuma se politieke oorlewing se wortels diep gevestig is op verskillende persepsies wat verskillende groepe oor dieselfde kwessie het.

Of die land dit kan bekostig? Verskillende groepe het ongelukkig ook weer verskillende antwoorde hierop.

Al manier onder die huidig gegewe is om te sorg dat elkeen self die verantwoordelikheid neem om goed ingelig te raak, katvoet vir propaganda of eensydige nuusaanbieding te wees, en dan die kruisie te gaan trek. Terselfdertyd help dit om nie net ‘n stewige gordel aan te sit nie, maar ook ‘n stywe rek en kruisbande in te span. Ondersteun die burgerlike instellings soos AfriForum en Outa wat die howe nader – dis deel van ‘n volwasse grondwetlike demokrasie, en neem deel aan die openbare debat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Johanna ·

Ai ai ai. Laat mens sprakeloos. Die ergste is, die “kiesers” het die hef in die hand. Waar gaan ons eindig?

H J Bester ·

Eintlik moet daar in ‘n land soos Suid-Afrika, asook in baie ander lande in die wêreld, gekwalifiseerde stemreg te bestaan en behoort die beginsel van een-mens-een-stem nie hier te geld nie.

In die praktyk behels dit dat elke stemgeregtigde wel geregtig wees om een stem uit te bring.. Op grond egter van sekere kwalifikasies soos byvoorbeeld die vlak van geletterdheid/geleerdheid, bydraes tot die staatskas, ens, sal ‘n kieser dus meer as een stem kan uitbring.

Die voordeel hiervan is dat, alhoewel almal stemreg het, die hoofsaaklik oningeligtes en diegene wie slegs ‘n geringe of geen bydra tot die staatskas maak nie, nie in die posisie sal wees om die gang van die politiek of landsake te dikteer nie.

Hierdie stelsel sal almal aanspoor tot groter geleerdheid en om verder ‘n aktiewe en arbeidsame burger van die land te word want dit gee groter inspraak in landsake. Dit sal ook meehelp om armoede, werkloosheid, stakings en oproer te bekamp.

Ongelukkig sal dit nooit in Suid-Afrika kan realiseer nie want tans is dit hoofsaaklik die oningeligtes en armlastiges wat die land regeer terwyl hulle min tot geen bydrae tot die staatskas maak nie. Hulle sal nooit afstand doen van hierdie mag nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.