Nuuskommentaar: Zuma-dokumente – die ANC en demokrasie

Dat die ANC al hoe meer tekens van ‘n eenpartybedeling toon, is nie meer nuus nie. Die luidrugtigste voorbeeld is Julius Malema wat sy volle vryheid van spraak en uitdrukking in die ANC wil uitleef, met skynbaar geen begrip dat daar ook politieke lewe buite die ANC is nie.

Die ANC-leierskap se voortdurende lang lippies oor die onafhanklikheid van die regbank, wat die ANC sou strem in die uitvoering van sy beleid en wat dus per definisie ongrondwetlike beleid moet wees – is nog ‘n voorbeeld. Suid-Afrika gaan op die internasionale persvryheidsindeks die kreeftegang, en is al sowat ‘n dekade lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent nie.

Terwyl Afrika, deels weens internasionale druk, al moeisaam al hoe meer demokraties begin word, neig Suid-Afrika in die teenoorgestelde rigting. Presies hoe belangrik opposisiepartye en ‘n onafhanklik regbank vir ‘n land se beswil is, het pas weer geblyk toe die Nasionale Vervolgingsgesag besluit het om nie te appelleer nie teen ‘n appèlhofbeslissing dat sekere dokumentasie oor die terugtrekking van ernstige klagtes teen pres. Jacob Zuma aan die DA oorhandig moet word.

Dié besluit sal klaarblyklik nie vanselfsprekend daartoe lei dat Zuma sy dag in die hof sal kry soos hy eens verlang het nie. Dit beteken nóg minder dat hy betyds opnuut vervolg sal word om sy herverkiesingsplanne aan die einde van die jaar in die wiele te ry nie. Soos prof. Steven Friedman ook uitgewys het: ‘n Skande wat die land tref, transkribeer nie noodwendig as skande in die ANC nie.

Heel dikwels staan Zuma sentraal in die omstredenhede wat baie Suid-Afrikaners skaam maak vir die beeld wat die land se leierskap internasionaal uitstraal, maar die ANC self straal die beeld uit van water van ‘n eend se rug af oor dié internasionale persepsies. Op die oomblik word die ANC deur akademici en kommentators gestriem oor die bitterbek aanval op sakelui, na prominente lede van die sakesektor skerp kritiek teen die ANC-regeerstyl uitgespreek het. Trouens. Die sakelui is aangesê om hul neuse uit die regering se sake te hou – terwyl die sakelui bloot die demokrasie regte wat die grondwet aan alle Suid-Afrikaanse burgers waarborg, uitgeoefen het.

Maar hoe lyk die prentjie aan opposisiekant?
Heelwat meer as ‘n honderd partye is by die OVK geregistreer, heelwat daarvan waarvan selfs politiek goed ingeligte lede van die publiek nog nooit sou gehoor het nie. Terwyl enkeles weens getallesteun parlementêr in ‘n mate relevansie het, beteken die oorweldigende stem-steun van die ANC dat opposisiepartye benewens die nastreef van getalle, ook op kwaliteit gefokus moet wees. Verskeie, selfs klein partytjies, beïndruk met hoe dit daarin slaag om relevant te bly, al gaan dit broekskeur sonder die fondse wat groter partye by die staat kry.

Baie van hierdie klein partytjies sou weens gewone numeriese steun kwalik kon bly voortbestaan, maar is nispartye wat bepaalde sentimente verteenwoordig. Van hierdie klein partye se Europese eweknieë is groot partye, en selfs regerende partye, byvoorbeeld partye in die ideologiese raamwerk van die Christen-demokrasie, die Groenes, en die volkspartye, wat dikwels met die CDP’s oorvleuel.

Hierdie nispartye speel ‘n geweldige belangrike rol, deurdat dit gewoonlik sterk gemotiveerd is en in die algemene losmaak van politieke sentimente oorpresteer. Dit hou die nie net die regerende party nie, maar ook die groot opposisiepartye in belangrike opsigte op hul tone. Ras speel in Suid-Afrika ‘n sterk rol, en die leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder, het al daarop gewys dat verkiesings in Suid-Afrika ‘n rassesensus is. Die deelname aan verkiesings in Suid-Afrika behels dus ook ‘n behoorlike voorsiening van hoe veral swart kiesers op die hantering van die kwessie reageer. Stempatrone dui daarop dat kritiek uit wit geledere, hoe demokratiese normaal en feitelik geregverdig, selfs ontevrede swart kiesers weer hul kruisies agter die ANC laat trek.

As gesig agter die Zuma-dokumentasie gebruik die DA nou ook ‘n swart gesig, en ongeag die meriete van die persoon sal by baie kiesers die persepsie skuil dat dit meer oor die velkleur as die meriete handel. Die meeste kiesers wat daarna streef dat reg en geregtigheid geskied, sal ook niks verkeerd hiermee sien nie, en oordeel dat dit ‘n pragmatiese manier is dat die doel die middele heilig. Die staatsreg erken ook die geweldige belangrike rol wat burgerlike organisasies speel om ‘n grondwetlike demokrasie te laat vlot.

Teen dié prisma moet ook die Afrikaners hul politieke lewe skik. Op MaroelaMedia se Die Groot Debat, vra die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen die vraag: “Die verskil tussen ware en valse vryheid”. Hy sluit sy artikel af met die stelling: “Kortom, die vryheid van die individu staan volgens die tradisionele opvatting nie in spanning met die bowe-individuele instellings van kulture nie. Inteendeel, laasgenoemde is juis die voorwaarde vir vryheid.”

In Suid-Afrika word die patroon wat in groot dele van die wêreld as normaal aanvaar word, dat regte soos kultuurregte minstens gelyk staan aan individuele regte, dikwels nog as politiek-inkorrek beskou. Om dit as politiek-inkorrek te beskou en gevolglik die rug te keer op instansies wat hulle juis vir hierdie regte beywer, maar om dan om die braaivleisvure die mond uit te spoel oor diskriminasie deur die staat en sy organe, toon presies dieselfde politieke onvolwassenheid as waaraan die ANC hom skuldig maak. Dit is nie nodig om willoos ‘n slagoffer in jou eie land te voel en te wees nie. Val in by instansies wat op ‘n fatsoenlike wyse iets daaraan doen – en ‘n mens kan dit doen deur IN te wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae