Nuuskommentaar: Zuma dreig met ou koeie van korrupsie

Pres. Jacob Zuma tydens sy antwoordsessie in die parlement (2 November 2017). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Om die aandag weg van hom te fokus, dreig pres. Jacob Zuma nou dat hy wel ’n kommissie na staatskaping sal aanstel, maar een wat nie net nuwe korrupsie sal ondersoek nie, maar ook korrupsie uit die vorige bedeling.

Terwyl die swaard van staatskaping oor pres. Jacob Zuma se kop bly hang, hou hy aan om dit weg te waai asof dit ’n orige vlieg is, in plaas van ’n rooi perdeby. Tydens sy laaste vraesessie van die jaar in die parlement het hy ’n baie ou troef gespeel – hy sal korrupsie deur ’n kommissie van ondersoek laat ondersoek, maar dit tot voor 1994 laat terugstrek, “en diegene wat nou ’n ondersoek na staatskaping najaag, sal spyt wees”.

Dat daar korrupsie in die ou bedeling was, is ongetwyfeld so. Een minister het tronkstraf uitgedien, ’n ander se aspirasies om premier te word het in die stof gebyt toe onthullings gemaak is oor sy (beweerde?) betrokkenheid by ’n besproeiingskema. Van die aksies wat nou gewoon as korrupsie uitgewys word, was gesanksioneerde strategiese handelinge om die impak van ’n gesofistikeerde aanslag die hoof te bied.

Hoeveel skade aangerig kan word as ’n kommissie met ’n soortgelyke gedienstigheid as dié wat die wapenskandaal moes ondersoek, op die been gebring word, kan slegs bespiegel word. ’n Aantal jare gelede het die ANC ministers as deel van sy propaganda-aanslag “verplig” om gereeld tydens toespraakgeleenthede te verwys na die “vreeslike omvang” van korrupsie onder die vorige bedeling. Dit is vermoedelik hierna wat Zuma verwys.

Die teruggryp na ou koeie is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Terwyl daar skynbaar vordering is in die bewerings dat pres. Donald Trump se verkiesingsveldtog deur Russiese inmenging bevoordeel is, is daar nou ook vordering in ’n ondersoek dat Hillary Clinton se veldtog ook deur die Russe bevoordeel sou word. In 2010, toe sy minister van Buitelandse Sake was, het sy glo 20% van die VSA se uraan aan Rusland gegee in ruil vir $145 miljoen se skenking aan die Clinton-stigting.

Dié kommissie van pres. Zuma sal boonop ’n leeftyd hê van so lank as wat die publiek voel dis nodig om korrupsie te ondersoek. Die implikasie is dat die bewindstye van oud-presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki ook onder die loep sal kom.

Pres. Jacob Zuma tydens sy antwoordsessie in die parlement (2 November 2017). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die kommissie sal ’n aanvang neem sodra sy hofaansoek oor die staatskapingsverslag afgehandel is. Dit handel daaroor dat hy volgens die grondwet kommissies en hul voorsitters moet aanwys, maar dat die openbare beskermer in hierdie geval gelas het dat die hoofregter die voorsitter moet nomineer wat Zuma dan moet aanstel. Die vorige OB het stellig die debakel van die wapenskandaal in die oog gehad toe sy dié bepaling in haar verslag ingeskryf het.

Die boodskap is duidelik – net so min as wat die publiek kon hoop dat die wapenskandaal-kommissie die wapenskandaal sou oopvlek en openbare kennis maak, net so min wil Zuma dat ’n kommissie oor staatskaping naby aan sy bas kom. Dit verskerp die belangrikheid van ondersoeke deur ondersoekende joernaliste, veral dié wat die ondankbare taak het om deur vragte gelekte e-posse te werk om die swerm rooi perdebye los te laat wat al om Zuma se kop vlieg, en wat hy bloot met ’n armswaai probeer verwilder. Druk om nie net van Zuma ontslae te raak nie, maar ook van die katnes van belangeboeties, sal klaarblyklik buite-om gewone parlementêre bedrywighede en versienings moet geskied.

Dié ondersoeke word nou ook aangehelp deur buitelandse inisiatiewe wat Peter Heine nou in Europa inisieer. Voorts bekyk die FBI ook hoe die Gupta-kwessie na die VSA kon oorgespoel het, en neefs van die Guptas – ook Guptas – in die VSA betrokke sou kon wees.

En Zuma is ’n ou politieke jakkals.

Sy intelligensiedienste het stellig belangriker werk om te doen as om nou ou koeie op te grawe en deur die bleek gebeentes na korrupsie van toet te soek.

Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jordaan ·

Hy weet goed so omvangryke ondersoek sal jare duur en as dit soos die wapenondersoek hanteer word, niks oplewer nie.

Sonja ·

Zuma dink om ou koeie uit te grawe sal hom ni so sleg laat lyk nie.
Wake up call Zuma!!!!

Veronica ·

Spreekwoordelik is die balk mos altyd groter in die oog van n ander as in jou eie.
Ou koeie gaan groter skade aanrig as nuwe kalwers bloot vir die feit dat dit gesteun gaan word deur die meerderheid

Ron ·

Spreekwoordelik is die balk mos altyd groter in n ander se oog as jou eie!
Ou koeie rig groter skade aan as nuwe Kalwers veral as dit gesteun word deur die meerderheid

Fanie v.d. Walt ·

Vandag se korrupsie gaan oor selfveryking en die verarming van die land. Dit het reeds daartoe gelei dat die land rommelstatus geniet. Dat ons Rand niks werd is nie. Dat die totale infrastruktuur in duie gestort het. Die sogenaamde korrupsie in die vorige bedeling was daarop gemik om die sanksie te omseil en het dit bygedra tot die opbou en vooruitgang van die hele land. Daar was wel uitsondering soos wat in elke opset van die land voorkom.

Gert ·

Dit is goed so. Dan kan die ander biljoene wat gesteel is terug gekry word. Die hele anc is korrupt. Van wapen skandaal tot melkery. Ondersoek

Leahim ·

Ek sal daarvan hou as die vorige bedeling ondersoek word voor die ou fossiele te oud is om hulle straf te vat maar ek dink dit moet n afsonderlike ondersoek wees.

zoom zoom ·

Leahim ek stem. Ondersoek almal want dit wat voor 1994 gebeur het is ook belasting geld wat weg is net soos nou.

Uvonka ·

Ou koeie, nuwe koeie, die spene is in elk geval klaar leeg gesuig!

Gatvol ·

As Zuma wil krap in die ou bedeling, dan is dit mos net so regverdig dat die ou bedeling kan krap in die nuwe bedeling!!

Anoniem ·

Mnr Zuma maak dit deel van Jou plan sodat al die donkerte vir ‘n slag na die LIG toe kom en almal die WAARHEID kan hoor Die meule van geregtigheid en waarheid maal bitter fyn en Mnr Die President Jou grondgebied raak al kleiner !

Alida ·

Die probleem het ontstaan toe die Guptas op die horison verskyn het en hand om die blaas met JZ gesit het.

Manie ·

Dit sal goed wees as hy dit sovêr laat teruggaan. Sien uit om de klerk en sy trawante in die tronk te sien. Dan kry hulle dalk tyd om te sien hoe hulle hulle mense verloën het

bgj van der westhuizen ·

wel doen dit ons weet daar was goed ook gedeon maar die land was darm nie in die toestand wat dit nou is nie hulle het gevat van die koek maar min maar jy en jou trawande wat nou die hele koek en die land is in n gemos

Kannaland ·

As ek iemand aankla dan kla ek hom aan en nie almal wat soorthelyke misdrywe gepleeg het nie, dis logies en billik, daarom moet die hof hul nie steur aan so n absurde voorstel nie.

Mielie ·

Hy baklei om korrupsie wegtesteek. Hoekom as jy niks het om weg te steek maak jy sulke dreigemente? Is hy nou benoud…..hehehehe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.