Nuuskommentaar: Zuma en De Lille wipplank oor ’n doringdraad

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die land bevind hom nou skielik waar dit lyk of die beeld van die ANC as sleg, die DA as goed, skielik kan omruil weens die neetvasklouery van pres. Jacob Zuma en burgemeester De Lille, en daarom is dit vir beide partye belangrik om deur te druk om dit te laat lyk of die goeie oorwin. Maar die tyd raak min.

Wie sou ’n jaar gelede kon dink die ANC en die DA sou nou “toutrek” oor wie die koppigste leier en die mins betroubare leier sou hê!

Die twee “gevegte” is nie regstreeks verbind nie, en die twee partye se reaksies verskil ook dramaties.

Vir baie is dit stellig nog moeilik om die gedagte klein te kry dat Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, iets anders as ’n onkreukbare simbool van verset teen korrupsie is. In talle mense se oë het sy iemand geword wat nie ’n voet verkeerd kan sit nie. Dié reputasie het sy gekry veral weens haar betrokkenheid by die oopvlek van die wapenskandaal.

Die antoniem van pres. Jacob Zuma.

Wat nou via die sosiale media ontvou, is ’n faksionele DA waar die een deel van optredes beskuldig word wat kwalik van dié van die Zuma-faksie in die ANC beskuldig word. Daar is ’n sterk ondertoon dat ras uiteindelik die deurslag gee van wat op die oppervlak gebeur.

In die proses van moddergooiery word nie net De Lille nie, maar ook die Wes-Kaapse leier van die DA, Bonginkosi Madikizela, se reputasie harde houe toegedien.

Dis ook nie moeilik om (in die lig van huidige besonderhede wat beskikbaar is nie) kant te kies tussen De Lille en die jong vuurvreter-burgemeesterkomiteelid, JP Smith, nie. Gehalte staan deurgaans oor sy werk geskryf, hy is onkreukbaar en het die fluitjie oor De Lille geblaas – net jammer hy is wit.

Patricia de Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, tydens die Staatsrede in 2012. Foto: Departement van kommunikasie

Volgens verskeie van die land se voorste kommentators het die DA se leier, Mmusi Maimane, se beeld as goeie leier ook sleg seer gekry.

Groot koerante meen die DA se steun het die afgelope ruk skerp in die Wes-Kaap afgeneem, hoewel die droogte skynbaar meer met die saak te make het.

Rapport het selfs sover gegaan om die DA se houding oor Afrikaans as een van die faktore te lys wat die party kan kwes.

Ook die ANC probeer nou ’n kloof tussen goed en sleg in die party slaan, maar op so ’n manier dat Zuma “nie verneder word nie” en hy dus ’n soort skans het waaragter hy sy rug kan styf maak. Volgens die jongste berigte klou Zuma soos ’n neet aan sy presidentskap. Dit raak nou kritiek, want wie later die week die staatsrede lewer, gaan die land miljarde na dié of daardie kant kos. Sou dit Zuma wees, word die boodskap uitgestuur dat daar nog ruim plek vir korrupsie in die staatsmasjinerie sal wees. Terselfdertyd word Ramaphosa se beeld so gepoets dat hy in die oë van baie mense nou staan waar Patricia nie te lank terug nie as simbool van vryheidsvegter teen korrupsie gestaan het.

Trouens, volgens aanduidings, sou die ekonomie tot groot mate deur onsigbare klampe teruggehou word solank Zuma deel van die land se besluitneming is (sodra Zuma die trekpas aanvaar en as faktor verdwyn), lyk dit of daardie klampe gaan verdwyn en die ekonomie ’n stewige sprong vorentoe neem.

Daar is te veel wortels na weerskante om ’n situasie te skep waar Zuma en De Lille se hardnekkige neet-vassteek-spelery oor ’n doringdraad die finale arbiter gaan wees oor watter party die verteenwoordiger van goed, en watter party die beeld van sleg gaan kry.

Soos sake nou staan, sal dit nietemin persepsies van seismiese omvang afgee as De Lille se neetvasklouery vrugte afwerp, en Ramaphosa daarin slaag om van Zuma ontslae te raak.

In sowel die DA as die ANC lê daar vir die partyleiers fyn voetwerk voor. Ramaphosa is duidelik gevoelig vir die reëls van die skaakspel, soos om nie eerstehands betrokke te wees by pogings om Zuma te pos nie, sodat die optrede nie na eiebelang lyk nie.

En dan is daar nog die droogte in die Wes-Kaap wat die DA kniehalter …

Kiesers moet kophou, want om nou kop te verloor kan die land enorme skade berokken. Een manier om te voorkom dat die land tot ’n absolute wen- of volkome verloorsituasie gereduseer word, is vir die kiesers om ander partye op die proef te stel. Miskien is dit juis tyd dat kiesers hul stemme laat gaan na beginselgebaseerde partye eerder as om hulle deur “pragmatiese” partye te laat meesleur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Wonder maar net watter party as pragmaties beskik kan word. Politiek ideologie en pragmatisme is mos maar soos olie en water…

Eish ·

Lewendige perspektief op die situasie met die laaste paragraaf wat die korrekte pad aandui. Alhoewel ons seker nie gaan hond haaraf maak in die meerderheidstelsel nie, gaan dit tog loon om ons skape bymekaar te kan hê.

Neels ·

Darem ongelooflik watter skade aan die DA gedoen is vandat Maimane aan bewind gekom het. Dit is asof hy van plan is om sy (swakker as Zille) stempel behoorlik af te druk. Jammer, want die DA het redelike groot potensiaal gehad wat nou alles – danksy Maimane – totaal verpletter en vernietig is. Ou Neels dink dat daar talle kiesers is wat na ander partye sal oorskakel met die volgende verkiesing, want op die einde van die dag is die spreekwoord “Die een se dood is die ander se Brood” beslis van krag in hierdie geval

Werner ·

Verweider Maimane uit die DA en al die probleme sal weg gaan, hy het beslis my stem verloor vir 2019

Johan du Toit ·

Hulle is albei bang, want hulle het beloftes aan mense gemaak en as hulle nie daai beloftes kan gestand hou nie is hulle lewentjies op die spel.

Alida ·

De Lille het nog nie bewys dat sy n krimineel is nie Jacob in teendeel 700+ kere! Jaag hom.

Sarel Strydom ·

Baie jammer oor Patricia De Lille. Sy was bekend as vuurvreter politikus en seker die eeste antizuma persoon.

Alida ·

Vir almal wat Mnusi so afkraak hy het meer verstand en kwalifikasies as baie van ons wat tog so sukkel om te spel in jou eie taal

Neels ·

Ook vir Alida wat moet leer om leestekens ordentlik te gebruik!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.