Nuuskommentaar: Zuma en die vyfdekolonners

Die lokaal in die parlement word voorberei vir die geheime stemmery (8 Augustus 2017). Foto: Twitter via @ParliamentofRSA

’n Hol oorwinning as daar ooit een was. So kan die uitslag van gister se mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma in die parlement beskou word. Hoewel die ANC, en veral Zuma, oor die uitslag spog, is dit ’n feit soos ’n koei dat die ANC nie eens die helfte van die stemme plus een kon kry wat die opposisie nodig gehad het om Zuma afgedank te kry nie.

Die redes sluit in LP’s wat nie die sitting bygewoon het nie, vyf LP-setels wat vakant is, en ’n aantal wat buite stemming gebly het.

En dan was daar die sowat twee dosyn vyfdekolonners – daardie mense wat as ’n bykomende oorlogsfront dien, maar wat van binne die vyand se geledere opgestel is.

Die vier konvensionele kolonne wat om Fort ANC saamgetrek is, is nie sterk genoeg om Zuma te midde van al sy statutêre verskansings plat te loop nie. Die eerste kolon is sekerlik die gesamentlike opposisie, die tweede burgerlike instellings soos South Africa First en Outa, derde die publiek en die vierde die onafhanklike media.

Wat het die ANC vir al sy moeite “gewen”? ’n President by wie selfs akademiese ontleders nie meer die moeite doen om die woord “beweerde” te gebruik wanneer na Zuma as korrup, skelm ensovoorts verwys word nie. En die media plaas dit net so, terwyl selfs ’n vermeende plaasmoordenaar wat op heterdaad betrap is, of die dronkbestuurder wat iemand se lewe gekos het, die “na bewering” bykry tot ’n bevoegde hof hulle skuldig bevind het.

En dis nie net die meer as 700 aanklagte wat skynbaar onbehoorlik teen Zuma teruggetrek is wat eersdaags weer soos ’n klip en honderde ongeskilde turksvye in die ANC se pens kan kom lê nie.

Feitlik daagliks, soos ook gisteroggend op die dag van die wantrouemosie, het #GuptaLeaks nog ’n skadelike onthulling gedoen. Nugter weet hoeveel skandale van “epidermiese” omvang wag nog op Zuma, en dus die ANC – iets waarvoor die ANC gister gulde geleentheid gehad het om aan te ontsnap, maar skandelik verslons het.

Sedert die uitslag van die geheime stemming bekend geword het, kan die ANC net homself blameer dat hy steeds die houe moet vat wat eintlik aan Zuma se adres gerig is.

Die onbesonne helde wat so byna die skip laat draai het, is die vyfdekolonners – ANC-LP’s wat saam met die opposisiepartye teen Zuma gestem het. Die beslissing dat die stemming in die geheim sou plaasvind het dit moontlik gemaak dat die impak van die vyfdekolonners gevoel kan word.

Hoewel die ANC deur goedkoop propaganda-“tegnieke” probeer om sy ondersteuners danksy die uitslag agter die ANC te konsolideer, sal bitter baie kiesers verder kan dink en besef Zuma se posisie is nou verswak. Hy is selfs na die stemming as ’n “politieke zombie” beskryf.

Dit is wel moontlik dat die vyf oorblywende lede van die ANC se Groot Ses (Zuma ingesluit) nou kan besluit dat pleistertjies opplak nie meer genoeg is nie, en dié keer vir Zuma sal vra om sy tassies te pak. Die SAKP se standpunt is immers bekend dat Zuma die trekpas moet kry, wat eintlik druk op SAKP-lede, soos adjunksekretaris-generaal van die ANC, Jesse Duarte, en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal plaas om meer aktief druk op Zuma te plaas. Dit lyk ook of die ANC-voorsitter en speaker, Baleka Mbete, begin boordensvol raak het om kort-kort gelooi te word, ook deur die konstitusionele hof, in haar pogings om Zuma ter wille te wees. Haar lojaliteit aan Zuma is reeds “beloon” deur Zuma wat sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, as volgende president gesalf het. Terwyl Mbete dit duidelik gemaak het dat sy self presidensiële kandidaat wil wees.

Kortom, die ANC moet nou die feite onder oë kry: As die party ná 2019 steeds aan bewind wil bly, sal hy so gou moontlik van Zuma ontslae moet raak. Die boodskap wat Mantashe en ander nou uitgestuur het, is dat Zuma se verwydering wel aangewese kan wees, maar dat dit net nie as iets beskou moet word waarin die opposisie ’n dominante rol gespeel het nie.

Vrouedag

Het gister se mosie van wantroue die vrouekandidate se kans om president te word enigsins beïnvloed? Zuma, onder andere, maak voorbrand daarvoor dat die land se volgende president ’n vrou moet wees.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, voer in weerwil van die ANC se “verbod” op verkiesingsveldtogte in hierdie stadium, kliphard en openlik haar stryd. Sy word deur Zuma gesteun, wat net sowel vir Dlamini-Zuma ’n albatros om die nek kan wees. Dit is ondenkbaar dat sy ná gister se uitslag onder die indruk kan verkeer dat Zuma ’n aanwins vir haar verkiesingsveldtog kan wees. Die voortgesette steun van die Vroueliga kan ook problematies word weens die tameletjie op tameletjie waarin die liga se president, Bathabile Dlamini, in haar hoedanigheid as minister verantwoordelik vir maatskaplike dienste (insluitend Sassa), strompel. Sy kan ’n regte blok aan die been wees.

Lindiwe Sisulu: Sy is deel van die ANC-“adel” wat vir veral ouer ANC-lede baie punte beteken. Sy is reeds deur die ANC se Oos-Kaapse tak van die ANC benoem, wat in die proses die nasionale Vroueliga ’n skop in die tande gegee het. Met Zuma wat nou ’n “politieke zombie” is, lyk dit of ander vertakkings van die Vroueliga ook kan besluit om Sisulu eerder te steun.

Baleka Mbete, die speaker, het met die beslissing om gister se mosie per geheime stemming te laat plaasvind, haarself skerp in die kollig geplaas. Sy is ook van die Oos-Kaap waar sy voorheen te midde van wye TV-dekking, by haar stam, stamhoof en voorvadergeeste seën gaan kry het vir haar veldtog. Sy was voorheen adjunk-president, en sou, as gister se mosie geslaag het, vir die volgende dertig dae waarnemende staatspresident gewees het. Dit sou haar beste kans wees om haar kandidatuur vlerke te gee. Daarsonder staan sy waarskynlik nie ’n kans nie.

Nie een van hierdie kandidate is waarskynlik presidentsmateriaal nie (al sou hulle ligjare beter as Zuma kon vaar), wat egter nie beteken daar is nie geskikte vroue in die land is om ʼn suksesvolle president te wees nie. Name wat onlangs genoem is, maar waarskynlik nie gaan hande opsteek nie, is die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, asook die ANC-LP dr. Makhosi Khosa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ben ·

Ek hoop Suid Afrikaners oor alle grense besef nou weereens dat President Zuma nie die enigste persoon is wat verantwoordbaar gehou moet word vir sy diefstal uit die staatskoffers en korrupsie in ons pragtige land nie, maar die meerderheid van die ANC LP’s is net so arrogant en skelm soos Zuma en dat alle landsburgers in 2019 hulle stemme die werk sal laat doen.

Vermeende ·

Dit is duidelik na gister se stem dat die ANC nie net vertoue in Zuma het nie maar ook dat hulle geen waarde heg aan demokrasie nie, vir hulle is stem koopery meer van waarde as gewete. Die ANC het gister gewys dat sy leiers eintlik n Zuma dektatorskap voorstaan en geen probleem sal he met n een party staat nie.

jaco ·

onthou net, as die mosie geslaag het, moes die HELE kabinet bedank het en sou die speaker, wat self n twyfelagtige karakter is, waarnemende president geword het. En die gevolge dan: verdere rommelstatus, R21 in 1 dollar, R20 vir 1 liter petrol, 18persent rentekoers vir huislenings en en en. Almal wat nou so huil oor die mosie nie geslaag het nie, moet asseblief net so bietjie verder dink as aan die onmiddelike “satisfaksie” en “lekker kry” wat nou nie gebeur het nie. my salaris dek net-net al my uitgawes. ‘n drastiese ekonomiese insinking in ons ekonomie na n suksesvolle mosie sou my erg benadeel het, om van arm swartmense, zuma se rasgenote, nie eens te praat nie.

Penellope Jones ·

Dit kon dalk ook anargie veroorsaak het as Zuma gisteraand uitgestem was.
Daar was reeds skadelike proteste gisteroggend nog voordat die prosedures begin het en mens wil nie dink wat kon gebeur het sou die opposisiepartye geslaag het nie.
Iets wat ons dalk nie wil he nie, iets wat dalk negatiewe gevolge kon veroorsaak.

Ronell ·

Ag nee regtig, ek dink jy ruk die dam onder die eend uit. Al die markte het eers verbeter in die aanloop na die mosie, onmiddelik na die ongeslaagde mosie het die rand met minstens 1.1% verswak. Markte het net soos ons gewone burgers staatgemaak op n suksesvolle mosie om SA bietjie uit die modder te lig

LB S ·

Penellope, so moet almal dan maar eerder tog net doodstil sit en Gods water oor Gods akker laat loop om sodoende tog net die die bootjie te skommel nie? Waar is jou durf en moed??

Eish ·

Baie dankie vir die omskrywing van vyfdekolonner. Nou weet ek presies wat dit is.

Genieve ·

ekt gese die LP’s gaan nie teen Zuma stem nie,want dan moe hule hulle kantore ook leeggemaak het, zuma sal sit tot 2019 en klaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.