Nuuskommentaar: Zuma en godsdienspolitiek

Dié keer, so lyk dit, is pres. Jacob Zuma dalk effe onregverdig gegryp oor die wyse waarop hy godsdiens as politieke instrument inspan. Indien die verduidelikings korrek is dat hy verkeerd aangehaal is – sy toespraak is immers in Zoeloe gelewer – kan hy egter net een persoon verkwalik, en dit is Jacob Zuma self.

Die voorbeelde van die misbruik van godsdiens en die Christenskap in die besonder vir politiek is immers al besonder lank, en van sy voorste ondersteuners soos premier Ace Magashule, het nie geaarsel om in te val nie. Onder sy gewraakte stellings tel dat die ANC sal regeer tot die wederkoms, en dat die voorvadergeeste diegene sal haal wat nie vir die ANC stem nie. Onlangs nog het hy gemeen kerke moet saam met die ANC die ANC se eeufees vier. Magashule is onder meer aangehaal dat mense vir Zuma moet volg soos die mense Jesus gevolg het.

Die Christen-Demokratiese Party het verskeie verklarings uitgereik waarin verduidelik is hoe die Christen-demokrasie en die misbruik van godsdiens van mekaar verskil. ‘n Christen is die werktuig, die instrument van God. Misbruik is wanneer God as die mens se partypolitieke instrument ingespan word. So eenvoudig is dit. Dat dit juis die leiers van ‘n politieke party is wat op ongekende skaal van Christelike invloede ontslae geraak het wat so maklik in die slaggat trap, is pikant. Die oppergesag van God is uit die grondwet verwyder, die Christelike godsdiens is uit skoolleerplanne gehaal, Hemelvaartdag as amptelike gedenkdag is van die kalender afgehaal – in ‘n land waar meer as 70 persent van die bevolking aandui dat hulle Christene is.

Veelwywery is gewettig, staatsgeld word aangewend om die voorvadergeeste selfs in die buiteland te gaan vang en na Vryheidspark te neem. Die land sit met pro-rata die grootste voorkoms van MIV-Vigs ter wêreld weens huweliksontrouheid en ‘n verval van moraliteit. Die probleem word aangespreek deur die oorvloedige uitdeel van kondome eerder as die herstel van moraliteit. Die gevolg is ‘n oneindige toename in wesies. Die president stel self nie die beste voorbeeld van veelwywery nie, hy het boonop kinders buite die eg by minstens twee vroue, terwyl hy suksesvol owerspel as verweer in ‘n verkragtingsaak aangevoer het.

Volgens Zuma se woordvoerder het hy die westerse beskawing, en nie die Christendom nie, verkwalik vir die aftakeling van die norme en gebruike van die verlede, wat tot die opkoms van soveel weeshuise en tehuise vir bejaardes gelei het. Hierin het Zuma wel so half en half die punt beet. Die ou stamkulture het inderdaad streng kodes gehad. Die Zoeloes, waarvan hy ‘n lid is, is byvoorbeeld erg verkwalik vir die sogenaamde maagdelikheidstoetse wat tydens die inisiasieproses uitgevoer is.

Dit gebeur dikwels dat wanneer ‘n ou stamkultuur in transito gaan na ‘n nuwe, sogenaamde meerdere kultuur, daar ‘n oorgangsperiode volg waar sekere ou gebruike wel oorleef, maar sommiges volledig wegval terwyl dit wat die nuwe kultuur vereis, nog nie omarm word nie. Die gereelde verweer dat die swart kulture die vrylike opeis van seks aanhang, is ‘n voorbeeld van so ‘n wanvoorstelling. So ‘n kultuur in transito bevat dikwels vele kenmerke van die sogenaamde anti-kultuur, dws nuwe gebruike wat die sosio-ekonomiese naatwerk van ‘n gemeenskap aftakel met kenmerke soos oormatige drankgebruik, rondslapery en misdaad. Uiteraard word baie hiervan ook voor die deur van apartheid en veral die trekarbeidstelsel gelê.

Die realiteite is egter veel komplekser. Die Christendom en / of die westerse kultuur kan nie blameer word vir groot gesinne deur mense wat nie sulke gesinne kan bekostig nie. In teendeel, die toegang tot westerse gesondheidsdienste verminder baba- en kindersterftes en plaas groter druk wanneer daar weens die Vigspandemie wesies kom. Dit word vererger deurdat 80 % van die verwesterde Suid-Afrikaners verhoogde vlakke van cholesterol het, waarvan 20 % se vlakke hul lewens bedreig. Waar dit nog grootliks ‘n Afrikaner- en Indriërprobleem is, volg die probleem swart mense in hul toetrede tot die westerse kultuur, en dus die oplewering van nog meer wesies.

Hierteenoor word mense ook ouer, sodat Japan binnekort ‘n miljoen inwoners van ‘n honderd jaar en ouer gaan hê. Die gemiddelde lewensverwagting van mense vandag wêreldwyd is ongeveer 67 jaar, maar in Swaziland is 32 jaar. Japan s’n is 87 jaar. ‘n Westerse samelewing het dus tipies meer bejaardes om te versorg as ‘n tradisionele omgewing.

Op die minste is die jongste debakel waarin Zuma sy voet ingesit het, ‘n herhaling van die vraag wat nou al hoe meer gevra word: Wie bedien die president met die soort raad wat hom en die land kort-kort in ‘n verleentheid dompel, en die regering die een bloedneus na die ander in die howe op die lyf laat loop?

Sy rits vreemde godsdiensuitsprake duur ook onverpoosd voort. Onlangs nog het hy weer – na hy al soveel kere oor die kole gehaal is – gesê die ANC is soos die Here – gou met beloftes maar stadig om te lewer. Dit is egter veral tydens verkiesingsveldtogte wat die president en sy meelopers hulle op hierdie bedenklike trajek begewe. Die vernaamste kerke en selfs die SARK het hom al hieroor voor stok gekry. In ‘n stadium het die VGK selfs ‘n beroep op sy lidmate gedoen om hieroor nie vir die ANC te stem nie. Die NG Kerk het gemaan dat sou die president dit nie staak nie, dié kerkverband dieselfde sou doen. Die NG Kerk, die NH Kerk en die GKSA het in ‘n stadium selfs ‘n gesamentlike verklaring uitgereik om die president te versoek om die praktyk te staak. Ook die AGS en ander kerke het verskeie kere hul stemme dik gemaak. Skynbaar sonder enige sukses, hoewel Media 24 vandag berig dat Zuma in Junie die SARK om verskoning gevra het.

Hoewel omstandighede wat geheers het tydens die tipiese stamkultuur wat Zuma nou so idealiseer, hemelsbreed van huidige omstandighede verskil, is die waardes wat hy so as idillies van daardie stamkulture oproep, juis tipiese Christelike waardes – om die wese en weduwees te versorg, om die armes te versorg. Die Christen leer immers dat dit wat hy aan die geringstes doen, doen hy aan Christus.

En dit is juis nou met Kerstyd dat hierdie boodskap weer sterk tot Christene spreek. Dit is juis daarom ook nou die tyd dat die kritici van die Christendom sulke stokke sal soek om Christene mee te slaan. Die beste manier waarop die Christen kan reageer is om sy kritici verkeerd te bewys – dat die Christen inderdaad aan sy barmahartigheidstaak voldoen, en sulke verhale is volop en dikwels so ongelooflik dat dit as wonderwerke beskryf moet word.

Gemeentenuusbriewe wat berig oor hoe hul koskasse soos die weduwee se kruik net eenvoudig vol bly, ongeag hoe groot die nood. En diegene wat daarvoor sorg eis anonimiteit op – hulle doen dit nie om gesien te word nie maar omdat die liefde vir Jesus in hul brand. Wat natuurlik nie beteken Zuma kan bloot voortgaan om die Here na gelang van sy gehoor as hulpinstrument vir die ANC op te vorder nie. Hieroor moet Christene en hul kerke deurlopend waak – anders gaan die Christendom kort voor lank die skuld vir nog onheile kry wanneer dit sleg gaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae