Nuuskommentaar: Zuma en Jansen se spook:  Die dag toe die howe taaiste grondwetoortreders in bek ruk

Argieffoto

Argieffoto

Op dieselfde dag as wat aangekondig is dat pres. Jacob Zuma ’n “skamele” R7,8 aan die belastingbetalers terugbetaal het vir nie-sekuriteitsverwante verbeterings aan Nkandla, het die hooggeregshof in Bloemfontein die Kovsie-raad weer ’n bloedneus gegee.

Die twee sake verskil hemelsbreed, en in die Kovsie-geval gaan nog met appèlprosesse voortgegaan word. Tog is daar ook belangrike raakvlakke, naamlik ’n soort verset teen die Grondwet waarmee die howe nie gediend is nie.

Die land (en waarskynlik die ANC ook) het onberekenbare skade gely terwyl die Nkandla-sage nie net voortgesleep het nie, maar ook etlike sekondêre skandale gebaar het. Uiteindelik het die konstitusionele hof die voet neergesit, en Zuma moes volgens berigte ’n huisverband neem om eintlik maar ’n druppel aan die emmer terug te betaal.

Maar wat veral onthou sal word, is dat daar ’n ongewone dikvelligheid was voor die konstitusionele hof die eindfluitjie van hierdie politieke spel duidelik geblaas het.

’n Lastigheid wat egter skynbaar al meer dikwels voorkom, is dat die staat, wanneer dit ’n saak verloor, eenvoudig hangende ’n appèl voortgaan om dit waaroor hy bloedneus gekry het in werking te stel “omdat die appèl (en soms nog net voorneme om te appelleer) die hofuitspraak tersyde gestel het”. Solidariteit moes tydens sy DKD-saak se appèlle die howe tussenin nader om die departement van korrektiewe dienste te verhinder om ’n beleid wat deur ’n bevoegde hof ongrondwetlik verklaar is, voort te sit asof daar met hangende appèlle geen hofuitspraak was nie.

Nou moes Solidariteit en AfriForum in die Kovsie-taalsaak min of meer dieselfde doen – en het in hul aansoek geslaag – nadat die hof ook voorheen genader moes word toe Maties in ’n stadium sy eie raad se besluite geïgnoreer het.

Internasionaal is die beginsel dat die uitvoering van ’n uitspraak teruggehou kan word terwyl geappelleer word, nie vreemd nie, MAAR die party wat die saak verloor het, moet met ’n motivering die hof nader om daardie uitvoering terug te hou. Die blote aanvaarding dat ’n “uitspraak verval het omdat geappelleer is”, sou ’n magdom regsprobleme skep, soos die wesenlike gesag van laer howe, die verskillende beginsels van estoppel, die doel van ’n hofbevel in die eerste plek, die aantasting van die beginsel van minagting van die hof, en vele meer. Soos sake nou staan, moet Kovsies weer vir AfriForum en Solidariteit se regskoste instaan.

Volksblad (Netwerk24) stel dit vanoggend baie mooi: “Regter Eunice Mokgohloa het Maandag in ’n uitspraak van ’n volbank gelas die UV mag nie sy nuwe taalbeleid, wat die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal in die lesingsale opskort, in werking stel voordat al die hofprosesse daaroor afgehandel is nie.”

Sy het gesê die grondwetlike regte van voornemende studente in die drie fakulteite (regte, medies en geesteswetenskappe), waarin die UV van volgende jaar op eerstejaarvlak net lesings in Engels wil aanbied, word aangetas en hulle sal onherstelbare skade ly.

Daarteenoor sal die UV geen onherstelbare skade ly indien hy wag tot sy appèl na die konstitusionele hof (of die appèlhof) teen ’n bevinding van dieselfde volbank op 21 Julie afgehandel is nie, het sy gesê.

Op 21 Julie het die volbank die besluit van die UV-raad om die nuwe taalbeleid te aanvaar, tersyde gestel.

Die UV het aansoek gedoen om verlof om daarteen te appelleer en voortgegaan met sy planne om die beleid toe te pas.

Gister se beslissing van regter Mokgohloa is die UV kan nie daarmee voortgaan voordat die UV se appèlproses nie afgehandel is nie.

’n Baie onheilspellende aspek is egter dat Kovsies, by monde van sy advokaat Jeremy Gauntlett (SC), aanvoer dat dit nie toegelaat kan word dat ’n klein minderheid grondwetlike regte kan opeis wat tot onberekenbare skade kan lei nie. Ongelukkig is die TV-insetsel van Gauntlett gesny, maar dit klink tog of AfriForum en Solidariteit se standpunt, dat Kovsies se raad nie behoorlik aandag aan die grondwetlike bepalings geskenk het nie, water hou. Dit is voorheen deur Kovsies se regspan ontken.

’n Baie soortgelyke standpunt is ook reeds voorheen deur die Stellenbosse filosoof, prof. Anton van Niekerk, ingeneem, wat in ’n skrywe in Die Burger aangevoer het ’n grondwetlike reg hoef nie (deur ’n minderheid) opgeneem te word nie, veral as dit nie goed deur ander ontvang sal word nie. Dit kan mos nie wees dat ’n regstaat sekere burgers se grondwetlike regte kan sloop, soos die reg op moedertaalonderrig, bloot om anargiste ter wille te wees nie.

Die Nkandla-sage is nog nie verby nie, soos verskeie politieke partye aangekondig het, maar ’n regsproses is nou voltooi.

Met Kovsies en ander soortgelyke voorbeelde is die stryd nog lank nie verby nie, en uitsprake van die konstitusionele hof in die verlede het ongelukkig ook getoon dat die finale uitspraak oor Kovsies ook nie voorsien kan word nie, en dit gaan tyd neem; tyd wat daar nie vir minderhede is voor onherstelbare skade aangerig word nie.

Gelukkig is daar vandag weer genoeg op die politieke spyskaart wat gemakliker tot die gewone kieser spreek as die regstaatprosesse, soos Zuma wat parlementêre vrae moet beantwoord. Daar is selfs ’n afwagting van sports. En Zuma se nuwe vlerke gaan nog tot baie Zuma-bashing lei.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theuns ·

Uitstekende kommentaar. AfriForum en Solidariteit het nie ‘n probleem om flink te dink elke keer wat ons minderheid se regte geskend word nie. Die arrogansie om met ons geld, net weer en weer te probeer om die Afrikaner te ondergrawe gaan my verstand te bowe! Die enigste manier is om die ANC Kaders te kry om vir die hofsake te betaal. Dink net wat sou gebeur het as die ANC ‘n meerderheid gehad het om die Grondwet te verander? Die ANC is duidelik nie met die Grondwet tevrede soos hy nou geskryf is nie!

Hendrik ·

Ja nee die regering het al lankal nie meer die grondwet nodig om dinge in S.A. te verander nie. Hulle het alreeds die Artikel 9 departemente (bv die howe – grondwethof, normale howe en gelykheidhowe) gebruik om hulle wil deur te voer deur hul kaders daar te plaas. Dit is goed dat Afriforum ons minderhede help maar ons as verbruiker moet ook ons mening lig deur bv. Mnet se suskripsie te kanseleer as daar gediskrimineer word. DSTV af te skaal as hulle alewig net alles in engels doen soos die rugby besprekingsprogramme. Is ons bereid om dit te doen. Die mense stem op die oomblik vir partye wat wetgewing ondersteun wat teen die minderhede diskrimineer. Ek verstaan nie…

HEVW ·

Theuns beslis is hulle nie met die grondwet tevrede nie. Hulle vee hul daaraan af in hul plunderproses Dit bly n tragiese stryd as dit gaan om n gebrek aan integriteit , oneerbaarheid, n ewigdurende vuilspel wat gereelde hofgedinge verg. Nie net word die land materiel en kultureel gesloop nie, maar daar is ook n ineenstorting van morele waardes wat SA n donker land maak.

JC ·

Herman, ek stem nie saam nie (met respek) met jou mening omtrent die “finale” uitspraak van die KH nie. Die rede hiervoor is dat die Grondwet duidelik ‘n raamwerk en “gees” van meertaligheid en kulturele diversiteit daarstel. Eenvoudig gestel; en met respek, en met inagneming dat, soos prof Malan al te kenne gegee het, dat die Howe die gevaar loop om slegs ‘n uitbreiding van die regerende elite of hul mondstuk te word; SAL die KH alle respek en geloofwaardigheid verloor en sal dit ‘n erkenning wees dat SA ‘n onvolhoubare en gefaalde projek is indien die KH UV se argumente enigsins duld. INDIEN EK ‘n Afr STUDENT was SAL ek my immers nie laat se dat ek in Engels moet swot nie! In die geval sal dit ook dan lagwekkend wees aangesien dit dan sal wees KH vs DIE RES VAN DIE WERELD, ditto internasionale moedertaal onderrig dag op 21 Februarie. SO…al wat besig is om te gebeur is dat belastingeld weereens onnodiglik gemors word met die uitkoms reeds versekerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.