Nuuskommentaar: Zuma en Kuba

Pres. Zuma tydens Vryheidsdagvieringe op 27 April 2016 in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma tydens Vryheidsdagvieringe op 27 April 2016 in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Probeer die Zuma-ondersteuners die ontslape Castro-euforie so opgeblaas hou dat die tweespalt oor pres. Jacob Zuma vir eers besweer word? Op die oog af lyk dit nie of so iets sou slaag nie, en dat daar vandag oor Zuma se toekoms beslis gaan word.

Kort op die nuus dat Fidel Castro, jare lange diktator van Kuba, dood is, volg die nuus dat min. Derek Hanekom tydens ’n vergadering van die ANC se NUK ’n mosie ingedien het dat pres. Jacob Zuma ontslaan word.

Zuma se ondersteuners het alle stoppe uitgetrek om ’n gevoel van solidariteit met Castro se heengaan op te vorder. Vir die ANC was Castro ’n groot held, en selfs oudpres. Thabo Mbeki het in sy huldeblyk ’n paar dinge oor Castro kwytgeraak wat nie met die werklikheid strook nie.

Met min. Pravin Gordhan wat so spook om Suid-Afrika se begrotingstekort te laat krimp, staan ’n mens eenvoudig in verwondering oor die 2013-ooreenkoms met Kuba wat oor ekonomiese bystand handel. Dit behels dat Suid-Afrika altesaam R350 miljoen aan Kuba beskikbaar stel. ’n Groot deel van die ooreenkoms is kompleks, en verseker dat van die geld na Suid-Afrika terugvloei, soos die aankoop van saad in Suid-Afrika, en dele is ook terugbetaalbaar.

Die interessantste deel lui egter: “R100 million solidarity grant (non-repayable). Availability period is 24 months.”

Die ANC se beheptheid met Kuba dateer veral van die fisieke Kubaanse betrokkenheid in die Angolese burgeroorlog aan die kant van die Marxistiese MPLA, terwyl Suid-Afrika nouer met Unita saamgewerk het. Suid-Afrika het die optrede beskou, of geregverdig, as noodsaaklik om kommunistiese uitbreiding te stuit, maar die ontwrigtende invloed wat dit op Swapo se toevoerlyne sou kry, was ook ’n belangrike oorweging.

Verskeie groot veldslae het plaasgevind. Spesiale eenhede van die Suid-Afrikaanse magte, soos die 32-Bataljon en Koevoet, het groot sukses behaal.

Oor wie die beste daarvan afgekom het, hang dit af van watter kant se storie geglo word. Volgens die Kubaanse, en dus nou die huidige Suid-Afrikaanse regering se weergawe, het die Kubane gehelp om die Suid-Afrikaanse magte in Angola te verslaan. Verskeie groot oorwinnings in bekende veldslae, soos dié van Cuito Canavale, word opgeëis terwyl die Suid-Afrikaners betrokke by daardie gevegte meen die Kubane is in daardie veldslae verpletterend verslaan.

Die oorwinnaar skryf egter die geskiedenis. Gisteraand op SABC3 se nuus lees die nuusleser dat die Kubaanse magte die Suid-Afrikaanse magte help verslaan het asof dit ’n feit is.

Die noue betrekkinge is volgehou. Hieronder tel dat ’n aantal behoeftige jong mense jaarliks op die koste van die Suid-Afrikaanse regering na Kuba gestuur word om as dokters opgelei te word. Kubaanse dokters is ook na Suid-Afrika gestuur om veral die tekort aan dokters in plattelandse gebiede te verlig.

Die Vrystaatse regering het Kubaanse wateringenieurs teen astronomiese koste laat kom om die provinsie se verbrokkelende waterinfrastruktuur te kom regruk, maar het dikwels ledig gebly terwyl hulle aansienlike salarisse en verblyfkoste betaal is – en terwyl daar goed opgeleide mense in Suid-Afrika is wat die werk kan doen.

Luidens koerantopskrifte is sake maar gedemp in Havana, terwyl mense in Miami (waar die meeste uitgeweke Kubane woon) juig. Selfs die Castro’s se eie suster was ’n uitgewekene.

Castro se dood sal vermoedelik nie die nodige emosie opwek dat die ANC in ’n greep van konsolidasie met die ontslape Kubaanse leier sal gaan, sodat die tweespalt hier oor Zuma besweer word nie.

Of Zuma vandag se mosie van wantroue gaan oorleef of nie, hang af van of die mosie met ’n geheime stemming sal plaasvind of nie. As dit nie in die geheim gaan wees nie, kan dit net sowel as ’n sensus beskryf word en sal Zuma se ego bloot effe gekneus wees.

In sekere sin is dit ook D-dag vir adj.pres. Cyril Ramaphosa. Slaag ’n mosie vandag het hy ongeveer twee jaar tyd om hom as president te vestig voor die ANC ’n nuwe leier (en president) verkies. Hoe langer Zuma aan die troon bly klou, hoe meer gaan die slagordes teen Ramaphosa opgestel word. In dié stadium het hy groot vakbondsteun.

Zuma, wat gereeld kla dat ander partye “hof toe hardloop” en so keer dat die ANC meerderheidswil kan afdwing, is self met die howe in die weer, en albei sake raak die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela. Hy maak daarop aanspraak dat hy volgens die Grondwet alleen die reg het om kommissies aan te stel, en self kan besluit oor die kommissarisse. Madonsela het in haar verslag oor staatskaping voorgestel dat ’n geregtelike kommissie die saak moet ondersoek, en dat die hoofregter iemand aanwys om as voorsittende kommissaris aangewys te word.

Zuma vergeet egter dat die konstitusionele hof hom verplig het om ’n kommissie van ondersoek van die wapenskandaal in te stel. Hy het self die voorsitter aangewys, met die gevolg dat die kommissie se bevindings weer voor die hof gebring word.

Madonsela het dit heel waarskynlik in haar agterkop gehad toe sy aanbeveel het dat die hoofregter wesenlik die aanstelling moet doen. Die uitspraak sal insiggewend wees.

Die nuwe openbare beskermer het na berig word strafregtelike aanklagte teen Madonsela ingebring omdat sy die bande van haar onderhoud met Zuma aan die media bekend gestel het. (’n Transkripsie van die onderhoud is in die verslag self opgeneem.) Sy het dit vrygestel nadat Zuma bly beweer het hy het nooit behoorlik kans gehad om op die bewering teen hom te reageer nie.

In 2003 het die destydse adjunk-direkteur-generaal van justisie, Mike Tshishonga, egter die minister, Penuell Maduna, se kop laat rol deur ’n nuuskonferensie te hou om praktyke oor die toekenning van insolvensiesake aan die groot klok te hang. Hy het aangevoer hy het eers alle interne middele tot sy beskikking aangewend, maar net teenspoed op die lyf geloop soos ’n posverskuiwing. Uiteindelik het die arbeidsappèlhof in sy guns beslis.

Het Madonsela, gestroop van haar magte as openbare beskermer, nog enige ander opsie gehad as om die bande beskikbaar te stel om haar beeld ongeskonde te laat?

Die ANC het vandag ’n unieke geleentheid om die land ’n reuseguns te bewys. Maar dis nie eintlik in die ANC se aard nie …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pietser ·

Hierdie berig lyk nie vir my heeltemal korrek nie of is nie duidelik nie. As die mosie slaag is dit moontlik dat Zuma beveel kan word om onmiddellik as president van die ANC af te staan. Enige mosie om hom te verwyder as president van die land voor sy termyn verstryk, moet deur stemming in die parlement aanvaar word.

Chris ·

Dit is nogal lagwekkend dat die “freedom fighters” spog oor die Kubaanse oorwinnings. Wat my laat wonder waar was die “freedom fighters”. Moes die Kubane hul vuil werk kom doen. Daar is gerugte dat neef Fidel so kwaad was dat sy bende in Angola pak gekry het, dat hy sommer ‘n paar bevelvoerders van sy weermag laat tereg stel het. Sal nie gif drink daarop nie, maar met neef Fidel was niks onmoontlik nie. Fidel se pel, Che het blykbaar per geleentheid gesê dat die bevreidings organisasies in Afrika (ANC inkluis) met die hulp van die westerse skenkers/moondhede aan die gang gehou was.

Sarie ·

Jy is reg hy het die generaal wat in beheer van Angola was laat teregstel. Miskien wou hy hul ska ndes bedek. Daar is nie eers ‘n rekord van die gesneuwelde Kubane in Angola gehou nie. En volgens berigte van mense wat daar was dit swart Kubane wat geveg het.

Manie ·

Dit gaan my verstand te bowe dat Afrikane alewig diktators en mense regte onderdrukkers ondersteun en ophef na helde. Maar in die selfde asem sal hulle vertel hoe hulle kamtig geveg het vir menseregte in ons land. Ek dink dit is een groot oë verblindery

snoefie ·

soos Hitler wat nou elke wreedaard se held is. dan lag ek so lekker want ek weet wat sou Herr Adolf net hulle gedoen het. kompos vir tuine? babas in oinde sit en die oond aansit? sou Herr Adolf dit geniet het om dieselfde aan hulle gedoen het.
maar ek dwaal af. ou Castro sal n held wees vir hulle. dink hoeveel het hulle opleiding in kuba gekry.

Piet Piper ·

Bird’s of a feather, flocks together…………….Die hele wereld weet dat Castro Kuba heeltemal vernietig het met sy kommunistiese en Lenin en Marxistiese ideologiee…………….net soos Mugaap gedoen het met Zimbababwe…………….Net Zuma het nie die intelligensie tussen sy ore om dit te kan insien, evalueer en verstaan………..Hy en die ANC “Salute” sulke tipe wandade en wanorde wat armoede, dood en hongersnood vir hul mense bring…

Piet Piper ·

Nou waar is die kommentaar…Birds of a Feather, Flocks together ??

Birdie ·

So vreemd dat die spul altyd so saamkoek. Nooit kyk hulle na die wreedhede wat in daardie land plaasgevind het en hoeveel korrupsie en omkopery daar was en hoeveel ellende vir die man op straat daar was nie. Dit maak my bang om te dink ons land se President en politieke partye VEREER so ‘n despoot. Hulle het baie pak gekry by die Suid Afrikaanse soldate, maar word nou as helde uitgebeeld, die geskiedenis word herskryf deur rewolusioneres wat nog NIKS bereik het behalwe om te STRUGGLE en te vernietig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.