Nuuskommentaar: Zuma en studente-onluste – elkeen se eie bril laat spanning oplaai

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Sonder vertroue kan geen gemeenskap slaag nie, en daar is groeiende kommer oor die gevalle waar swart mense deur die polisie in die VSA geskiet word. Verskillende gemeenskappe sien heel verskillende dinge as hulle na die video’s van die voorvalle kyk. Maar hoe verskillend kyk mense nie na Zuma en die studente-onluste in Suid-Afrika nie? Die een deel kyk met walging en minagting (intussen probeer die SABC-TV Zuma so presidensieel moontlik voorstel), en kyk woedend hoe studente eiendom beskadig. Ander kyk met bewondering na Zuma, en nog ander met soveel begrip na die studentemoleste dat hulle geheueverlies kry oor die skade wat al aangerig is.

Die VSA is onlangs geskud deur voorvalle waar ongewapende swart mans deur ’n wit polisiebeampte doodgeskiet is. ’n Interessante eienskap is dat mense verskillende dinge sien as hulle na die video’s van die voorval kyk. Die swart gemeenskap sien hoofsaaklik ’n onskuldige swart man wat die slagoffer van ’n diep vooroordeel word en gou doodgeskiet word. Ander sien dit weer deur die polisie se bril waar die polisie, of polisiebeampte, instinktief reageer op ervaring van talle gevalle waar dit wel op ’n bedreiging gedui het.

’n Deelstaat se hoogste hof moet nou bevind dat weghardloop van die polisie nie noodwendig op skuld dui nie.

Wantroue in mekaar neem hand oor hand toe, en is nie net beperk tot polisie-optredes nie. Die Amerikaners praat daarvan as “corrosive cynicism”. Een van die hoofredes dat mense so verskillend dink, is dat so baie mense toegang het tot digitale inligting. Op die internet sal ’n mens wel ’n “nuusbron” raakloop wat die gebeure op dieselfde manier sien en beoordeel as wat die leser dit wil sien en beskou. Ander filter die inligting wat hulle inneem, maar dikwels deur voorafopgesette filters om by voorafopgesette idees te pas.

Suid-Afrika is ook nie vreemd hieraan nie, en niks toon dit beter as die absolute afkeer van pres. Jacob Zuma onder ’n deel van die bevolking, en die blinde lojaliteit wat hy in ander kringe geniet nie. Baie lank kon dié posisie min of meer in stand gehou word om anti-Zuma-sentimente aan anti-swart-sentimente gelyk te stel. In die aanloop tot die afgelope verkiesing is hard probeer om dit weer te doen, en toe dit blyk dat te veel swart mense Zuma die rug toekeer en selfs leidende rolle daarmee inneem, is die betrokke swart mense ge-“coconut” of as verraaiers gebrandmerk.

Maar wat van Julius Malema se onlekkerte met Zuma? En die raskwessie het ook ’n veel kleiner rol gespeel as voorheen. Die feit bly dat die pro-Zuma-groep nog so sterk is dat hulle die ANC steeds gyselaar kan hou om hom nie in landsbelang te pos nie. Dus word die onderliggende spanningsvlak in die land hoog gehou.

Maar ook hier is sprake van “corrosive cynicism”. Die spanning voortspruitend uit ander gebeure soos die studente-onluste, word deur verskillende gemeenskappe verskillend gesien. Aan die een kant vanuit ’n simpatieke oog deur iemand wat oor sy voete val om empatie vir die vandale en molesmakers op te vorder deur die verskaffing van agtergrond (wat heel geldige agtergrond mag wees), en dan eufemisties oor die skade en ander misdadigheid te berig. Uit hierdie oord sal nie sommer genoem word dat die skade wat sedert verlede jaar aangerig is, begin oploop na ’n miljard rand nie, en dat baie van die studente boonop in die proses van verdere studie uitgeval het. Die molesmakers dring daarop aan dat hulle nie “kriminele” is nie, en dikwels is dit waar, maar diegene wat dinge te ver vat, se optredes word ook nie sommer veroordeel nie.

In die VSA glo baie mense dat die soort gebeure wat nou soveel aandag trek, al dekades aan die gang is. Daar was net nie voorheen soveel kameras om dit aan die groot klok te hang nie.

Daar is een, onheilspellende verskil tussen Suid-Afrika en die VSA. In die VSA word die buite-periferie deur die wantroue losgetorring. Die meeste Amerikaners glo egter dat dinge in die kern reg verloop, en meen byvoorbeeld dat die toekenning van staatskontrakte eerlik geskied. Hier sny die wantroue van sekere gemeenskappe in die owerheid, en veral Zuma, regdeur en dit is nou harde werk om graderingsagentskappe te oortuig dat dinge reggeruk word … in elk geval solank Zuma daar is, en die Guptas se beweerde staatskaping nie met entoesiasme na die oopte gebring word om weerlê of bevestig te kan word nie.

Sonder vertroue kan geen gemeenskap slaag nie. Met Zuma so ’n groot faktor in die algemene wantroue, is dit noodwendig dat diegene wat hom beskerm ook gewantrou sal word.

Om Zuma in beheer te hou het ’n ingewikkelde skaakspeletjie vir die betrokkenes geword, maar die punt kom nader waar dinge heeltemal skaakmat gaan wees.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Columbiana ·

Die ANC is soos iemand met ‘n gesplete persoonlikheid. Een liggaam maar met vele stemme. Dit wil lyk of nie een weet wat die ander sê nie. Red nou ‘n land met so ‘n kakofonie.

Johann Marx ·

Columbiana? ‘n Kakofonie van Klepto-Kakistokrasie….(Met ander woorde: Grootbek Diewe wat deur die swakstes van swakkes verkies is tot regering).

Jakobus ·

Natuurlik aanbid die ANCYL die grond waarop Zuma loop, hulle ondersteun Motsoeneng ten volle en bly gedurig vir Pravin Gordhan en diesulkes verdag maak.

Johann ·

Ek sien weer die ANCYL het in die dae ‘n verklaring uitgereik waarin hulle die ANC daarvan beskuldig dat hulle die ANCYL uitskuif.

Rynhardt ·

Vrydag 23September 2016 het Zuma homself liederlik in die voet geskied! Op SABC2 nuus was die volgende gese:”Pres.Zuma se dat die massas is nog nie vry nie, eb moet gratis onderwys kry”.Dit wys Zuma weet nie wat hy lees nie, nog minder die ouens wat sy toespraak skryf.Duidelik word die indruk gewek deur Zuma dat iemand anders vir die studente se chaos verantwoordelik is.Zuma en ou Blade Nzimande is verantwoordelik vir die chaos wat studente ervaar! Dit is duidelik dat SABC met Motsoeneng (hy kry nou n bonus van oor die R11miljoen vir gehoorsaamheid) besig is om propaganda van die prez te bevorder! SA brand en Zuma is net n president in naam.Net n kwessie van tyd voordat jy hoor dat SA se fontein van geld opgedroog het.Al Zuma se maatjies se salarisse is nou groter as die prez se R2,8miljoen p.j.!Ons sien al klaar die moleste en brande, maar die chaos gaan nog erger raak!Ons is nou in die fase(begin) van onstabiliteit!

Liewe heksie ·

En as ek reg is was nie een van die drie wat jy in jou kommetaar noem op enige university nie

Hou moed ·

Ons sug maar weet Die Vader gee elkeen (regslui) die bo normale vermoëns om oortreders dmv. die loop van die regbank sy gang te laat gaan maar ook uit eerbied vir Hom Skepper van alles te help beskerm en verdedig vir dié wat dít nodig het.

Alida ·

Ou Zuma verstaan niks wat om hom aangaan nie en weet nie wat die toesprake wat hy met moeite aflees beteken nie.

Andre ·

Daar was nog nooit iets ordelik aan die ANC nie. Moenie hoop dat hul hierdie situasie gaan ontlont nie. Dit is nie hul styl nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.