Nuuskommentaar: Zuma en Suna – weerskante van die integriteitsgordyn

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Dit het pas bekend geword dat die ANC se eie integriteitskomitee pres. Jacob versoek het om sy goedjies te vat en te loop, maar die president het die versoek met een van sy gebruiklike wolhaarstories afgemaak. Hierteenoor het wyle Suna Venter die simbool van integriteit geword. Dit plaas egter die onus op elkeen wat meen dat hy of sy deur integriteit gerig word, om hierdie stryders se hand te neem en te sterk.

Oor omtrent enigiets wat van pres. Jacob Zuma geskryf kan word, kan die teenoorgestelde van wyle Suna Venter, die joernalis, gesê word. Wat hulle wel gemeen gehad het, is dat albei hulle midde-in ’n bykans surrealistiese misdadige wêreld bevind het. Hulle het egter heeltemal uiteenlopend daarop gereageer. Soos die eertydse ystergordyn en bamboesgordyn, het ’n integriteitskombers in hierdie geval ’n byna waterdigte skeiding tussen hul manier van menswees teweeg gebring.

Kyk maar na die #GuptaLeaks.

Die teenwoordigheid van die integriteitskombers kan beswaarlik beter gedemonstreer word deurdat die ANC se eie integriteitskomitee ’n beroep op Zuma gedoen het om te bedank. ’n Groter klap teen die bakkies as dat dit juis dié komitee is wat moet omsien na die ANC se integriteit wat ’n beroep om sy bedanking gedoen het, kan kwalik ingedink word. Boonop was Zuma se rede vir sy weiering juis ’n bevestiging van die komitee se bevinding – die feëverhaaltjie dat die weste die ANC probeer kaap, en dat hy, Zuma, al een is wat dit kan verhoed.

Beledig die president nie nou die intelligensie van die mense wat hy veronderstel is om te dien, en nie leeg te suig nie?

Die lys van integriteitsoortredings van die president is al so lank, dis lankal nie meer mode om kort-kort ’n lys van vergrype te maak nie. Dinge soos sy verweer van owerspel teen ’n klag van verkragting, die Nkandla-saak met sy brandpoel, die rits konstitusionele hofuitsprake teen hom en sy reaksie teen die mag waaroor die howe en grondwet (gelukkig) in Suid-Afrika beskik, die reusekavalkade wat hom begelei, sy kluitjie dat die (meestal swart) betogers na die Uniegebou eintlik ’n klomp wit rassiste is wat ook plakkate sou geswaai het waarin swart mense met ape vergelyk word, die vreemde “intelligensieverslag” wat glo gebruik is om die destydse minister Pravin Gordhan en sy afvaardiging uit die buiteland terug te roep en later af te dank en vele meer. En dan is daar die kwessie van staatskaping en die #GuptaLeaks wat wydsbeen daaroor staan.

Aan Zuma se kant van die gordyn is korrupsie ’n “Westerse konsep”, is wit mense “white supremacists” en moet grond sonder vergoeding onteien word. Om maar net ’n paar dinge te noem. Maar die lys word amper by die dag langer.

Media24 som dit vandag in ’n hoofartikel soos volg en onverbeterlik op: “Al drie dié formele sentrums [van staatsgesag – die wetgewende, uitvoerende en regterlike] – plus ander in die samelewing – is onderhewig aan die reg in die breë en aan die Grondwet in die besonder. Dit beteken dat selfs die president nie kan maak en breek soos hy wil nie.

“Dít is iets waaraan Zuma in die praktyk baie langtand byt. Hy is, op die sagste gesê, glad nie tevrede met die ongunstige uitsprake van die konstitusionele hof nie, en dus skemer sy begeerte gereeld deur om die toetsingsmag van die land se howe te beperk.

“Hy hou ook net mooi niks van die skerp pyle van kritiek wat die vrye media na hom mik nie, en ’n mens hoor deesdae weer onheilspellende geluide uit sy rigting dat die media deur ’n tribunaal aan bande gelê moet word.

“Gemeet hieraan is Zuma ver van ’n demokraat.”

Suna Venter. Foto: Facebook

Aan die ander kant van die integriteitsgordyn het Suna Venter gestaan, en staan haar nalatenskap steeds. Nico Strydom, redakteur van Maroela Media en eertydse kollega by die SAUK, som Suna se rol goed in ’n huldeblyk op: “Suna was die slagoffer van die stryd vir die waarheid en moes met haar lewe daarvoor boet. Haar voortydige dood mag nie niks beteken nie. Sy het die goeie stryd gestry en sal voortaan die simbool wees vir mediavryheid in die demokratiese bestel. Ons sal aanhou veg vir haar naam, vir vryheid, deursigtigheid en die onafhanklikheid van die media.”

Die opvolgstryd in die ANC het ’n onverbiddelike stryd om integriteit, of dan die skyn van integriteit, geword.

Zuma het algaande self gesorg dat hy die simbool word van hoe integriteit nié moet lyk nie. Die onverbiddelike afloop hiervan is dat die ANC se alliansievennote hul bes probeer om soveel afstand as moontlik tussen hulself en Zuma te plaas as wat moontlik is. Die jongste verwikkeling is dat die SAKP, wie se sesdaagse kongres vandag begin, gister versoek het dat die ANC iemand anders as Zuma vra om die kongres toe te spreek. Binne Cosatu se geledere was daar ’n soortgelyke proses, met Zuma wat deurgedruk het, en toe in Bloemfontein uitgejou is en die hasepad moes kies.

In ’n land waar die integriteitsloses die septer swaai, is die spanning waaronder diegene met wat nie anders kan nie as om met integriteit te leef en te werk, ongelooflik groot. Daagliks sit hulle sielkundiges en pastorale beraders se spreekkamers vol. Sommiges se spanningsvlakke is te midde van teistering so hoog dat hulle allerhande gesondheidsprobleme begin ervaar. Dit is byna ondenkbaar dat dit só erg kan ontwikkel dat dit tot gebrokehart-sindroom kan lei, en selfs die dood kan veroorsaak.

Die lyers is elke dag tussen ons, en soms is hul geknakte vlerkies heel duidelik.

Suna se geval het gewys ons kan nie meer ’n dankgebedjie opstuur dat dit nie ons is nie, want dikwels is dit ’n spieëlbeeld van wat môre op ons (of ons kinders) wag. Uiteindelik word dit ’n stryd tussen die lig en die duisternis (soms aanvanklik in die gedaante van ’n engel).

Ons kan nie maar passief wees nie. Benewens persvryheid en die belangrike rol van die media, is burgerlike organisasies ook ’n integrale begrip van ’n nie-amptelike been van ’n grondwetlike bedeling wat in integriteit baai en die onreg uitwerk. Steun vir instansies soos die Solidariteitsbeweging met sy vertakkings, Outa, Freedom Under Law en vele meer is nie ’n luukse nie.

Suna se nalatenskap mag nie verslons word nie. Zuma daarenteen, se nalatenskap moet behoorlik in hofrekords verwoord word – ook daardie sake waaraan sommige mense so hard werk om te begrawe, en in die proses hul eie beeld besoedel.

Talle mense deel Max du Preez se frustrasie dat te veel van die sake wat bekend word, nie in die howe beland nie. In ’n nuwe rubriek skryf hy onder meer: “Die grootskeepse korrupsie, staatskaping en diefstal van staatsgeld is ’n helse krisis, ja, maar die gebrek aan ondersoeke en optrede teen die plegers daarvan is ernstiger.

“Ons voel almal effe gerus as ons sien dat ons regbank steeds onafhanklik is en goed funksioneer, maar ons moet begin bekommerd raak dat geen of bitter min van die gevalle van staatska­ping en diefstal op groot skaal ooit na die howe geneem word.

“Hierdie nuwe kultuur van straffeloosheid en onaantasbaarheid is besig om ons demokrasie te ondermyn en die geloofwaardigheid van die staat te skaad. Die burgery word al hoe meer afgestomp; korrupsie word nou ’n oortreding soos ’n spoedboete.”

Maar, soos Suna se geval bewys, gelukkig word nie almal afgestomp nie; nie almal “oorleef” deur ernstige misdaad tot iets gering en negeerbaar te reduseer nie.

Hierdie mense moet gekoester en ondersteun word, hul stryd moet met mannekrag in die vorm van sterk burgerlike instellings onoorwinlik gemaak word – ter wille van ’n toekoms waar die duisternis nie die lig oorweldig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theresa ·

Mag reg en geregtigheid seëvier. Mag niemand wat weet hoeveel dit beteken nie, ooit opgee om dit in plek te hou nie. Die druk van ‘n reuse golf van wandade en skynheiligheid mag nooit die keerwal van geregtigheid en eerbaarheid verswelg nie. Die wal moet sterker word. Uitgebou word tot die beheer van die aanhoudende poging van die vernietigende golf.

MDP ·

Aan Suna: Jy is ‘n pragtige mens, al is jy nie meer in vlees hier. Jy het die stryd enduit gestry. Jy is ‘n toonbeeld van etiek en ‘n voorbeeld vir elke Suid-Afrikaner. Dis tragies dat jy met jou lewe moes boet vir dit waarin jy geglo het en rotsvas voor gestaan het.

Wat nou? ·

Het Suna venter. N nadoodse ondersoek gehad? En wat is uitslae ?

Pieterlewismuts ·

Weer n bewys dat as hy sy LIPPE OOPMAAK hy van plan is om sy gehoor se intelligensie te bevraagteken en aan hulle n liegstorie te probeer verkoop.

MCH ·

Inspirerende, raakvat artikel! Groot waardering aan die skrywer. Wie van ons het ooit kon dink dat ons slagoffers van sekondêre stres en empatie verwering sou word deur die alledaagse doen en late van ons medeburgers. Wie het kon dink dat die wat net hul taak na die beste van hul vermoë wil verrig, die kruisiging moet ervaar wat in die verlede uitsluitlik gereserveer was vir verhoorafwagtende booswigte? Wat n stryd wat voorlê vir die stryders in die minderheidsgroep waar die geskiedenis dui op irrelevansie van minderheidsgroepe. Wat n stryd vir Burgerregte groeperings wat met minder as 1% lidmaatskap uit die totaal moontlike poel, die stryd moet voer.

Leon Dormehl ·

Maar iets wat my nog bekommer is dat dit DA en ander oppsisiepartye kort-kort met groot vertoon en fanfare by die een of ander polisiestasie opdaag om ‘n sg klag te lê. Maar mens hoor nooit weer daarvan nie. Dit word nie opgevolg nie. Is dit dan net vertoon en politieke speletjies? Of word die vervolging deur staatsaanklaer afgewys omdat julle nie behoorlik voorbereiding en navorsing doe nie? Dan mors julle almal se geduld en julle legimiteit. ‘n Mens kan julle later nie meer glo nie.

Herman Toerien ·

Hallo Leon. Ek wil nie graag namens die politieke partye antwoord nie. Ek glo egter elkeen het ‘n terugroepstelsel, en let ook in die media op na vordering. Onlangs het die DA weer stappe gedoen na aanleiding van die meer as 700 klagtes teen Zuma. Die frustrasie is dat dit nie noodwendig help nie. ‘n Mens kan weer hof toe gaan, maar dis enersyds duur, en andersyds is die howe geweldig “vol” en kan dit vreeslik lank neem. Waarna die ander een weer kan appelleer. Om elke keer wanneer mens begin vermoed daar word klagtes “gesmoor” ‘n optog te hou, kan ‘n mens lank uit jou eintlike werk hou. Slegte publisiteit help duidelik niks. Miskien kan AfriForum se program van private vervolging die frusstrasie bietjie ontblok.

Leendert ·

Een ding wat al die mense, wat hier bo skryf en genoem word, soos Max, uit die oog verloor, is dat Zuma aan baie, baie erger dinge blootgestel was toe hy ANC se hoof van Intelligensie was. Hoekom dink ek aan ‘n plek soos Guantanamobaai? Dit is net mense met sekere kwaliteite wat ‘n sukses van so ‘n werk sou maak. Nou waarom het “julle”, en ek vra ook vir Max, vir een oomblik gedink Zuma sal ‘n feetjie wees, ‘n katjie sonder naels?

Leendert ·

Laat ek byvoeg, en dalk het mense geglo, dat hy sou verander na hy president geword het.

Jakobus ·

Hoe naief is ons nie, en dan kan ons nie sy optrede verstaan nie. Ons meet hom nog steeds aan ons eie waardes, terwyl hy van ‘n toetentaal ander ingesteldheid is. Dalk weet ons nie werklik met wie en wat se persoon ons te doene het nie. Jou aanmerking oor die kwaliteite van ‘n persoon om bv ‘n plek soos Guantanamobaai suksesvol te bestuur, wat ‘n persoon met sekere kwaliteite en ‘n spesifieke ingesteldheid verg, hou verseker die antwoord.

Pieterlewismuts ·

Jacobs, Ek stem volkome met jou saam en wil graag een puntjie van jou argument probeer toe lig.
“Ons.meet hom … aan ons eie waardes, terwyl…… toetentaal ander ingestelheid is.
.
n Siening wat ek uit jarelange waarneming opgehou het is dat jy en ek ons integriteit bou op waarhede en feite terwyl die ander hulle baie ernstig beroep op PERSEPSIES as syne die “WAARHEID” waarop “integriteit” gebou mag word.

Hierdie persepsie word dan gedurig herhaal totdat dit deur die Menige as die werklikheid aanvaar word.

Klink dit nie baie soos die Kommunistiese stelling “As.n groot leuen genoeg keer herhaal word, word dit later as die waarheid geglo en aanvaar”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.