Nuuskommentaar: Zuma en Trump se trieng-trieng

trump-zumaHoeveel kan gelees word in pres. Donald Trump se oproep aan pres. Jacob Zuma? Waarskynlik nie veel nie.

Ongelukkig kan weens die gebruiklike wolle oor die oë draai met protokol nie veel van die amptelike verklarings uitgemaak word nie. Veel meer kan van omringende faktore uitgemaak word.

Ten eerste is daar die feit dat die oproep hoegenaamd gemaak is. Voor en ná Trump se verkiesing is baie gespot dat die nuwe president nie sou weet waar Afrika is nie. Zuma is nie die eerste Afrikaleier wat Trump sedert sy bewindsaanvaarding gebel het nie. Na berig word het hy voor hy Zuma gebel het, ook eers met die Nigeriese president, Muhammadu Buhari, geskakel. Volgens die New York Times is Buhari nou al sedert middel Januarie landuit en hoor sy mense niks van hom nie. Hy ondergaan glo mediese toetse in Londen.

Dit lyk nietemin of Trump die Nigeriese president ten spyte van omstandighede ook betrek het om nie die indruk van ’n voortrekkery te skep nie. Daar kan wel iets in gelees word dat Buhari voor Zuma aan die beurt gekom het. Dit mag selfs wees dat Ernie Els se potjie gholf saam met Trump en premier Abe van Japan iets tot die oproepe bygedra het.

Verder het dit uit Zuma se onlangse staatsrede geblyk dat hy witvoetjie by die VSA soek. Trouens, die indruk word gewek dat Zuma op die lange duur die waarde van Agoa begin besef het, of eerder, die ramp wat dit sal inhou as Suid-Afrika uit Agoa weggelaat word.

Dit het onlangs rugbaar geword dat Joel Pollak die nuwe ambassadeur van die VSA in Suid-Afrika gaan word. Pollak is ’n oud-Suid-Afrikaner wat in ’n stadium die destydse leier van die DP, Tony Leon, se toespraakskrywer was.

Pollak is ook die skoonseun van die bekende kommentator, Rhoda Kadalie.

Na bewering het Pollak die afgelope aantal jare baie regsgesind geword.

Op sigwaarde kan aanvaar word dat Zuma se administrasie nie oormatig opgewonde sal wees om iemand soos Pollak as ambassadeur te ontvang nie, maar daar kan ook nie veel aan gedoen word nie.

In hoe ’n mate beïnvloed Trump se oproepe na Zuma die voorgenome besoek van Steve Hofmeyr aan Trump?

Weer eens gaan protokol ’n vername rol speel. As ’n algemene reël skakel regerings met regerings, en is pogings van minderhede om ’n kortsluiting in hierdie formele bande te veroorsaak, nie baie welkom nie. Om ’n voorbeeld ter oorvereenvoudiging te gebruik – daar is nou taal- en kulturele bande tussen die Afrikaner en die Vlaminge en Nederlanders. Bilaterale bande word egter tussen byvoorbeeld die Vlaamse regering en die Suid-Afrikaanse regering, en nie op daardie vlak met Afrikaner- of Afrikaanse verteenwoordigende strukture gesluit nie. Dit gebeur ten spyte daarvan dat die Nederlandse en Vlaamse regerings by voorbaat weet dat dit byvoorbeeld daartoe sal lei dat die Suid-Afrikaanse regering geen belang sal toon om verpligtinge en verwagtinge met betrekking tot die Taalunie ten uitvoer te bring nie.

Die “normale” verwagting is dus dat Steve, as hy ’n afspraak kry, min of meer dadels gaan vermag. Maar Trump is ook nie konvensioneel nie, en sy “eie mens wees” het baie tot sy verkiesing bygedra. ’n Mens kan dus nie doodseker wees nie. Boonop het hy reeds getoon dat sy denke beïnvloed word deur die media, veral die media wat hom knaend kritiseer met wat Trump as leuens beskou. Suid-Afrikaanse koerante maak dit nou nie juis vir Trump aanloklik om te veel liefde na dié kant te strooi nie.

Daar is natuurlik uitsonderings waar ’n regering, gewoonlik klandestien, drukgroepe en selfs terreurbewegings, in buurlande ondersteun. Daar is dikwels etniese bande ter sprake.

Die kanse is egter skraal dat aan die verwagtinge van Afrikaner-aanhangers van Trump voldoen sal word. Dit bly in hoofsaak ’n kwessie van regering met regering, soos ook die Afrikaneraanhangers van pres. Wladimir Poetin ten opsigte van Rusland sal ervaar.

Daar sal nog heelwat water in die see moet loop alvorens gesien sal word of betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika beduidend aangepas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jo ·

Ek hoop Trump het Zuma gedreig dat hy moet waai.
Dosyne plaasmoorde elke liewe week, wit ‘genocide’ en ‘n polisiestasie is niemand se idee van ‘n reenboognasie wat glad loop nie. Sal dit nie fantasties wees as ‘n vliegdekskippie hier vlak langs ons kus kom parkeer en so dosyn F18’s deurjaag en die hele anc terug skiet tot in die era waar hulle hoort nie?

Marie Steyn ·

Meeste gan snert wees. PLAASMOORDE WAARAAN HY NIKS DOEN!!!

tamboti ·

Hou Trump se tweets dop, dalk se hy iets oor hul gesprek.
Maar ja, dink nie hy sal veel vir SA kan of wil doen nie, ons moet self.
Miskien sal ons sy guns wen as ons belowe ons sal gaan help muur bou!

John ·

‘n Singende swaeltjie maak ook nie ‘n somer nie. As Steve op die’ wyse ingehuldig wil word as spreekbuis vir die Afrikaners, is daar nuus. Boere val nie sommer maklik aan die voete van iemand op ‘n verhoog nie… Ernie Els en die baas van ‘Wat is daai winkel se naam?’ se kennis oor ons landsake sal meer tel. Trump gaan koes vir ‘n gekruipery en ‘n gesanik. Die laaste persoon wat Trump nou durf wees, is om as ‘n rassis uitgekryt te word.

Nico K ·

Ek het al baie berigte gelees op Maroela oor hou die VSA in die verlede onnodig betrokke geraak het in ander dele van die wêreld (soos Vietnam, Irak, ens.) en dat Trump dit nou gaan staak. So hoekom sal hy nou in SA betrokke raak?

dirwou ·

Trump het net vir Zuma gevra of hy sal omgee as hy n groter idioot as hy gedurende sy termyn as president gaan word

andrea van vuren ·

Zuma reageer op Trump se oproep: “Hie-hie-hie”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.