Nuuskommentaar: Zuma-faktor beïnvloed ekonomie

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede (Skermskoot uit die regstreekse video)

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede (Skermskoot uit die regstreekse video)

’n Toespraak van min. Pravin Gordhan waarin hy vra dat die ANC van selfbelang van individue na sy wortels terugkeer, bevat verskeie belangrike aspekte soos dat korrupsie in die land endemies geword het. Maar kan die ANC met die Zuma-blok aan sy been homself in rustiger vaarwaters in navigeer sodat die party en sy leier nie self deurlopend ’n onstabiele uitwerking op die markte en ekonomie uitoefen nie?

Dit behoort nie so eenvoudig te wees nie, maar die “onsekerheid” oor die lot van pres. Jacob Zuma verwar die markte en beïnvloed ons ekonomie. Altans, volgens die ekonoom Peter Montalto van Nomura.

Dit beteken dat almal wat ’n rol speel in die politieke toekoms van Zuma, Zuma self ingereken, deeglik moet verreken hoe sy voortgesette presidentskap die land se ekonomie in ’n omgewing van “effekte”-markte beïnvloed.

Zuma en die ANC se amptelike weergawe dat die ontheffing van Zuma die land nog meer skade gaan berokken as om die status quo te handhaaf, hou net nie steek nie. Daar is net te veel goeie redes om Zuma te pos, en net te veel aksies binne en buite die ANC om dit te laat lyk of die land mét Zuma aan die stuur na “business as usual” kan terugkeer. En selfs “business as usual” het die afgelope aantal jare in Suid-Afrika liederlike vlakke aangeneem.

Kan voortgesette studente-onluste wat met vandalisme gepaardgaan aan die wêreld as ’n aanvaarbare vlak van “business as usual” voorgehou word? Kan diensleweringsbetogings wat gewelddadig word as aanvaarbaar opgedis word? Kan die matriekslaagsyfer, en die standaard daarvan, en veral in vakke soos wiskunde en wetenskap, as aanvaarbaar verkwansel word?

Boonop kom seker die belangrikste boodskap dat sake nie so kan voortploeter nie, nie van die leier van die opposisie nie, maar van die minister van finansies, Pravin Gordhan. Hy het tydens die begrafnisdiens van ’n struggle-veteraan in Lenasia ’n wydlopende toespraak gehou. Die verskillende media hou verskillende aspekte van die toespraak as sy vernaamste stelling voor, maar sy stelling dat korrupsie endemies in die land geword het, komende van die finansminister, is ’n gewigtige saak.

Boonop vertolk die media die toespraak as ’n uitdaging aan Zuma, of eintlik die ANC, om die ANC na sy wortels terug te bring. Dit beteken kortweg dat wegbeweeg moet word van die ingesteldheid van selfbelang, en na ’n ingesteldheid van die belang van die bevolking terugbeweeg moet word.

Die opmerking dat die ANC na sy posisie oor nierassigheid moet terugbeweeg, is ook insiggewend teen die agtergrond van hordes ras-regulerende wetgewing.

Maar wat beteken dit as korrupsie endemies geword het? Kortom dat weinig transaksies kan plaasvind, en veral grotes, sonder dat iemand nie ’n onverdiende pasellatjie te beurt val nie. Seker die mees klassieke voorbeeld, wat nog gaan ontplof, is die manier waarop kontrakteurs aan die Nkandla-opgraderings eenvoudig rojaal geskep het. Enorme pryse is vir selfs die eenvoudigste stukkie werk betaal. Na berig word, het die swembad (die vuurpoel), so groot soos ’n gewone residensiële swembad, soveel soos dié van ’n halwe Olimpiese grootte gekos. Die sekuriteitskothuisies het soveel soos woonhuise gekos, met die bouwerk van swak gehalte en boonop onvoltooid.

Die probleem is dat Tesourie nou moet bepaal wat Zuma uit sy eie sak moet opdok vir verbeterings wat niks met sekuriteit te make het nie, soos die swembad. Gaan Zuma nou vir die realistiese koste van ’n swembad wat ver van ’n groot sentrum gebou word, moet opdok, of vir ’n half-Olimpiese swembad wat nie bestaan nie?

Hier gaan weer verskeie kwessies ter sprake wees, soos dat die belastingbetaler nie aangeslaan kan word vir die persoonlike, onregmatige verryking van die president nie, en Zuma hom nie kan verweer dat hy heeltemal onbewus was van wat gebeur nie. Maar die geskiedenis wys tot dusver dat Zuma ’n meester is van blaamverplasing.

Dié soort van melkery van belastingbetalers kom wydverspreid voor. So het Outa onlangs bereken dat Sanral miljarde rande meer vir die konstruksie van die e-tolpaaie betaal as wat die internasionale norm is. Die verhoging van e-toltariewe om hiervoor op te dok het ’n invloed op die ekonomie.

Met Zuma se “bestuurstyl” en patronaatskap is dit baie moeilik om jou in te dink hoe die sake-omgewing so kan normaliseer (korrupsievry word) dat die ekonomie op ’n natuurlike wyse op ekonomiese aanwysers kan reageer. Nou moet die markte net te veel skerm en koes vir potensiële politieke salvo’s wat wild afgevuur word.

Dit beteken nie alles het met Zuma se bewind begin nie. Min mense verwag dat daar nie nog baie suur sop gaan uitloop oor die wyse waarop Suid-Afrika die bod vir die aanbied van die Sokkerwêreldbeker-eindtoernooi bekom het nie, en dit het in die Mbeki-era gebeur.

Die algemene gevoel is egter dat die era van endemiese korrupsie in Suid-Afrika tydens die Zuma-era “vervolmaak” is.

En Suid-Afrika betaal die prys daarvan op bykans elke indeks, hoewel ironies, die afgelope twee jaar nie op die korrupsiepersepsie-indeks nie. Dit is egter nie Jan Publiek se daaglikse ervaring nie.

Die ANC sit dus met ’n netelige kwessie. Dit is onbetwisbaar so dat Zuma moet verkas, maar die skade gaan ook enorm wees as Zuma teen sy sin gepos word, want hy het enorme steun in veral KwaZulu-Natal.

Dit bly egter skreiend dat ’n president, soos berig is, aan sy amp kan vasklou deur aan sy ringkoppe te impliseer dat sy volgelinge die land in wese onregeerbaar sal maak as hy die trekpas kry. Dit sal nog erger wees as ’n rubriek van Max du Preez dat die sekurokrate Zuma se bewind op onderduimse wyse in stand hou, beduidende substansie het.

Hy sou aan sy ampseed getrou wees deur self te bedank en dit duidelik te maak dit is vrywillig.

Maar Zuma se geskiedenis met sy ampseed is ongelukkig vol brak kolle.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

HEVW ·

” n Goeie boom dra goeie vrugte en n slegte boom dra slegte vrugte.” n Onveranderlike waarheid wat hom in die konteks van die huidige SA bevestig. Alles is al van die burgelike instansie en howe se kant gedoen om die z boom te “bemes” staande te hou. “As hy dan nie vrugte dra nie kap hom uit.”

Loeis ·

So paar opmerkings:
1 Die media hou daarvan om ZUma te kap, terwyl hy deel van ‘n grootter probleem is. Herman Toerien wys uit dat daar onreelmatighede meet die wereldbeker sokker was, en ‘n artikel gister op Praag impliseer FW de Klerk by die wapenskandaal.
2 Die ANC se wortels sluit terrorisme en die lewendige verbrand van mense in. Mooi woorde vanaf Gordhan, maar dis al wat dit is.
3 Skade aan die ekonomie het nie met die Nene debakel begin nie. Daar is ‘n artikel op Afrisake wat uitwys hoe die rand se waarde van net meer as R6 teen die Amerikaanse dollar geval het tot die byna R15 waar ons vandag is. En dit is maar een simptoom van die grootter probleem.
4 Sal Zuma se uittree ons regtig help? Veral as hy deur sy een vrou vervang word? Of selfs Ramaphosa wie aggressiewe swart bemagtiging voorstaan en nie veel respek vir die regstaat het nie?

Die onopgevoede massas bly Zuma en sy party te ondersteun, en die ANC wil daarom onopgevoede massas he. Swak onderwys is dalk nie so toevallig nie, en die eintlike prys van 1992 se referendum moet nog verhaal word.

Marous ·

Nkandla is die spreekwoordelike druppel in die emmer. Die skade wat die inwoners van die land berokken is met kaderbevoordeling, neopotisme en blatante berowing van die staatskas kan nooit herstel word nie. Daar is steeds geen verantwoordelike bestuur nie , en die vervanging van die staatshoof gaan nie die bees trop uit die put haal nie. Daar is ook geen vooruitsig van haalbare ekonomiese groei nie , en produktieweteit het ‘ n vloekwoord geword. Die uwe Ramaphosa wie veronderstel is om redelike kennis aangaande ekonomiese welvaart te toon, se opmerkings dat die gemors waarin die land hom bevind die erflating van die vorige bewind is , is bekotsingswaardig. Die ANC het ‘n goeie skip , volgelaai verniet gekry wat hulle reguit rotse toe gestuur het….en niemand gaan weer een bou nie.

Josua Keys ·

Ek wil graag ‘n eenvoudige voorbeeld gebruik, ek hou van Radio beheerde vliegtuie en dit is n lekker stokpertjie om te beoefen, meeste van die “Hobby Shops” in Suid Afrika voer die vliegtuigies en parte ten duurste van oorsee af in, dit het so erg geword dat ‘n mense dit nie eens meer kan bekostig nie en ek vlieg nog die “goedkoop” vliegtuigies. Nou my vraag!!!! Wat doen die regering omtrent dit ? Niks nie!!!! As die regering se toekoms planne vir Suid Afrika in plek was kon hulle lankal besighede tot stand gebring het en dit hier in SA self vervaardig het, ons het die tegnelogie, vakmanskap ens. Solank die ANC en hul belaglike wetgewing mense beperk om besighede in SA te stig is daar nie n toekoms vir die Ekonomie nie. Radio beheerde vliegtuigies is lank al nie meer net ‘n stokperdjie nie maar bring biljoene rande in vir lande se ekonomie want die tegnologie word reeds gebruik in oorlogsvoering, bekamping van misdaad, opserwasies ens. Maar die ANC sit met klappe op hul oe en sien nie die grooter prentjie raak nie en dit is maar ‘n eenvoudige voorbeeld wat ek gebruik maar wat biljoene Rande tot Suid Afrika se ekonomie verseker het met uitvoere daarvan(dis hoe n Ekonomie gebou word) nou glimlag die buite wereld vir ons en die ANC kan nie verstaan hoekom ons voor die deur van “Junk Status” verkeer nie. Sterkte Mnr Gordon jy het ‘n hengse taak wat voorlê.

Wicus ·

Die probleem is die bestel in totaliteit. Vir ‘ n sekere kultuur en lewensingestelheid is daar geen fout met hoe dinge nou verloop nie. Dit het na 94 relatief goed gegaan omdat daar op die vorige vette geteer is. Daardie potte loop nou leeg en “more sorg mos vir homself”

Ons sal maar moet aanvaar of skouer aan die wiel sit en ons hieruit werk.

MTSteyn ·

Blykbaar het Herman Toerien intussen ook by die Seunse Weenkoor aangesluit, want sy eentonige geweeklaag oor Zuma grens nou aan dieselfde belaglikhede wat konstant opgebraak word deur die oorspronklike lede van daardie koor.

Jacob Zuma is nie die kernprobleem van Suid-Afrika anno 2016 nie. Al bedank die arme man vanmiddag om teetyd, sal dit nie ‘n krieseltjie beter gaan met SA vir die volgende paar eeue nie. Naiewe Blankes met hulle naiewe Westerse beginsels en lewensbeskouing kan blykbaar nie vrede maak met die beginsels wat geld in Afrika nie; die Sterk Man regeer (met of sonder geweld, afhangende van sy ‘regerings’- posisie) tot en met hy deur ‘n Sterker Man verplaas word; gewoonlik oor die loop van ‘n aanvalsgeweer, maar soms deur die uitslag van ‘n (bekookte) ‘demokratiese’ verkiesing.

Daar is ‘n regeringstelsel wat redelik goed in Afrika – en basies die hele wereld- werk, maar Suid-Afrika wil niks daarvan weet nie. Daarom sal die smarte en pyn toeneem, met of sonder Zuma, en sal rubriekskrywers radeloos voortgaan met dieselfde ou geteem, gevolg deur dieselfde holrug-geryde kommentare op swak Afrikaans. Of dalk op geradbraakte Engels, nou dat die kommuniste besluit het dis die taal sonder bagasie, die taal vir Mzansi.

Grassie ·

MTSteyn – behalwe om vir Herman onnodig te beledig het jou kommentaar ook maar niks nuuts bygedra nie. Ek, en ek glo alle regdenkende witmense in die land, stem saam met jou siening oor wat die Afrika-ellende vir ons oor die lang termyn gaan inhou. Ons moet egter ook na die kort termyn kyk. Die Zuma -sage is aktueel, dit is nou se gebeure wat ons almal in die onmiddellike toekoms gaan raak en wat ernstige gevolge kan hê, selfs burgerlike onrus en finansiële probleme, soos Herman dit uiteensit. Dit is vir my baie belangrik dat Maroela ons daagliks op hoogte hou van die gebeure, met die nodige kommentaar deur kundiges soos hulle tans doen, sodat ‘n mens voorbereid kan wees op wat moontlik kan gebeur. Doet so voort Herman en Maroela.

Loeis ·

Jy is 100% reg dat Zuma maar die deel van die probleem is wat die meeste aandag kry, maar as hy bedank dit geensins die probleme gaan oplos nie.

Ons speel met elke verkiesing ‘n spel wat ons nie kan wen nie (al sing ‘n paar – gewoonlik blanke Afrikaanssprekende DA ondersteuners – wie nie in graad een wiskunde deurgekom het nie blykbaar anders). Dis nou die naiewe deel van ons bevolking.

Dit was lankal tyd vir Plan B. Verskeie groeppe en partye het dit dekades terug al bepleit.

MTSteyn ·

@ Grassie,

Ek begryp nie waarom jy my kommentaar op Toerien se rubriek as “onnodig … beledig(end)” beskou nie; dit is nie.

Deur soos die res van die Seunse Weenkoor konstant op Zuma te fokus, vermag behoudende Afrikaners niks. Inteendeel, ons vererger ons benarde posisie in Suid-Afrika. Waarom? Ons fokus bepaal die rigting waarin ons krag, energie, finansiele vermoeens, denke, vindingrykheid (so eie aan Afrikaners) aangewend word. En wanneer ons fokus op die verkeerde plek is, gaan ons geen duit vorder in hierdie stryd om oorlewing nie. Dis soos om ‘n TB-hoes met Benylin te probeer behandel.

Verder, daar is absoluut geen korttermyn voordele aan die verwydering van Zuma nie, behalwe dat die Rand so ietwat sal versterk vir ‘n week of twee, voordat dit terugkeer tot die oorspronklike lae vlakke. Die rede is eenvoudig: Suid-Afrika se lot – ekonomies en maatskaplik – word vir dekades al deur kragte buite ons landsgrense bepaal. Soos ook bv. die lot van Brasilie, Rusland en ander BRICS vennote.

Zuma se ge-flikvlooi met bv. Russiese tenders vir die bou van nuwe kernkragaanlegte en sy toenadering tot China het hom ‘n hoogs-ongewilde persoon in Londen en Washington DC gemaak. Sy Nkandla hoenderhok en swembad aanbouings is minder as ‘n duppel in die emmer , wanneer dit opgeweeg word teen die wapenskandaal en lewensverlies met Mbeki se vigsbeleid (of eerder afwesigheid daarvan). Waarom dan die algehele media bohaai oor Zuma, maar die relatiewe doodse stilte oor die leiersvergrype tydens vorige, veel groter kwessies?

Poplap ·

Eintlik is oom Steyn se probleem dat oom presies dit doen waarvan oom al die ander mense beskuldig en beledig. Ons weet almal van die voorbeelde in Afrika, die mag uit ‘n loop van ‘n geweer, oorweldigende meerderhede, sinistere komplotte wat mense ‘opspoor’ wanneer hulle nie verder weet nie en al die ander ou bekende slimmighede
O ja, Mbeki se onsin en ‘vergrype’ is stokou nuus. Dit is nie van veel belang in 2016 terwyl ons veg om so goed as moontlik te oorleef, temidde van ‘n oorweldigende meerderheid en ‘n korrupte regering se dinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.