Nuuskommentaar: Zuma-gif strem nou mynbou (en ekonomie)

myn staking mynhoed

Argieffoto

Die voorgestelde mynbou-handves is nog nie geïmplementeer nie en sal dalk nog voor dit kan gebeur ’n bloedneus in die hof kry, of dit rig reeds skade aan die ekonomie aan. Die minister van finansies, Malusi Gigaba, het dan ook in soveel woorde vir minister Mosebenzi Zwane versoek om weer met die bedryf te gesels – die voorgestelde handves benadeel sy eie werk.

Zwane en Gigaba word albei as Zuma-lojaliste beskou en die gaping tussen hulle moet redelik groot wees as die meningsverskil tot in die openbare domein kon uitkristalliseer.

Maar dis nie al waar daar ’n breekspul onder Zuma-lojaliste is nie. Onlangs het die minister van sport, Fikile Mbalula, ook sy kuberpen in gal gedoop oor ’n ander Zuma-lojalis, premier Ace Magashule van die Vrystaat. Magashule is deel van die sogenaamde premiersliga wat Zuma verbete steun. Comrade Eish se termyn as premier loop nou ten einde en daar is ’n groot poging onder die Zuma-faksies om hom tot die ANC se sekretaris-generaal verkies te kry, nadat Gwede Mantashe na verwagting die einde van die jaar aftree. Van Magashule as sekretaris-generaal wil Mbalula niks weet nie.

Intussen het die leier van Cope en ook eertydse premier van die Vrystaat Mosiuoa Lekota in die openbaar in Ace se karakter ingeklim en gesê hy het Magashule as LUR afgedank omdat hy staatsgeld gesteel het. Volgens Lekota is Magashule se posisie beredder nadat Zuma tot president verkies is.

’n Mens kan maar net bespiegel oor hoekom Mbalula so kwaad vir Magashule is. Ongeveer die enigste “verklaring” is dat Mbalula se vrou, saam met Hlaudi Motsoeneng en ander, deel van hofstukke uitmaak wat die huidige LUR vir huisvesting in die Vrystaat vir vervolging oorhandig het. Hiervolgens sou Zwane, toe LUR vir huisvesting, R600 miljoen “surplusfondse” inderhaas aan begunstigdes laat uitbetaal het om te keer dat dit aan die einde van die boekjaar na die staatskas terugval. Bitter min, en in minstens sommige gevalle heeltemal niks, het in ruil vir die uitbetalings gerealiseer.

Dus, is Mbalula nou kwaad vir Magashule omdat hy nie sy LUR gekeer het om die klag te lê nie?

Zwane se naam word lank reeds met die Guptas in verband gebring, onder meer met die Vrede-melkprojek, en ná die #GuptaLeaks begin het, is hy nie net weer geïmpliseer nie, maar ook Magashule, en veral Magashule se twee seuns is ook ten nouste by die Guptas betrek.

Volgens koerantberigte het oudminister Trevor Manuel onlangs vir Mbalula daaraan “herinner” dat Mbalula drie dae voordat Zuma hom in kennis gestel het dat hy minister van sport word, hy die nuus reeds by die Guptas gehoor het.

Intussen hou Zwane hardnekkig vol dat die voorgestelde handves werkgeleenthede gaan skep. Dis ’n belangrike onderdeel van radikale swart ekonomiese bemagtiging (met ander woorde dis erg rassisties), en die dryf hiervan kom terwyl Zuma self taamlik oorboord gaan in sy dryf van dié radikale konsep. Iets wat klaarblyklik nie musiek in die ore van graderingsagentskappe en beleggers is nie. Ekonome wat meen dat die handves nie werkgeleenthede gaan laat verdwyn nie, is so skaars soos hoendertande.

Gigaba is self omstrede en sy naam word nou gereeld genoem in verband met die gemak waarmee hy Suid-Afrikaanse burgerskap aan die Guptas toegeken het. (Dit laat die Guptas terloops kwalifiseer om as “swart” Suid-Afrikaners deel te wees van die swart mense wat deur die mynbou-handves begunstig word. Trouens, dit klink in die toepaslike deel of dit spesiaal bewoord is om die Guptas in te sluit.) Gigaba self ontken steeds verbete dat daar ongerymdhede in sy optrede was, al word dit nou vanuit verskeie oorde ondersoek.

Gigaba sal egter ook onthou word as die man wat, toe hy nog minister van binnelandse sake was, visumvereistes, veral vir kinders, so gewysig het dat Suid-Afrika se toerismebedryf miljarde rande verloor het. Hy het ook verbete aan dié wysiging geklou en ontken dit is skadelik, tot die druk op hom eenvoudig te groot geword het.

En toe word hy op omstrede wyse minister van finansies nadat Pravin Gordhan middernagtelik afgedank is.

Blykbaar ervaar Zuma nou die bykomende druk wat die #GuptaLeaks teweeg gebring het en die tweespalt onder sy kabaal aanhelp, baie sleg. Een ontleder het Zuma se huidige posisie vergelyk met ’n kat wat met sy rug teen ’n doringbos vasgekeer is. Hy tree soos ’n benoude kat op wat benoude spronge maak. Dit maak hom baie gevaarlik. Om alles te kroon staan die nuwe openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, Zuma se aansoek om Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping te laat hersien, teen. Mkhwebane, wat daarvan verdink is dat sy ’n Zuma-lojalis is, het gesê sy is nie deur Zuma gekaap nie, maar deur die Grondwet.

Nie dat sy nie in eie reg omstrede is nie, soos aanbevelings dat die Grondwet gewysig word om die Reserwebank se rol te verander.

In die geheel beskou lyk dit nou asof Zuma-ondersteuners in die binnekring besig is om te skarrel namate die strop al nouer om Zuma se nek trek. Dit herinner aan vlooie wat ’n dooie hond se karkas verlaat. Op die oomblik is dit egter nog eerder ’n benoude op-en-afspringery – daar moet genoeg seine na die “ander kant” uitgestraal word om te laat verstaan hulle is nie so diep in die Zuma-nes ingegrawe nie, maar terselfdertyd ook vir tyd speel om te kyk hoe die wind vir Zuma waai.

Intussen lyk dit darem of die parlement sonder vertragings wil weet wat met #GuptaLeeks te wagte kan wees. Of die geïmpliseerde ministers wat nou uitgewys is om die ondersoeke in hul departemente te lei besonder entoesiasties gaan meedoen sal nog gesien moet word.

Intussen bloei die ekonomie en het werklik nie nog ’n handves nodig gehad om te help slag aan die gans wat (soms) die goue eier lê nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Wim ·

Onthou Mbalula was eers ‘n professionele toeskouer (Sport), maar is nou minister van polisie.

Waghond ·

Radikale ekomiese transformasie = “greed”, korrupsie en “looting”.

Eugene ·

SEB( radikale ekonomiese transformasie )+ regstellende aksie = blywende resessie!!!!!! Daar is ongelukkig geen ander eind resultaat nie.

Eugene ·

En te danke aan wie? Mbeki, Trevor Manuel, Gordhan, Zuma en die ANC!!!!

Help ·

Aai,is daar niks wat ons mense kan doen om hierdie Zuma-gif te stop? Dit hou net aan en aan. So word ons stadig maar seker ingekatrol en op die ou einde gaan Zuma se “black only”

Leendert ·

Betreffende die OB, Mkhwenabe, sien ek vanoggend Dawie Roodt sê haar aanbeveling oor die reserwebank is niks anders as ‘n politieke aanslag op die land se monitere sisteem nie.

Johann ·

Deurdat Mhkwebane Zuma se aansoek, om die vorige OB se verslag oor Staatskaping, te laat hiersien, teenstaan, is net ‘n rookskerm. Sy was toe al besig om haar verslag oor ABSA en die reserwebank te finaliseer en hiermee sou sy die groot vis, die reserwebank, inkantrol, terwyl almal se aandag op die staatskaping was, dit vir Zuma op ‘n skinkbord gee.

Leendert ·

Goeie middag Mnr Toerien, ek het nou sopas, op Times LIve, Tito Mboweni se reaksie op die OB se verslag ivm ABSA en die reserwebank gelees. Ek wil nie vooruitloop nie, maar dit blyk dat hy in sy termyn (ek het dit ook al voorheen gelees) ‘n paneel kundiges (en ekonome) wat onder ‘n regter gestaan het aangestel wat die hele aangeleentheid volledig ondersoek het. Dit blyk dat hierdie verslag, wat hy aan die OB (seker Madonsela) voorgelê het, is geignoreer, moontlik omdat dit te tegnies van aard was. Moontlik kan jy ‘n volledige artikel hieroor en die hele sage vir ons doen. Baie dankie, dit sal wonderlik wees.

Herman Toerien ·

Hallo Leendert. Lees gerus Maroela se nuuskommentaar van 18 Januarie vanjaar onder die opskrif: Absa in die spervuur. Destyds het oa dr. Chris Stals deeglike verduidelikings gegee. Ek hou die storie egter dop.

Leendert ·

Dankie herman, ek het nou daar gaan lees. En ja, als maak sin hoe hulle, met hul planne, die weerlig van Staatskaping en Zuma aflei.

Alida ·

Hulle krap nou ou koeie uit net om die aandag van al die korrupsie en Zupta af te trek sedert 1994. Daar is baie hofsake hangend al spring hulle nou soos;n kat op ‘n warm plaat rond. Wat van die miljarde wat deur die huidige regering elke liewe dag gesteel word met numba one vooraan die stuur.

Verwonderd ·

Slurp, slurp, suig nummaone en sy diensknegte die murg uit die ekonomie se pype… Ek wonder wat bly oor vir die toekomstige geslagte?

John ·

Wie het wie se verdagte rekeninge gesluit en wie word nou gejag? Die base van die poppekas sit en lag en ons soek die bloed van die ouens wat net die tee aandra. Dit wys net in watter mate die land onder beleg is. Skynbaar hou die spul binnekort ‘n bosberaad oor die pad ondertoe; hoe om vinniger oor die afgrond te stort en almal saam af te trek. Venezuela het glo laat weet dis heerlik in die moeras vol vrot ekonomiese planne. Wat mens wel seker kan se, is dat die volgende paar maande stormagtig gaan verloop. Hou die ‘brandslaners’ wakker en pomp die brandweerwaens se wiele styf op.

John ·

Die mynbou word al ‘n geruime tyd deur tv-ann7 van die Gupta’s & Zuma jnr onder die loep geneem. Diamantmyne word nou weer met ‘n seer hart begeer en ‘witkapitaal’ as misdadig uitgekryt. Skynbaar sorteer die Gupta’s na net ‘n dekade in die land ook onder die sg permanente agtergeblewens. Vreemd. En nou gryp en grawe hulle na hartelus. In die 1950’s het dieselfde in Kenia gebeur maar die Keniane was nie so aan die slaap soos ons swart mense nie. Die spul is daar sonder ‘booty’ uitgeboender.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.