Nuuskommentaar: Zuma het g’n benul van demokrasie

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma is al ’n hele ent weg in sy tweede termyn as president van ’n grondwetlike demokrasie, maar steeds het hy geen benul van wat die term “demokrasie” – en nog minder die term “grondwetlike demokrasie” – behels nie.

En dit kom uit Zuma se eie mond.

In die geselskap van Robert Mugabe, wat volgens homself geen diktator is nie, maak Zuma volgens Netwerk 24 stellings soos:

  • Die swart meerderheid in Suid-Afrika moenie skaam wees om sy politieke mag vir ekonomiese gewin of bemagtiging te gebruik nie.
  • Politieke mag kan teen diegene aan wie dit behoort, gebruik word as die eienaars daarvan dit nie gebruik nie.
  • Wetgewing moet daarom reguit, korrek en doeltreffend ter wille van jou mense wees.
  • Ons het die parlement, so ons maak die wette. In baie ander lande waar partye ’n meerderheid het, word dié meerderheid benut. Jy kan nie sê dat die meerderheid in ’n demokrasie moet regeer, maar dit nie doen nie.”
  • In Suid-Afrika het ons baie demokratiese wetgewing vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ingestel. Maak nie saak hoe deeglik ons dit probeer doen het nie, ons is nog steeds daaroor gekritiseer. Dit word as feitlik omgekeerde rassisme bestempel. En tog het ons ’n geskiedenis wat ons in armoede gedompel het. En ons probeer nou om uit daardie armoede te kom. Nie op ’n radikale wyse nie, maar ’n grondwetlike een.

Zuma stel sy onkunde in die openbaar bloot deur demokrasie met ’n diktatuur van die (vermeende) meerderheid te verwar, en dit boonop in baie harde rasse- en selfs rassistiese terme. Die ABC van ’n demokrasie is dat die regering in algemene belang regeer, en nie net in belang van sy ondersteuners of ’n bepaalde rassegroep nie. Dit word ook duidelik in die ampseed van die president ondervang.

Dus kan Zuma nie onkunde voorhou nie, want die ampseed bevat die beginsels van regeer in algemene belang – dat die belange van al die mense van die land dus bevorder sal word. So lui die ampseed, soos afgelê deur oudpres. Nelson Mandela:

In the presence of those assembled here and in full realisation of the high
calling I assume as Executive President in the service of the Republic of South Africa I, Nelson Rolihlahla Mandela, do hereby swear to be faithful to the Republic of South Africa, and do solemnly and sincerely promise at all times to promote that which will advance and to oppose all that may harm the Republic; to obey, observe, uphold and maintain the Constitution and all other Laws of the Republic; to discharge my duties with all my strength and talents to the best of my knowledge and ability and true to the dictates of my conscience; to do justice to all; and to devote myself to the well-being of the Republic and all its people. So help me God.

Die eed in die huidige Grondwet wat Zuma afgelê het, verskil nie inhoudelik veel daarvan nie:

In the presence of everyone assembled here, and in full realisation of the high calling I assume as President/Acting President of the Republic of South Africa, I, A.B., swear/ solemnly affirm that I will be faithful to the Republic of South Africa, and will obey, observe, uphold and maintain the Constitution and all other laws of the Republic; and I solemnly and sincerely promise that I will always —

  • promote all that will advance the Republic, and oppose all that may harm it;
  • protect and promote the rights of all South Africans;
  • discharge my duties with all my strength and talents to the best of my

knowledge and ability and true to the dictates of my conscience;

  • do justice to all; and
  • devote myself to the well-being of the Republic and all of its people.

(In the case of an oath: So help me God.)

Deur die jare is Zuma gereeld daarvan beskuldig dat hy sy ampseed verbreek. Onder diegene wat die beskuldigings gemaak het, tel Dene Smuts en Mosiuoa Lekota.

Met sy jongste opmerkings het Zuma duidelik ’n streep deur sy ampseed getrek.

Daar is meer komplekse aspekte aan demokrasie, waaroor ’n mens maar net die kop kan skud as dit by Zuma kom. Aspekte soos ’n skeiding van mag, waar dit ondenkbaar sou wees dat die parlement deur Luthuli-huis voorgesê word. In ’n ware demokrasie sou konvensie vierkant keer dat die voorsitter van die meerderheidsparty die speaker van die parlement word.

In ’n ware demokrasie sou grondwetlike prosesse verhinder dat die president regters, en veral die hoofregter, kon aanstel sonder dat dié persone eers deur ’n behoorlike onafhanklike liggaam aanbeveel is.

In ’n ware grondwetlike demokrasie sou ’n kaderbeleid ongrondwetlik wees. Soos met ons Grondwet sou die deur vir konvensie oopgelaat wees “om in ’n mate” mense aan te stel wat weens hul ideologiese oriëntasie naby die ministers sal wees, soos die direkteurs-generaal, maar beslis nie elke munisipale bestuurder en ’n horde in laer range nie.

Onafhanklike liggame soos die Openbare Beskermer, die Menseregtekommissie en vele ander sou werklik onafhanklik gewees het, en nie binne ’n ideologiese sfeer gedwing kon word deur politieke aanstellings, druk via begrotings en naakte intimidasie nie. ’n Instelling soos die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe sou sterk leiding neem in die huidige beeldekrisis, en nie so stil soos muise onder die radarskerm beweeg het nie.

In ’n demokrasie pas die regering die inhoud van ondertekende en bekragtigde verdrae toe (soos deur die Grondwet vereis). Die regering het juis baie onlangs ’n verdrag bekragtig wat reeds tydens die bewind van oudpres. Mandela onderteken is en onder meer ’n besliste sonsondergangklousule vir regstellende optrede (wat nie met affirmative action soos die regering dit toepas, verwar moet word nie) insluit, en die SEB-wetgewing aan die ban sou doen.

Wat Zuma ook gedoen het, is om sommer groot afstand te plaas tussen sy eie rassesienings en die sienings van oudpres. Mandela. Uit ANC-kringe is dikwels gespog hoe Mandela tydens sy Rivonia-verhoor gesê het hy veg teen wit dominansie, én hy veg teen swart dominansie. Hiermee het Mandela ’n regeerstelsel geïmpliseer waar iemand se velkleur nie saak maak nie.

Zuma openbaar homself nou vierkant as deel van die swartmag-groepering.

In plaas van om sy eie aansprake uit te leef as dat hy en die ANC die erfgename van Mandela se nalatenskap is, beweeg hy baie na-aan sy gas van die afgelope paar dae, Mugabe. Mugabe het juis weer tydens sy besoek aan Suid-Afrika rasseskande gemaak toe hy op ’n vraag van ’n swart joernalis nader aan die mikrofoon staan, maar op sy hakke omdraai toe ’n wit joernalis ook met sy mikrofoon nader staan, met dié opmerking: “I do not want to see white.”

’n Dawerende stilte van Zuma en sy regering om ’n minderheid (met grondwetlike minderheidsregte) in sy eie land se belediging deur ’n besoekende “staatshoof” te hulp te snel.

Demokrasie? Nie eens amper nie.

Zuma se uitlatings gister herinner aan die politikus wat so volkome op sy sekretaris vir die skryf van die een puik toespraak ná die ander staatgemaak het. Die misbruikte amptenaar bedank, en die dag dat hy klaarmaak, vra die politikus vir oulaas een van daai puik toesprake. Toe die amptenaar vir oulaas met sy tassie huis toe vertrek, laat hy die toespraak by die sekretaresse.

’n Dag of wat later lees die politikus die toespraak by ’n groot geleentheid. Dit bou netjies op tot ’n hoogtepunt, en toe die politikus omblaai, staan daar net een sinnetjie: “En nou is jy op jou eie, jou selfsugtige bliksem!”

En Mac Maharaj het juis pas bedank. Hy maak egter eers die einde van die maand klaar, maar ’n mens kan maar net wonder of hy nie ’n baie onkundige Zuma nou met die een landmyn ná die ander sou laat nie. Zuma het immers Maharaj se vakansies gereeld bederf deur “op sy eie” juis in vakansietye van sy mees omstrede goed kwyt te raak, soos sy honde-opmerking wat hom internasionale verguising op die lyf laat loop het. En toe kort daarna ’n animistiese reinigingsdiens voor te stel vir nasionale kohesie, en boonop voorstel dat emeritus aartsbiskop Desmond Tutu aan die hoof daarvan moet staan. Hiervan het natuurlik dadels gekom – trouens, ’n formele versoek is nooit aan Tutu gerig nie.

Want soos taks moes Maharaj die dinge op kort kennisgewing onder Zuma se skoensole probeer uitkrap.

’n Mens sidder half om te dink waartoe Zuma in staat is as hy werklik op sy eie is, of dan volkome vanuit die SAKP-geledere gekoester word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jo ·

Kan iemand my dalk help? Ek wil graag die akademiese kwalifikasies van JZ bevestig. PhD?

Herman Toerien ·

In alle billikheid – hy het verskeie ere-doktorsgrade v oa Maleisiese universiteite, en is dus geregtig om die titel “doktor” te gebruik soos ook PW en anderook kon doen, maar uit stylvolheid dit nié gedoen het nie. Nadat aanvaklik berig is dat Zuma geen formele skoolopleiding gehad het nie, lyk dit of daar nou min of meer konsensus is dat hy tot die ekwivalent van ongeveer graad drie gevorder het. Hy is egter nie uit die skool gehaal omdat hy nie gevorder het nie, maar omdat sy oom, wat as sy pa ingestaan het, aangedring het dat hy die oom se beeste gaan oppas.
‘n Mens moet natuurlik nie die fout maak dat iemand met die hoogste geleerdheid of selfs die hoogste intelligensie die beste president uitmaak nie. Ronald Reagan word bv as een v die VSA se beter presidente onthou, terwyl hy selfs maar skraps tussen die ore bedeeld was. Hy was egter slim genoeg om werklike goeie adviseurs aan te stel, en slim genoeg om na hulle te luister. As hy bv na ‘n stad onderweg was, het sy adviseurs hom tydens die reis oor al die belangrikste kwessies in daardie staat en stad touwys gemaak. Eers teen die einde van sy presidentskap, toe sy Alzheimers begin inskop het, het dit kol-kol nie meer gewerk nie. Soms was hy woedend vir sy adviseurs omdat hulle, volgens hom, hom in ‘n verleentheid laat beland het deur niks oor ‘n bepaalde probleem vir hom te sê nie. Maar hy was goed ingelig en het dit net vergeet. Dit lyk egter nie of Zuma besonder aandag aan die dag lê om goeie adviseurs aan te stel nie, of as hy dit doen, nie altyd na hulle te luister nie. Ons het bv al daarop gewys dat die vreemde uitlatings wat hy maak en soveel opslae maak, selde in sy geskrewe teks staan. Dis waar hy daarvan afwyk, en self iets inlas wat die meilikheid kom.

Jo ·

Graad 3. As ek reg onthou klank mens nog woorde op daardie stadium. Nie waar nie.

Hendrik ·

Gelukkig het ons wigte en teenwigte, ha ha.Kan iemand my se wat die teenwig is vir volksmoord en revolusie.

Grassie ·

Zoempas en geeneen van sy volgelinge het enige begrip van ware demokrasie nie. Dit is nie ‘n Afrika-ding nie – vir hulle is dit ‘n Westerse konsep. Hulle gebruik dit net wanneer hulle dit nodig het om aan bewind te kom en daarna doen hulle in elk geval net wat hulle wil. Hulle gee ook nie maklik weer bewind prys nie, soos Mugabe.

Peet Schabort ·

Jy is reg Grassie. Soos voorheen gesê is demokrasie vir hulle om die minderheid ‘n kans te gun om deel te neem aan hulle eie ondergang.
In engels: “Democracy is to give the minority a chance to participate in their own downfall”.
Inderwaarheid werk die kommunis op dieselfde beginsel in van sy opvattinge.
Jy word nooit trompop teëgegaan want tyd is nie belangrik.
Dis waarom hulle nog steeds besig is met sg. “veranderinge” om sodoende die bevolking gedurigdeur te herinner dat daar omgegee word vir hulle welstand. Hoe die veranderings aan name brood op die tafel plaas gaan ‘n regdenkende mens se verstand te bowe.
Dit is ook hoe die EFF sy boodskap uitdra aan o.a. die “armstes van die armes”. Natuurlik word daar nie ‘n lyn getrek oor wie die behoeftiges is en wie nie. Jy besluit vir jouself en sodoende sal daar dus meer “armes” wees as wat daar behoort te wees. Die hoop op ‘n beter lewe deur net ‘n kruisie te trek sonder om te WERK mag nooit beskaam.

Gerhard Bezuidenhout ·

Maroela Media julle doen nou dieselfde ding wat Nuus 24 doen deur mens se kommentaar te verwyder wanneer jul president aangevat word. Bravo vir die libtards.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.