Nuuskommentaar: Zuma is reg – SA is siek, maar …

President Jacob Zuma lewer 'n toespraak op Vryheidsdag (27 April 2015) by die Uniegebou in Pretoria Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

President Jacob Zuma lewer ‘n toespraak op Vryheidsdag (27 April 2015) by die Uniegebou in Pretoria Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Vir die skryf van pres. Jacob Zuma se Vryheidsdagtoespraak is dit duidelik dat sy toespraakskrywers gaan kers opsteek het by ’n gedragswetenskaplike. Dis natuurlik ook moontlik dat hierdie inligting deur een van die intelligensiedienste voorberei is, gegewe die geykte gevolgtrekking dat dit alles weer pure apartheid se skuld is. Suid-Afrikaners, parlementslede ingesluit, is sielkundig siek en kwaad … die woede en geneigdheid tot geweld in die samelewing is ’n direkte resultaat van die ontmensliking van apartheid, het Zuma na wat Beeld berig, gesê.

Zuma, of dan sy “adviseurs” het uiteindelik die klokkie hoor lui, maar weet nie mooi waar die bel hang nie.

Selfs al sou dit waar wees dat apartheid, soos Zuma dit stel, ’n gewelddadige stelsel was wat gewelddadige teenstand geskep het, loop hy hom nou in ’n geloofwaardigheidskrisis vas – enersyds omdat hy self die argitek van die blaamkultuur is waar enigiets en enigeen, tot Jan van Riebeeck, die skuld kry behalwe hy self vir dit wat hy heel kundig en op sy eie verbrou. Tweedens is die dooie donkie van apartheid, wat ruim voor 1994 volledig uit die wetboek verwyder is, net te veel keer uit die sloot gegraaf en oor basies enigiets – verbandhoudend of nie – gelooi.

Nou klink dit of Zuma maar net weer daardie dooie donkie gaan uitsleep het en die nou reeds vergane karkas nog ’n paar sweepslae toegedien het.

So asof die donkie voortydig bokveld toe verhuis het voor dit genoeg as sondebok kon dien.

Zuma loop dus die gevaar dat sy voorneme om “… meer (te) doen om genesing en verdraagsaamheid onder al ons mense te bevorder” eerder die skanse van polarisasie sal versterk.

Maar die gevaar bestaan ook dat die baba in die proses saam met die badwater uitgesmyt gaan word. Dit lyk asof Zuma minstens die deur oopgemaak het dat gedragswetenskaplikes soos politieke sosioloë, psigo-sosioloë en ander ’n volwaardige plek inneem om nie net te kyk na die oorsake van wat verkeerd is nie, maar dat hierdie faktore in die oplossingsmodelle verreken word. Hierdie vakdissiplines het voorheen ’n veel meer prominente rol gespeel, maar is op die oog af erg na die agtergrond geskuif toe ’n skynbaar juridiese verabsolutering in die FW de Klerk-era aangebreek het. Selfs politieke wetenskaplikes moes van hul relevansie inboet.

’n Grondwet en wette kan egter nie op hul eie die middelpuntvliedende kragte van heterogeniteit en uiteenlopende ideologie ondervang nie. As die proses nie holisties aangepak word nie, en die kundigheid van volkekundiges as oudmodies, en die insette van gedragswetenskaplikes as irrelevant misken word, is die Grondwet en die ondersteunende wetgewing soos lugkastele. Dit kan duidelik gesien word in die 1990-verslag van die staatkundige komitee van die destydse presidentsraad, “Besluitnemings- en konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels”. In hierdie verslag, wat die grondslag gevorm het vir die opdragte aan die regering en die NP se onderhandelaars by Kodesa, word meermale uitgewys wat die destabiliseringsgevolge is as sekere realiteite rondom heterogeniteit nie ondervang word nie. (En nee, hierdie kommentator is nie gedragswetenskaplik opgelei nie, maar wel in staatsreg en politieke wetenskap en politieke geografie.)

Om die blaam vir vandag se probleem van gewelddadigheid te vind; daar kan minstens net soveel blaam geplaas word op onderhandelaars sonder ore as op apartheid. Die kuns is nou om nie die water wat lank reeds onderdeur die brug gevloei het met alle mag te wil laat terugkeer nie, maar om tog te leer uit die lesse van die geskiedenis. En hier is waardevolle lesse te leer as die ideologiese bril net saam met die water weggespoel kon wees.

Dit lyk of die meer verantwoordelike meningsvormers en leiers nou die voet neersit en begin werk aan oplossings, eerder as die blote gepraat daaroor.

Zuma het so ’n voorneme vermeld; die Solidariteit Beweging bied binnekort ’n oplossingsgerigte beraad aan.

Dié keer het Zuma die woorde “al ons mense” gebruik. Die praktyk sal leer of hy gaan afstap van die blaampolitiek wat sy bewind kenmerk en losweg gebou is op die veronderstelling dat daar ʼn (swart) slagoffergemeenskap is, en ’n (wit) bevoorregte gemeenskap wat oor hennetjies beskik wat nog baie lank gaan goue eiers lê. Versoening, soos gemanifesteer in die abortiewe Kliptown-beraad, sou dan behels dat die slagoffergemeenskap ou koeie uitgraaf en die “bevoorregte” gemeenskap teen die kop slinger, en die bevoorregte gemeenskap moet bly bieg en hoes. Die politieke sosiologie leer ruimskoots oor hoe struktureel destruktief dit kan wees as ’n gemeenskap ervaar dat sy ekonomiese vlak om politieke redes afgedwing word. Voeg hierby strooptogte op sy kultuurgoedere, en ’n land het in plaas van een gemeenskap wat kwaad is, twee of meer.

Ja, daar is iets soos oorgeërfde armoede, en daar is iets soos oorgeërfde welvaart. Maar die oplossings is veel komplekser as om bloot die prop onder die een uit te trek en dit te laat vloei na die ander. Faktore soos gesinsgroottes, gehalte van onderrig, gewortelde maatskaplike probleme, entrepreneursingesteldheid, tenderpreneursingesteldheid, ’n oog vir korrupsiegeleenthede, ’n kaderlisensie en vele meer dra by tot wie uiteindelik met die welvaart sit, en wie nog armer daarvan afkom.

Binne ’n holistiese model moet tog gelet word op die feit dat talle Afrikalande waar die per capita-onderwysbegroting veel kleiner is as in Suid-Afrika, veel beter onderwysuitsette lewer. Of simplisties gestel: Is Sadou, wat al as Suid-Afrika se grootste vyand van onderwys beskryf is, se beergreep op die regering nie ’n veel groter probleem as te min kwotaspelers in sportspanne nie?

Kortom, gaan Zuma toelaat dat sy kop wat so vol vooraf-opgesette idees is, en waar die blaamuitdelery maklik kom, toelaat dat sy kop gedraai word dat daar oplossingsgerig gewerk word? Of gaan hy hierdie warm patat weer as ’n hospitaal-“pass” vir adjunkpres. Cyril Ramaphosa aangee en self op sy vernietigende polarisasiekoers voortstorm?

Gaan groot koerante oor ’n jaar, op Vryheidsdag, maar weer die vraag aan sy lesers stel oor hoe vry hulle in Suid-Afrika voel?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

phillip ·

Miskien moet hy die siek parlements lede blaas en nuwes aanstel.

Hennie ·

Geagte Zuma, ek sien jou breinsel wat nog werk is op verlof. Jy het nou van Jan van Riebeeck tot beelde blameer vir jou mislukkings. Selfs mense in vreemde lande begin al wonder oor jou gebrek aan ….uhm…enige iets. Jy en jou vennote steel so dat daar niks geld oor is vir die dinge wat moet gedoen word nie. Mense het hoop verloor en moed opgegee. Asseblief Zuma. Luister nou vandag na goeie raad. Verklaar die ANC nietig, bedank jou pos en laat mense wat weet, die land weer regruk. Dit kan gedoen word en binne 10 jaar

Maritz ·

Dankie Hennie, maar helaas die breinsel wat jy gedink het is op verlof is toe ook dood.

chris ·

Mense die man het hom nie self verkies nie.Julle wil nou een man verwyder maar vergeet van die 65%.’n Politikus se maar net wat hom weer verkiesbaar stel of lieg.As Zumpie more verdwyn dink julle werklik die probleem sal soos mis voor die moreson reageer?Moet nie die simptome probeer vernietig nie spreek die probleem aan.

Alki ·

Jy is reg Mnr Zuma, ons land is siek, baie siek, hy het cANCer, terminaal, ongeneeslik op hierdie stadium

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.