Nuuskommentaar: Zuma-kabinet skitter in sy afwesigheid

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

In verhouding met sy bevolking, is die Zuma-kabinet net so groot soos die ganse Amerikaanse Kongres, wat die senaat en Huis van Verteenwoordigers insluit. Dit is nog vroeg, maar dit lyk of hierdie kabinet eerder die wind vang omdat hulle nie die regte dinge doen nie, as om die land se talryke probleme op die regte manier aan te spreek.

Sommer bo-aan die lys is die minister van kommunikasie met haar uiters omstrede vaste aanstelling van Hlaudi Motsoeneng as operasionele hoof van die SAUK. Dit, terwyl die SAUK talryke probleme die hoof moet bied, waaronder ‘n skynbare lisensieboikot wat onder die oppervlak broei na aanleiding van die skop wat Afrikaans (al weer) in die tande gekry het. Meningsvormers wat probeer oortuig hoeveel beter Afrikaans daaraan toe is as voor 1994, voer maar ‘n opdraande stryd. Plaasmoorde duur voort, en die regering kom nie uit sy geykte patroon om net af en toe die euwel te veroordeel nie.

Die Numsa-staking is besig om in ‘n soortgelyke ramp as die Amcu-platinumgordelstaking te ontaard. In dié stadium staan “onbepaald” oor die staking geskryf na die werkgewers se “finale” aanbod van die tafel geveeg is, en die werkgewers gevolglik ook sy aanbod teruggetrek en aangekondig het dat hy nie ‘n nuwe aanbod gaan maak nie. Numsa dreig om ander vakbonde op te vorder om met simpatie-stakings te begin.

Terwyl die Gautengse regering se ondersoek na die e-tol op die punt staan om te begin, wil Sanral en die Nasionale Vervolgingsgesag saamspan om te kyk of die “wanbetalers” (glo sowat ‘n miljoen motoriste) nie krimineel vervolg kan word nie. Dit lyk of ‘n regstryd op hande is, waar die NVG en Sanral hul hande mee baie vol gaan hê.

Eskom stotter, baie munisipaliteite maak erg droog, en veral babas sterf. Die Vrystaatse gesondheidsdiens bloei.

Maar, so lyk dit, bly dit moeilik om die regte voetspore van ministers te sien. Selfs waar provinsiale departemente weens swak prestasie onder nasionale administrasie geplaas is, is daar dikwels kwalik ‘n goeie spoor waarneembaar.

Tog bly die algemene klagte dat die regering juis ‘n te groot voetspoor op die daaglikse lewe laat. SEB en rasgebaseerde begunstiging, die gekarring met plek- en straatname, die proses van grondhervorming – dit alles lei tot ‘n land waar die regering sy rol juis oorspeel. Selfs Hlaudi Motsoeneng se voorstelle vir die lisensiëring van joernaliste is nie bloot as lawwigheid afgemaak nie, komende van ‘n man wat self nie eens ‘n wettige matriek het nie.

Wanneer daarop gewys word dat die ministers se regte voetspoor te klein of afwesig is, word juis verwys na krisisgevalle waar kundige leierskap ontbreek om oplossings te vind. Waar daar wel ingemeng word, is juis die plekke waar dit gaaf sou wees dat die regering makeer – soos politieke voorskrifte aan sportliggame wat die gevaar inhou dat daardie sportsoorte deur die internasionale liggame internasionale deelname ontsê kan word. Met ‘n spankaptein wat net die skouers optrek, en gereeld sê hy was nie bewus nie… Volgens internasionale konvensie sê pres. Zuma hiermee hy is onbekwaam om sy werk (reg) te doen.

Op Moneyweb skryf Felicity Duncan dat Suid-Afrikaanse huishoudings só noustrop trek omdat hulle dubbeld vir dienste moet betaal. Hulle betaal belasting vir dienste soos veiligheid, opvoeding en gesondheid (sy kon die e-tolpaaie hierby gevoeg het) omdat die dienste deur die staat nie die mas opkom nie.

In Die Burger skryf Rhoda Kadalie dat korrupsie in Suid-Afrika ons agterlik hou. Tog dien Zuma ‘n beëdigde verklaring in die grondwetlike hof in dat korrupsie nie ‘n probleem in die owerheid is nie.

Solidariteit tree opnuut in om die nie-stakers en hul gesinne by te staan.

Die druk daarop om ‘n werkende “staat” binne die staat te skep om minstens dit te beredder wat beredder kan word, word al hoe groter. Dit is waarskynlik maar net ‘n deel van die redes waarom daar ook ‘n rits simptome uitslaan dat alles rondom ‘n nasionale psige nie gesond is nie.

Nie Max du Preez, of nou André le Roux, gaan Afrikaanssprekendes wat ‘n gevoel van vervreemding in hul eie land ervaar, en na Die Stem hunker, daarvan oortuig dat hulle nou beter daaraan toe is as voor 1994 nie.

Soos wat Rapport die naweek gevra het of dit reg is dat lisensiegeld aan die SAUK betaal behoort te word terwyl sake daar so omstrede verloop, net so onlogies is dit om mense te looi wat te midde van die land se probleme in hul eie land vervreemd voel. Daar moet werk van gemaak word om kernprobleme reg te stel – dan sal die Du Preez’s en Le Roux’s met meer as net windpyle in hul kokers spog.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae