Nuuskommentaar: Zuma kán goeie nuus oplewer

President Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape / GCIS

President Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape / GCIS

Vroeër die week het pres. Jacob Zuma die tonge laat klap toe hy aan kommunikasiekunde-studente gesê het hulle moet op die mooie fokus wanneer hulle klaar gestudeer het. Hy het die media gekritiseer wat, volgens hom, op die negatiewe fokus.

In die koor van reaksies is dit aan die president duidelik gemaak die media wil graag oor die positiewe berig, maar dat die slegte nuus so dominant is, en dat die regering self vir baie van die negatiewe nuus verantwoordelik is. Regeer sinvoller en openliker, en die beriggewing oor goeie nuus sal volg.

Dit is byna oornag gedemonstreer toe Zuma aangekondig het dat hy die omstrede, sogenaamde snoerwet, na die parlement terugverwys na hy geadviseer is dat aspekte daarvan ongrondwetlik is.

Bykans alle politieke partye het positief gereageer, en soos vereis in hul rol, ook gekom met: “Ons het nog die heel tyd so gesê.”

Dit was egter nie net opposisiepartye wat so gemeen het nie, maar ‘n wye verskeidenheid burgerlike instellings, waarvan sommiges hoofsaaklik bestaan om die grondwet te beskerm. Verslaggewers Sonder Grense se reaksie was: “Jacob Zuma’s veto is a major victory for freedom of information in South Africa. We hope the country’s parliamentarians will follow the lead set by their President and abandon the law.”

Die terugverwys van die wetsontwerp, na die parlement dit aan die president gestuur het om onderteken te word, is goeie nuus. Dit sal waarskynlik ook ‘n bietjie vertroue in die ANC se verbintenis tot grondwetlikheid herstel na die party algaande meer en meer hieroor onder skoot gekom het, en met goeie rede. Zuma self was nie vry van opmerkings wat die ANC se verbintenis tot die grondwet verdag gemaak het nie.

Ongelukkig moet hier in hierdie geval ‘n reuse MAAR oor die gebeure getrek word. Die komende algemene verkiesing staan breed oor die kwessie geskryf. Die ANC het maande gelede reeds besluit dat Zuma sy “gesig” vir die verkiesing sal wees en die SAUK het hard ingespring om Zuma ‘n presidensiële gesig opgeverf te kry sodat dié strategie sal slaag. Maar dit wou eenvoudig nie vlot nie, veral omdat Zuma ‘n sterk reputasie as weifelaar het, wat boonop ritse vreemde, skadelike uitsprake maak.

Selfs in die lande waar demokrasie baie sterk gesetel is, wil die bevolking in duidelik herkenbare siklusse ‘n sterk leier hê. “Nederland, zo vindt de Nederlandse kiezer, heeft behoefte aan een sterke leider. Iemand die zonder al te veel democratisch geneuzel besluiten neemt. Dat zegt meer dan zestig procent van de Nederlanders, ondervraagd in een representatieve steekproef.” Volledige verslae oor die bevindings kan hier en hier gelees word.

Dit is ook bekend dat die Amerikaanse kiesers se siklusse manifesteer in pogings om die mag van die president van die kongres, en omgekeerd te laat wentel. ‘n Onlangse peiling deur Rasmussen toon dat net 7% persent Amerikaners meen dat die Kongres goeie werk doen. In dieselfde peiling is bevind 48% Amerikaners meen pres. Barack Obama doen goeie werk. Enkele maande gelede het kiesers oorweldigend in ‘n ander peiling aangetoon hulle meen ‘n groep mense wat lukraak uit die telefoongids gekies is, sal beter vaar as die verkose kongreslede. Intussen het die positiewe indruk van Obama by 45% gaan draai en verbeter nou weer gaandeweg na, ironies, die Russe ‘n ontsnaproete uit ‘n aanval op Sirië gebied het.

Teen dié agtergrond, is dit ‘n billike vraag of Zuma nie nou ook sy weifelende beeld probeer afskud nie. Hy durf inderdaad ‘n gedugte span in eie geledere aan – byvoorbeeld Luthuli-huis, wat die deurvoer van die wetsontwerp gedryf het en gesorg het dat steeks in die bek ANC-parlementslede ook hul ja-stem daarby moes voeg. Politieke analiste meen juis dat Zuma na ‘n beweerde uitval met Gwede Mantshe en die daaropvolgende “invoer” van die Zuma-lojalis Zweli Mkhize, afstand tussen hom en Luthuli-huis geplaas het. Indien dit so is, is dit ook aanduidend dat Zuma sy eie posisie probeer konsolideer deur niemand in sy skadu te laat groei nie – Cyril Ramaphosa wat uit hoofde van sy vise-presidentskap van die ANC in Luthuli-huis gesetel is, en die politiek ontmande Kgalema Motlanthe as die land se adjunk-president.

Min, indien enige sake, sou ‘n kragdadige optrede deur die president so positief skets soos om juis die omstrede snoerwet te takel.

Die positiewe mediadekking getuig daarvan.

Hierdie soort optrede is nie nuut nie. Oud-pres. Thabo Mbeki se bewindstydperk is ook gekenmerk deur duidelike siklusse soos wat hy periodiek beeldpoetsers ingespan het – wat dan stimulus gekry het deur ‘n klompie regte besluite te neem. Of professionele beeldpoetsers nou ook ‘n rol speel sal eers later blyk, omdat die inspan van so iets verstaanbaar in die grootste geheimhouding geskied.

‘n Tweede MAAR is dat die vasberadenheid om die wetsontwerp deurgedruk te kry, die land reeds enorme skade berokken het. Die regstreekse koste soos die openbare verhore oor die land heen van die Nasionale Raad van Provisies, wat nou baie duidelik as skynverhore uitstaan, was enorm duur, en is met duur onthale afgerond.

Die kostes is egter bloot kleingeld teen die skade wat die land oor ‘n wye verskeidenheid ander terreine gely het. Sedert die eerste sprake van die wetgewing het Verslaggewers Sonder Grense die regering baie duidelik gewaarsku dit is onaanvaarbaar en dat dit in die persvryheidsindeks sal reflekteer. En dit hét, hoewel dit nie die enigste faktor was wat Suid-Afrika dramaties op die indeks laat tuimel het nie. Die vraelyste na kundiges oor die wêreld heen, ook na Suid-Afrika, wat gebruik word om die volgende indeks op te stel is ‘n week gelede uitgestuur, en sommige deelnemers sou dit reeds voltooi het voor die aankondiging dat die wetsontwerp na die parlement terugverwys word. Daar is ‘n duidelike verband hoe lande op hierdie indeks, en die korrupsiepersepsie-indeks vaar waarop Suid-Afrika ook flink die kreeftegang gaan. Dit het weer ‘n impak op ‘n land se aantreklikheid as beleggings- en selfs toerismebestemming.

Dit sal interessant wees om te sien in hoe ‘n mate die president nou deurgaans ‘n kragdadige vertoning gaan lewer om ook ander los drade bymekaar te vat, soos die twis in Cosatu.

MAAR kragdadige optrede om die regte ding te doen is een ding, en kragdadige optrede om die verkeerde ding te doen is iets heeltemal anders. By ‘n groot deel van die bevolking bestaan die persepsie lank reeds dat Zuma nie “herstel” kan word nie, net verwyder kan word.

Of anders gestel, hy kan wys hy is duidelik die baas, maar nie alle kragdadige base is goeie base nie.

Miskien sal die beste nuus nog wees dat Zuma aankondig dat hy bedank, en die reg toelaat om sy verloop te neem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Op hierdie stadium, met die oog op die 2014-verkiesing wat voor die deur lê, is dit inderdaad goed dat Zuma die hoofrolspeler is in soverre as wat dit die opposie-partye aangaan. Wat die ANC waarskynlik heimlik weet is dat Zuma meer skade as goed kan doen aan die beeld van die ANC. Zuma het die vermoë om in ‘n onbewaakte oomblik, groot flaters te begaan tot nadeel van die ANC.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.