Nuuskommentaar: Zuma kan nie anders as bedank

Pres. Zuma tydens Vryheidsdagvieringe op 27 April 2016 in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma tydens Vryheidsdagvieringe op 27 April 2016 in Giyani. Foto: Elmond Jiyane

Op lange laas lyk dit of die vragte probleme wat Zuma op homself omgekeer het, nou so groot word dat sy vermoë om soos ’n neet te klou, onder onhoudbare druk gaan kom.

Dalk nie vandag al nie, en dalk nie binne die volgende drie maande nie, maar die gety draai nou so teen pres. Jacob Zuma dat hy binnekort ’n onregeerbare presidensie gaan beleef.

“Politieke toekomst Zuma wankelt” som De Standaard, ’n Vlaamse koerant, se opskrif die situasie mooi op. In die berig word eers ’n draai gaan maak by anti-Zuma-betogers wat deur die polisie onder rubberkoeëls gesteek is. Gelukkig vir Suid-Afrika vind die jongste gebeure hier plaas in die skadu van die Amerikaanse presidentsverkiesing, die ontsettende vergrype in Aleppo, en die aanslag teen Isis in Mosul.

Die verhaal oor hoe betogers, skynbaar EFF-ondersteuners, winkels geplunder, treine aan die brand gesteek en pres. Paul Kruger se standbeeld met ’n brandbom beskadig het, sal nog mooi ontvou en hopelik ’n aantal straf- en skadevergoedingsake oplewer, maar intussen wek dit na buite die indruk van ’n land wat na onregeerbaarheid neig, met ’n beleërde president wat pateties en dikvellig aan die bewind klou.

Met rommelstatus met hom aan die stuur skynbaar ’n al duideliker bestemming.

Verskeie artikels en toesprake, onder meer deur die vorige openbare beskermer, het daarop gedui dat Zuma ingevolge die Grondwet te veel mag het, én dat hy daardie mag behoorlik misbruik het om wye draaie om sy ampseed te hardloop. Natuurlik het ’n lamlendige, en nou verdeelde ANC, baie gehelp om die president met sy ontplooiingsbeleid te laat “wegkom”.

Madonsela het egter, moontlik vir oulaas, ’n kwetsende stokkie voor bedenklike aanstellings gesteek, toe sy gelas het dat die hoofregter die regter moet aanwys wat Zuma dan ampshalwe moet aanstel om ’n kommissie van ondersoek te lei na staatskaping. Klaarblyklik het Madonsela Zuma se aanstelling van regter Willie Seriti om die kommissie van die wapenskaal in gedagte gehad toe sy die aanstellingsprosedure gelas het. ’n Groot donker wolk hang oor die werkswyse en bevindings van die Seriti-kommissie en verskeie instansies het aangedui dat hulle die hof gaan nader om die verslag, wat van ’n toesmeerdery verdink word, ter syde te laat stel.

Dit gaan ’n ruk vir waarnemers duur om die OB-verslag behoorlik holisties te bestudeer en te verteer. Daar is tans verskillende menings oor of die verslag bloot met ’n oorwig van waarskynlikhede toon dat staatskaping plaasgevind het, en of minstens sekere aspekte so bo redelike twyfel bewys is dat strafregtelike vervolging moet volg. En ter voorbrand hiervan word die koppe van die hoofde van die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke nou al harder geëis. Veral die NVG-baas, Shaun Abrahams, word elke dag deur sy eie toedoen meer kwesbaar.

Daar is egter ’n enorme politieke konteks. Die hoeveelheid omstredenhede waarby Zuma betrokke was, word nou ’n berg, en al moeiliker vir die ANC om liggies af te maak. En al kan die ANC se Zuma-faksie genoeg steun monster om Zuma aan bewind te hou, word die land se toekoms nou al meer in die hande geplaas van ’n nie-amptelike alliansie van mense buite die ANC, en ontevrede ANC-lede wat blykbaar ook elke dag meer word soos meer prominente ANC-lede “uit die kas kom”, skynbaar sonder vrees vir vergelding.

Die werklikheid dat die land nie ’n toekoms mét Zuma het nie, sink elke dag dieper in, en Madonsela se verslag spel dit oorvloedig uit.

Boonop word die land se lot nie net binnelands bepaal nie. Buitelandse persepsies beïnvloed die internasionale ekonomiese klimaat waarin Suid-Afrika ontvang word. Ook hier, so is dit al ’n geruime tyd duidelik, speel heel verskillende scenario’s met, of sonder Zuma af.

Daar sal nou weer al meer stemme van gerekende politieke kommentators opgaan dat ’n soort amnestie teen vervolging vir Zuma voorberei word in ruil vir sy vervroegde aftrede, want terwyl die swaard van vervolging oor hom hang, sal hy soos ’n neet bly klou en, as die Madonsela-verslag ’n aanduiding sou wees, kompulsief blootgestel wees vir individue wat met aanloklike aanbiedinge kom. In Maroela Media se nuuskommentaar is die vraag egter al aan die lesers gestel of hulle vir so ’n reëling te vinde sal wees. Byna eenparig is te kenne gegee dat hulle Zuma aan die pen wil laat ry. Dit was ook min of meer die strekking wat uit ander publikasies se lesersmenings verkry is.

Die feit is dat die ANC nie sonder die opposisiepartye se samewerking so ’n amnestie sal kan aanbied nie, en opposisiepartye sal bedag daarop moet wees dat hul steun aan so ’n projek hulle nie uiteindelik kosbare stemme kos nie.

Die bekendmaking van die jongste verslag het ook nie juis gehelp bou aan ’n klimaat waar Zuma skotvry daarvan kan afkom nie.

  • Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (’n deel van die FW de Klerkstigting): “Sadly, the Report serves as a reminder to the South African public of the gaping hole that has come to represent the nation’s political leadership.” Lees meer
  • Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus: “Die verslag van die voormalige openbare beskermer adv. Thuli Madonsela is ʼn skokkende getuigskrif van ʼn regering en staatsinstellings wat onder ʼn bevlekte staatspresident deurkanker geword het van oneerlikheid en korrupsie in klaarblyklik totale onderdanigheid aan die Guptas van Saxonwold.”
  • Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum: Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat die ingrypende gebeure vandag rakende die staatskapingsverslag en die kommer wat adv. Thuli Madonsela oor Jacob Zuma en onbehoorlike gedrag deur staatsamptenare hierin uitgespreek het, vereis dat Zuma afgedank en strafregtelik vervolg moet word. Zuma is oneerlik, sonder ’n greintjie integriteit en ’n enorme verleentheid vir die land. “Dis tyd dat daar van hom ontslae geraak word.” AfriForum gaan die inhoud van die verslag bestudeer en strafregtelike klagtes by die polisie indien teen individue wat daarin geïmpliseer word.
  • Die DA het ook oproepe dat Zuma moet bedank, herhaal. Lees meer

Die posisie is nou bereik waar dit vir selfs die beste beeldpoetser ter wêreld en ’n grootse poging deur SAUK-TV, bitter moeilik gaan wees om Zuma weer presidensieel te laat voorkom. Zuma sal ook nou moet begin besin oor sy taktiek om sy persoonlike regsmoeilikheid in die howe te laat frustreer, aangesien dit nou duidelik is dat die opposisie soos taks ’n saak in die howe sal uitmaak dat Zuma self, en nie die belastingbetalers nie, vir hierdie ekskursies opdok.

Ná hierdie verslag gaan die politiek in die land nie gou weer dieselfde wees nie. Nie solank Zuma bly klou nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Karen van Zyl ·

Wie neem oor? is jy seker ons gaan ‘n beter lewe hê?

Leendert ·

Karen, net nie Ramaphosa nie, gooi egter Gordhan se naam in die hoed, dan lyk die prentjie heel anders, dan kry mens moed. Die probleem is egter etnies van aard. Die veterane liga sal hom nie kies, ook nie die vroueliga nie en nog minder die jeugliga. Ek is bevrees ons gaan met nog ‘n onbevredigende president opgeskeep sit, maar ons is nou al so dingesvol vir die korruptes en kaders, ons sal enigiemand aanvaar, net solank daardie persoon nie korrup is nie, dit is al kreteria, net nie korrup nie,net nie korrup nie…..

My roep bly Gordhan, hy verstaan die ekonomie, die finansies, die waardes en moreel van goeie landsbestuur, hy is ‘n leier, mens kan na hom luister en hy lyk ten minste na ‘n land se president as hy luister, of praat, mens het vertroue in hom, in teenstelling met die res, en Ramaphosa.

marlene ·

Hopelik sal daar vorentoe gekyk word na die armstes van die land. Die vergete kinders in die townships.

Buitestander ·

Ja-nee Zuma beklee lank al nie meer nr.1 posisie nie maar nr.378 ste posisie!

m ·

Wat kry ons in sy plek? dis wat mens benoud maak want nie een van hierdie lotte voorspeel iets goeds of beter vir hierdie land nie.

Valie ·

Nadat ons die land wat die Here ons gegee het met uiterse ondankbaarheid so gering geag het om dit sonder slag of stoot weg te gee, het ‘ons’ die reg verloor om te kla. Tensy ons nou ‘n alternatiewe werkbare meer regverdige model beding sal ons maar rustig terugsit en alles net aanvaar.

Henry ·

My jitte Valie!
Wanneer en hoe is hierdie land aan ons gegee?
Wie is jou ‘ons’?
Hoeveel ‘ons’ is daar – 3 miljoen – teenoor 50 miljoen ‘hulle’?
Wat is ‘n ‘alternatiewe werkbare regverdige model’?
Vertel asb hoe ‘ons’ vir ‘hulle’ van jou ‘alternatiewe model’ gaan oortuig.

Alida ·

Hopenlik kry ons ‘n President met integriteit en bietjie verder geleerd as st 3.

BOLANDER ·

Alida, ek kan nie meer saam met jou stem nie. Jy slaan die spyker op die kop. Hopelik is daar iemand met breins!!!!!!!!!!!!!!!!!!! En wat vir sy medemens omgee. Nie soos hierdie monster wat net aan homself dink nie!!!!!!!!!!!!

Spreker ·

Almal vra, en met reg, dat President Zuma nou sy ry moet kry. Ek wonder of die volgende t.o.v. hierdie versoek al by almal deurgedring het. Wat gaan gebeur as Zuma doodeenvoudig die druk om te bedank ignoreer en doodgewoon op sy ou trant aangaan, soos sy gewoonte is?. Gaan iemand soos hy, wat solank aan die trog gestaan het en gesorg het dat hy daar gehou word deur baantjies vir boeties te skep, goedsmoeds sy weeldebestaan vaarwel toeroep?. Wat gaan die mense doen wat saam met hom, lustig meegedoen het in die berowing van Suid Afrika saam met buitelanders, as hulle plekkie aan die trog van hulle afgevat word?. Goedsmoeds aanvaar??. Ek dink nie so nie en sien hierdie hele aksie as die begin van die ineenstorting van die hele staatstruktuur in die land wat ernstige gevolge gaan hê!.

Columbiana ·

Nee wat. zuma Sal klou soos jy weet wat aan ‘n wolkombers totdat die koffers heeltemal leeg is en dan gaan hy seker vir homself ‘n dorpie in guptastan gaan koop. Eish

zoom zoom ·

Net nie vir Cyril aanstel nie. Hy het ook aandele in myne.

Griet ·

Moenie asem ophou nie. Zuma gaan kleef soos *** aan ‘n wolkombers. Hy is nie eerbaar nie en gaan NOOIT die eerbare ding doen nie. Eintlik ‘n totale teenstrydigheid om “Zuma” en “die word “eerbaar” in een sin te gebruik . . . . . . . . . .

Hennie ·

Nee wat….. ek dink ons gaan nog n ruk met hom en sy trawante opgeskeep sit. My gevoel is dat Zuma minder van n probleem is as EFF.

Sou die grens “gedrop” word tussen SA en Zim dan is Malema ons nuwe “De-lema”….. dit gaan ons geliefde land meer onregeerbaar maak. Ek sê dit weer : DA is n ANC in blou…..

Nico Jbay ·

Die cANCer gaan laer trek en Zupta en kie ondersteun en beskerm. Absoluut niks gaan gebeur tot na die verkiesing nie. Maak julle reg want die ergste gaan nog kom. Zuma en sy bende moet eers die kernkrag omkoopgeld ten volle ontvang voor hulle gaan “opgee”

Vra maar net ·

Zuma se X vrou gaan volgende aangestel word. Die ANC het haar benoem as volgende president vrou. Wanneer Zuma bedank word sy aan gestel. Hulle is gekei.

Heinrich ·

Alhoewel daar min ingeligte en opgevoede mense is wat nie vir ou zompies agter die tralies sal wil sien nie; is hy ook maar net een van die vele varke by die trog. Hoe vestig ‘n mens ‘n waardestelsel in almal wat hom daar hou? Die hele ANC is vrot van kop tot tone en gaan ons almal in die verderf insleep. Soos Malema wat goed geleer het toe hy na die ANC se Polieke Leerskool toe moes gaan (hulle het duidelik ‘n perfekte ‘decolonised’ werkskema daar gevolg), het zoempies streng by die ‘Africanised’ sillabus gehou soos voorgeskryf deur ere-professore uit Afrika (soos onse Mugabe) van diktatorskap ala Afrika styl, terwyl westerse waardes soos integtriteit, etiek, werkstrots, pligsbesef en sorg vir jou diere op die lys geplaas is om te vermy, anders kan jy dalk net as ‘n uitverkoper gebrandmerk word. #ANCMustFall.

Joe ·

As ek die storie so bekyk en my somme maak, wonder ek wat hom (zuma) sal keer om soos n hardkoppige mugabe almal te ignoreer en net op sy eie trant aan te gaan met sy verwoesting wat hy saai… Mugabe het hom nie laat intimideer nie en kom ons weer eerlik, hy is immers jacob en julius se leeraar.

Delta Mike ·

Valie, ek weet nie wie jou “ons” wat jy verwys wat so gretig die land weg gegee het nie, ek is beslis nie een van jou “ons” nie en ek weet daar is baie ander wat nie onder jou “ons” val nie. Verwys liewer na die liberaliste, die geldgierige Afrikaners, die Afrikaners wat nie skroom om hul eie nasie in die rug te steek nie, die Afrikaner wat homself verryk uit die harde werk van sy mede volksgenote en nie n nag se slaap verloor oor sy satan dade nie. Die enigste “ons” wat ek na kan verwys is die feit daar daar nog genoeg van “ons” soort is wat nasate is van die egte BoerVolk, die afstammelinge van die opregte Voortrekkers wat die land met bloed ,sweet en trane van opofferinge wettig van God Die Almagtige ontvang het as ons eie stukkie grond, wat geveg het tot op die laaste vir ons reg om as Volk te kan voort bestaan. Ongelukkig het die liberale Afrikaner die meerderheid geword en hul geboorte reg wat van hul Voorvaders ontvang is verruil het vir eie gewin, hul mede Afrikaners vertrap het uit gierigheid, hul siele verkoop het aan satan. “Ons” is nie almal die “ons” wat jy na verwys nie.

Kobus ·

Dankie Delta Mike! Jy slaan die spyker op die kop. Daar is ook ‘n rede hoekom hierdie liberale Afrikaners so stil is deesdae. Hulle sot saam om die trog! Hoeveel van hulle weier om met die regering sake te doen? Of vreet hulle maar lustig voort solank die bak vol bly?

Johann ·

Geen gewete…pla hom minder as gebrande pap wat wie van him sê…die ANC is vervrot van sy gelykes wat gaan aanhou steel al loop hy…en wat van die BILJOENE rande wat die GUPTAS mee vort is? Hoe gaan hulle aan die pen ry?

Johannes ·

Zuma moet sommer by sy tjommie Mugaape in Zimboland bly en nooit weer terugkom nie. Dan kan hulle saam daar kripeer

bakoor ·

Wat van jomat pietersen vir prez of mbete. Dan gaan dinge gebeur. Wat presies kan ek al ruik

hans ·

Die verskriklikste woorde wat die anc nog gebruik het is”the anc will rule until Jesus comes.”

Justice ·

Die apatie van die meerderheid ANC ministers en raadslede is skokkend asook teleurstellend – dit blyk egter dat daar baie meer Gupta aanstellings onder hulle is as wat die uitstekende verslag van die Publieke Beskermer kon ontbloot.

Pieter ·

“n Goeie leier stel slim mense aan om hom met die regte raad te bedien en hom te help om ‘n beter leier te wees. ‘n Slegte leier stel net mense dommer as hyself aan sodat hy hulle kan oorheers. Nou as No1 nie eers kan tel nie kan jy dink wat is die intelligensie vlak van sy ministers.

GES ·

Hy sal verwyder moet word maar self sal hy nie loop nie. Dit kan miskien toegeskryf word aan dat hy te dikvellig is of nie begryp wat aan die gang is nie. Hy sal onthou woord as die swakste president wat SA ooit gehad het.

Piet Piper ·

Iemand moet asb die prys-bepaling op brandstof ondersoek……………….Erens hier met hierdie maandelikse prys berekening van diesel, parafien en petrol is ‘n groot bedrogspul ook aan die broei…………dis logika, in ag genome die sterk rand versus dollar en die huidige olie pryse die afgelope maande al……………..Miljarde rande word onwettig gewurg uit die sakke van die verbruikers in RSA.

John ·

Ons grondwet skiet ver tekort al spog ons so daaroor. Nou ly ons onder die tekortkominge. Wat nog erger is, is dat dit te laat is vir regstelling. Die ANC en baie ander groepe glo die president en sy topbestuur staan aan die stuur, maar sedert 1994 het vriendelike vreemdelinge met toesprake en finansiele raad gehelp en hul sodoende ingewurm in ons landsbestuur. ‘n Gebrek aan etiese standaarde is duidelik met die voormalige OB ‘n klein blink sterretjie in die donker. Die ANC hel skerp oor in die verkeerde rigting en hulle weier volstrek om die gevare raak te sien. Mens wil nie pessimisties klink nie, maar hierdie doolhof van ‘n drukgang waarin ons verkeer het nie ‘n uitgang aan die verste punt nie en diegene wat omdraai sal deur die aanstormende massas doodgetrap word.

hoe nou ·

Vannaand as zuma op die stoep sit en kyk na die victorie valle met n glassie blue label in sy hand dan lag hy en sy zim pelle vir ons hier in SA

Louwrens ·

Glo my, vir die eerste keer in baie jare het ek effens hoop vir hierdie land. Zuma sal nie Desember sien nie. My en jou gebede word verhoor. Die verskil is dat God dit in Sy tyd doen. Die mens wik, maar God beskik.

Sarel Strydom ·

Zuma en trawante gaan landuit vlug nog voor iemand hulle kan aankla of toesluit. Genoeg kontakte opgebou.

Verbaas ·

In feitlik elke kommentaar t.o.v. die huidige kwessie oor die “president” word daar na die Grondwet verwys wat veronderstel is om DIE riglyn van alle riglyne in die land te wees. ‘n Wet is slegs daar vir die wat hulle daaraan wil steur, die res van die bevolking het nie ‘n saak daarmee nie. Besef diegene wat so sterk steun op die Grondwet dan nie dat die huidige bewindhebbers destyds op papier engiets sou onderteken en “aanvaar” net sodat hulle die mag kan kry om hierdie sg. Grondwet na eie goeddunke te verander nie??. Kan ‘n mens so na-ief wees?. Die onsin wat destyds kwytgeraak is oor die sg. “wigte en teenwigte” om die Grondwet te beskerm was sekerlik (by uitstek in Afrika) die belaglikste amptelike stelling wat ooit deur ‘n regering gemaak kon word!. Vandag word daar duur betaal vir die na-iwiteit in die geloof van hierdie belaglikheid.

Sê maar net ·

Volgens Madomsela se verslag moet hoofregter Motsneng die paneel saamstel wat sekere punte – oa Eskom – in haar verslag verder moet ondersoek. Dit moet befonds word deur die tesourie. Tydraamwerk gegee.
Sal dit nie n BAIE goeie idee wees as regter Motseneng vir Adv. Madomsella vra om op die paneel te dien nie. Ek glo sy is fie beste persoon om dit vetder te vat. Dan kan Mnr Molefe mos die feite deurgee wat hy en die voorsitter van Eskom nou nie kon doen nie.
Ek glo sy sal daarvoor te vinde wees.

sarie van heerden ·

Ek stem saam met ‘n vorige kommentator dat ek ook dink Zuma gaan pad vat na erens in die buiteland by tjommies wat hom nie sal laat uitlewer aan ons vir al sy mannewales nie. Onthou, Zim is ook “buiteland”.

jaco ·

wie gee die ryk wit-beheerde lande en oorwegend wit-beheerde organisisies soos die IMF en die Wêreldbank van die noordelike halfrond die reg om links en regs rommelstatus af te dwing op arm meestal nie-wit derde wêreldlande?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.