Nuuskommentaar: Zuma kos die ANC baie steun

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Net sowat 20% van die Suid-Afrikaanse kiesers het vertroue in die president, aldus die jongste versoeningsbarometer wat pas uitgereik is. Op die oog af lyk dit na ’n diskrete manier om te sê dat byna 6% van die bevolking keelvol vir pres. Jacob Zuma is.

Presies hoe Zuma die ANC se steun afgerem het, blyk daaruit dat net 33% van die respondente aangedui het hulle glo in, of voel na aan die ANC. Hierteenoor het so te sê 50% aangedui dat hulle oor ’n langer tydperk nader aan die ANC gevoel het.

Dit is bekend dat Zuma eerder ’n vlieg in die salf van versoening is as wat hy volgens sy ampseed optree. Hy het verskeie klagtes van haatspraak teen hom op die lyf geloop, en dat dit skynbaar deur verantwoordelike instansies gesmoor word, help ook nie juis om versoening in die hand te werk nie.

Volgens die versoeningsbarometer is die armoedegaping in die land die hoofrede wat in die pad van versoening staan. Dié is tot ’n groot mate die gevolg van optredes en uitsprake van Zuma wat die land se ekonomie tot rommelstatus afgerem het, en van talle munisipaliteite rommelhope gemaak het, en hul strate in rioolriviere verander het.

’n Opgewondenheid dat Zuma binne dae nie meer president van die ANC sal wees nie, word gedemp deur Zuma se eie aankondiging dat hy tot 2019 president van die land sal bly. Afhangende van wie ANC-president word, sal Zuma betreklik aan bande gelê kan word. Belangrike hofuitsprake wag ook, waaronder dié van Zuma se hersieningsaansoek oor die (vorige) Openbare Beskermer se staatskapingsverslag.

Tog is daar ’n stukkie simboliek vir Zuma in die parkeerreëlings van die verrigtinge. Daar word onder meer spesiaal voorsiening gemaak vir parkering vir NUK-lede. Deur die loop van die kongres word egter ’n nuwe NUK verkies, een wat ook nie meer vir Zuma insluit nie. Dan is hy sy parkering kwyt. (Daar kan aanvaar word daar sal vir hom as staatspresident alternatiewe parkeerreëlings getref word.)

Voorbereiding vir die ANC se verkiesingkonferensie in Desember 2017. Foto: ANA.

Maar gaan die ANC se leierskapsverkiesing- en beleidskongres voltooi word, veral as sake nie na Zuma se smaak verloop nie? Dit lyk of die hofsake op provinsiale vlak ’n ernstige impak op die kongres kan hê (meestal tot Zuma se nadeel), en dat die hofsake soveel ongerymdhede oopvlek dat die ANC se beeld verdere skade ly.

Vanselfsprekend raas en blaas die ANC oor die hofsake, maar uit die skikking tussen die ANC en dr. Matthews Phosa oor die provinsiale kongres in Mpumalanga, is een van die skikkingsvoorwaardes dat verkose verteenwoordigers wie se name verwyder is en deur ander name vervang is, weer reggestel sal word. Ook in ander provinsies was soortgelyke klagtes. In die Vrystaat is dit skynbaar sommer op ’n wyse gedoen wat aan die totale aanslag herinner, en die hof moet môre daaroor besluit, en of die premier en ’n rits ander weens minagting van die hof moet gaan klippe kap.

Presies in hoe verre kan die hofsake dinge omkrap voor Zuma besluit om die kongres uit te stel (of volgens berigte wat die presidensie ontken) ’n noodtoestand uit te roep?

Intussen gaan die beplanning van die kongres voort (na berig word gaan tot 100 000 etes vir die afgevaardigdes vir die duur van die kongres voorgesit word). ’n Kongres van hierdie omvang kan nie oornag gereël word nie.

Die een ding waarteen die kieserskorps moet waak is, is dat die Mafia-agtige getinte sirkusagtige gebeure nie tot apatie lei nie. Meer as ’n kwart van die kiesers dui aan dat hulle nie aangetrokke tot ’n politieke party voel nie.

En as daar nie gestem gaan word nie, gaan belangrike veranderinge nie intree nie.

Intussen verhoog die belangrikheid van burgerlike instellings soos Afriforum en Outa. Belangrike hofsake is al deur burgerlike en nie-regeringsorganisies aangevoer en gewen. Wees ter wille van u kinders se toekoms betrokke, al is dit net met lidmaatskapsgeld vir ’n burgerlike organisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Francis Linstrom ·

Wie gaan betaal vir die etes? Hoeveel gange maaltye gaan dit wees? Wat gaan die koste wees ? Kinders sterf in SA weens honger!!!

Adv Leon Vorster ·

By benadering is die SA bevolking geskat op 50,000,000.00 mense? kan dit waar wees dat slegs 3,000,000.00 mense gatvol is vir Zuma (6%)?????

Gerhardb ·

Leon, Ek dink hulle het die persentasie bedrag van 6% verkeerd aangepas. Ek sal eerder wil glo dat daar is slegs 6% oor wat nog lief is vir hom…….

Loeis ·

Ek glo so. Ek beweeg in professionele sirkels en is soms verstom oor hoe min mense weet van wat in die politiek aangaan, of selfs net hoe die stelsel werk. Navorsing word natuurlik geoden met di edoel om verteenwoordigend van die bevolking te wees, en sluit dus die ongeletterdes ens in. Ja, ek glo mense weet eenvoudig nie wat aangaan nie.

Piet Pompies ·

Dat een mens nie kan verstaan, ten spyte van raad en adviese, om eerder terug te staan en iemand anders die geleentheid te bied om te red wat daar te redde is.

Johann Marx ·

Die grootste dilemma van die reënboog-nasie is dat die verskillende lae van die sogenaamde reënboog GEEN idee het HOE en WAT die ander lae dink of doen nie. Ons verstaan mekaar net eenvoudig nie. ‘n Klein wit minderheid skree en kerm oor elke ding wat die demokraties verkose regering doen…maar vir die meerderheid is dit wat hulle doen absoluut fantasties en asemrowend……tot by die punt waar hulle WEER vir die meerderheidsregering stem. Vir Afrikane uit die vorige bedeling is hierdie paradys……….en vir blankes uit die vorige bedeling is hierdie eenvoudig hel. Uit die aard van my werk is ek blootgestel aan baie Afrikane……..hulle voel ‘n veer vir ekonomie, sterk geld-eenheid, korrupsie, regverdigheid, goeie opvoeding, goeie gesondheids-sorg, goeie infrastruktuur, internasionale aansien, munisipale dienslewering………..dit pla hulle eenvoudig nie. Al wat hulle wil weet is, wanneer vat “ons” regering alles by die witmense en gee dit vir ons? Dis al.

Eish ·

Baie goed omgegaan met die waarheid hier Mnr. Marx! Net gister n gesprek gehad met n praatpatriot en ek kon tot presies dieselfde gevolgtrekking kom.

andries ·

Mag wees, gaan lees tog ander koerante waar mense kan kommentaar lewer. Mense besef tog, die regering vernietig die laaste hoop op groter erkenning vir Afrika, dat hulle darem n bietjie integriteit het. Die laaste klompie jaar is n nagmerrie vir veel meer as net die armes of gekortwiektes van hierdie land.

Grassie ·

Dit lyk vir my Zuma begin nou benoude spronge maak. Ek het ‘n paar maande gelede hier voorspel dat hy ‘n noodtoestand sal oorweeg as sy agterstewe begin vasdraai. Sy versoek dat die persoon wat tweede kom in die verkiesing volgende week outomaties aangestel moet word as adjunk-president is ook verdag. Dit beteken dat sou die verkose president iets oorkom die adjunk die leisels dadelik sal oorneem. Gelukkig het Ramaphosa dit verwerp.
Van Ramaphosa gepraat – hy beter met albei oë oop slaap.
Een ding is seker – Zuma gaan alles in sy vermoë doen om uit die tjoekie te bly. As sy eks nie die paal haal nie en hy kry nie ‘n amnestie bewerkstellig nie gaan hy dit nie goedsmoeds aanvaar nie. Hy het ongelukkig nog meer as ‘n jaar tyd om sy planne te smee.

Jacques venter ·

Hallo Piet Pompies

Die feit dat een mens n volk kan vernietig het die geskiedenis bewys.

Ons moet maar ondergaan en anderkant weer opstaan en herbou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.