Nuuskommentaar: Zuma laat “molshope” berge word

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Die uitslag van die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal sou vir net die mees oningeligtes enigsins as ʼn verrassing gekom het. Die lys van die regering se enorme moeite en koste om verdagte handelinge onder die mat in te vee, soos die Nkandla-kwessie, word net al hoe langer. Intussen broei nog een op die oog af, met die Menseregtekommissie wat nou moet verduidelik waarom nie een van die klagtes teen pres. Jacob Zuma afgehandel word nie.

Die Zuma-era sal vir baie (onaangename) dinge onthou word, maar die Seriti-kommissie se ondersoek na die land se wapenskandaal onderstreep een aspek: in plaas daarvan dat die lug gesuiwer is, is die saak nou, weens die gebrek aan logika, nog groter opgeblaas en word ook pres. Zuma nog minder vertrou. Benewens die ander los drade in die verslag, struikel dit veral oor die “gebrek aan enige bewyse” terwyl twee mense, Shabir Shaik en Tony Yengeni, reeds tronkstraf uitgedien het oor apsekte daarvan.

Ook Nkandla-gate is deur ʼn rits toesmeerpogings, tot die konstitusionele hof ʼn streep daardeur getrek het. Nie net die president nie, maar ook die parlement (lees ANC-LP’s), sit met eier op die gesig.

So stil-stil lyk dit of nog ʼn molshoop die potensiaal het om in ʼn berg te ontwikkel en weer staan Zuma sentraal daarin.

Met die verskillende veldtogte teen rassisme en politici, van veral die ANC en EFF, wat hulself uitspreek teen rassisme, maar wie se uitsprake dikwels self grens aan haatspraak, duik die naam van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gereeld op.

Uit berigte word afgelei stringe klagtes word by die kommissie ingedien en etlike klagtes is reeds teen pres. Jacob Zuma self ingedien.

Maar beteken dit iets?

Teen die agtergrond van die konstitusionele hof se onlangse uitspraak oor die magte van die Openbare Beskermer en die kapitteling van Zuma en die parlement deur die hof, is die belangrikheid van onafhanklike art. 9-instellings onder die vergrootglas.

Tog, in sommige gemeenskappe, is daar veel minder vertroue in die Menseregtekommissie as in die Openbare Beskermer.

Maar wat is objektief die posisie, veral as die president self aangekla word?

In ʼn lang verslag deur Rebecca Sibanda, regsassistent van die Sentrum vir Grondwetlike Regte van die FW de Klerkstigting, word vertroue in die Menseregtekommissie uitgespreek. Sy gaan verder om die konstitusionele hof se OB-uitspraak saam met ʼn saak wat die Menseregtekommissie hanteer het, te gebruik om tot die gevolgtrekking te kom dat die stelsel (van art. 9-intellings) werk, al is dit stadig en burokraties.

Die ander saak waarna Sibanda verwys, is die geval van ʼn man wat glo sy middelvinger vir die president se kavalkade gewys het. Hy is gearresteer en onwaardig behandel en eers die volgende dag vrygelaat, terwyl hy volgehou het sy middelvinger was tuis.

Die Menseregtekommissie het teen die polisie bevind en die minister opdrag gegee om die onregte wat gepleeg is, te hanteer. Die minister het nie gereageer nie en toe hy aangespreek is, het hy geappelleer na die MRK. Die MRK het sy appèl van die hand gewys en die minister het die hooggeregshof genader, wat ook die appèl afgewys het.

Die minister het egter steeds versuim om die aanbevelings van die Menseregtekommissie uit te voer, waarop die speaker genader is en die minister oplaas die knie gebuig het.

Sibanda kom tot die gevolgtrekking die MRK werk, al neem dit weens burokratiese aspekte soms frustrerend lank. Voorts was die president wel in die kavalkade wat glo gemiddelvinger is en as die vinger inderdaad nie tuis was nie, was dit waarskynlik teen Zuma gemik, maar dit was nie die president self wat vir die optrede van sy beskermingsdienste verkla is nie. Was Zuma self verkla, was die uitslag dalk heel anders.

Reg of verkeerd, die persepsie bestaan wyd dat die MRK dubbele maatstawwe inspan wanneer die klaer en verklaagde van verskillende rasse is. So iets is moeilik meetbaar.

Maar as dit daarby kom om die president vir rassistiese uitsprake te verkla, lyk dit of die MRK ʼn liederlike wind sluk.

Tussen 13 Januarie 2015 en 22 Januarie 2015 is vyf klagtes teen die president vir, onder andere, haatspraak by die MRK geregistreer. Van hierdie aanklagte het die media gehaal. Dié sake is almal nog in die “ondersoekfase”, heelwat meer as ʼn jaar nadat hulle ingedien is.

In een geval het die MRK selfs laat blyk Zuma sou teen 9 Mei verlede jaar moes antwoord op die klagtes teen hom. Dan daal ʼn doodse swye neer.

Nog ʼn klagte van dr. Pieter Groenewald, LP van die Vryheidsfront Plus, is sedertdien afgewys, omdat die MRK gesê het dit het geen jurisdiksie oor die saak nie. Dit is op appèl geneem. Adv. Anton Alberts, ook ʼn LP van die VF Plus, het opnuut sowat twee weke gelede ʼn klag teen Zuma ingedien.

Kan die publiek verkwalik word as hulle die MRK daarvan verdink dat hulle die president beskerm teen die gevolge van ongrondwetlike optrede, waaronder vermeende haatspraak?

Die VF Plus het pas, in terme van die PAIA-wetgewing, ʼn navraag aan die MRK gerig om te probeer vasstel wat word nie net van die klagtes teen Zuma nie, maar ook teen die regering en verskeie staatsdepartemente. Die kommissie het nou dertig dae tyd om te antwoord.

Of die kommissie gehoor sal gee aan die skrywe, moet nog gesien word. Dit is eintlik ongelooflik dat, in ʼn land met ʼn grondwet wat deursigtigheid in sake wat mense se regte raak vereis en waar die Paia-wetgewing bestaan, dit so moeilik is om agter die kap van die byl te kom en die hof gereeld ingespan moet word.

In die lig van die enorme druk waaronder Zuma binne en buite die ANC verkeer, sal dit interessant wees om te sien of daar binne die MRK nog soveel entoesiasme sal wees om Zuma te beskerm. Die druk van binne die ANC kom juis vanuit die geledere van daardie groep vir wie die grondwetlike bedeling die eerste prys was van hul jarelange stryd teen die vorige bedeling. Die MRK is veronderstel om ʼn belangrike eksponent hiervan te wees. Onder veral Zuma se leiding, word daardie utopie vinnig weggetoor en deur ʼn Zuptakrasie verdring. Dat so iets in die eerste plek moontlik sou wees, dui op ʼn leemte in die grondwet.

Aan die ander kant, was dit juis deel van Zuma se arsenaal om, waar hy kon, sy posisie te verskans deur sy mense in sleutelposte te plaas. Dit is nou ʼn geval van wag en sien watter groepering in die MRK die botoon voer.

Indien dit sou blyk die MRK trap inderdaad water om Zuma te beskerm, sal dit, in die huidige klimaat, nog ʼn groot terugslag wees vir Zuma se pogings om aan die bewind te klou. Sodoende sou die MRK eintlik die teenoorgestelde bereik het van wat beoog is en sal van nog ʼn “molshoop” ʼn berg gemaak word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

tamboti ·

Zuma skop geweldig hard teen vervroegde uittrede, al is sy termyn besig om uit te loop. Ook versterk hy die vestings om hom en brei sy invloed uit, so ook vergroot die gemors en toesmeerdery. Hy loop die risiko om sy voordele en pensioen te verloor as hy in staat van beskuldiging geplaas word en dit slaag. (Of werk dit nie in SA so nie?)
My vraag is: Hoekom hierdie hardnekkige houding, wat voer hy in die mou as sy termyn eindig? FW het ons verras – wat gaan Zuma doen?

Loeis ·

VF+ het al verskeie sake by die MRK ingedien wat maar net nie afgehandel word nie, want daar is diegene in magsposisies wie nie wil he dit moet afgehandel word nie.

Die ANC het 62% van die setels in die parlement, dus kry hulle, binne die perke van die grondwet, altyd wat hulle wil he. Die enigste werklike weerstand teen ‘n ANC wat maak nes hy wil, is klagtes soos die deur VF+ en regsaksie (die oppergesag van die reg is ‘n groot doring in die vlees vir Zuma en sy party, asook vir die EFF). Afriforum se aksies het ook al ‘n groot verskil gemaak.

Zuma se posisie is baie sterker binne die ANC as wat die media dit probeer laat klink. Dit kan, en gaan, waarskynlik na die verkiesing verander wanneer die ANC van sy setels aan opposisie partye afstaan, en die skuld voor Zuma se deur gele word.

Gaan die stembus hierdie jaar enige verskil aan die algemene staat van korrupsie en vir die regte van minderhede maak? Ek twyfel, maar meer verteenwoordiging vir belangegroeppe beteken ‘n grootter lawaai vir ons belange.

Luister ·

Ek wed Shabir Shaik & Tony Yengeni gaan nou ‘n saak maak, (en baie geld eis), vir
onregmatige vervolging en aanhouding.

alida ·

Ek hoop so!!! Ag mens is so gatvol vir Jacob Zuma en gespuis.

Andrea van Vuren ·

Sopas oor die nuus gehoor! Ons arme, arme belastingbetalers…

Oupa D ·

Wanneer ‘n Artikel-9 instansie ‘n saak ondersoek, neem dit gewoonlik om een van twee redes lank: Eerstens wanneer die saak omvangryk is en indringende ondersoek vereis (Nkandla!) en tweedens wanneer dit ‘n saak is waarin dit moeilik is om redes te vind waarop die skuldige eintlik onskuldig bevind kan word. (MRK-ondersoeke). Raai om watter rede neem dit die MRK lank om die sake van haatspraak teen Zuma te ondersoek?

Marietjie ·

Waar is David? Stuur hom om die reus (zuma) met n kettie te kom dood maak, want net
soos in sy tyd kon niemand die reus dood maak nie, so staan dit in die bybel geskryf. Dit
blyk dat nie een instansie bv polisie, intelligensie, weermag ens. vir zuma kan vasvat nie.

Hoeveel langer gaan God nog toelaat dat hy weg kom met moord voordat Hy gaan ingryp?

Jef ·

Ek word verskriklik naar as ek daai gesig sien want sy gesig lyk net soos n fiets as ek dit sien wil ek trap.

John ·

Die voormalige president FW de Klerk koes ook vir vervolging deur die MRK soos wat onlangs geeis is. Is dit hoekom hy nou skielik die kommissie se werksaamhede so aanprys?

Johannes van Rooyen ·

Wêreldwyd is ñ bevrydingorganisasie se leeftyd gem. 20-22 jr waar die ANC nou is dan sien die kiesers die organisasie gaan nie sy beloftes na kom nie dan word hulle uitgestem . die EFF doen presies dieselfde belowe lieg bedrieg en gaan ook nie doen wat hulle beloof nie want die realiteit is iets heel anders

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.