Nuuskommentaar: Zuma mag nie hiermee wegkom nie

Foto ter illustrasie van die nuuskommentaar. Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede. Foto: DoC

Foto ter illustrasie van die nuuskommentaar. Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede. Foto: DoC

Die nuwe jaar is nog nie twee weke oud nie, of pres. Jacob Zuma sit weer sy voet daarin, en haal hom dié keer ’n klag oor rassisme by die Menseregtekommissie op die hals. Tog word dit skynbaar in die media hanteer asof dit minder ernstig is as die Penny Sparrow-geval.

Terwyl as’t ware probeer word om ’n mossie met ’n voorhamer dood te slaan, stook pres. Jacob Zuma weer rassegevoelens aan en skaars ’n haan kraai daarna.

Dit is natuurlik ’n breër probleem as net Zuma se stelling dat “die grond” in Suid-Afrika van swart mense gesteel en daarom teruggevat moet word. Opnames toon dat tot ongeveer 85% van alle swart respondente dieselfde mening huldig, en dat hierdie persentasie geleidelik styg. Hierteenoor beskryf die ad hoc-komitee oor grondbesit wat verskeie belangrike organisasies insluit dit as “die groot leuen”.

Of Zuma self net oningelig of moedswillig is, is moeilik om te bepaal. Oor grondbesit het hy al verregaande goed kwytgeraak, soos dat tradisionele swart grond hoofsaaklik in die droër, onvrugbaarder dele van die land geleë is. Die reënvalkaarte van die land strook egter net so min daarmee as sy stelling dat Afrika die grootste kontinent is en dat die ander kontinente almal saam in Afrika kan inpas.

Nog ’n knelpunt, wat Zuma nou herhaal het, is dat hy sê grondbesit bring welvaart. Dis nie net buitengewoon grof veralgemenend nie, maar uiters ongevoelig in ’n tyd waar landbouers bykans landwyd noustrop trek weens die uitmergelende droogte. Boonop het hy al stellings gemaak oor klein stukkies grond wat armoede kan verdryf, grond wat hopeloos te klein is om in die konteks van die gebied se gemiddelde reënval gelyk te kan breek.

Daar is natuurlik maniere waarop ’n klein stukkie grond vooruit geboer kan word, maar dit verg baie water en groot kapitaaluitlegte soos die oprigting van tonnels en besproeiingstelsels, en baie kundigheid. En dan moet rampe soos hewige haelbuie en windstorms wyd hou.

Hy propageer dus “oplossings” wat armoede gaan verskans eerder as verlig.

Zuma se uitlatings het die Vryheidsfront Plus laat besluit om Zuma se uitlatings as klag van rassisme by die Menseregtekommissie in te dien: “Pres. Jacob Zuma bevorder rasseverdeling en stook rassehaat met sy uitlating dat grond die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid en dat die grond in Suid-Afrika gesteel is. Met hierdie opmerking teiken Zuma die wittes in Suid-Afrika asof hulle die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Daar word ook gereeld in die parlement gesê ‘wittes het die grond gesteel’. Dit stook rassehaat en die Vryheidsfront Plus gaan ʼn klagte van rassisme indien by die Menseregtekommissie (MRK) om Zuma te ondersoek,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor grondsake van die Vryheidsfront Plus.

Zuma self het die kwessie van rassisme in sy sogenaamde 8 Januarie-toespraak onder die loep geneem. Hy het dit gekoppel aan ’n klein persentasie mense wat na apartheid terugverlang. Hiermee het hy die regering se eie beleid, uitsprake en ander van rassisme “vrygestel” en dit weer as ’n “wit teenoor swart”-probleem aangebied.

Die breë indruk uit die hoofstroommedia die afgelope week toe die rasseherrie fel gewoed het, was ’n ergerlikheid met diegene wat verder wou kyk na die probleem as een van wit mense wat kwetsend teenoor swart mense optree. Daar is selfs ergerlik gereageer op stellings uit die publiek dat van die wit rassisme wat ervaar word, in reaksie op die regering se beleid is, met sake soos SEB en “regstellende aksie” wat by name genoem word.

Ja, daar is probleme soos die voorbeeld van die getjipte blikbord teenoor die fynste porselein. ’n Mens kan baie ander voorbeelde hierby voeg. En ja, om die braaivleisvuur word baie grappies gemaak wat ’n sterk rassistiese ondertoon het.

Maar daar is ook ’n ander kant.

En daar is oorgeërfde sensitiwiteite, soos die inkwisisie wat op koshuismeisies toegeslaan het wat hulle vir ’n kostuumpartytjie soos swart huiswerkers opgedollie het. Die kanse was bykans nul dat hulle sou weet dat die gevoeligheid terugdateer na ’n tyd in die VSA toe swart mense nie toegelaat is om die rolle van swart mense in toneelopvoerings te speel nie. Die wit akteurs wat vir die rolle swart gemaak is, het dikwels die swart karakters as laf, dom en met ander neerhalende eienskappe uitgebeeld.

Die sing van die ou volkslied het ’n (rasse-)herrie veroorsaak en daartoe gelei dat Steve Hofmeyr versoek is om nie aan die KKNK deel te neem nie. Die organiseerders het egter verskeie eksklusief swart kunste-organisasies met oop arms verwelkom.

Terwyl dit wat Penny Sparrow gedoen het (en natuurlik Vehaphi Khumalo) nie goedgepraat kan word nie, bly hulle klein vissies (of mossies) wat ten spyte van die internet beperkte skade kan aanrig. Kom dit by die president, word egter groter verantwoordbaarheid verwag. Stilswye, of ’n houding van “vat dit van wie dit kom” kom ongelukkig op ’n de facto-goedkeuring neer, terwyl die land skerp volgens rassegrense verdeel word. Dít moes eintlik die brandpunt van die rasseherrie gewees het.

Dit sal vir baie mense ’n groot denksprong wees om te aanvaar dat die huidige regeringsbeleid (veral die toepassing daarvan in die praktyk) minstens net so ’n groot impak op rasseverhoudinge het as die nalatenskap van apartheid.

Dat die neo-apartheid egter ’n groot impak het, blyk uit die volgende twee voorbeelde (en daar sal stellig nog baie ander wees, soos in huishoudings waar die broodwinner in ’n olielandjie iewers werk om sy gesin hier te onderhou).

Die opmerking van Jimmy Manyi dat bruin mense in die Wes-Kaap “oorverteenwoordig” is, het ’n dramatiese verskuiwing in die rubrieke van bruin meningsvormers gehad, in weerwil van duidelike pogings om nie te drasties met vorige benaderings te breek nie. Mettertyd het voorvalle soos die Solidariteit-DKD-saak die nuwe katvoet-benadering verskans, en onder meer het die Bruin Belangebeweging tot stand gekom.

’n Belangrike wit meningsvormer was voorheen oor sy rubrieke dikwels in die spervuur weens die “links-liberale” aard daarvan. By geleentheid skryf hy egter oor ’n vriend van sy seun wat weens sy velkleur nie keuring as vlieënier kon kry nie, en die gevolge daarvan. Daarna kon die rubriekskrywer nie meer as “links-liberaal” beskryf word nie, en kan aanvaar word dat die regering dikwels lekker dikbek is oor sy pennevrug. Hy kan egter steeds nie as rassisties beskryf word nie.

In ’n stadium is dikwels gehoor iemand sê: “Ek was nog nooit ‘n rassis nie tot …”

Of soos onlangs weer gesien is: “Ek sal ophou om ’n rassis te wees die dag wanneer daar nie meer ’n Black Lawers’ Association, ’n Black Journalist Association, ’n African Business Forum en ander is nie.”

Dit is ook waar dat ons nie met ’n eiesoortige situasie te kampe het nie. In die VSA het ’n beweging, Black Lives Do Matter, uit slagspreuke met hierdie strekking gemanifesteer, wat weer sy wortel gehad het in die talle gevalle waar swart mense deur die polisie tydens polisie-optrede doodgeskiet is. In reaksie hierop het die slagspreuk ontstaan, “All lives do matter”. Peilings toon inderdaad dat selfs die meerderheid swart mense nie akkoord gaan met die uitgangspunte van die “Black Lives Do Matter” nie.

So lank as wat rassegevoelens vanuit watter oord ook al gevoed word, so lank sal rassisme ’n probleem bly. Dit verg ’n ewehandige optrede, soos nou gesien is in die skorsing by sy werk van Velaphi Khumalo. Maar dan kom Zuma en keer weer die hele ossewa om.

Wat natuurlik nie beteken dat “wit teenoor swart”-rassisme nou regverdigbaar of minder ernstig is nie. Benewens die kwetsende aard daarvan het dit ook ’n impak op die veiligheid van ander.

Maar om net die mossies en ander kleinwild af te maai los nie die probleem op nie. Dis soos die drenkeling wat deur die lewensredders uit die see gesleep word, en met elke armpompslag kom daar nog water uit die drenkeling se mond. ’n Omstander wil iets sê, maar word elke keer stil gemaak. Uiteindelik kan die man dit nie meer hou nie, en skree: “Ek weet dalk niks van noodhulp nie, maar ek is ’n hidrouliese ingenieur, en ek sê nou vir julle as julle nie die man se agterent uit die see haal nie, gaan julle nog die see leegpomp!”

As rassisme nie in al sy herkomste aangespreek word nie, gaan die see ook as’t ware leeggepomp wees voor positiewe resultate behaal word.

Maar nou is dit belangrik dat Zuma vasgevat word. Hy is die president en het die ampseed in terme van die Grondwet afgelê. As hy nie self weet om die Grondwet na te kom nie, en eerder kla oor die opposisie die ANC se parlementêre werk “ontwrig” deur howe toe te hardloop, moet hy op die harde manier leer. As hy nie grondwetlik verkeerd getrap het nie, sou die opposisie nie so howe toe gehardloop en omtrent al die sake gewen het nie.

En ja, die media hét ’n belangrike rol. Die topmedia se swye oor die Keulen-voorval het die nuus nie gesmoor nie, net vertraag. Sonder die begeleiding van verantwoordelike media het die inligting via die sosiale media die probleem deeglik laat eskaleer.

Die ANC probeer tans haas elke minder gunstige verwikkeling as rassisme tipeer. Die Carien du Plessis-voorval en die DA se advertensieborde is voorbeelde hiervan.

Ons mag nie toelaat dat ’n situasie ontstaan waar enige kritiek op die ANC se wanbestuur met rassisme gelykgestel, en daarom as media-onderwerp taboe word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christo

Ek stem 100% met hierdie weldeurdagte artikel saam.

Meraai

Ditsem, Oom Herrie!

Manie

Zuma het maar net sy ware kleure gewys. Versoening en nasiebou is nie op sy Agenda nie. Hy wil hom alles toe eien en sal nou enige iets sê om stemme te wen.
Hy moet aangekla en verhoor word al is hy President.

Dennis

Baie goed gestel. Ons moet optree teen blatante leuns.

Jacorien

Hier gaan weer niks van die saak kom nie, dis soos sy bedrog saak gaan so ruk in die hof wees dan word die persoon op die regsbank ‘n vet bonus betaal en als word net gelos.