Nuuskommentaar: Zuma, plaasaanvalle en die verkleurmannetjies

zuma-plaasmoordeDinge op die politieke terrein is nou so deurmekaar soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartieboks (pers Smarties ingesluit). Op die vooraand van die staatsrede verklaar die ANC se ringkoppe ewe pikant dat die Nkandla-kwessie ’n regeringskwessie is, en nie ’n ANC-kwessie nie. Hulle kan net sowel die publiek oortuig hoenders het gevaarlike slagtande, en met stadsjapie-onkunde waarskynlik nog daarmee wegkom ook.

Die jongste manifestasie hiervan is die ANC se skuif om oor kwessies soos Nkandla hoogheilig te verklaar die kwessie is ’n regeringskwessie, nie ’n ANC-kwessie nie. Pontius Pilatus kan kom les neem by die ANC.

Presies hoe dom dink die ANC is gewone mense? Vandag en môre sal feitlik alles deur die bril van die president se staatsrede beoordeel word. Die media is vol berigte van menings van kenners en ander oor wat die president in die staatsrede onder die loep behoort te neem om rigting te gee. Oor sekere belangrike kwessies is die swygsindroom al so diep gewortel dat feitlik geen waarnemer eens in sy wildste droom sal verwag dat dit te berde gebring sal word nie.

Omdat AfriForum en die TLU SA gister die skokkende 2015-syfers oor plaasaanvalle en plaasmoorde bekend  gemaak het, sou in ’n normale demokrasie verwag word dat dié euwel hoog op die staatsrede se prioriteitslys sou wees. Die opskrif van AfriForum se verslag, “Wreedste jaar nog vir boere en hul gesinslede”, som die verhaal goed op.

Nadat ’n Suid-Afrikaanse “diplomaat” haar nog onlangs wangedra het deur Suid-Afrikaners, wat hulle met verslae oor plaasaanvalle wat by ’n VN-vertakking in Genève gedien het te vereenselwig, as “rassiste hunkerend na apartheid” te beskuldig, en die vorige minister van polisie die veldtog om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar as ’n “foefie” beskryf het, was daar belowende tekens.

Die eerste was toe pres. Jacob Zuma in sy sogenaamde 8 Januarie-toespraak voor die ANC in Noordwes ’n hele sin gewy het aan plaasaanvalle op boere en hul werkers. Hierna het die waarnemende kommissaris van polisie op RSG in Afrikaans in ’n onderhoud stellings gemaak en die woord “prioritisering” gebruik wat die indruk kon skep dat plaasaanvalle nou wél ’n prioriteitsmisdaad is. Op die oomblik is dit onduidelik of dit maar weer ’n geval van boereverneukery was, en of dit wel op die radarskerm groter prioriteit sal geniet.

Zuma kan vanaand lig hierop werp, maar die wind waai wes.

Intussen het die nasleep van twee Matiestudente se persverwery alle perke van redelikheid, logika, regverdigheid en verstandigheid oorskry. Die kwessie het selfs verdeeldheid in Open Stellenbosch en die studenteraad gebring. Die gebeure val in die konteks van die prestasiebankrot ANC se verkiesingstrategie om die rassekwessie weer hard te dryf voor die komende verkiesing, en onder meer die DA as rassistiese party te probeer brandmerk. Trouens dit herinner aan een van Shakespeare se bekendste aanhalings: “The lady doth protest too much, methinks.”

Dit wat oorbly van Open Stellenbosch en die houding van die US-studenteraad se skynbare meerderheid herinner aan die soort geregtigheid en bewyslaste wat boendoe-howe gereeld inspan.

Opnames, selfs voor die Nene-insident, toon dat die meerderheid Suid-Afrikaners Zuma nie respekteer nie. Dit in weerwil van pogings van die ANC om die SAUK-TV mildelik in te span om Zuma presidensieel te laat voorkom.

Die logiese afleiding is dat Zuma nie die respek het, of verdien nie, om ’n staatsrede van die nodige morele statuur te kan lewer nie.

En toe kom die mees pikante politieke juweeltjie van die jaar; die ANC gee hoog op dat die Nkandla-kwessie ’n regeringskwessie is en niks met die ANC te make het nie.

Maar self die mees tegniese benouende staatsregtelike uitleg lewer nie daardie sommetjie op nie. Die blote feit dat die regering al groot hofsake verloor het oor die effektiewe kaping van die parlement ten koste van opposisiepartye weerspreek hierdie kaf met onderskeiding. Daar moes selfs hof toe gegaan word om opposisiepartye se reg om wetsontwerpe in te dien te herstel. Met die heengaan van dr. Mario Ambrosini, IVP-LP, is hy veral onthou as een van die baanbrekers om die ANC se meerderheidstirannie deur die howe te stuit.

Dis nog te vroeg om veel afleidings te maak of die ANC hom deur hierdie bogpraatjie ook van Zuma as voorverkiesingsverleentheid probeer speen. Zuma is immers steeds die ANC-president, en daar is sterk aanduidings dat hy sy oog op ’n derde termyn as ANC-president het. Juis met die ANC se eenparty-mentaliteit en meerderheidstirannie-ingesteldheid beteken dit dat Zuma dan ook die de facto-leier van die land sal bly.

Die ANC, as hy Zuma as verleentheid wil uitskakel, het geen ander keuse as om Zuma te herroep as president van die land, en af te sit as president van die ANC nie. Maar as selfs die verloop tot dusver in die grondwetlike hof in die Nkandla-sage, en Zuma se taktiek om van sy mees getroue meelopers vir die wolwe te gooi, nie genoeg van ’n kapstok bied om van hom ontslae te raak nie, is dit moeilik om aan iets te dink wat hom wel sal laat sink.

En dit sal sommer die ANC-ringkoppe loon om te onthou dat die ANC nog baie onlangs nie Zuma wou repudieer toe hy gesê het hy is meer lojaal aan die ANC as aan die land nie. Grondwetlik-geankerde ampseed ten spyt.

Danksy die ANC sit die land nou met ’n president met min tot geen geloofwaardigheid wat vanaand die wêreld moet oortuig dat die land, ten spyte van sy presidentskap, nie rommelstatus verdien nie, maar wel milde beleggings. Hoe hy voorbehoude oor Suid-Afrika as beleggingsbestemming kan besweer nadat hy nog onlangs gesê het die ANC streef na ’n sosialistiese kommunistiese staat, is so helder soos modder.

Onder Zuma se bewind is die land ’n groot deel van sy kapitaal kwyt.

Maar dis nie al kapitaal wat verdamp het nie. Onder verskeie segmente van die bevolking is die president ook sy kapitaal van nodige goedgesindheid en selfs respek kwyt. Selfs al het hy onlangs bedoel wat hy gesê het dat kamerade wat weet, dié kamerade wat iets nie weet nie (hy self?) moet help, lyk dit of daardie skip reeds oor die horison is. Sy aansien is onherroeplik daarmee heen (behalwe in veral KwaZulu-Natal se landelike gebiede) en selfs al lewer hy die beste staatsrede ooit, en hanteer hy elke kwessie wat dringend sy aandag nodig het meesterlik (he he he), is die koeël reeds deur die kerk.

Voor 1994 het die UDF en ander instansies graag gesê apartheid kan nie hervorm word nie, net vernietig word. So effe aangepas, Zuma en sy rasse-agenda kan nie respektabel gemaak word nie, net uitgeskop word.

Maar die ANC gaan allerlei foefies probeer om hierdie werklikheid te omseil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Uiters goed uiteengesit Herman. Vertrou dat Zoem dit lees en sy staats(stats?)rede dienooreenkomstig aanpas. Tog glo ek dat sy spiets vergelyk sal kan word met groentesop wat ook net so deurmekaar is.

alida ·

Herman daardie man het minder verstand as ‘n donkie wat op die treinspoor staan en staar na n aankomende trein. Selfs ‘n graad een kind het meer grysstof tussen sy ore. Die liewe Vader moet ons nou uit hierdie gemors help anders weet ek nie. Wat ek egter nie verstaan nie is hoekom lees sy raadgewers en adviseurs nie rede deur en korrigeer dit nie. Hy kan dit tog nie self skryf nie want hy KAN nie dink of skryf nie en se die raadgewers voor. Magtig man daar is darem tog seker iemand met verstand wat die man kan reghelp of hoe?

Frederik ·

Die beste opsie vir die ANC sou wees as Zuma vanaand siek speel en Cyril die staatsrede lewer.

Pietertjie ·

Verbeel ek my, of begin Suid Afrika se situasie al meer na Zimbabwe s’n ruik?

Mossie ·

More more S A is laaaaaaankal verder as zim on slaap nog net vaster

albert ·

Ek hoop nie daar enige lang syfers of geld bedrae wat hy moet lees nie??

Albert Marais ·

Ek hoop nie dat daar enige lang syers of gels bedrae is wat hy mowt lees nie

Christine Botha ·

Pietertjie – dis nie verbeelding nie – dit is ‘n feit.

Behalwe dat Afrika volgens mnr. Zuma die “grootste” kontinent is, is dit ongelukkig ook die verlore kontinent.

Ek is al jammer dat my Oupa op die skip geklim het om Suid Afrika toe te kom, ek reken ek sou ‘n uitstekende Europeër gewees het. Ten minste is daar orde. . .

REGVERDIG ·

Dit is ons blanke Suid Afrikaners se enige uitweg……… emigreer !!!
Ek oorweeg dit baie sterk en het al na al die opsies gekyk. Dit bly die beste een…

Sonet ·

Ontstellende berig in ” Pretoriaeast” koerantjie. (Begraafplaas se grafstene word eenkant gegooi!) Het in berig dié gemerk – hoekom gaan ons nie in op die webwerf en vertel die wêreld wat hier aangaan nie (wys foto’s van wit kruise ) en al die daaglikse nuuskommentare in koerante, ens). Webwerf: United Nation Human Rights) Office of the High Commisioner. (Lees ” frequently questions” onder links)
Kom ons gebruik dit!

Louise ·

Mooi gesê Herman. Die ANC is besig om in hulle eie strikke te val. Sal ook nog dit op rassisme blameer.

Rynhardt ·

HERMAN jy is reg dat die politiek is deurmekaar, maar as jy verstaan wat aangaan, is dit beslis geen groot verrassing meer nie! Die fondament was jate gelede gele en beplan! Zuma en sy kabinet asook die politieke bestel het lankal geen geloofwaardigheid meer nie.Ek voel Zuma en sy kabinet moet strafregterlik vervolg word vir die vernietiging van die Republiek se ekonomie! Hy moet ook strafregterlik vervolg word vir Nskandla saam met kabinet en nie toegelaat word om Nskandla te behou nie, want belastingbetalers se gelde was gesteel.Dit wys die gewetenloosheid uit by hierdie Anc regime! Zuma en kie. se mooi woorde kan my nie breinspoel nie en beteken vir my en talle opregtes absoluut niks!

Hein ·

Hier is ons nou in hierdie situasie. Hoe kom ONS hier as ons ‘n mindeid stem het? ‘ n Niksdoen strategie het nie in Zim gewerk nie. Hier in SA het ons ‘n baie praat op forums en multimedia platforms. Nog steeds help dit nie. Nie enige verkiesings in SA kon ook nie verantwoordelikes in die Parlement magstoel plaas nie. Dit gaan ook nie veander met due meerderheid ANC en EFF ondersteuners nie.

Yahleda Ihlathini ·

Heeltemal reg Louise.
Die ANC het die land verower deur anarchy. Nou kan hulle, hul eie lede noe beheer nie. So pluk n mens die vrugte. Of in die geval dan nou n georganiseerde misdaads growp wat nie meer so georganiseerd is nie.
Geen revolusionere party kon nog ooit in die geskiedenis suksesvol transformeer na n politieke party nie.

DPJ ·

Solidariteit se Herman kan ons nie red nie. Alhouwel hulle punte behaal teen die ANC.
Ons sal moet vertrou op God drie enig waar ons hulp van daan sal kom. God gee ons mense net die regering wat ons verdien. Hou goeie moet.
Mens van RSA keer terug na ons getrou God en Hy sal tot ons terug keer. Versterk jul geloof deur daagliks in sy Woord te lees en sy wil en opdragte uit te voer.

Gaz ·

My vrag is n simple een maar moelik om te antwoord…. As JZ bedank of verwyder word voor sy toespraak of na dit… Wat dink of verspel kenners in verband die Rand – verbeter of vererger ? Want volgens my daar is niks wat hy kan se om dinge beter te maak tydens sy toespraak.
As hy enigsins n leier was so hy bedank voor sy toespraak en eimand vra wat meer ‘credibility’ het oom oor te neem.
Dit sal sy enigste uitweg wees om nog so bietjie trots te behou voor hy tronk toe gaan vir ‘treason’ teen die mense van SA.

Willie ·

Plaasmoorde is mos nou n preoriteit by die regering….. vermoor soveel as jy kan.
ONS SAL SELF IETS DAARAAN MOET DOEN..VRAAG IS NET ..WIE VAT VOOR?

Winston ·

Puik geskryf Herman. Stem ook vir smarties….
Plaasmoorde en misdaad sal nie aangespreek word nie, dis geld vir die regering. Soos oorlog vir baie lande….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.