Nuuskommentaar: Zuma-regskoste-uitspraak belangrike stap na natuurlike geregtigheid

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Die uitspraak van die volbank van die hooggeregshof in Pretoria dat oud-pres. Jacob Zuma self moet instaan vir die regskoste van sake wat niks met sy amp te make het nie, skep, of eerder, herskep ’n belangrike regsbeginsel, en dompel Zuma kniediep in die dryfsand.

Eintlik behels die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria dat oud-pres. Jacob Zuma self vir sy regskoste wat nie met sy amp verband hou nie, moet instaan, nie veel nuut nie. Wanneer iemand by die staat aansluit, is hy of sy vroeër jare ’n paar regsbeginsels geleer. Dit sluit onder meer in dat iemand nie ’n onwettige opdrag mag uitvoer nie, en dat die belastingbetaler nie sal pa staan vir regskoste wat niks met die staat se funksies te make het nie. ’n Gewilde voorbeeld was dat as ’n Eskomwerker op ’n plaas aan elektriese drade werk, en ’n draad breek en slaan die veld aan die brand, moet die werkgewer pa staan vir die gevolglike skade. Steel die einste werker ’n skaap, is dit gewoon sy eie moeilikheid.

Dieselfde beginsel sou vir die president geld. Hy kan nie die spreekwoordelike skaap steel en verwag die staat/belastingbetaler moet die regskoste dra nie. Nog minder kan die staat instaan vir beweerde misdrywe gepleeg voor die persoon nog ’n staatspos beklee het.

’n Amptenaar, wat medeondertekenaar is van ’n “ooreenkoms” tussen die nuwe en die vorige president, voer in alle waarskynlik bewustelik ’n onwettige opdrag uit, én tree buite sy sfeer van bevoegdheid op.

Daar kan, en behoort, teen hom opgetree te word.

Oud-pres. Thabo Mbeki, wat die ooreenkoms “namens” die staat gesluit het, was of erg onbevoeg of hy het bewustelik ultra vires opgetree.

Voor hierdie geval was die grootste regseuwel deur die staat waarskynlik om met sy groter beskikbaarheid van geld, ’n verontregte eiser deur uitgerekte litigasie tot oorgawe te dwing. In die geval van Qwaqwa Printers teen die Vrystaatse Provinsiale Regering (VPR), het die reeds uitgerekte hofsaak afgestaan om die partye kans op ’n skikking te gee. Die regter het ook die VPR gemaan om sy beursie reg te hou, ’n duidelike aanduiding van hoe die wind waai. Die VPR het die onderbreking egter misbruik om die saak verder uit te rek, en geweier om te skik. Qwaqwa Printers, met ’n wettige bestaande kontrak in die sak, moes die handdoek ingooi.

Met die Firechem-saak is regslui verstom gelaat toe die VPR na ’n uitgerekte proses en appèl, die saak wen. Dit was maar een van enkele sake wat die VPR op meriete kon wen.

In die Modderklip-saak het die staat blindelings bly appelleer en appelleer tot die saak ook in die Konstitusionele Hof verloor is. As Agri SA nie vir die grondeienaar, wie se grond onwettig beset is, bygestaan het nie, sou reg en geregtigheid sommer vroeg gesink het. Die skrif was reeds tydens die saak in die appèlhof aan die muur toe die regters die saak laat afstaan het en die advokaat vir die staat opdrag gegee is om sy opdraggewers te skakel en te adviseer om te skik. Na die onderbreking het die advokaat gesê hy kon nie kontak met sy opdraggewers bewerkstellig nie, en die saak het aangegaan en is verloor.

’n Moontlike werkbare voorstel uit hierdie tyd was dat alle amptenare wat besluite moes neem oor litigasie, ’n regsversekering moes uitneem. Die amptenaar wat die finale besluit neem, se versekeraar kry dan geleentheid om die meriete van die saak te beoordeel. As die versekeraar teen litigasie adviseer, maar die ampsdraers besluit nogtans om hof toe te gaan, moet hy self opdok as die saak verloor word. Sy premies word ook elke keer verder “gelaai” wanneer hy ’n saak waarteen hy geadviseer is, verloor. Wen hy die saak teen die versekeraar se advies in, dok die versekeraar op. Dit sou vermoedelik die misbruik van staatsgeld om reg en geregtigheid te ondermyn, kniehalter.

Watter manier ook al gevind word wat verhinder dat die staat of ampsbekleër belastingbetalersgeld gebruik om reg en geregtigheid te ondermyn, die proses van administratiewe geregtigheid (artikel 20 van die Grondwet, en wet 3 van 2000) sal eers voltooi wees wanneer hierdie misbruik ook hokgeslaan word. Bowendien bepaal die Grondwet, artikel 9, dat almal gelyk (behoort te wees) is voor die gereg. Soos Zuma en kie hul toegang tot staatsgeld as ’n private spaarvarkie gebruik het, is darem te dik vir ’n daalder.

Nou moet gesien word of Zuma, trou aan sy aard, instinktief gaan bly appelleer tot dié voorreg uitgeput is. Hy gaan dan in alle waarskynlikheid met nog groter skuld sit.

In die verlede is berig oor vriende van Zuma wat hom met aansienlike bedrae “gehelp” het. Noudat Zuma grootliks van “teenprestasies” ontneem is, sal dit interessant wees om te sien wie van hierdie vriende was mooiweer- of tendervriende. Uit sy ruim pensioen kan hy kwalik nog leef wanneer hy sy gekonsolideerde skuld en rente afbetaal. As die DA en EFF reg is oor sy gekonsolideerde regskuld, tesame met sy huisverband by VBS-Bank, kan sy maandelikse paaiemente saam honderde duisende kos.  Sy pensioen is in die orde van R3 miljoen per jaar, terwyl die belastingbetalers ook instaan vir sy mediese fonds.

Selfs onder die slegste scenario word Zuma nie sy reg tot toegang in die howe ontneem nie, en bestaan die regshulpraad. Maar as hy daar gaan bakhand staan, kan hy vergeet van regsverteenwoordigers wat normaalweg R100 000 per dag vra. Die feit dat Zuma, volgens die regshulpraad se reëls, meer as R5 500 per maand ná belasting ontvang, en ʼn huis van meer as R100 000 besit, kan egter sy aansoek om finansiering bemoeilik.

Nou is dit asem ophou dat die regsbeginsels wat nou in wese bevestig is, gou en behoorlik beslag sal kry, en dat duidelike regulasies hieruit sal voortspruit. Baie water kan egter nog in die see loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hansie Slim ·

Ek hou van die deel wat sê, die staat is steeds aanspreeklik vir Zuma se mediese koste… natuurlik al sy vrouens en kinders. Lekker. Ons hoes al die pad!!
Ou storie…hy sal wegkom…

liz ·

Hansie ek stem saam met jou, en in ekgeval geregtigheid in hierdie land!!! as jy dit glo sal jy engiets glo!!.

Avokado ·

Bly weg van die Regshulpraad af Zuma. Jy is nie waardig nie.

John ·

Sjoe, vergiftiging is ‘n erge aanklag teen die mensdom en dit gaan ons kos. Miskien kan X-Z begin geld vra vir sy kassie-preke voor die howe en ekstra vir die shows. So kan sy eie gehoor begin betaal vir hul eie leier se skade en skandes. By die Nkandla-brandpoel is ook mos ‘n amfiteater… gereed vir sulke geleenthede… en as dinge te warm raak…

Cornelia ·

Mnr. Toerien, met die beste voet voor met die hart ingestel op positiwiteit: “dit is daardie baie water wat in die see loop” waarin mens aan versuiping blootgestel voel. Geregtigheid behoort nie soveel skuiwergate te hê dat ‘n “skuldige” en Kie, ‘n saak laat wipplank ry in ‘n lang uitgerekte lyding ten koste vd slagoffer/s nie. Wat is geregtigheid werd as dit die skuldige begunstig t.o.v Tyd koop op die lang termyn en die benadeeldes intussen dalk onder grondhopies weggelê word? Maak vas wat geknoop moet word en doen dit sonder speelruimte. Ja, maar die wet is nou maar so geplooi, so gepas en so geskik, so gedefinieer… En so “wen” die skuldige meermale wanneer die dringendheid van ‘n saak so gou moontlik te skik, in ‘n “sloerkuns” kwyn. ‘n Mens mag maar wil wegskram van die gereg se regpaaie. Geld, tyd, moraliteit?

Jerry ·

Zuma het in opdrag van die ANC gehandel en gewandel, vandaar die sogenaamde ooreenkoms tussen Zuma en CR dat die staat sal betaal. Die ANC sal wel n ander plan maak om Zuma se kostes te dek en daarmee saam ook toekomstige hofkostes. Die ANC is besig met grootskaalse misleiding en die DA besef dit, daarom dat hulle n stokkie in die wiel se speke gedruk het. Die Zuma era het die klimaat geskep vir die CR era om verandering soos grondhervorming en isolering van die Afrikaner te implementeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.