Nuuskommentaar: Zuma se brief aan Kersvader

Argieffoto

Argieffoto

Pres. Jacob Zuma se wenslysie soos vervat in sy brief aan Kersvader staan sterk in die dampkring van die #ZumuMustFall-veldtog en aanstaande jaar se verkiesing:

Liewe Kersvader

Vader moet asseblief maar stadig lees sodat my wense mooi kan insink, maar ook omdat ek maar stadig skryf.

Ek was baie soet vanjaar. Kersvader moet maar asseblief nie die ore uitleen wat die koerante, behalwe natuurlik die Guptas se koerant, oor my skryf nie. Die SAUK is gewoonlik ook baie betroubaar oor hoe soet ek nou eintlik is.

Ek verstaan dit is vanjaar so droog, Kersvader moes kamele aanskaf om in die plek van die rendiere die slee na die wêreld se grootste kontinent, Afrika te sleep. (Al sê al wat bron is dat Asië eintlik groter as Afrika is, weet ek mos Afrika is die grootste en dat al die ander kontinente saam in Afrika inpas).

Nou wil ek net by voorbaat mooi vra dat die kamele tog maar versigtig op my Nkandla-landgoed se dak land, want sien, al is miljoene rande se belastingbetalersgeld te veel aan die bouwerk spandeer, was die bouwerk maar afskeepwerk. Trouens, die belastingbetalers kyk my maar erg skeef aan, en het boonop vir Thuli Madonsela lekker teen my opgesteek.

Die dak is maar erg dielêpiedyted. Boonop is dit ’n grasdak, en om te keer dat die kamele dit begin vreet, sal ek ’n paar gerwe voer van die droogtehulpprogram onderskep en op die dak laat sit.

Voor julle vertrek, kan die kamele hul dors in die vuurpoel les. Omdat ek nie weet of dit sewe dae-kamele of veertien dae-kamele is nie, los ek die blokke langs die vuurpoel sodat, indien nodig, die sewe dae-kamele in veertien dae-kamele omskep kan word.

My eerste wens is dat Kersvader asseblief vir my ’n Plan A bring. Almal dink ek het ’n Plan A, sodat Solidariteit nou al ’n Plan B vir die land het. Maar eintlik is Solidariteit se plan mos Plan A, want ek het nog g’n Plan A nie, en dis seker net ’n kwessie van tyd voor die nare koerante dit uitsnuffel.

Dan, soos Kersvader seker weet, is dit volgende jaar landwye munisipale verkiesings. Ek wil asseblief ’n sak vol stories hê oor die goeie dinge wat die ANC vir die land gedoen het. Die nare opposisie hou mos aan vir die kiesers vertel dat die ANC die land agteruit regeer, soos dat dienste in duie stort en dat rou riool tussen die makoekas deurloop, en ook in die  riviere loop. En dan gaan betoog die spul boonop daaroor, en nou het hulle selfs met ’n lawwe veldtog, #ZumaMustFall begin. Dit, terwyl ek nog beplan oor hoe om ’n derde termyn die ANC-president te word en die land dan deur ’n marionette-regering te bly regeer.

Dit bring my dan sommer by my volgende versoek – ’n boek met baie prentjies in oor hoe om met marionette te werk. Miskien sommer dieselfde boek wat Mugabe gekry het wat maak dat hy die Afrikaleiers soos marionette kan beheer. Maar net een met meer prentjies in.

Kersvader weet, ek is mos omtrent net so lief vir vlieg soos Vader, maar nou lyk dit vir my die meesterskuiwe met die ministers van finansies – sodat Pravin Gordhan nou in beheer is – kan maak dat ek nie ’n nuwe straler van R4 miljard kan kry nie. Hy het reeds, teen die wense van my vriendin Dudu, by die SAL ’n transaksie van ’n skamele R600 miljoen gekelder. Kan Kersvader dalk vir my so ’n luukse straler vir Kersfees bring asseblief? Onthou, ek was baie soet gewees.

En dan, Kersvader, sit ek nog met so ’n lastigheidjie: Met die #FeesMustFall-veldtog het ek mos alle verhogings in klasgelde by universiteite gestop. Nou moet die staat daai geld iewers vind, en maak nie saak wie die minister van Finansies is nie, hulle sê almal die staatskas se vloer blink eintlik so leeg is hy geskraap, en daar is eintlik nou baie staatskuld. Om die een of ander rede wil hulle nie soos Mugabe destyds net nog geld druk nie – hulle het mos die masjien.

U wil nie dalk so ’n paar miljard dollar in ’n Switserse bankrekening sit en die rekeningnommer vir my vir Kersfees stuur nie? Want sien, dis duidelik die spul studente gaan vanjaar hul betogings voortsit en eis dat klasgelde heeltemal afgeskaf moet word. En nou sit ek in die knyp met taai ministers aan die een kant en die komende verkiesing aan die ander kant. En deesdae verwag die kiesers sowaar dat verkiesingsbeloftes uitgevoer moet word.

Ai, van daai verkiesing gepraat. Kersvader wil nie dalk ook ’n paar nuwe verskiesingstories stuur nie? Om alles wat verkeerd is op apartheid, Jan van Riebeeck en kolonialisme te blameer werk nie meer aldag so goed nie, en stook mense ook net op om vir daai japsnoet van ’n Julius Malema te gaan stem.

Kersvader moet asseblief ook onthou dat ek nou vier vroue en ’n stuk of twintig kinders het wat almal presente moet kry. Omdat Maseratis en Ferraris nie in die slee kan pas nie, neem ek aan dit is vooruit gestuur om op Kersdag by Nkandla afgelewer te word.

As Kersvader dalk dink my wenslysie is te lank, moet Vader tog net onthou hoeveel ons in gemeen het. Behalwe vir die lyf en die liefde vir vlieg hou ons beide van gereeld lag. U lag net hô-hô-hô, en ek hê-hê-hê, nêne-nêne-nê.

Nou wil ek nie graag Kersvader in die baard vat nie, maar soms, net soms wonder ek of Kersvader werklik bestaan. Net om seker te maak CC ek hierdie brief dus aan die Guptas ook.

Baie groete en groete ook aan mev. Merry Christmas
Die soete Jacob

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Peet Schabort ·

En kersvader, hier is nou wel nie ‘n KFC in Nkandla maar kos en padkos op die pad vorentoe is gereël by my tjieken den. Help jouself daar aan die hoenners.
Dan ook natuurlik ‘n Happy Two Hundred and One . . . . and Six vir die nuwe djaar . . . .
PUIK HERMAN, PUIK !!!
Geseënde Christusfees aan almal.

Johan ·

Hi Zumatjie hoe bedel jy nou geskenke by die apartheids Kersvader

chrisp ·

Loeis.
Ek’s nou nie ‘n groot aanhanger van Dan nie,maar die keer praat hy amper presies uit my mond.

Dit is ‘n puik skrywe volgens my.
Dankie vir die skakel.

Henry ·

Agge nee wat,
Ou Dan die diensplig ontduiker het altoos ‘n ou stomp byltjie te slyp met alle Afrikaners wat nie sy kluite vir vye wil koop nie.
Afriforum en Solidariteit se leiers wat heelwat meer positiewe resultate as Praag kan toon, is gereëld op sy vervelige eensnaar kitaar.

Loeis ·

Dankie Chrisp.

Henry, of jy van Dan Roodt hou of nie, wat hy daar oor die toestande in die land se is die kaalvuis waarheid, gee hom dit.

GES ·

Prysloos ! Puik Herman en baie dankie. Hierdie briefie som nr 1 se geploeter pragtig op. Hy is waarskynlik die grootste nar (ninja turtle) wat ons land nog opgelewer het en die vermoë het om vir homself te lag.

Jef ·

Herman, jy slaan die spyker op sy kop,soos jy die clown van SA skets ,lekker gelag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.