Nuuskommentaar: Zuma se dag in die hof… of al weer nie?

Oudpres. Jacob Zuma, omring deur sy lyfwagte, kom by die hooggeregshof in Pietermaritzburg aan [20 Mei 2019]. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)

In Engels is daar ’n uitdrukking: “Justice delayed, is justice denied”. Dit het byna ’n halfmiljoen Google-trefslae.

Voeg die woordjie “Zuma” by en daar is steeds byna 5 000 trefslae. Een enkele persoon is dus vir ongeveer ’n honderdste van die trefslae verantwoordelik. ’n Goeie kandidaat om te kwalifiseer vir die titel “Mr Justice delayed”.

Al 14 jaar lank om presies te wees.

Vir ’n gesonde aandeel in die 14 jaar was dit al oudpres. Jacob Zuma se “verweer” dat vervolging teen hom gestaak moet word.

Gewoonlik het die uitdrukking betrekking op die slagoffer van ’n misdaad of sivielregtelike slagoffer, waar die oneindige uitstel van ’n saak daartoe lei dat die slagoffer geen geregtigheid, soos kompensasie, ervaar nie. So ʼn persoon kon byvoorbeeld nie mediese behandeling ontvang terwyl die saak in die howe gesloer het nie omdat hy as gevolg van die wandaad nie inkomste kon verdien en die mediese uitgawes kon bekostig nie.

In Zuma se geval sou dit hipoteties beteken dat sou ’n skuldigbevinding weens die sloertaktiek wegval, kom die “suksesvolle” tenderaar van ’n aspek van die wapenskandaal weg daarmee, en die persoon of instansie wat die tender moes gekry het, word permanent benadeel.

’n Ander interessante aspek is dat appèlregter Seriti in sy “ondersoek” na die wapenskandaal “bevind” het nog niemand is in verband met die skandaal skuldig bevind nie. In werklikheid het Schabir Shaik en Tony Yengeni oor hul aandeel in die skandaal klippe gekap. Sou die hofsaak teen Zuma nie soveel jakkalsdraaie gaan gooi het nie, en Zuma was in die proses skuldig bevind, sou dit vir Seriti onmoontlik gewees het om so ’n bevinding te maak. Veel groter vraagtekens sou oor die skandaal gehang het, en die druk om agter die kap van die byl te kom, ook veel groter.

Zuma se strategie om alles in die stryd te werp om nié sy dag in die hof te kry nie, soos hy aanvanklik gevra het, staan as die Stalingrad-strategie bekend. Die hof het reeds gewaarsku dat geregtigheid in die slag kan bly, sou Zuma se gebruikmaking van dié strategie nie gestaak word nie. Die howe het selfs dié proses vergemaklik deur te bevind Zuma kan nie meer onbeperkte toegang tot staatsgeld kry vir sy verdediging nie, waar Zuma se eie toedoen, en nie sy amp nie, vir die regskoste verantwoordelik sou wees.

Oudpres. Jacob Zuma by die hooggeregshof in Pietermaritzburg [20 Mei 2019]. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)

In 2018 het die BusinessLive soos volg berig: “Prosecutors claim former president is making ‘emotive and at times insulting accusations based on conspiracy theories without any foundation in fact’.”

Trouens, van Zuma en sy regspan se regsargumente oor waarom hy nie vervolg behoort te word nie, was byna komies. So is in ’n stadium aangevoer dat Zuma, as sittende president, nie vervolg mag word nie. Daar is onder meer aangevoer sulke vervolgings word verbied “soos in die VSA en Frankryk”. Wat Frankryk betref, was hulle in die kol, maar in die VSA kan ’n sittende president wel vervolg word.

Kortom, dit was ’n langsame en moeilike paadjie vir diegene wat die howe vir reg en geregtigheid wou inspan. Dit sluit politieke partye in.

Dit kan as totale aanslag vs. totale aanslag beskou word.  Intussen het die miljoene rande staatsgeld bly vloei, hoewel dié kwessie ook ’n draai of twee deur die howe gaan maak het.

In die sosiale media en elders is Zuma behoorlik gelooi oor die pikantheid in sy optrede om self die vertragings in vervolgings te veroorsaak, en hom dan daarop te beroep dat die tydsverloop die voortsetting van die verhoor onmoontlik sou maak. Om verdere inhoud aan die klug te gee, het Zuma homself dikwels as die slagoffer voorgestel. Ook met hierdie aansoek vir permanente onttrekking speel hy die slagofferrol deur te beweer die saak teen hom is ʼn komplot en dat dit ʼn sameswering in die NVG is.

Die pikantheid sou behoorlik rooirissie-sterkte bereik as Zuma maar op een klag wat met die staatskaping wat intussen plaasgevind het, skuldig bevind kon word.

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: ANA

Intussen kan Zuma se Stalingrad-strategie boemerang. Hoe meer hy vir die vale keer, hoe ouer word hy voor hy dan uiteindelik, in geval van skuldigbevinding, gevonnis sou word. Hoë ouderdom kan wel as versagtend beskou word, maar daar sal ook hieroor regsvrae kan wees juis omdat hy self vir die hoë ouderdom teen vonnistyd verantwoordelik was.

Sou ’n skuldigbevinding weens staatskaping bykom, raak dit selfs nog meer bisar.

Nog ’n verweer teen vervolging was dat hy, sou hy president word (soos hy geword het), hy nie sy presidensiële verpligtinge na behore sou kon uitoefen nie omdat die sake teen hom hom te besig sou hou daarvoor.

Weer eens sou die suiwer argument egter gewees het om as presidentskandidaat terug te staan tot die sake teen hom afgehandel sou wees. Maar terwyl hy argumenteer oor “te besig wees” terwyl hy president is, dui prima facie-getuienis voor onder meer die Zondo-kommissie aan dat Zuma verstommend baie tyd moes gehad het om na bewering oor so ’n enorme staatskapingsryk te kon regeer.

Dis lank nie meer ’n geval van regsbeginsels en geregtigheid in hierdie saak nie, maar dat die absurde moet ent kry. Want ’n absurde regspraak is geen regspraak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willem van der Merwe ·

Kom ons kyk wie gaan eerste moeg word,die magistraat,die aan klaer of zuma se prokureers. Wil amper wed hy gaan loop want loop hy nie is die franse wapen handelaar in die moeilikheid en hulle het baie geld soos al bewys is

Johann cb ·

Hy gaan nog as vry man wegstap van al die kopsere wat hy veroorsaak het!

Trojaanse Donkie ·

Die hele hofsaak bewys net weereens aan ons dat die hele regstelsel na +-15 jaar nog nie hondhaaraf kan maak nie. Dit gee vir enige regdenkende mens die ware antwoord. Siestog hoe pateties!

Genieve ·

Die geregstel het ons al so baie gefail..dit kan sowaar ook nie hier gebeur nie.

Herman Goosen ·

Zuma het fluks gehelp in die ANC se verkiesingsveldtog. Wat is die kanse dat ‘n korrupte Afrika leier deur ‘n Afrika hof skuldig bevind gaan word? Hierdie saak gaan vir twintig jaar aanhou en nooit tot ‘n beslissing kom nie – Net soos talle ander korrupsie sake wat keer op keer uitgestel word.

Adam ·

Interessante artikel, maar oor of ‘n sittende Amerikaanse President vervolg kan word is daar nie duidelikheid nie. Daar is geen hofuitsprake wat die argument daarvoor staaf nie en selfs die Grondwet swyg effe daaroor. Die algemene opvatting is dat dit die skeiding van magte sal aantas en daar is verskeie memorandums van die VSA se Dept van Justisie daaroor. Uiteraard is die President nie bo die reg verhewe nie, maar sal nie vervolg word alvorens “impeachment” nie en nie langer die amp beklee nie. Dit is selfs moontlik dat die gewese President dan ‘n kwytskelding sal kry van sy opvolger soos met Nixon na Watergate gebeur het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.