Nuuskommentaar: Zuma se dag in hof durf nie nou struikel nie; ‘lig’ gewerp op Zuma se spesiale Bybel

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Terwyl die appèlhof vir pres. Jacob Zuma ’n gevoelige skop in die tande gegee het, het hy reageer deur nie net opposisiepartye opnuut by te kom “omdat hulle gereeld hof toe hardloop nie”, maar hom ook beroep op ’n Bybel wat volgens hom bestaan en wat geen voorbeelde van leiers bevat wat van hul amp onthef is nie.

Vertragingstaktiek eerder as regspraak het die Zuma-sage tot dusver gekenmerk. Die gevolg is dat die 783 aanklagte van onder meer bedrog, geldwassery, korrupsie en rampokkery waarop hy tereggestaan het voor hy tot president verkies is, vir die volle twee presidensiële termyne oor sy kop sou bly hang.

Gister se toegewings van die Nasionale Vervolgingsgesag en pres. Zuma se regsverteenwoordigers aan die appèlhof dat die destydse waarnemende direkteur van Nasionale Vervolging irrasioneel opgetree en verkeerde regspraak gebruik het om te besluit om vervolging te staak, is ongelukkig nie die einde van die pad nie. Dit bied wel aan die publiek ’n baie belangrike en duidelike aanduiding dat Zuma se regsproses op irrasionele wyse ontspoor het.

Dit sal nou as verrassing kom as die appèlhof, wat uitspraak voorbehou het, uiteindelik anders sal bevind as die standpunte wat die regters gister ingeneem het, aangesien die regters duidelik die leiding geneem het om die regspanne tot die erkennings te lei. Adv. Shaun Abrahams, die direkteur van Nasionale Vervolging, sal in ’n onhoudbare posisie wees om in weerwil van gister se verwikkelinge nog bokspronge te maak om die vervolging te probeer stuit. Dit sal in die grootste deel van die regsgemeenskap bloot as verdere vertragingstaktiek beskou word en sy reputasie verder rysmier.

Intussen voel Abrahams se voorganger reeds dat die verwikkelinge gister sy naam in ere herstel, nadat hy ’n gedwonge goue handdruk gekry het. Adv. Mxolisi Nxasana meen hy het die trekpas gekry omdat die Zuma-kamp nie vir seker geweet het hy sou nie die vervolging herinstel nie.

Oor die jare het Zuma se regspan, aanvanklik gelei deur Roger Hulley, vreemde bokspronge gemaak om vervolging te stuit, of ten minste tot ná sy twee presidensiële termyne vertraag te kry. Daar is onder meer aangevoer hy kan nie as sittende president aan die vervolging blootgestel word nie omdat hy nie sy “mind apply” sal kan hou by sy presidensiële pligte nie. Die regte antwoord sou egter wees om as verkose president terug te staan tot die saak klaar verhoor is (en die uitspraak verdere verwikkelinge sou kon bepaal).

Voorts is aangevoer dat dit algemene praktyk is om presidente nie tydens hul termyne te vervolg nie, “soos in Frankryk en die VSA”. Wat Frankryk betref, het die regspan dit min of meer reg gehad, maar die VSA bied geen grondwetlike vrywaring teen strafregtelike vervolging aan ʼn sittende president nie. ’n Mens sou beter huiswerk van die regspan verwag het.

Die DA verdien krediet vir die vasbyt deur ’n frustrerende proses van hofsaak op hofsaak waar die staat al sy middele ingespan het om Zuma se bas te probeer red.

Gister se verwikkelinge ontneem Zuma van nog ontsag wat hy moontlik kon geniet het (en dis moeilik om te glo dat hy nog oor ’n flentertjie daarvan kan beskik).

Sy reaksie op die hofsaak is ’n tipiese voorbeeld van ’n versteurde werklikheid: RSG berig “Zuma het opposisiepartye bygekom en gesê hulle nader altyd die howe omdat hulle nie behoorlike beleid het om die ANC by die stembus te klop nie”.

Zuma sal vind sodra hy en die ANC minder woer-woer met die Grondwet, ander reg en konvensies speel, hoe minder sal hulle in die hof beland. Sê die feit dat die opposisie gereeld die hofsake wen nie iets vir hom nie, en weet hy nie demokrasie en ’n diktatuur van die meerderheid is twee verskillende goed nie?

Hy het juis gister gesê hy glo in die Bybel wat geen voorbeelde gee van waar ’n leier uit sy gesagsposisie verwyder is nie. Waar hy so ’n Bybel gaan kry, weet nugter, want die Bybel wat ons ken, verwys almal na waar Saul deur God met Dawid vervang is, en waar God die Babiloniese koning Belsasar geweeg en te lig bevind het. Dieselfde nag is hy vermoor en sy ryk deur die Perse oorrompel.

Dis maar een voorbeeld waar Zuma (en van sy getrouste kornuite) die vreemdste godsdienstige uitsprake maak. In die verlede het kerke gereeld vermanings oor die misbruik van die Here uitgespreek.

Ná gister het Zuma geen positiewe reserwes oor nie (hoewel sy getrouste ondersteuners daarop sal aandring dat hy steeds ’n beduidende gesagsfiguur is). Sulke menings is egter ver verwyder van die demokrasie, en van binne die sfeer waar stam- of rasverband eerder as oortuiging lojaliteite bepaal.

Moontlik besef die ANC se ringkoppe nou dat om Zuma ’n dag langer te duld, net beteken dat die ANC se naam dag vir dag verder tot bolliestatus geërodeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eish ·

Mens kry tog n greintjie hoop met die verwikkeling dat reg en geregtigheid dalk sal seëvier. Dit sal voorwaar vir sommige onder ons n blye dag wees. Wat n totale wanhoopsopmerking uiter die man met die verwysing na die Bybel asook die ander onvanpaste kritiek. Mens wonder onwillekeurig of ons van dieselfde planeet is. Met so n man aan bewind is dit absoluut n wonder dat enigiets nog staande kan bly. Ek vertrou dat soos in die Oscar saak, daar n lewendige uitsending van die verhoor sal wees.

zelna ·

Elke “hond” kry sy dag.
Sterkte Prez en al jou Ongeletterde vriende.

humor ·

z se bybel behoort nie met n hoofletter gespel te word nie. Dit is in elkgeval baie duidelik dat as hy een het dat hy dit nooit lees nie en ook geen kennis daarvan het nie.

Anoniem ·

Zuma se bybel sê klaarblyklik ook nie: jy mag nie steel nie, jy mag nie jok nie.

Chevy ·

Ek dink Zuma probeer op elke manier dan ook om die regsgang op n tydelike dwaalspoor te bring, hy wil tyd wen en hy weet goed dat wanneer sy presidentskap periode beeindig is hy alles kwyt is.
Zuma het sy kaarte goed gespeel na sy mening en gaan nou sy troefkaart speel deur hals oor kop die land te verlaat na n land wat geen uitleweringsverdrag met Suid Afrika het nie en almal hier sit met die gebakke pere.

HEVW ·

As z hom nou op die Bybel begin beroep wat hy heel moontlik nie besit nie en waarvan hy geen kennis het nie moet sy nood nou wragtig groot wees.

Alida ·

Sy Bybel sê seker jy mag nie steel nie. Die verskil is egter hy steel nie self nie maar laat ander sy vuilwerk vir hom doen. Hy kry maar net die geld wat ander mense namens hom steel. Sy hande is skoon volgens hom.

Johan Lourens ·

Die Presidentskantoor het spesiale begroting vir sy regsuitgawes so dit bly belastinggeld wat daarvoor aabgewebd word. Sakkie

Anika ·

Miskien moet Zuma weer ‘n stort gaan vang, dan gaan die aanklagte vanself weg …….

Verwonderd ·

Ek wonder nog steeds of ons ‘n 2019 verkiesing sal sien. Hierdie man begin nou benoud klink…

Wouter ·

I’n die Bybel se tyd is jou kop of hande afgekap as jy so lieg. Praat nie eers van steel, verkrag, bedrog of geldwassery ens nie.

ne ·

Zuma kan nie eers behoorlik sy toesprake lees nie nou wil hy ons uit die Bybel leer????
Onthou net elke hond kry sy dag maar n brak kry ‘n naweek. Zuma moet lekker peanuts gaan eet vir die res van sy lewe….

Luister ·

Wat ‘n grap! Hy sê DA harloop maklik hof toe. Hy “vegeet” hyself doen dit gedurig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.