Nuuskommentaar: Zuma se ‘derde termyn’, KPMG en die burgerlike samelewing

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die jongste verwikkelinge om KPMG laat die vraag ontstaan: “Hoe wyd loop die staatskaping in die land?” Sake moet uitgepluis word te midde van nog ’n beweerde ramp wat kan plaasvind – pres. Jacob Zuma het glo gedreig om hom in Desember vir nog ’n termyn as ANC-president verkiesbaar te stel – ’n aanduiding van hoe diep die president se werklikheidsvreemde opvattings strek.

In dié stadium is dit nog net ’n gerug dat pres. Jacob Zuma hom tydens sy party se Desember-verkiesingskonferensie as ANC-president herkiesbaar kan stel. Tog, met Zuma weet ’n mens nooit. Tot dusver het Zuma se selfbeeld selfs onder die felste kritiek nie ’n duik weg nie, en hy het onlangs selfs verklaar dat hy meen hy doen sy werk goed, en dat niemand vir hom sê waar hy foute sou maak nie.

Nou (meen hy) kan hy glo die ANC weer verenig aangesien sy kandidaat-opvolgers klaarblyklik nie daartoe in staat is nie. Hoe Zuma by daardie sommetjie uitkom, weet nugter, want hy maak opsigtelik ook van die verdeel- en-heers-tegniek gebruik om drywend te bly.

Met die Bell Pottinger-saak wat nou effe uit die vernaamste nuusfokus verskuif, word die land getref deur ʼn nog groter skok. Die internasionale ouditeursfirma, KPMG, erken nie net brouwerk nie, maar doen iets daaraan deur ’n groot groep Suid-Afrikaanse topbestuurslui se bedankings te aanvaar. Die firma gaan sy fooie vir werk vir die Ontvanger, wat onder meer tot die “rogue unit” se heksejag met Pravin Gordhan as eerste prys opgelewer het, aan die Ontvanger terugbetaal.

Die sowat R40 miljoen wat uit Gupta-firmas verdien is, gaan aan welsynsorganisasies sonder winsbejag, en onderwysgerigte organisasies geskenk word. Tog gaan die stemme op – te min te laat en siviele eise gaan volg.

KPMG het baie lank as onkreukbare fort by die gewone publiek bly staan. Menige transaksie wat op die oog af verdag gelyk het, is goedgemaak deur te sê dit is deur KPMG geoudit. Tog, met die geval waar R30 miljoen belastingbetalersgeld wat vir die abortiewe Vrystaatse melkplaas by Vrede bestem was, maar met ’n ompad glo vir die spandabelrige Gupta-troue by Sun City betaal het, het die wenkbroue gelig.

Die senior KPMG-bestuurder wat aan die hoof van die betrokke oudit was, was immers self op die troue en na berig word, het hy die verrigtinge gate uit geniet. Toe die bom bars, was hy egter reeds weg by KPMG en op die punt om ’n nog meer senior pos op te neem. Hy het dadelik bedank.

Maar KPMG gaan nog meer bloei, hoewel dit waarskynlik is dat diegene wat skade kan bewys, soos in die geval van die “rogue unit” en wat gevolglik ontslaan is, skikkings buite die hof met klousules van geheimhouding aangebied sal word.

Presies hoe wyd loop die staatskaping? Só wil ’n mens vra ná die KPMG-onthullings en erkennings.

Ná die Bell Pottinger-debakel sou verwag word dat hierdie firma hom wyd van die Suid-Afrikaanse politieke arena sou hou. Die interessantheid is egter dat die SAUK opnuut Zuma met sy besoek aan die VN as presidensieel probeer voorhou het. Die poging om die minister van internasionale betrekkinge se beeld te poets was egter danksy ’n power vertoning deur die minister ’n ramp vir haar en Suid-Afrika. Tog, die SAUK se mededeling dat Zuma per SAL gereis het as deel van die bevordering van toerismemaand, lyk darem al te veel na die (amateuragtige) werk van ’n beeldpoetser. Is die nalatenskap van Bell Pottinger nog in ons regeringskringe aan die woel? Aan die ander kant, selfs die swakste beeldpoetsfirma sou met so ’n idee vorendag kon kom.

In die geheel staan baie Suid-Afrikaners verstom oor die groot verrotte voetspoor wat tydens Zuma se byna voltooide twee termyne oor die land getrap kon word. Was hy self argitek hiervan, of was aanloklike aas vir hom uitgehou?

Dat Zuma nou ’n benoudheid ervaar, sou vanselfsprekend wees nadat sy eie regspan aan die regters van die appèlhof toegegee het dat die terugtrek van die meer as 780 klagtes van onder meer bedrog irrasioneel is. Sou die hof in sy uitspraak (wat voorbehou is) volgens die aanduidings bevind, is dit nog nie vanselfsprekend dat Zuma sy dag in die hof sal kry nie. Dit mag wees dat die NVG steeds besluit om nie te vervolg nie, en ’n sertifikaat dienooreenkomstig uitreik. Dit open weer die weg vir private vervolging, en die kapasiteit daarvoor word nou om ’n ander rede by AfriForum geskep.

“Sa, vat hom, Bulhond!”

Die burgerlike organisasies in hierdie land het die afgelope paar jaar gewys hulle is nie katjies wat sonder handskoene aangedurf kan word nie, en so hoort dit in ’n grondwetlike demokrasie, met ’n vrye media wat ’n ewe belangrike rol te speel het.

Waarnemers het dit egter eens dat die kanse skraal is dat Zuma hom wel Desember herverkiesbaar sal stel, of dat hy toegelaat sal word om hom verkiesbaar te stel. Die wete dat daar ná nog ’n Zuma-termyn niks van die ANC oor sal wees nie, weeg al swaarder.

Maar weet of glo Zuma dit self?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Hoe het dit gebeur dat die woord “staatsgreep’ so stil stil verander is na ‘Staatskaping? Dit neig soort van ‘n versagtende beskrywing van ‘n harde realiteit te wees.

John ·

… en SA is nie te ver van ‘n land met ‘n ewigdurende vrot bestuurder aan die stuur van ‘n remlose ou tjor nie. ‘n Leier wat bykans 24 uur op ‘n dag slaapwandel, geensins gepla oor hoe sy land agteruitboer nie. Die ergste is dat die buiteland dit gelate aanvaar. En as Zuma nou reken dat hy sy oom se voorbeeld kan navolg… Mense, vir nog ‘n paar miljard sal ‘n Zoeloe-impi mos g’n nooit nee dankie se nie. Zuma is duidelik nie gereed vir Nkandla se stoep nie en sy boesem-vriende sien seker ook nie kans vir ‘n terugkeer na hul arm, opgeleefde vaderland nie. Ek sit my geld op 3+.

Santie ·

Nee ek dink nie hy is gereed vir Nkandhla se stoep nie. Maar as die pô pô die fan slaan, wel vir die luukse lewe in Dubai. Ons gaan een oggend opstaan, en hom dáár aantref.

Johan ·

Tydens ‘n staatsgreep word die regering heel by die deur uitgegooi. Maar tydens ‘n staatskaping hou mens hulle nog in die regeringstoel maar neem beheer oor hulle in die stilligheid sodat niemand dadelik iets agterkom voor dit te laat is nie.

Eish ·

KPMG se val is baie simbolies myns insiens van hoe die verrotting van staatskaping die morele weefsel van al wat goed was aangetas het. Dię nuusgebeure wat in dodelike reëlmaat uitgepomp word, stroop die mees optimistiese onder ons van die laaste greintjie hoop op n beter bedeling. Die rimpeleffek van elke ontbloting het soveel fisiese en emosionele kostefaktore wat menige onskuldiges wat vasgevang word daarin, totaal ontnugterd laat. Net die KPMG situasie impakteer direk op meer as 3000 werknemers. Professionele mense wat n minimum van 7 jaar onder opleiding is. Verseker gaan kliënte wat begaan is oor hul besigheid, besin oor hul verbintenis met die firma en sommige gaan verseker geen verdere risikos wil loop nie. Dit behoort na jaareinde te te begin uitkristaliseer. Die siviele eise wat moontlik kan volg, gaan n verdere verlammende effek he. Watter afgestudeerdes sal, indien daar n keuse is, sy klerkskap by die firma wil voltooi? Ten einde hul naam in ere te herstel, gaan n bomenslike poging verg en ek is nie so seker of n kliniese sielkundige die gety gedraai gaan kry nie. Wat ons bring by die hopeloosheid van n lewe in die helhool. Ek vertrou dat die Burgerregte organisasies terdeë bewus is van die geweldige taak wat vir hul voorlê om die omstandighede aan te spreek tot voordeel van die hele land, en nie net die enkele brawes wat n maandelikse bydrae maak nie. Voorwaar n onmenslike verantwoordelikheid gegewe die omstandighede waarin die uitkoms in moet plaasvind.

Grassie ·

Dat Zuma se regspan sommer so goedsmoeds ingestem het dat die aanvanklike besluit om Zuma nie te vervolg nie, verkeerd was, is interessant. Hulle kon dit nie sonder Zuma se goedkeuring doen nie. Dit beteken dat Zuma, die meester-manipuleerder, beslis besig is met die een of ander gekonkelry want hy is beslis nie van plan om voor die hof te kom nie. Miskien is hy besig met amnestie-onderhandelings, of miskien is hy seker sy eks vrou gaan die verkiesing in Desember wen. Miskien gaan hy Desember se beraad probeer ontspoor as hy agterkom dat hy te min steun het en in die chaos wat dan sal volg ‘n noodtoestand afkondig. Sy laaste opsie is om saam met die Guptas na Dubai uit te wyk, na die huis met die dertien badkamers toe. Maar ek glo nie dit sal maklik gebeur nie, hy is te magsbehep en dink waarskynlik dat hy onaantasbaar is. Hy gaan mag probeer behou.

As ek ou Cyril was sou ek voortaan baie katvoet geloop het, spreekwoordelik met albei oë oop slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.