Nuuskommentaar: Zuma se derde termyn lyk al sekerder

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Pres. Jacob Zuma Foto: Elmond Jiyane

Met al die land se huidige probleme is daar nou nog ʼn vlieg in die salf wat dopgehou moet word – die vooruitsig dat pres. Jacob Zuma ʼn derde termyn as ANC-president kan dien “indien die party hom so versoek”.

Zuma se opmerking dat hy hom deur die ANC sal laat lei oor of hy hom vir ’n derde termyn as partyleier beskikbaar moet stel, is die duidelikste aanduiding dat die land nog lank met hom as de facto-hoof opgesaal gaan sit, nadat daar onlangs ’n groot bontpratery oor die aangeleentheid was.

In ’n land waar dit in verskeie partye, waaronder die IVP en die ACDP, omtrent soos hoogverraad beskou word as iemand die partyleier volgens die partye se grondwette uitdaag, het die ANC in die post-1994-era nog ’n betreklike “skoon rekord”. Dit is egter eerder weens ’n verloop van omstandighede, soos dat oudpres. Nelson Mandela self net een termyn wou dien, en weens ’n uitsonderlike verloop oor die wyse waarop oudpres. Thabo Mbeki die trekpas gekry het. Zuma se hand hang swaar oor die gebeure.

Nou, so lyk dit, gaan die ANC getoets word oor hoe ’n verbintenis tot “een leierskap vir die land en party” opweeg teen ’n tradisie waar dit moeilik is om in die skaduwee te groei.

Gaan Zuma nie maar bloot besluit die party het hom gevra om aan te bly nie, en ’n klomp van sy kornuite aangesê word om hierdie “goeie storie” aan die publiek te verkwansel nie?

Volgens die Grondwet van die land kan ’n president van die land nie meer as twee termyne dien nie. Om as partyleier meer termyne van die regerende party te dien en so de facto-regeringsleier te bly, is egter nie so vas soos die Wet van Mede en Perse nie.

Dit is ongetwyfeld so dat baie ANC-ondersteuners behoorlik rooimiere het vir wanneer die verleentheidwekkende Zuma die politieke toneel sal verlaat (tronk toe of nie), en vooruitsigte van ’n marionetteregering waar Zuma die toutjies vanuit Luthuli-huis trek, sal in daardie geledere onvars afgaan.

Maar openlike verset voor dít lyk of die kanse goed is dat Zuma dit nie gaan maak nie? Nie sommer nie. Om in die politieke duisternis te beland is in die konteks van die ANC-regering soos om van die trog weggeruk te word.

Die voetwerk vir ’n regering vanuit Luthuli-huis is immers reeds gedoen, waar die speaker, Baleka Mbete, ’n belangrike rol speel. Dit sou trouens al veel erger gewees het as dit nie vir ’n rits hofsake was wat opposisiepartye aanhangig gemaak het, en gewen het nie. Veral die saak van wyle dr. Mario Ambrosini van die IVP het die ANC se magshegemonie ernstig bloedneus gegee. Maar steeds tree die ANC-LP’s pligsgetrou as Luthuli-huis-marionette op en bied dan besluite aan “as deur die Huis aanvaar”. Luthuli-huis ja, met willose LP’s.

Nie dat alles altyd mooi gesinchroniseer word nie. Onlangs het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gesê dit is amptelike ANC-beleid dat tersiêre onderwys gratis moet wees. Hy het ook die gesag van die besluit aangehaal. In die proses het hy die minister, dr. Blade Nzimande, weerspreek wat vroeër gesê het die gratis-toegewing moet net vir armes geld. Nou het Nzimande weer in die parlement beklemtoon dis regeringsbeleid dat slegs armes gratis tersiêre onderrig moet ontvang.

Sal die regte ANC asseblief opstaan?

Om die impak van Zuma as opperhoof in Luthuli-huis te onderskat sal gewoon dwaas wees.

Die konsep van ’n marionette-president is nie nuut nie. Ook oudpres. PW Botha wou laat in sy presidentskap die amp en dié van partyleier skei, en het die prys betaal. Vroeër, in die ou Sowjetunie en China, was die president en eerste minister so onbelangrik dat min mense eintlik geweet het wie hulle was. Die formele regeringshoof was die sekretaris van die Kommunistiese Party, en die lande is in werklikheid deur die party eerder as die parlement regeer. Konsolidasie van ampte om meer verstaanbaar in Westerse denke te wees het eers later gekom.

Die feit is egter dat die land nie nog ’n Zuma-termyn, in welke hoedanigheid ook al, kan bekostig nie.

Miskien, net miskien in die aantog van die EFF se opkoms, besef die ANC dit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

ANDRÉ ·

Ag, nee! Hierdie “nuus” het nou net my hele dag opgevoeter!

Loeis ·

“Sal die regte ANC asseblief opstaan?”

Dit laat mens aan die e-tol debakel dink waar die regering vir e-tol is, maar die regerende party daarteen.

In kort, die ANC se een ding want hy soek stemme maar doen iets anders met die uitvoerende mag want dit pas hulle. Nou wonder mens wanneer hulle ondersteuners dit gaan insien.

Tascha ·

Suid-Afrika = Zimbabwe
Jacob Zuma = Robert Mugabe
Ons pragtige land gaan nie nog ‘n termyn met Zuma aan die stuur kan oorleef nie. Nee, wat dis tyd om te trek hier’s geen toekoms vir my kinders meer nie!

Loeis ·

Of dis tyd vir ‘n plan B (eintlik was dit voor 1992 Plan A maar toe het die mense krieket gedink, nie gesonde verstand nie).

As mens nie ‘n spel kan wen nie, meot mens ‘n ander een speel…

Bruno Stef ·

Die grootste bedreiging is die wat aan die mag vasklou en die wat die mag wil bekom.Dit gaan nie aan die algemene bevolking se omstandighede n verskil maak nie want hulle is die stemvee wat elke 5 jaar met kragdadige uitsprake en optredes met slap pap onder n wip gevang word.Die opkoms van die EFF en die kommunistiese Unies is die ANC se grootste kopseer in die komende Munisipale en Algemene verkiesings en ons kan radikale uitsprake in alle onderwerpe denkbaar verwag.

Grassie ·

Soos ek dit verstaan sal die grondwet gewysig moet word as Zoempas nog ‘n termyn wil regeer. Daarvoor sal ‘n twee-derde meerderheid stemme nodig wees, wat hy nie sal kry nie. Hy is egter desperaat en sal enigiets doen om op die een of ander wyse aan bewind te bly want hy weet die tronkdeure wink vir hom.

Harry ·

Grassie, nee. Hy kan as partyleier staan en verkies word maar nie as president nie, maar onthou as hy as partyleier verkies word, stel hy direk die volgende president aan, so eintlik net ‘n Mini Me, soos in die fliek.

Grassie ·

Harry – hy kan wel weer president word as hy dit regkry om die grondwet te laat wysig, maar gelukkig sal hy nie daarin slaag nie. Sy enigste alternatief sal wees om die stappe te volg soos jy dit uiteengesit het. Ek dink in daardie geval sal sy “Mini Me” Mbete wees want hy sal nie vir Ramaphosa of een van die ander kandidate lank kan manipuleer nie.
Ek vermoed sy eie kornuite is al in die stilligheid dik vir hom en slyp hul tande vir sy pos.

Dee ·

Nou wat presies is anders aan Ramaphosa? En waarom sal hy nie ‘n ⅔ meerderheid in stemme kry nie? Die ANC èn die DA vry na die EFF en waarskynlik gaan ‘n alliansie vorentoe gebeur tussen twee van daardie 3 enerse partye.

Louw ·

Ek dink nie SA sal nog n Zuma termyn kan oorleef nie. En ek is moeg betaal vir korrupsie en wanbesteding van belasting geld. Niemand kan iets aan hom doen nie nie eens die regstelsel nie. Hy kom met alles weg en ons betaal.

Knersus D ·

Ek dink weer nie die ANC kan nog ‘n Zuma termyn bekostig nie.

elvira bothma ·

Dit sal n totale ramp vir SA wees as hierdie man weer regeer. SA klaar op n stadium waar NET DIE KETTING nog getrek moet word dans als verby.

Johann ·

Ons sal moet saamstaan en hierdie lelike magsgogga-beheptheid moet dood trap. Kyk hoe lyk ons geskiedenis na 1994, huidig en wat van ons almal se toekoms?

Rynhardt ·

Die probleem wat Zuma tans het,as hy sy presidentskap kwyt is,gaan die hofsake opstapel teen hom en kan hy selfs in die tronk beland.Hy speel vir tyd en sal alles in sy vermoe doen om nog n ruk die septer te swaai,maar sal nie derde termyn uitleef nie.Tans is Zuma belangrik om te sorg dat daar uitvoering aan die vryheidsmanifes gegee word.Onthou dat hy in 2008 gese het by n saamtrek dat die Afrikanets nog moet boet vir die onskuldiges wat by Bloedrivier gesterf het.Tans is elke instelling in SA besmet met korrupte-virusse wat hulself ryk steel!Alles val vinnig uitmekaar,ongeag Zuma se beloftes van n pragtige SA!Dan het jy ook internasionale probleme wat n direkte impak het op SA ,met die globale ekonomie wat voos is.Dinge versleg vinnig in SA,so ook vir Zuma en Anc.Die bemarkers kan hul nie meer bemark as wonderlik nie,al se Zuma en Anc ook wat.

REGINA ·

Zuma klou vas terwyl hy kan met mag en mening, want Nkandla is steeds nie “voldoende veilig” en klaar “voltooi” nie! Hy het mos darem nog “n paar miljoen” staatskasgelde en nog n termyn nodig om die “ou huisie” te voltooi, dan nie? Behoede ons daarvan dat Zuma NOG n termyn gaan uitdien, dit sal n kwade dag wees vir SA as dit sou gebeur! Ons is reeds “muishond” in die oe van die res van die wereld soos dit nou hier gaan!

BoereBikerBaby ·

o tog gee my krag!!!! Is hy nog nie ryk genoeg nie?? maar aan die anderkant is dit beter as wat Malema inkom.

Dee ·

Die DA is vol beloftes dat húlle die volgende septer gaan swaai – jy is meer realisties.

chrisp ·

Mense wat verstaan julle nie van Afrika nie!
Ek sal uiters geskok wees as Zuma nie nog aanbly as No1 nie.Dit werk maar so in Afrika.
Hierdie land van ons is op ‘n spoor nes die res van Afrika was en is.Dieselfde spoorlyn net verskillende stasies.Hierdie dinge moet gebeur en gaan gebeur ek het geen twyfel nie.
Dit is egter soos ek dit sien goeie nuus want om in reenboogpot te versuip of verbrand is nie vir my nie.Daar sal soos in die res van Afrika net ontslae geraak kan word van ‘n leier en meer spesifiek ‘n party deur ‘n staatsgreep.Probeer net aan 3 lande in Afrika dink wat van party verander het deur die stembus.Ek is nie eens seker van die een wat ek aan dink nie,ek twyfel of daar een was .Help asb.

Laat hierdie dinge hulle loop neem .Kry vir jou springmielies en ‘n koue koeldrank ons is in vir interessante tye

Flippie ·

Zuma het by Putin gaan kers opsteek. Dit lyk my by gaan vir die volgende termyn uit Lutuli Huis regeer. Hy kan ook in die kabinet as ‘n tipe super minister wat die president kan bestuur. Dan is dast die mmontlikheid dat hy dssrna waarna vir nog twee termyne kan terugkeer as die president van Suid Afrika. Teoreties kan ons vir die volgende 15 jaar met him opgrskeep sit. Ala Putin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.