Nuuskommentaar: Zuma se Kersgeskenk?

kersgeskenkeAs dit van die regering afhang, gaan pres. Jacob Zuma nie ‘n sent van die bedrag betaal wat aan “veiligheids- en operasionele verbeterings” aan sy huis by Nkandla aangebring is nie. Dit is ‘n enorme Kersgeskenk.

‘n Tweede groot Kersgeskenk is egter ook besig om in die visier van analiste in te skuif. In Sondagaand se RSG-program, Kommentaar, het prof. André Duvenhage na die moontlikheid verwys van ‘n “lewenslyn” vir Zuma as al die onthullings en ander probleme wat Zuma nou tref sy politieke kop sou eis. Hierdie “lewenslyn” is ‘n soort vrypas teen vervolging in ruil vir ‘n inskiklikheid om uit die politiek te tree. So iets gaan teen enige persoon wat reg en geregtigheid voorstaan se grein, maar is ‘n moontlike prys om in landsbelang te betaal om die skade te beperk wat die presidentskap die land reeds berokken het.

Die waarskynlikheid dat Zuma se voortgesette presidentskap nie lank kan hou nie, het ‘n groot hupstoot gekry toe die metaalwerkersvakbond, Numsa, in wese die pistool teen die ANC se kop gehou het oor Zuma, en toe die ANC nie kopgee nie, die sneller getrek het. Numsa vra die politieke teregstelling van Zuma, en het sy aansienlike steun aan die ANC met die oog op volgende jaar se verkiesing onttrek. Dit sluit ‘n paar miljoen rand in.

Waar die mynwerkersvakbond, die NUM, ongeveer ‘n jaar gelede nog die ruggraat van Cosatu was, het die NUM skouspelagtig agteruit geboer en beklee waarskynlik nou die derde plek. Die veel radikaler NUMSA het die belangrikste Cosatu-vennoot geword, maar dit het ook teen ‘n prys gekom – raak van Zuma ontslae.

Hoewel die meeste analiste saamstem dat die breekspul met Numsa die ANC sowat 5 persent stemme kan kos in aanstaande jaar se algemene verkiesing, meen die meeste ook dat die ANC nou om ander redes nie kan bekostig om sy besluit om Zuma as sy “gesig vir die verkiesing” aan te bied om te keer nie.

Na die verkiesing – as die ANC inderdaad met sowat vyf tot sewe persent agteruit geboer het, en sodoende binne die gevaarsone van ‘n verkiesingsneerlaag in die algemene verkiesing van 2019 te bring, sal die behoud van Zuma waarskynlik ‘n te groot prys begin word.

Met meer as 700 bedrogverwante aanklagte wat in die Nasionale Vervolginsgesag se rakke stof vergaar, is die vrywillige aftog blaas vir Zuma nie ‘n opsie nie. Hy sal “herontplooi” moet word – waarvan herontplooiing na die asblik een opsie is.

Regskenners is dit eens dat onder die bepaalde omstandighede Zuma en sy regspan hulle nie op die beginsel van “double jeopardy” kan beroep nie – die regsbeginsel dat iemand nie sonder baie goeie rede ‘n tweede keer op dieselfde aanklagte verhoor kan word nie. Zuma en sy regspan se argument dat hy as sittende president nie vervolg kan word nie (soos wat in Frankryk die geval is) is nêrens ernstig opgeneem nie.

Maar maak dit sin om Zuma ‘n “lewenslyn” te bied in ruil vir sy aftog?

Dit is nie heeltemal vreemd nie. Die eertydse Chileense diktator Pinochet het so ‘n tipe vrywaring gehad na hy toegelaat het dat die land na ‘n burgerlike, demokratiese regering terug te keer. Die aanklagte teen Pinochet het misdade teen die mensdom ingesluit. En hoewel Chili die “lewenslyn”-ooreenkoms respekteer het, kon die oud-president beswaarlik sy voete buite sy tuisland sit, of hy sou gearresteer word. Hy is inderdaad in Londen gearresteer, en die House of Lords het beslis dat hy ingevolge die internasionale reg oor marteling in die buiteland aangekla behoort te word. Hy is egter weens swak gesondheid huis toe gestuur om te gaan sterf.

Zuma se beweerde vergrype kan nie met dié van Pinochet vergelyk word nie, en ‘n “lewenslyn” sal in alle waarskynlikheid deur die internasionale gemeenskap gerespekteer word.

Vir die huidige is die analiste dit egter min of meer eens – tot die verkiesing gaan die ANC nie druk van enige aard op Zuma plaas om die aftog te blaas nie. As Zuma se behoud tot die verkiesing egter die ANC beduidend stemme gaan kos, meen sommiges is dit ‘n uitgemaakte saak dat Zuma die trekpas gaan kry. Dit hang van Zuma af of hy eers ‘n lewenslyn gaan beding en dan self die aftog plaas, of dat hy aan die presidentskap klou, afgedank word en die gevaar loop om opnuut in die beskuldigdebank te gaan staan.

In dié stadium lyk dit of die ANC inderdaad heelwat steun kan verloor as met Zuma volhard word. Benewens Numsa se gevoelige “breuk” met die ANC, is daar ander verwikkelinge wat wegbytel aan outomatiese steun vir die ANC. Hiervan blyk Julius Malema en sy EFF ‘n gevoele doring in die vlees te wees. Die aanduidings word al sterker dat die EFF nie bloot ‘n wegwens-party gaan wees nie.

In dié stadium is Agang se kanse ‘n misterie. Die party het duidelik die potensiaal om erg stemme onder die ANC-middel- en hoër klasse te oes, maar is (nog) nie sigbaar genoeg om ‘n behoorlike analise van potensiaal te kan doen nie. Dit lyk of die party nog met baie agter die skerms werk besig is.

Kan die opkoms van die Nasionale Vryheidsparty uiteindelik die groei van die ANC in KwaZulu-Natal ten koste van die IVP stuit?

Baie word gemaak van die wegblystem, en dit gaan ‘n groot rol speel. Verkiesingskoors tydens verkiesings kan egter wegvreet aan die getal wegblyers, hoewel dit ook bepaal word of veral jong kiesers hoegenaamd vir die verkiesing as kiesers geregistreer is.

Niemand verwag dat die ANC die komende algemene verkiesing gaan verloor nie. ‘n Onwaarskynlike tien persent minder stemme beteken egter regstreeks veertig ANC-LP’s minder gaan tot die Nasionale Vergadering verkies word. Dit beteken ook ‘n paar minder verteenwoordigers in die Nasionale Raad van Provinsies, en dit beteken ook ‘n hele klompie minder staatsfondse en staatsbesoldigde personeel.

Die impak op provinsiale wetgewers is min of meer dieselfde.

Dit beteken aansienlik minder posisies om kaders in te ontplooi. Dit beteken daar kan ‘n jaar later ‘n nog groter slagting onder munisipale raadslede wees, met verskeie munisipaliteite wat in die slag kan bly.

Kortom, die soustrein kan aansienlik korter word – ter wille van een man en sy handuitgesoekte lojaliste.

Moet dus nie verbaas wees as die druk in huis groot word om Zuma te offer nie, en daar voelers na ander partye uitgesteek word oor die moontlikheid van ‘n lewenslyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Nee ek kan eenvoudig nie hiermee saamstem nie!!!

Die man kan regtig nie met alles wat hy al gedoen het, wegkom nie. As hulle dit doen dan kan elke janrap en sy maat op dieselfde behandeling staatmaak Dan kan ons almal op dieselfde behandeling aanspraak maak wanneer dit kom by betaling van e-tol!!

Nee kla die man aan en laat hy dan sy sogenaamde onskuld in ‘n hof bewys. Hy se mos heeldag hy het niks verkeerd gedoen nie, hoekom wil hulle hom dan van vervolging vrystel op voorwaarde hy tree uit as president As hy dan niks het om weg te steek nie, hoekom so ‘n ooreenkoms met hom aangaan?

Nee ek dink dit is absoluut belaglik!!! Dan kan enige ANC in ‘n hoe posisie presies dieselfde strooi aanvang as Zuma en dieselfde ooreenkoms aangaan. Ons gewone mense moet pa staan vir al ons oortredings hoekom kan hy dit nie ook doen nie

Eksenet ·

Dan het hulle nog so week of so gelede berig van die pad wat daar na Zumaville toe gebou gaan word teen ‘n koste van R290 miljoen. Dit. Gaan seker ook nie van hom verhaal word nie, want daar is dan seker ook niks daarmee verkeerd nie………….of gaan die E-Toliie daarvoor betaal, die dat EERLIKE NSA-ners e-tol en belasting moet betaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.