Nuuskommentaar: Zuma se kop in die IS-byenes

Pres. Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Suid-Afrikaners raak gewoond daaraan dat Suid-Afrika, veral by monde van pres. Jacob Zuma, die land se naam met ’n plank slaan. Pas het hy egter ’n fris boemerang ingespan toe hy onder meer Europese diplomate tydens ’n ampsgeleentheid uitgetrap het oor die vlugtelingekrisis wat Europa getref het, en waarvan hy die oorsaak voor die Europese lande se deur gelê het.

Nie dat Suid-Afrika se rekord oor xenofobie so silwerskoon is nie. Inteendeel, dit prut nog sterk. Met die ANC-regering se gebrekkige insig in die land se eie probleme, haal die vermetelheid om vir ander te preek die wind uit ’n mens se seile.

Ekonomiese migrasie is wêreldwyd ’n werklikheid. Die moderne tegnologie het van die wêreld die spreekwoordelike neutedop gemaak. Politieke onrus en maatskaplike inploffings veroorsaak dat sekere gebiede groter brandpunte word en groter strome vlugtelinge, of dan asielsoekers, beleef. Ook Suid-Afrika beleef iets hiervan, terwyl baie Suid-Afrikaners hul skrede weer elders heen gerig het – hetsy tydelik (tot die regering tot ’n val kom en sake weer reggeruk kan word?) al dan nie.

Die Middellandse See het ’n begraafplaas van vlugtelinge geword. Afrikane en ander vlugtelinge pak die reis na Europa met die lendelamste bote aan, en daar het vanjaar waarskynlik al tot drieduisend ’n watergraf hier gevind. Nog duisende is op allerlei ander maniere gered.

Sou Zuma nie beter gevaar het om sy mede-Afrika-leiers aan te spreek oor die wyse waarop hulle hul lande regeer dat die inwoners op daardie skaal dros nie?

In die VSA is die vlugtelingeprobleem ’n warm politieke kwessie, dermate dat ’n presidentskandidaat wat as politieke nar beskou word, die miljardêr Donald Trump, nog baie sterk in die wedloop is. Hy stel byvoorbeeld die bou van ’n muur tussen die VSA en Meksiko voor. Lees gerus Charles Hunt se ontleding.

Die fokus is egter nou op Sirië, waar die “burgeroorlog” nou al ’n hele paar jaar woed. Sirië, as Arabiese land met ’n meerderheid Soenniete, is ’n verbasend heterogene land met onder meer ook ’n groot Christen-minderheid. Die regerende elite van pres. Al-Assad behoort egter tot ’n minderheid van ’n minderheid – die Alawiete wat ’n sekte van die Sjiitiese minderheid uitmaak.

Om so ’n komplekse staat, soos ook die Irak van oudpres. Saddam Hoesein, in “plek” te hou verg ’n komplekse netwerk van begunstiging, omkopery, die toekenning van ’n groot rol aan tradisionele leiers waar demokrasie geen rol speel nie, en oplaas wreedheid. Versteur dit, soos wat in Irak gebeur het, en ’n groot massa kragte wat nie voorsien is nie word losgelaat. Die invoer van ’n grondwetlike demokrasie as alternatief werk nie, of is ’n veel komplekser proses as wat vermoed is.

Wat wel duidelik is, is dat hoe langsamer dit duur om van ’n terroriste-regering ontslae te raak, hoe meer tyd en ruimte is daar vir radikale groepe om wortel te skiet. Dit blyk veral waar te wees in ’n Moslem-omgewing waar die Salafistiese vertakking van die Soenni-Islam geradikaliseer het, en ook soos ’n suigkrag dien vir die vis-nog-vlees jong Moslems in Europa.

Of Rusland en China se “sabotasie” van die vind van spoediger oplossings deur middel van hul Veiligheidsraad-vetomag ’n veel ander uitkoms sou hê as die hedendaagse krisis is ’n ope vraag. Rusland en China is bondgenote van Al-Assad. Feit bly, die pro-demokrasiegroeperings in Sirië is onder enorme druk, en van buite lyk dit al meer of dit ’n stryd tussen Al-Assad en die IS is. Die Weste val IS-teikens aan, maar wil glad nie hê Al-Assad moet deel van die oplossing wees nie.

Benewens die IS is daar ook nog groepies betrokke wat by Al-Kaïda geaffilieer is. Europese lande is traag om grondtroepe in te stuur omdat dit byna onvermydelik sal wees dat onskuldige partye in die spervuur beland.

Intussen kry Unesco die piep oor die IS argeologiese strukture verwoes, en verder “duisende gate” gegrawe het om artefakte op te diep wat op die swartmark verkwansel word. Dit is een van die IS se hoofbronne van inkomste.

As daar vinger gewys moet word, kan daar ook maar oorweeg word om Turkye op die keper te beskou. As Navo-lidland is die vergrootglas egter net beperk tot hierdie land, hoewel Turkye beskuldig is van ’n passiewe houding, en eerder Koerdiese teikens as IS-teikens aanval.

Suid-Afrika het ’n nare geskiedenis om hom met die wêreld se muishonde te verbind. Suid-Afrika was ook een van die lande wat ’n mosie teen die IS teengestaan het. Die regering is met sy eie howe oorhoeks oor die Al-Basjir-sage, om nie van die wêreldmening te praat nie.

Wie ook al die regering van raad bedien het dat Europa se hantering van die Siriese kwessie tot die vlugtelingekrisis bygedra het, laat ’n mens dink aan die “regsadvies” wat oudpres. Thabo Mbeki destyds by een van sy regsadviseurs ingewin het. Laasgenoemde het bevind dr. Allan Boesak is onskuldig oor die Dan Church Aid-geldkwessie. Maar toe Dan Church Aid nie daarvoor val nie, en die proses verder deur die howe verloop, het dit geblyk die president is met ’n windeier bedien.

Die wêreld is eenvoudig nie so ’n simplistiese plek waar populistiese twak sonder meer oor komplekse kwessies kwytgeraak kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rynhardt ·

Die prez wil graag die wereld se probleme oplos terwyl SA s’ n gedy soos deeg wat net groter en groter rys! Die prez wil die superheld van die wereld wees, maar hy beskik nie oor die kennis en visie wat hom laat uitstaan nie.Om sake te vererger, doen sy R30miljard raadgewers hom en SA geen guns nie.Al hoe meer lande raak keelvol vir ons terwyl die prez die muishond-lande soos Kuba, China en Rusland omarn.Die prez se aksies sorg dat chinese produkte die SA markte oorstroom en lei tot fabrieke wat sluit en werkers wat op grootskaal afgedank word! Dan blameer die prez aparheid terwyl die DA rjoepstil bly! SA met zuma en die Anc, is die grap van die eeu!Die mense wat Zuma se toesprake skryf, het nie n benul wat aangaan in die wereld nie, nog minder in SA.Dan kry jy die mense wat glo dat SA is op die regte pad terwyl die prez maar standard 3 het!

Grassie ·

Ek dink Zuma maak omstrede onsinnige uitsprake oor aangeleenthede buite die RSA om sy eie onbevoegdheid te probeer verdoesel. Hy probeer die soeklig wegskuif van die eskalerende ellende wat besig is om hierdie eens voorspoedige land te verteer. Die afgelope twee weke was daar by voorbeeld 21 busse, ‘n satelliet polisiestasie en ander geboue naby Medupi afgebrand. Op Ventersdorp is die munisipale gebou verwoes. By ‘n universiteit in Natal is geboue en voertuie aan die brand gesteek. In die Kaap is ‘n passasiersbus met petrolbomme verwoes, wat tot lewensverlies gelei het. By ‘n taxi-standplaas is 6 mense koelbloedig doodgeskiet. Hierdie is maar net ‘n paar van die betrokke tyd se geweldsdade. Zuma en sy kaders het baie om te probeer verberg.
Ek begin nou wonder – waar lê die grens tussen normaliteit en anargisme? Het Suid-Afrika nie daardie grens reeds oorgesteek nie?

Melt Olckers ·

Ek hoop net nie hy sien IS as ‘n potensiele bondgenoot nie. Miskien dink hy daaraan om wapens aan hulle te verskaf, soos wat hy aan Gaddafi verskaf het.
Hoop hy vind baie gou uit wat IS se siening is oor ‘n land wat nie deur IS beheer word nie.

Elizabeth ·

Kom ons sê sommer bek-en-klouseer. Dit kom mos algemeen onder beeste en varke voor.

Charmaine ·

Zoempies moet oppas sy mense bevuil alles so dat ons water nie goed genoeg is vir ons boere om kos te verbou nie, dis hoekom groenbone in die winkels vanaf Kenia kom. Ons mense het nie werk nie en die wat het “strike” maar koop hulle Chinese klere in die winkels. Volg hul lyer en ek bedoel die spelling so, glo in al die snert wat hy praat, brand als af, skiet enigiemand dood, kla oor alles, wil alles verniet kry, blameer Europa, maar as die popo die fan strike, vlug hul na wit Europa. Goed Nr 1 is op sy plek gesit : die probleem is omdat Afrika Leiers nie hul steur aan demokrasie. Wag vir stemtyd en wil sien hoeveel papbroeke in RSA

Remondo ·

mnr Zuma se kop is in die grond , hoop niemand sien hom raak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.