Nuuskommentaar: Zuma se kop op die blok – Mbete

President Jacob Zuma Foto: GCIS, Flickr

President Jacob Zuma Foto: GCIS, Flickr

“Dislojale en selfsugtige” mense in die ANC beplan reeds sedert pres. Jacob Zuma se herverkiesing in Bloemfontein die president se politieke val, aldus die speaker van die parlement, Baleka Mbete.

Mbete laat dit soos hoogverraad klink. Op die keper beskou, is hierdie “verraaiers”, na gelang van hul motiewe, moontlik die werklike “comrades” wat die beste belang van die party, en moontlik selfs die land op die hart dra.

Dit is immers die aard van politiek in ’n demokrasie… ʼn party moet deurlopend oorweeg of sy leierskap steeds die party se beste belang dien. Indien nie, moet dit vernuwe word.

In die VSA, om maar een voorbeeld te noem, word ’n president elke vier jaar aan die wil van die kiesers self blootgestel.

Benewens om deur ’n kandidaat van die ander groot politieke party uitgedaag te word, kan die president streng gesproke deur ’n nominasiestryd in sy eie party uitgedaag en verslaan word, al gebeur dit nie sommer nie. Maar niemand sal so ’n uitdager van dislojaliteit of nog erger, verraad durf uitskel sonder die gevaar van regsoptredes nie, want dit is daardie kandidaat en sy ondersteuners se reg. ’n Mens noem dit demokrasie.

Tegnies kan dieselfde in Zimbabwe en ’n verskeidenheid ander Afrikalande gebeur, hoewel daar gewoonlik ernstige vrae is oor hoe vry en regverdig daardie verkiesings verloop het – al sê die SAOG se waarnemerspan ook wat.

In Suid-Afrika, ’n hele rits opposisiepartye inkluis, het die verwerwing en daarna vasklou aan die leierskap ’n kuns geword. Dit behels onder meer die vroeë identifisering van bekwame lede wat moontlik vorentoe ’n bedreiging vir die leierskap kan inhou, en om hulle so gou moontlik uit te werk. In sommige gevalle neem dit die karakter van paranoia aan, en dikwels tot ernstige nadeel van sulke partye, omdat sulke partye dikwels ná sulke “skoonmaakaksies” tot die helfte en selfs meer van hul setels verloor.

Sulke partye haak dan in die kategorie van die een-persent-of-minder-partye vas. Deur ’n ander, meer bekwame leier ’n kans te gegee het, kon daardie partye dalk, soos die DA, daarin geslaag het om uit hierdie een-persent-kategorie uit te styg.

En weer gee die DA die toon aan met Helen Zille wat as partyleier bedank. Sy het ook ruimte gelaat dat ander (weliswaar waarskynlik streng haar keuse) in haar skadu gedy. Ander, met wie sy meningsverskille opgedoen het, het min of meer dieselfde lot te beurt geval as die uitgewerktes uit die een-persent-partye.

Zuma het onlangs, tydens die besoek van Mugabe aan Suid-Afrika, sy onkunde ten toon gestel oor wat die term demokrasie beteken. Maroela Media se nuuskommentaar hieroor, het besonder baie trefslae gehad. Die Burger se hoofartikel Maandag, Jacob Zuma draai die mantel na die wind, het dieselfde onderwerp onder die loep geneem. Wat egter kommerwekkend is, is die min reaksie wat Zuma se uitlatings van analiste gekry het. Wat kan ’n ernstiger bedreiging vir die land se brose demokrasie wees as ’n president wat nie die verskil tussen ’n demokrasie en ’n diktatuur van die meerderheid ken nie, en dan nog skaamteloos die meerderheid oproep om op grond van velkleur daardie mag teen ander in te span?

Boonop slaan Zuma in die proses sy ampseed vir ’n ses, en so ook die nalatenskap van Mandela.

Hy is gereeld ’n yslike verleentheid vir die land in die buiteland. Trouens, sy flaters behels ’n ellelange lys.

Dan kan weer gevra word: Is diegene binne die ANC wat planne in die mou voer om van hom ontslae te raak die werklike dislojales? En was Zuma en sy ondersteuners dan ook “dislojaal en selfsugtig” toe hulle “voortydig” van oudpresident Thabo Mbeki ontslae geraak het?

Hoe meer verskans ’n leier se posisie in ʼn party is, hoe meer drasties is die metodes wat aangewend word om leierskap af te wissel. Die proses waardeur die NP P.W. Botha met F.W. de Klerk vervang het was juis, weens die verskanstheid van die destydse presidente se posisie, so ingrypend dat dit moontlik tegnies ’n statutêre staatsgreep genoem kan word.

Vandag nog word gestry dat die biesies beef of dit ’n goeie, slegte of bloot onvermydelike ding was.

Wat Mbete se opmerkings betref: Daar is natuurlik ’n ander moontlikheid – dat dit partylojaliste is wat nie deel van Zuma se Zumafikasie en Zoeloefikasie is nie, en wat nou by voorbaat verdag gemaak word sodat hulle uit sirkulasie gehaal kan word. Dit sal help bou aan Mbete, self ’n Zoeloe en deel van die Zumafikasie, se eie, uitgesproke presidensiële planne. Te oordeel na hoe sy nou al met ’n tweede probeerslag die speakerskap spartelend aanpak, en haar flou vertoning voorheen as adjunk-president, is dit moeilik om ’n groter ramp vir die land voor te stel. Dan is daar nog die kwessie van haar vervalste rybewys destyds.

Moenie verbaas wees as die woord binnekort laat val word dat adjunk-president Cyril Ramaphosa ook een van die “dislojale en selfsugtige” mense is nie. Veral as dit sou blyk dat die een “hospitaal-paas” na die ander wat Ramaphosa nou kry, nie genoeg is om hom as aanspraakmaker as Zuma se opvolger te sink nie.

Die groot hartseer is dat so ʼn diskoers in die konteks van ’n de facto-eenpartybedeling staan. In ’n ware demokrasie sou ’n party met sulke vrot leiers en regeerblapse lankal deur die kiesers met die kous oor die kop huis toe gestuur gewees het. Om te wag dat die ANC homself vernietig (“self-destruct”) gaan die land oneindig skade berokken – die opposisiepartye moet self hand in eie boesem steek en waar nodig, nuwe leierskap kry om genoeg spierkrag te bou om die ANC werklik by die stembus uit te daag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jo ·

Dis hoogtyd. Eintlik was dit jare gelede al hoogtyd. Hoop mens kan die opskrif as `n feit glo.

Hein ·

Vir ons gewone ouens maak dit in elk geval nie saak nie; die klomp wat nie in die Zuma kamp kon inkom nie, gaan nou maar iemand anders daar probeer inkry om ook hulle slice-of-the-pie te kry; een ‘tribe’ gaan maar net die volgende een vervang; ek dink om te hoop dat daar iemand in die ANC is wat vir die land as geheel iets kan omgee, is onmoontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.