Nuuskommentaar: Zuma se Lalaland – sien jou in die hof

Pres. Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

“Knyp jouself en besluit in watter Suid-Afrika jy wil wakker word.” So skryf ’n vrou op die internet in reaksie op ’n ander se bydrae dat daar mense is, ook buitelanders in Suid-Afrika, wat nie ’n benul het van wat werklik in die land aangaan nie. Vir hulle bestaan dinge soos korrupsie, plaasaanvalle en ander geweldsmisdaad eenvoudig nie.

Die week se gebeure in die parlement herinner aan die raad om te kies in watter Suid-Afrika jy wil wakker word. Eers het pres. Jacob Zuma ’n baie rooskleurige prentjie oor Suid-Afrika se ekonomie geskets. Die miljoene werkloses en diegene wat nou hul werk verloor, sal stellig nie in dieselfde Suid-Afrika leef as Zuma nie.

Hierna het Zuma die wysheid kwytgeraak dat die Soedannese president, Omar al Basjir, nie werklik in Suid-Afrika was nie. Volgens Zuma was Basjir die gas van die Afrika-Unie en vir die duur van die beraad onder die regsoewereiniteit van die AU. Hierdie argument is reeds in wese deur die hooggeregshof verwerp en kenners van die internasionale reg verskil ook met dié uitleg.

En dan is daar die Nkandla-kwessie. Die ad hoc-komitee het besluit om die Nhleko-sirkusverslag te aanvaar en die opposisie se insette verwerp. Die kwessie gaan nou in alle waarskynlikheid hof toe. Die EFF het reeds dokumente by die Grondwetlike Hof ingedien. Deurlopend hou Zuma vol dat aan die bepalings van die Openbare Beskermer se aanbevelings voldoen is, terwyl die harde werklikheid is dat Tesourie nié genader is om te help bepaal tot watter mate Zuma onregmatig verryk is en geld moet terugbetaal nie.

Dit is reeds lank meer as duidelik dat die ANC nie sal toelaat dat ’n spreekwoordelike haar van Zuma se hoof sal sneuwel oor die Nkandla-kwessie nie.

Dit raak (alweer) tyd dat die howe ingryp om die ANC se ongrondwetlike manewales in die parlement tot orde te roep. Die howe moet nou aandui watter Suid-Afrika is die werklike een en watter een is Zuma se Lalaland. Geen wonder daar is voortdurend ’n foutvindery met die howe binne die ANC nie.

Intussen word die kiesers gepolariseer. Demokrasie en die wyse waarop opposisiepolitiek verduur moet word, maak plek vir vyandskap.

Dié verskynsel is nie uniek in Suid-Afrika nie. In die VSA staan dit bekend  as “negative partisanship” (negatiewe partydigheid) wat sedert die 1980’s aan die verskerp is. Dit word toegeskryf aan die feit dat baie kiesers baie kwaad is. Peilings toon dat tot 80 persent van een party se kiesers soms in ’n mindere of meerdere mate kwaad is vir die ander party se leier. Die partydigheid blyk daaruit dat net twee persent van die ondersteuners van ’n party soms, of byna altyd, kwaad is vir hul eie party se leier.

Omdat die ANC sy partylojaliteit struktureel baie sterk verweef is met lojaliteit aan Zuma, is dit moeilik om te bepaal of Zuma die ANC steun kos, of juis steun vir die ANC aantrek. Vroeëre peilings het daarop gedui dat Zuma se gewildheid besonder laag gedaal het, wat ANC-ondersteuners insluit.

Die Sunday Independent het pas ’n artikel deur prof. Susan Booysen van Wits geplaas waarin sy ’n klompie van die mees gesaghebbende peilings ontleed het om te bepaal hoe Zuma se gewildheid onder die kiesers nou lyk – met ander woorde sou hy ’n mosie van wantroue kon oorleef as die publiek self daarvoor of daarteen kon stem. Haar gevolgtrekking is dat Zuma dit dalk net-net met 50 % kan slaag. Oor die algemeen daal sy gewildheid.

Iewers gaan die ANC moet somme maak; gaan hy bereid wees om in aanstaande jaar se landswye munisipale verkiesings skade te ly ter wille van Zuma?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Winston ·

Goed gestel. Die artikel bevat baie antwoorde op waarhede maar laat net soveel vrae ontstaan. Begryp die mense abstrakte begrippe? Weet baie van ons almal wat regtig in die land aangaan? Hoe lank moet alles aanvaar word? En so kan ek aangaan vir baie lank. Ek betwyfel verandering op n demokratiese wyse.

Dave ·

my persoonlike opinie is dat die ANC ook nie so verknog is aan Nkandla as aan hul sug na oorwinning is die stryd daaroor. Daar is waarskynlik van hulle wat self ontevrede is daaroor maar hul wens om die stryd daaroor te wen is groter omdat hulle Nkandla sien as ‘n manier, ‘n stempel om hul heerskappy te bewys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.