Nuuskommentaar: Zuma se SA en die werklike SA

Pres. Jacob Zuma. Foto: Chester Makana/ANA

Met die aanvang van die Paasfees is die nuusfokus van Suid-Afrika nog op pres. Jacob Zuma se stryd om politieke oorlewing gerig. Terwyl twee “Suid-Afrikas”, dié van Zuma en die werklike SA, manifesteer, wil dit tog ook lyk of die gaping tussen die ANC en die opposisie se beskouing van die saak deur hofkwessies begin verklein.

Dit is hartseer verby dat die land se aandag vandag, op die vooraand van die Christen se belangrikste tyd op die kalender, nog verbete op die beleërde president gevestig is. Vandag pak talle Suid-Afrikaners die lang pad aan en ’n nuwe padslagting is nie uitgesluit nie. Die Bloeddiens het laat weet sy voorrade is gevaarlik laag …

En vanaand gaan baie Suid-Afrikaners ter aanvang van die Paasfees kerk toe om hul gemeentes se Donkernagmaal by te woon – iets wat lidmate wie se gemeentes dit reeds ingestel het as ʼn besondere belewenis bestempel.

Uit ’n nuushoek beskou, is daar egter twee ander “Suid-Afrikas” wat nog die aandag vasvang.

In die werklike Suid-Afrika is pres. Jacob Zuma, in die woorde van Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, ’n skurk, ’n trol en ’n politieke tsotsi. Nie almal sal waag om sulke uiterste taal in die openbaar te gebruik nie, terwyl nog ander die fokus sal laat val op Zuma se rasbeheptheid, sy opstoking van rasse-onmin en selfs rassisme. Sy vriendskap met die Guptas het in die lig van talle aansprake oor staatskaping ’n onverteerbare werklikheid geword. Sy onbesonne kabinetskommeling, veral in die finans-portefeulje, het Suid-Afrika by twee graderingsagentskappe afgraderings tot rommelstatus oor omtrent die hele spektrum op die lyf laat loop. Heel duidelik het die politieke klimaat, eerder as die ekonomie en fiskale beleid, of die stabiliteit van die land se banke, tot die afgraderings gelei.

Die ampseed beteken vir Zuma nie die papier waarop dit staan nie.

En daar kan nog ’n vreeslike lang lys hierby gevoeg word.

In Zuma se Suid-Afrika het die president ’n “rein gewete” en skoon hart” … volgens homself. Hy sal desondanks dadelik bedank as die ANC gesamentlik dit van hom verlang.

Zuma het ook, na berig word, gesê aanvalle op hom is aanvalle op die ANC. Het die president jou werklikwaar gaan stelling neem agter dieselfde party wat hy baie onlangs nog minagtend tot ’n soort onderdanigheid gepluk het?

Terwyl tienduisende mense wat sy kop eis op Zuma se verjaardag by die Uniegebou betoog, hou Zuma ’n verjaardagpartytjie in Kliptown, Soweto. Die keuse van ’n plek in Gauteng, en spesifiek Kliptown, is nie om dowe neute gedoen nie. Dis nie baie ver van die stadion waar Zuma enkele jare gelede nog tydens ’n gedenkdiens vir die pas ontslape Nelson Mandela deur ’n deel van die skare uitgejou is nie. Dis in die hart van die ANC-beheerde provinsie wie se lojaliteit teenoor Zuma wissel soos die wind waai – en gewoonlik nie baie sterk is nie. Die verrigtinge is, afgesien van homself, deur nog net een lid van die Groot Ses in die ANC bygewoon, is berig.

Onwaarskynlik soos dit mag wees, lyk dit of daar minstens op sekere terreine ’n soort vernouing in die gaping tussen die werklike SA en Zuma se SA is. Of liewer, die werklike SA en die ANC se SA, want dit lyk nie of Zuma noodwendig gaan inval by sulke moontlike verwikkelinge nie. Een van die hoofaanduiders is berigte dat dr. Mathole Motshekga, lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee, ’n spesiale NUK-vergadering aangevra het. Die vergadering, indien dit wel sal plaasvind, sal optredes waar Zuma se kop geëis word, onder die loep neem.

Dis nog bitter vroeg om veel te sê oor ’n moontlike vernouing in beskouings tussen die ANC se SA en die werklike SA, maar dit lyk waarskynlik dat daar in die hofproses rondom die beoogde mosie van wantroue teen Zuma ’n gevoelige risiko vir die ANC ontwikkel het. Dit bestaan uit twee elemente: Eerstens, die konstitusionele hof se besluit dat die versoek van onder meer die UDM dat die stemme in die mosie geheime stemme moet wees wel in die hof aangehoor kan word, deur die reëls vir die verhoor daarvoor bekend te maak. Tweedens, die feit dat Baleka Mbete, die speaker, maar nou veel eerder in haar hoedanigheid as ondervoorsitter van die ANC, klaarblyklik baie slegte regsadvies by die parlementêre regsadviseur gekry het.

Met dié advies het sy sake vir die opposisie moeilik gemaak, en onder meer geweier om ’n geheime stemming toe te laat “omdat die Grondwet en parlementêre reëls” nie daarvoor voorsiening maak nie. Sy het egter die magte hiertoe “onder spesiale omstandighede” en dit maak dit waarskynlik dat die UDM die saak minstens deels sal wen.

Hoe ’n groot risiko is die ANC bereid om te loop dat die konstitusionele hof ’n geheime stemming kan gelas, en die ANC dan met die moontlikheid laat dat verskeie ANC-LP’s hul stemme teen Zuma uitbring?

Hoewel ’n neerlaag vir Zuma die eerste prys is, sal selfs ’n redelik duidelike demonstrasie met afvallige ANC-stemme dit onderstreep dat dit die ANC se magsgreep op lede is wat Zuma in die stoel hou. So ’n moontlikheid sal vir die ANC ’n reuse morele neerlaag wees.

En daardie opsie het oopgegaan, hoewel dit onverantwoordelik sou wees om te raai of die UDM en vennote se aansoek ’n kans van 10 persent of 90 persent het om te slaag.

Mbete het nog vir oulaas met juridiese kaperjolle die opposisie se aansoek om die debat oor die mosie van wantroue tot ná die konstitusionele hof se uitspraak uit te stel, in die wiele probeer ry, maar moes ook hier die (juridiese) knie buig.

In ’n “parallelle” regs-politieke stryd wat met Zuma se beleid van kaderontplooiing verband hou, het die nuwe minister van polisie juis die staat se appèl teen ’n hofbeslissing teen die aanstelling van Berning Ntlemeza as waarnemende hoof van die Valke onttrek. Die volbank het Ntlemeza ook verlof tot appèl teen sy onmiddellike ontslag geweier. Die voorsitter van die ANC-beheerde portefeuljekomitee het dadelik versoek dat die minister ’n nuwe waarnemende hoof aanstel, en dat die proses om ’n permanente hoof aan te stel versnel word. Kortom, die ANC het klaarblyklik, met of sonder Zuma se instemming, die rug op ’n Zuma-protégé gekeer.

Die tweede element is dat dit nou ook vir die ANC-ringkoppe duidelik moet wees dat die taktiek van “oorwaai” wat die ANC tot dusver rondom Zuma gevolg het, nie gaan werk nie, al behoort Zuma ná Desember vanjaar nie meer president van die ANC te wees nie. Die veldtogte teen Zuma gaan die ANC nie hierdie “blaaskans” gun nie. Dit is ook duidelik dat Zuma, selfs met die hulp van ’n omstrede Britse beeldpoetser, nie fatsoenlik gemaak en gehou kan word tot Desember nie, en dit kos die ANC stemme, en die land bitter baie in aansien.

(Volgens ’n nuwe berig het die beeldpoetser bande met Oakbay, die Guptas se houermaatskappy, verbreek. Indien dit waar is, asook dat die Guptas werklik die beeldpoetser se projek om Zuma se beeld op te tof finansier, is dit waarskynlik dat ons binnekort nie meer “elke dag” ’n TV-nuusinsetsel gaan kry waar probeer word om Zuma presidensieel te laat vertoon nie.)

Maar nou is dit eers Paasfees, en die lesers word ’n geseënde Paasfees toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Miskien moet ons begin vas want hierdie geblikte wurms wat die Zuma-kaders opdis soek, om die minste te se, erge ontsmetting…

HEVW ·

Geseende PAASFEES vir ons land en volksgenote word toegewens. Mag die ware betekenis van hierdie historiese feit by ons volk ingang vind en mag ons besef dat die huidige politieke omstandighede nie ons grootste nood is nie, maar dat dit ons sondenood is, en dat ons tot diens in God se koninkryk geroep is.

PTH ·

Dankie vir n jou gereelde puik opsommings van politieke gebeure van die dag Herman Toerien.
Ek geniet om dit te lees.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek mis nooit enige bydraes van Herman Toerien nie en sien ek vandag hy noem uitlatings wat Waldimar Pelser gedoen het wat ek self gesien het op televisie. Toe ek dit lees dog ek dis die laaste wat ons op Kyknet van Waldimar sien want sover het niemand nog ooit hul nek uitgesteek om die ou nikswerd president te beskryf nie. Wens ek het daardie hele Kyknet “praatjie” van Waldimar gehad om vir my vriende in die vreemde aan te stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.